Last update: April 2, 2012 08:54:21 AM E-mail Print

 

EKONOMIES BELANGRlKE ASPEKTE VAN ANGORABOKBOERDERY

 

Louis Louw

Landbounavorser

Grootfontein

 

In Verhoging in die doeltreffendheid van Angorabokboerdery vereis meer en beter kwaliteit sybokhaar geproduseer deur minder en beter Angorabokke per eenheidsoppervlakte.

Beter Angorabokke en sodoende 'n hoer boerderywins word deur bevredigende genetiese vordering, optimale voeding en doeltreffende bestuur en versorging verkry.

 

1. GENETIESE VORDERING

Om bevredigende genetiese vordering te kan maak is dit nodig dat 'n spesifieke teelplan (kombinasie van seleksie-metodes en paarpraktyke) gevolg moot word.

By die Angorabok, soos by ander plaasdiere, is die grootste belangstelling van die boer in die ekonomiese waarde van sy dier en daarom speel die inkomste wat hy per dier kan kry by hom die belangrikste rot. Ekonomiese waarde van ‘n Angorabok sluit drie sleutelbeginsels in, naamlik reproduksievermoë, kwantiteit- en kwaliteit bokhaar geproduseer.

Dit moet dan ook die uitgangspunt by kuddeklassering wees. Die doeltreffende uitvoering van kuddeklassering sal gemeet kan word ten opsigte van die produksie van hoe gehalte sybokhaar geskeer sowel as in die bokkie-oes verkry. 'n Goeie bokkie-oes is die grootste enkele faktor wat bydra tot winsgewende veeboerdery.

Die bokkie-oes word bepaal deur die reproduksievermoë van ramme en ooie, en kan as volg verbeter word.

Ramme - (i) Toets ramme vir vrugbaarheid (dit wit sê semen, kwaliteit en kwantiteit, libido, dekbehendigheid en geslagsiektes). (ii) Gebruik ramme oordeelkundig (bv. groepparing – drie ramme per 100 ooie, verdeel ramme in twee groepe en ruil hulle weekliks). (iii) Voorsien werkende ramme van byvoeding. (iv) Versorg ramme higiënies (bv. sny kloutjies).

Ooie - (i) Identifiseer prulle en gooi ooie uit wat twee maal in gebreke bly om 'n lewensvatbare bokkie in die wêreld te bring. (ii) paartyd moet saamval met die piek-tydperk van die Angorabok se geslagsaktiwiteit (April / Mei). (iii) Die paarseisoen moot nie korter as ses of langer as agt weke duur nie. (iv) Voorsien prikkelvoeding (veral energiekomponent) aan ooie in ‘n skraal of middelmatige kondisie vir ongeveer drie weke voor paartyd. (v) Plaas In koggelram tussen die ooie vir ongeveer 14 tot 17 dae voordat paring begin. (vi) Skeer ooie voor die paarseisoen begin. (vii) Maak gebruik van familieseleksie. (viii) Voorkom aborsies deur voldoende energie-aanvulling gedurende die laaste ses weke van dragtigheid aan ooie te voorsien.

Die kuddestruktuur sowel as die bokkie-oes bepaal die massa hoe kwaliteit haar geproduseer en die proporsie diere wat geselekteer kan word (Laasgenoemde bepaal die generasie vordering wat gemaak word).

Volgens die Posrekordstelsel blyk dit dat die sybokhaarboere in die hoër inkomste groep meer jong bokke (twee-tand en jonger) in hul kuddes het en dus ‘n groter wins lewer omdat die jong bokke se haar ‘n hoër prys per kilogram verdien.

Die lae reproduksiedoeltreffendheid van twee-tand ooie is egter ‘n probleem, daarom moet daar in hierdie verband besondere aandag aan jong ooie ten opsigte van voeding (liggaamsmassa), kampe, paardatum, koggelramme en die gebruik van bedrewe ramme gegee word.

