Last update: April 12, 2012 11:41:29 AM E-mail Print

 

DIE EKSPERIMENTELE VERWEKKING EN BEHANDELING VAN CHRONIESE KRIMPSIEKTE BY ANGORABOKKE

 

S O VERMEULEN & J P J JOUBERT

Veterinêre Streekslaboratorium

Privaatsak X528

Middelburg KP 5900

 

INLEIDING

DIE eerste amptelike verwysing na krimpsiekte (nentavergiftiging) is die van Browne in 1864, soos aangehaal deur Steyn7, wat na die siekte verwys het as “t'nanta". Reeds in 1890 is bewys dat krimpsiekte veroorsaak kan word deur plakkie-soorte8 (Gras sulaceae). Die plante staan algemeen bekend as krimpsiektebossie, kandelaarsbos, nenta en plakkie en hulle sorteer onder die genera Cotyledon, Tylecodon en Kalanchoe.

Gunn, soos aangehaal deur Steyn 7 , het in 1931 'n ekstrak van Cotyledon ventricosa (krimpsiektebossie) berei en met laboratoriumproewe aangetoon dat dit soortgelyke eienskappe as digitalis het. Laasgenoemde is een van 'n groep chemiese stowwe wat in plante voorkom en bekend staan as hartglikosiedes. Digitalis kom voor in die plant Digitalis purpurea (fox glove) en word in klein dosisse gebruik as 'n hartstimulant, terwyl groot dosisse egter toksies is.

Verskeie hartglikosiedes kom in verskillende konsentrasies in nentaplante voor. Die hoeveelheid toksien in die plant varieer ook van seisoen tot seisoen, van jaar tot jaar en van een grondtipe tot 'n ander. Sommige van die hartglikosiedes veroorsaak skielike vrektes, terwyl ander weer die meer chroniese en tipiese krimpsiekte tot gevolg het.

Joubert en Schultz2 het bevind dat 'n mengsel van geaktiveerde houtskool en kalium-chloried baie effektief is vir die behandeling van hartglikosiedvergiftiging by skape as gevolg van die inname van die plant Urginea sanguinea (Transvaal slangkop). Dieselfde behandeling en dosis van 5 g/kg geaktiveerde houtskool en 1 g/kg kalium-chloried is later gebruik in gevalle van tulpvergiftiging (Moraea poiystachya) by beeste en skape. Geaktiveerde houtskool (5 g/kg) alleen was egter net so doeltreffend3. In 'n opvolgende eksperiment is bepaal dat 2 g/kg geaktiveerde houtskool die minimum doeltreffende dosis vir die behandeling van tulpvergiftiging was4 .

In ongekontroleerde waarnemings het Marincowitz6 blykbaar goeie resultate behaal met die behandeling van krimpsiekte deur gebruik te maak van 'n mengsel van Vita kalfmelkpoeier, suurlemoensap (of askorbiensuur as alternatief), kookolie, voerkalk, glukose en swawel.

Tydens aanvanklike proewe gedurende 19825 is Angorabokke eksperimenteel vergiftig met Tylecodon wallichii (kandelaarsbos) en verskeie behandelings met mekaar vergelyk. Die behandelings het verskillende kombinasies van een of meer van die volgende middels ingesluit, naamlik geaktiveerde houtskool, kalium-chloried, asyn en suiker. Die beste resultate was verkry in die groep wat behandel was met geaktiveerde houtskool en kalium-chloried. Die eksperimenteel-verwekte gevalle was egter van meer akute aard, gevolglik is besluit om die chroniese vorm, wat meer algemeen onder natuurlike toestande voorkom, te verwek en die verskillende behandelings weer te vergelyk. As gevolg van die ontwikkeling van asidose, is asynbehandeling nie weer oorweeg nie.

 

PROEFPROSEDURE

1 Toksiese materiaal

Tylecodon wallichii is gebruik teen 'n eksperimenteel geselekteerde dosis van 0,25 g/kg vars gekerfde blare per dag. Toediening is daagliks volgehou totdat rumenstase vir twee agtereenvolgende dae voorgekom het.

 

2 Eksperimentele diere

Vier -en -twintig 2 jaar oud Angorabokke van beide geslagte is ewekansig in 4 behandelingsgroepe van 6 elk ingedeel. 'n Vyfde groep van 6 bokke, uit dieselfde bron, is 21 dae later by die eksperiment ingesluit. Voorsiening is vir die volgende groepe gemaak :

 

Groep 1:         Enkeldosis geaktiveerde houtskool (2 g/kg) plus enkeldosis kaliumchloried (1 g/kg).

