Last update: March 29, 2012 07:42:27 AM E-mail Print

 

Ekologiese Indeksmetode: ‘n Maklike metode vir weiveld-evaluasie

 

M Vorster & G van N du Toit

 

DIE TEGNIEK van die ekologiese indeksmetode (ElM) berus op twee boustene, naamlik die klassifikasie van spesies in ekologiese groepe en die indeksering van die groepe.

Die klassifikasie van spesies in ekologiese groepe is seker die belangrikste beginsel van die ElM. Foutiewe klassifikasie kan tot verkeerde gevolgtrekkings lei. Die mees realistiese en ekologies gefundeerde metode van klassifikasie is om spesies volgens hul reaksie op verkeerde benuttingspraktyke en ander versteurende faktore soos droogtes en brand te klassifiseer.

Die proses van veldagteruitgang in die Karoo- en soetgrasveldgebiede word gekenmerk deur 'n toename in meerjarige karoobossies, struike en pioniersgrasse en 'n afname in soetgrasse.

In die Oostelike Karoo het veldagteruitgang as volg verloop: Klimaksgrasse: subklimaksgrasse en smaaklike karoobossies en struike; meerjarige pioniersgrasse en minder smaaklike karoobossies en struike; en eenjarige pioniersgrasse, opslag en onsmaaklike indringer karoobossies en struike. (Kyk figuur 1).

 

 

Die volgende vyf ekologiese groepe met definisies word vir die Karoo- en Soetgrasveldgebiede aanbeveel:

(a) Afnemers. Hulle is spesies wat dominant in veld in 'n uitstekende toestand is en wat afneem as die veld onder- of oorbenut word. Die meeste van die sogenaamde klimaksgrasse val in hierdie groep.

 

(b) Toenemers II (a). Die groep is skaars in veld in 'n uitstekende toestand maar neem toe as die veld matig oorbewei word oor die langtermyn. Die groep neem gewoonlik toe as die Afnemers afneem. Die sub-klimaks en dis-klimaksgrasse sowel as die smaaklike bossies en struike ressorteer in hierdie groep. Indien die groep dominant is, word die veld agro-ekologies geklassifiseer as goed tot redelik.

 

(c) Toenemers II (b). Die groep spesies is skaars in veld in 'n uitstekende toestand, maar neem toe as die veld straf oorbewei word oor die langtermyn. Die toename van die groep word gekoppel aan 'n afname van die spesies van Toenemers II (a) (Fig. 1). Spesies wat aan die groep behoort is die meerjarige pioniergrasse en die minder smaaklike karoobossies en struike. Dominansie van die groep is 'n teken dat die veld in 'n redelik tot swak toestand verkeer.

 

(d) Toenemers II (c). Die groep spesies is skaars in veld wat in 'n uitstekende toestand is en neem toe as die veld uitermate oorbewei word oor die langtermyn. Net soos in die vorige groep, neem die groep toe wanneer die spesies van Toenemers II (b) afneem. Die groep bestaan hoofsaaklik uit die reënafhanklike eenjarige grasse, opslag, harde onsmaaklike karoobossies en aanvaarde giftige plante. Dominansie van die groep in 'n veld verteenwoordig veld wat in 'n swak tot baie swak toestand is.

 

(e) Indringers. Hulle kan beskryf word as plante wat vreemd is in 'n gegewe plantgemeenskap, of wat aggressief toeneem in die plantgemeenskap waarin hulle behoort. Uitheemse plante soos Stipatrichotoma (Nasella polgras) en Prosopis spp. (Mesquite) en inheemse plante soos Lycium spp. (Kriedoring) en Rhigozum trichotomum (Driedoring), behoort aan die groep. Veld waarin die plante dominant is, is agro-ekologies in 'n baie swak toestand.

 

Vir indeksering van die verskillende ekologiese groepe word die volgende relatiewe waardes op die basis van ekologiese status aan elke groep toegeken:

Afnemers                  =         10

Toenemers II (a)        =          7

Toenemers II (b)        =          4

Toenemers II (c)        =          1

Indringers                 =          1

 

Die praktiese uitvoering van die ElM kan kortliks in die volgende stappe ingedeel word:

 

Vir die bepaling van veldtoestand is dit noodsaaklik dat daar van 'n veldverwysingspunt (VVP) gebruik gemaak word. 'n VVP is 'n stuk veld wat 'n botaniese samestelling en bedekking het wat gelykstaande of naby aan die potensiaal van die gebied is. Elke topografiese eenheid (veldsoort) soos bulte, rante, vlaktes, ensovoorts, byvoorbeeld in 'n sekere gebied, het sy eie VVP. Verskille in VVP tussen veldsoorte word toegeskryf aan verskille in grondsoort, gronddiepte, topografie en grondvogverhouding.

Om die huidige veldtoestand van 'n veldsoort binne 'n sekere gebied te bepaal, word dit met sy VVP in dieselfde gebied deur middel van die ElM vergelyk.

 

 

Tabel 1 is 'n voorbeeld waar drie persele (51, 52 en 53) van verskillende veldtoestande op bulteveld in die Grassridge Komgebied met die VVP van bulteveld van dieselfde gebied vergelyk word.

Die neiging van veld oor 'n aantal jare word bepaal om vas te stel of daar 'n agteruitgang of verbetering is wat aan bestuursfaktore en/of klimaat toegeskryf kan word. Vir die doel is die VVP nie nodig nie en word die betrokke veldsoort van tyd tot tyd met homself vergelyk.

Gestel 51, 52 en 53 in Tabel 1 was dieselfde perseel wat oor 'n periode van 12 jaar gemonitor is, dit wil sê elke vier jaar. As die veldtoestandindekse oor die 12 jaar met mekaar vergelyk word, vind ons 'n afname van 276,2 (51) na 73,7 (53). Die veldtoestand het dus verswak, hetsy as gevolg van verkeerde beweidingspraktyke, oorbeweiding of droogtes.

Sou die posisie omgekeerd wees, sou dit beteken dat die veld verbeter het as gevolg van goeie reën, korrekte veld bestuur of lae veebeladings.

In die praktyk sal sulke tendense oor die korttermyn eerder 'n wisselende grafiek wees. Die indekse sal van jaar tot jaar styg en daal met 'n dalende of stygende tendens oor die langtermyn.

Die ElM is ook geskik om huidige sowel as potensiële weidingskapasiteite (dragkragte of veebeladings) te beraam, omdat die veldtoestandindekse in terme van kroonuitgestrektheidsbedekking, dit wil sê indirekte volume bogrondse materiaal, uitgedruk word. Dus, hoe groter die veldtoestandindeks, hoe hoër sal die weidingskapasiteit wees.

In die Karoostreek gee die volgende formule oor die algemeen redelike betroubare beramings van huidige weidingskapasiteit:

 

ha/KVE/jaar =

waar x, die veldtoestandindeks van die betrokke veldsoort is. As hierdie formule op die veldtoestandindekse van die VVP, 51, 52 en 53 in Tabel1 toegepas word, dan sal die huidige weidingskapasiteite van die vier persele soos volg wees:

VVP = 1,36 ha/KVE/jaar,

S1 = 2,35 ha/KVE/jaar,

S2 = 4,37 ha/KVE/jaar, en

S3 = 8,82 ha/KVE/jaar.

 

Die weidingskapasiteit van die VVP dien ook as die potensiële weidingskapasiteit van die betrokke veldsoort binne 'n sekere gebied.

 

Published

Goue Vag 15 (2)