Dit is belangrik om vir so min eienskappe as moontlik te selekteer, want hoe meer eienskappe voor geselekteer word, hoe minder is die genetiese vordering vir elkeen van hierdie eienskappe. Die teler moet dus konsentreer op die eienskappe wat van werklike ekonomiese belang is. Die praktyk om twee-tand ooitjies (voordat hulle vir die eerste keer gepaar word) se liggaams- en vagmassa deur middel van 'n weegskaal te bepaal en saam met die subjektiewe beoordeling in die seleksieproses te gebruik, word sterk aanbeveel. Bogenoemde bepalings word slegs een maal gedoen, daarna word slegs ooie met ‘n lae reproduksievermoë uitgeklas.

Die bydrae van die ram tot genetiese vordering binne 'n kudde is veel groter as die van die ooi. Groter akkuraatheid word by die klassering van ramme dus vereis en bykomende metings soos die volgende kan wenslik wees, naamlik skoonhaarproduksie, stapellengte, veselfynheid en teenwoordigheid van steekhaar.

 

2. VOEDING

In die sukses van die voormelde faktore speel voeding 'n belangrike rol. Die verhouding tussen die produksievermoë van die veld en die getal diere wat aangehou word, moet dus altyd in balans gehou word. Waar die balans versteur word, byvoorbeeld deur 'n droogte, moot die getal vee verminder word 6f byvoeding moet verskaf word of albei.

Beter voeding word verkry deur doeltreffende weiveldbeheer, droogtevoeding, voeding van ooie en gepaste byvoeding.

(a) Weiveldbeheer - In ekstensiewe veeweigebiede is 'n goeie weidingstelsel die basis tot suksesvolle boerdery. Die veld is die goedkoopste bron van voeding en dit moet dus optimaal benut word. Die volgende aspekte is van belang: (i) Pas 'n realistiese veebelading toe. (ii) Sorg dat daar voldoende kampe is. (iii) Moenie die vee onnodig in te veel troppe verdeel nie. (iv) Laat rus soveel veld so lank as moontlik en hou die beweidingsperiode so kort as moontlik.

Die weigewoonte van die Angorabok maak hom 'n baie nuttige dier maar terselfdertyd een wat baie versigtig hanteer moet word. Die volgende eienskappe is van belang : (i) Die Angorabok benut plantegroei op feitlik alle bereikbare strata. Dus as hy toegelaat word om onbeheerd te wei, sal hy skade aan die veld berokken voordat hyself die gevolge daarvan toon. (ii) Alhoewel bokke primêre struikvreters is, kan hulle ook baie goed op karoobossieveld, grasveld en aangeplante weidings klaarkom. (iii) Die bok is ook in staat om harde uitgegroeide bossies te benut. Hy kan nuttig gebruik word om sulke plante weer terug te "snoei", hulle weer in volle produksie te bring en 'n meer smaaklike plantegroei te skep. (iv) Weens die selektiewe weigewoonte van die Angorabok en die feit dat hy 'n ligte beweier van die veld is, is die kanse om in die bewaring, benutting en ontwikkeling van die veld te slaag groter as met enige ander kleinveesoort.

Navorsingsresultate toon duidelik dat wanneer skape en bokke of beeste en bokke saam wei, 'n hoer produksie per hektaar en dus 'n hoër inkomste verkry word. Die Angorabokke benut 'n aansienlike gedeelte van die plantegroei wat deur ander rasse onbenut gelaat word.

Daar is groot dele waar die Angorabok in verskillende rigtings tot voordeel ingeskakel kan word dat skaapgetalle verminder moet word indien die Angoragetalle vermeerder word (verhouding: twee Merinoskape tot drie Angoras). 'n Suksesvolle Angorabokboer sal dus net soveel Angoras aanhou as wat sy veld voor geskik is en wat hy goed kan versorg dwarsdeur die jaar, maar veral met lam- en skeertyd.