Groep 2.         Enkeldosis geaktiveerde houtskool (2 g/kg) plus enkeldosis kaliumchloried (1 g/kg) plus 200 g suiker en 10 g suurdeeg daagliks totdat rumenbewegings normaal is.

Groep 3:         Enkeldosis geaktiveerde houtskool (2 g/kg) plus enkeldosis kaliumchloried (1 g/kg) plus 200 g melksurrogaat daagliks totdat rumenbewegings normaal is.

Groep 4:         Kontrole.

Groep 5:         Enkeldosis geaktiveerde houtskool (2 g/kg) plus enkeldosis kaliumchloried (1 g/kg) op die eerste dag van behandeling, gevolg deur 200 g melksurrogaat daagliks vanaf die tweede dag van behandeling totdat rumenbewegings normaal is.

 

3 Behandeling van proefdiere

Alle diere is vooraf aan volledige kliniese ondersoeke onderwerp en daagliks daarna vir die volle duur van die proewe.

Na bevestiging van volgehoue rumenstase op die derde agtereenvolgende dag, is dosering met toksiese materiaal gestaak en die onderskeie behandelings toegepas.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Oorweging vir die latere insluiting van die vyfde behandelingsgroep was om die moontlikheid van binding van geaktiveerde houtskool aan die melksurrogaat, met gevolglike afname in geaktiveerde houtskool se bindingspotensiaal aan gifstowwe in die rumen, te kontroleer. 'n Soortgelyke interaksie tussen looisuur en geaktiveerde houtskool is voorheen beskryf1 .

 

 

Simptome van krimpsiekte het ontwikkel tussen die vierde en nege- en -twintigste dag na aanvang van dosering (Tabel 1). Die simptome het ooreengestem met die wat beskryf is vir chroniese of "dun" krimpsiekte 7,8, naamlik lusteloosheid, uitputting met oefening, aanhoudende bewegings van die lippe en tong, skuimerige speekselvloei, spierbewerasie, swaai van die kop tydens beweging, geforseerde abdominale asemhaling, verslapping van die onderkaak en 'n krom houding. Sommige bokke het aanvanklik meer akute simptome, soos opblaas en buikpyn, getoon, wat later in die meer chroniese simptome oorgegaan het. EetIus en rumenbewegings het in baie gevalle normaal voortgeduur vir 'n paar dae nadat die eerste chroniese simptome waargeneem is. Ander simptome soos laksering, aanhoudende stertbewegings en aritmiese en vinnige pols (tagikardie) het ook algemeen voorgekom ( sien Tabel 1). Die volgorde van simptome het gewissel, en het geen duidelike patroon gevolg nie.

Aansienlike variasie in individuele vatbaarheid vir nenta-vergiftiging is waargeneem, soos ook in vorige proewe ondervind is. Die verskille is ondervind in lengte van die periode na aanvang van dosering totdat die eerste simptome waargeneem is, asook die tydperk vanaf staking van dosering tot intrede van dood of herstel (Tabel 1).

Die tydstip van aanvang van behandeling in eksperimentele nentavergiftiging is moeilik te bepaal, aangesien min meetbare simptome gewoonlik teenwoordig is. Die maatstaf soos gebruik in hierdie eksperiment, naamlik om behandeling te begin wanneer rumenstase vir 3 agtereenvolgende dae voorgekom het, was op praktiese oorwegings gegrond en het redelik doeltreffend geblyk te wees, ofskoon twee bokke dood is voordat behandeling 'n aanvang moes neem.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat min meetbare simptome voorkom, dat groot individuele variasie ten opsigte van vatbaarheid vir nenta-vergiftiging bestaan, en dat proefresultate maklik as onbetroubaar beskou kan word indien behandeling te vroeg 'n aanvang neem.

'n Interessante waarneming tydens die proewe was die waarskynlike afname in toksisiteit van T wallichii na reën. Gedurende die periode wat verloop het tussen dosering van die eerste 4 groepe, en in 'n stadium waar hulle reeds simptome getoon en onder behandeling was, en aanvang van dosering van die vyfde groep, het 50 mm reën geval. Die blare van T wallichii wat vir die dosering van groep 5 gebruik is, was opvallend sappiger as die wat vir dosering van die eerste 4 groepe gebruik is. Waar die bokke in groepe 1 tot 4 almal simptome begin toon het binne 4 tot 15 dae na aanvang van dosering, het die bokke in groep 5 tussen 16 en 29 dae geneem om simptome te ontwikkel. Die verlaagde toksisiteit kan dus waarskynlik toegeskryf word aan 'n verdunningseffek.

