Last update: April 11, 2012 09:27:40 AM E-mail Print

 

Eksterne Faktore wat Eierproduksie Beïnvloed

C. R. Liebenberg

 

IN verband met teelt word gewoonlik gepraat van twee soorte faktore wat produksie beïnvloed, nl. oorerwings- en omgewingsfaktore. Laasgenoemde word ook eksterne faktore genoem. Onder eersgenoemde het die pluimveeteler met sulke faktore te doen as broeisheid, grootte van eier, kleur van eier, vroegrypheid, totale produksie, bouformasie, bou-eienskappe, kleur, ens. Die sukses met die aankweek van hierdie eienskappe hang grotendeels af van die teler se kennis van oorerwingsleer, en sy kennis van sy diere self.

Omgewings- of eksterne faktore staan in baie nou verband met oorerflike faktore, en kan vandag tot 'n groot mate met sukses deur die teler beheer word. Om sukses te behaal, is dit absoluut noodsaaklik dat die twee soorte faktore in harmonie met mekaar moet wees, d. w .s. die een moet die ander ondersteun. Die faktore wat ons kortliks wil bespreek en wat geklassifiseer word as omgewingsfaktore is in die pluimveewêreld waar veral op eierproduksie gelet word, hoofsaaklik die volgende: klimaatstoestande, behuisingstoestande, voedingsfaktore, uitbroeiing en veral tyd van uitbroei, verstorings, parasiete en siektes.

 

Klimaatsfaktore

Die mate waartoe klimaatsfaktore eierproduksie beïnvloed, is nie dieselfde op die verskillende rasse nie. So sal skielike temperatuurskommelinge minder invloed hê op die swaarder rasse soos die Australorp, ligte Sussex, Rhode Island Red, Koekoek, ens., as op die ligter rasse soos die Leghorn en die Ankona. Dit is niks ongewoons dat skielike koues, afwisselende winde, stofstorms, ens., dadelik die Leghorn uit produksie kan gooi nie. Of hierdie invloed ook merkbaar was in die wilde staat van die hoender, is twyfelagtig. Goeie eierproduksie is moontlik in koue sowel as in warm temperature, dog sodra skielike veranderings oor 'n kort tydperk intree, word die produksie benadeel. Die hoender is egter in staat om homself aan te pas by verskillende klimaats- en omgewingstoestande, en dit is hoofsaaklik as gevolg hiervan dat pluimvee oor die hele wêreld versprei is.

 

Behuisingsfaktore

Behuising van pluimvee is vandag 'n noodsaaklike faktor in eierproduksie. Dit het met die stelselmatige teling van pluimvee te voorskyn getree, en is hoofsaaklik bedoel om die hoender te beskerm teen klimaatskommelinge. Waar die oogmerk egalige produksie is, is dit noodsaaklik dat die klimaatstoestande ook so egalig moontlik gehou moet word, en so is dit vandag die algemene gebruik dat lêhuise voorsien word van verwarmingstoestelle. Afgesien van die tipe huis, wat temperatuurskommelinge so min moontlik sal toelaat, moet die huis ook nog beantwoord aan ander vereistes voordat dit as doeltreffend beskou kan word nl. dit moet genoeg ruimte laat vir die getal hoenders wat daarin gehuisves moet word; dit moet goed geventileerd wees; en dit moet vogtigheid sover moontlik uitskakel.

Die getal hoenders wat aangehou word in 'n lêhuis het 'n vername invloed op produksie. Hoe groter die getal wat gehuisves moet word, hoe kleiner is die gemiddelde opbrings per hen, veral waar die verskillende troppe van dieselfde teling bymekaar is. Lêhuise wat 100 henne kan huisves, word vandag aanbeveel. Dit beteken nie alleen 'n besparing van arbeid nie, d. w .s. in teenstelling met kleiner eenhede, dog ook 'n besparing van kapitaal. Namate die boerderystelsel wat toegepas word, en die soort ras wat aangehou word, word die grootte van die huis bereken. Onder die intensiewe stelsel van pluimveeboerdery, soos die wat veral in stede en rondom stede toegepas word, word die henne dwarsdeur die jaar in die huis gehou. Hier word vir elke hen van 'n ligte ras nie minder as 4 vierkante voet vloerspasie en nie meer as 6 vierkante voet vir een van 'n swaar ras gegee nie. Dit is dus nie wenslik om twee rasse d. w.s. 'n ligte en 'n swaar ras saam in een huis aan te hou nie. Onder die semi-intensiewe stelsel, wat meer populêr en algemeen in ons land is, word die henne vir 'n sekere tyd van die dag uitgelaat in kampe. Hier laat ons 2 tot 3 vierkante voet vloerspasie vir ligte rasse en 4 vierkante voet vir swaar rasse toe.