(b) Droogtevoeding - Ernstige droogtes kom van tyd tot tyd voor in die streke waar daar oor die algemeen met Angoras geboer word. Dit is dus belangrik dat terwyl die seisoen goed is, daadwerklike pogings aangewend word om droogtereserwes op te bou en voorsiening teen droogtes te maak.

Die bok se vernaamste behoeftes tydens droogte is die van energie.

Namate toestande dermate versleg en weinig voedsel op die veld is, is dit wenslik om Angoras in klein voerkampies byeen te bring en dan die voer in heksagonale voerrakke te voorsien. Die volgende aspekte moot in gedagte gehou word tydens droogtevoeding : (i) Begin vroegtydig voer. (ii) Voer net kernkudde. (iii) Voorsien genoeg voerrakke, skaduwee en skuiling en vars skoon water. (iv) Verdeel bokke in klein groepies volgens massa, ouderdom en skaamvreters (aggressie). (v) Wees versigtig om nie te min byvoeding te gee nie. (vi) Hou bokke skoon van inwendige parasiete.

(c) Voeding van ooie - 'n Lae voedingspeil (veral energie) gedurende laat dragtigheid benadeel bies- en melkproduksie. Gebrekkige voeding gedurende hierdie stadium lei ook tot die geboorte van klein en swak bokkies of selfs aborsies indien 'n energietekort ondervind word.

Voldoende energie-inname gedurende laktasie beïnvloed piek melkproduksie en laktasie volharding positief.

(d) Gepaste byvoeding - Wanneer nodig moet byvoeding op 'n effektiewe wyse verskaf  word. Dit is in hierdie opsig bekend dat die Angora se energiebehoofte hoër as die van ander kleinveerasse is. Energie-lekke word op oorwegend droë bossie- en struikveld gebruik en energie-proteïenlekke op oorwegend droë grasveld.

Die volgende aspekte ten opsigte van byvoeding is belangrik: (i) Begin vroegtydig met byvoeding aangesien die ooie die lek moet leer vreet. (ii) Begin met byvoeding sodra gemerk word dat bokke kondisie begin verloor. (iii) Dit is goeie beleid om met soutlek gedurende die maand van maksimum reënval te begin. (iv) Energie-aanvulling moet as noodsaaklik by die laatdragtige en lakterende ooi gesien word. (v) Die kontrolering van lek inname is van primêre belang indien enige sukses met lek aanvulling verkry wil word.

 

3. BESTUUR EN VERSORGING

Dit moot beklemtoon word dat as daar tans een faset is waardeur die Angorabokbedryf na 'n hoër en winsgewender vlak geskuif kan word dan is dit baie beslis bestuur en versorging. Beter bestuur en versorging verseker dat die vrugte van beter teelt en voeding gepluk word.

Ten einde die gladde verloop van werksaamhede op die plaas te verseker is dit nodig om In jaarprogram vooraf te beplan. Die program moet buigbaar wees en lang- en korttermyn doelstellings bevat.

Doeltreffende bestuur en versorging vereis voldoende beskutting, bestryding van uitwendige parasiete, beheer van inwendige parasiete, immunisering teen siektes, voorkoming van vagbesoedeling en doeltreffende fasiliteite, terwyl die hou van arbeid, plaas- en finansiële rekords die doeltreffendheid van bestuur verhoog.

(a) Voldoende beskutting - Honger, pasgeskeerde bokke wat in 'n vreemde kamp gejaag word, is veral slagoffers van abnormale klimaatstoestande. Daarom sal oordeelkundige gebruik van strategiese geplaaste skure, afdakke, krale en natuurlike beskutte kampe tydens abnormale koue en nat toestande ernstige verliese voorkom, veral gedurende die eerste ses weke na skeer.