Die beste resultate is verkry met die behandeling van geaktiveerde houtskool plus kalium-chloried alleen, soos toegepas by groep 1, waar 4 uit 6 bokke oorleef het, gevolg deur groep 5 waar 2 uit die 6 diere oorleef het. Hoewel 2 bokke van groep 3 dood is voordat hulle behandel kon word, is daar nogtans 3 van die 4 behandeldes dood, en was hierdie behandeling dus minder doeltreffend as die van groepe 1 en 5. Behandeling van groep 2, met geen oorlewendes, het geblyk ondoeltreffend te wees. AI die bokke in die kontrole groep is dood.

Die waarde van ondersteunende behandeling, soos asyn, suiker, suurdeeg en melksurrogaat, word deur die bevindings tydens hierdie en vorige proewe in twyfel getrek. Tydens nadoodse ondersoeke op bokke wat dood is gedurende die verloop van die proewe, is letsels van longontsteking in heelwat gevalle waargeneem. Dit kan dus 'n bydraende faktor wees ten opsigte van die laer oorlewingsyfer in die groepe waar ondersteunende behandeling daagliks toegedien is, aangesien dit 'n bekende feit is dat diere met krimpsiekte probleme ondervind om normaal te kou en te sluk, as gevolg van verlamming van die spiere, met die gevolg dat rumeninhoud en middels wat doseer word dikwels in die trachea beland, selfs met dosering per maagbuis.

Hoewel meer bokke oorleef het in die groep wat melksurrogaat eers vanaf die tweede dag van behandeling ontvang het, as in die groep wat 'n mengsel van melksurrogaat en geaktiveerde houtskool op die eerste dag van behandeling ontvang het, was die verskil tussen die 2 groepe nie groot genoeg om betekenisvol te wees nie. Verdere ondersoeke sal uitgevoer moet word om te bepaal of interaksie tussen geaktiveerde houtskool en melksurrogaat wel 'n rol speel ten opsigte van die bindingspotensiaal van die geaktiveerde houtskool.

Opsommend kan die stelling dus gemaak word dat, op grond van verskeie proewe, die eerste keuse van behandeling van chroniese krimpsiekte 'n kombinasie van geaktiveerde houtskool en kaliumchloried is, sonder opvolgende ondersteunende behandeling per as. Goeie algemene versorging en voeding van vergiftigde bakke, saam met bogenoemde behandeling, moot altyd nagestreef word.

 

VERWYSINGS

1 GOODMAN L S &: GILLMAN A, 1975. The pharmacological basis of therapeutics. Fifth Edition. MacMillan Publishing Co Inc, New York. 951.

2 JOUBERT J P J &: SCHULTZ R A. 1982. The treatment of Urginea sanguinea Schinz poisoning in sheep with activated charcoal and potassium chloride. Journal of the South African Veterlonry Association 53,25 - 28.

3 JOUBERT J P J &: SCHULTZ R A, 1982. The treatment of Moraea polystachya (Thumb) Ker-Gawl (cardiac glycoside) poisoning in sheep and cattle with activated charcoal and potassium chloride. Journal of the South African Veterinary Association 53, 249 - 253.

4 JOUBERT J P J & SCHULTZ R A, 1982. The minimal effective dose of activated charcoal in the treatment of sheep poisoned with the cardiac glycoside containing plant Moraea polystachya (Thumb) Ker-Gawl. Journal of the South African Veterinary Association 53, 265 - 266.

5 JOUBERT J P J & VERMEULEN SO, 1983. 'n Oorsig van navorsingswerk tot dusver gedoen in verband met krimpsiekte. Interne verslag. Veterinêre Streekslaboratorium, Middelburg Kaap.

6 MARINCOWlTZ H, 1981. Neutralising nenta. Farmers' Weekly May 13, 1981. 12 - 15.

7 STEYN D G, 1934. The toxicology of plants in South Africa. First Edition. Central News Agency, Cape Town. 222 - 236.

8 WATT J M & BREYER.BRANDWIJK M G, 1962. Medicinal and poisonous plants of Southern and Eastern Africa. Second Edition. E & S Livingston Ltd, Edinborough and London. 311 - 325.

 

Published

unknown