(b) Bestryding van uitwendige parasiete - Besmetting met die Bontbosluis en die Karoo verlammingsbosluis veroorsaak jaarliks nog aansienlike verliese onder Angorabokke. Dit is noodsaaklik dat die Angorabok een of meer kere gedurende die groeiseisoen gedip word. Daar moet versigtig te werk gegaan word wanneer daar gedip word, siende dat Angoras meer senuweeagtig is as skape en geneig is om paniekerig te word en van die dipstof sluk. Dip kleinbokkies meer dikwels as volwasse bokke, aangesien ektoparasiete veral kleinbokkies baie in hul ontwikkeling kan strem. Kleinbokhaar is ook die duurste haar en spesiale sorg in die verband is geregverdig.

(c) Beheer van inwendige parasiete – Volwasse droë ooie en kapaters word minder ernstig as kleinbokkies deur inwendige parasiete beïnvloed. Op aangeplante weidings onder vogtige, warm toestande moet Angoras elke 4 weke gedoseer word (veral kleinbokkies). Kleinbokkies moet tot op 15 maande ouderdom veral teen Lintwurm-besmetting behandel word.

Plaas bokke 24 uur na dosering in skoon kampe wat minstens vir drie maande van weiding onttrek was. Doseringskoste kan laag gehou word deur gereeld, waar moontlik, mismonsters, met die oog op eiertellings, te neem.

Die voorkoms van koksidiose by Angorabokke veroorsaak jaarliks aansienlike verliese vir die bedryf. Die probleem neem veral ernstige afmetings aan onder ongespeende en speenbokkies wat blykbaar baie gevoelig is vir 'n besmetting met die betrokke organisme. Besmetting van hierdie diere neem gewoonlik ook toe wanneer bokkies onder meer intensiewe toestande grootgemaak word, byvoorbeeld onder ingekraalde toestande en op aangeplante weidings. Monensin-natrium (of in die rantsoen of in 'n lek ingesluit) is bekend daarvoor dat dit die bepaalde groep organismes waaronder koksidia ressorteer, vernietig of hulle aktiwiteit aansienlik beperk.

(d) Immunisering teen siektes – Die Angorabok is betreklik vry van siektes van epidemiese aard. Desnieteenstaande vrek groot getalle nog jaarliks aan siektes soos hartwater, bloednier, ens., en, in die geval van bokkies, aan maagontgesteldheid. 'n Vasgestelde ( stiptelike) immuniseringsprogram moet nagevolg word.

(e) Voorkoming van vagbesoedeling – Die waarde van h sybokhaarvag, wat ses maande lank geneem het om te groei, kan binne enkele oomblikke aansienlik verminder indien dit toegelaat word om gevlek of met plant: saad besmet te raak. Onnodige plant- en urinebevlekking en saadbesmetting onmiddellik voor skeer kan deur nodige maatreëls te tref en optimale bestuur voorkom word.

Die volgende maatreëls moet getref word:

(i) Vermy stof paaie, grasbedekte "spaarkampe" en natgedoude of sappige groenveld. (ii) Vermy samedromming. (iii) Mikskeer ooie in volle vag. (iv) Hou skeervloer en vangkrale skoon. (v) Pas doeltreffende weiveldbeheer toe.

(f) Doeltreffende fasiliteite - Die fisiese plaasplan moet in orde wees, met onder meer voldoende kampe, veesuipings, krale, bokskure, drukgange, vangkrale, ens.

Suiwer ekonomies gesproke is dit geregverdig om 5 kampe per kudde in die Karoostreek te verskaf en soveel as 9 kampe in die hoër potensiaal bosstruik- en grasvelde.

Alles inaggenome is dit klaarblyklik dat daar vele praktiese aspekte is waarmee die Angorabokboer mee rekening moot hou. Vanuit 'n ekonomiese sowel as 'n produksie- en bestuursoogpunt kan die winsgewendheid van Angorabokboerdery aansienlik verhoog word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Winter