Goeie ventilasie is noodsaaklik onder watter stelsel van behuising die hoenders ook al aangehou word, omdat daar 'n goeie sirkulasie van vars lug moet wees. As vars lug nie altyd aanwesig is nie, moet die gesondheid van die hen noodwendig daaronder ly en gevolglik ook haar eierproduksie. King(1) bewys dat henne wat gemiddeld 3 pond weeg daagliks 24.8 kubieke voet lug per hen gebruik. Hy bewys verder dat 'n hen deur asemhaling ongeveer driemaal soveel lug per pond lewende gewig gebruik as 'n koei. Hy tref die volgende vergelyking. Die hoeveelheid kubieke voet lug wat elke 24 uur per 1,000 pond lewende gewig ingeasem word, is as volg: koei, 2,804; mens, 2,833: perd, 3,401; en hen, 8,278 kubieke voet.

Met proewe aan die Landboukollege, Wye, Engeland, is vasgestel dat hoenders ongeveer 1 pint lug per minuut, of 1.2 kubieke voet per uur inasem. Die lugbehoefte vir groot en klein hoenders is gevind dieselfde te wees. Dit word aanbeveel dat 10 kubieke voet ruimte per hen toegelaat moot word.

Vogtigheid in lêhuise is van die grootste nadele, want dit veroorsaak hoenderverkoues, hoenderwitseerkeel en ander siektes, en beïnvloed eierproduksie ook nadelig. Dann(2) bewys dat wanneer 100 Leghorn-henne vir 10 uur op die slaapstokke is, en vir 14 uur van die dag op die vloer, dan verdamp daar daagliks 7.820 lb. water van die misplanke en 11. 875 lb. water van die skropgoed op die vloer. Aangesien die hoender se liggaam nie voorsien is met sweetkliere nie, word groot hoeveelhede vog gereeld uitgeasem. Gedurende koue weer wanneer die liggaamshitte van die hoender bewaar word, styg die vogtigheid in die lêhuis en in die oggend word dit gewoonlik as ryp op die balke en plafon in die huis gesien.

Dit is dus belangrik dat die voorkant van die lêhuis oop gebou moet wees, en in 'n noord tot noordoostelike rigting moet kyk, sodat 'n maksimum van sonlig gedurende die dag in die huis kan skyn. Sonlig is 'n groot faktor om die gesondheid van hoenders in stand te hou. In nat en vogtige lande, en veral waar lêhenne op die intensiewe stelsel aangehou word, sodat hulle 'n absolute minimum sonlig kry, word lewertraan-olie kunsmatig aan die henne gegee. Hier in ons land waar 'n maksimum hoeveelheid sonlig gedurende elke dag van die jaar geniet word, is hierdie kunsmatige toediening gelukkig nie nodig nie.

 

Voedingsfaktore

Vir eierproduksie is voeding 'n algemeen bekende item, en is uiters belangrik. Saam met behuising vorm dit seker die vernaamste faktor om produksie reëlmatig te laat plaasvind. As die liggaam van die lêhen nie die regte hoeveelhede, en in die regte vorm gegee word nie, kan die pluimveeboer nie verwag dat sy henne hul beste sal gee nie. 'n Gebrekkige rantsoen verhoed dat die hen die maksimum waartoe sy in staat is, sal produseer. 'n Goed gebalanseerde rantsoen, d.w.s. nie alleen gebalanseer wat betref die proteïen, koolhidrate, en vette nie, maar ook wat betref die minerale, is 'n absolute vereiste vir goeie produksie. Rantsoene kan opgestel word van verskillende soorte grane en graan-neweprodukte; namate dit vir die boer beskikbaar is, en produksie kan daarop gelewer word, dog dis belangrik dat die soort voer en metodes van voeding regdeur die jaar so eenvormig moontlik moet wees.

Skielike veranderings in die rantsoene kan as gevolg hê dat die henne heeltemal ophou met lê en dat hulle selfs gedeeltelik kan oorgaan tot verveer. Gedurige veranderings in die metodes van voeding kan dieselfde uitwerking hê. Dit word vandag aangeneem dat gebalanseerde voeding in die volgende voedingsbestanddele moet voorsien: 3.5 tot 5 persent vesel; 12 tot 15 persent verteerbare proteïen, waarvan 4 tot 5 persent van dierlike oorsprong moet wees; en nie meer as 70 tot 75 persent totale verteerbare voedingstowwe nie.

Gewoonlik besit ons plaasgrane met: hul neweprodukte genoeg mineraalstowwe om te voorsien in die mineraalbehoeftes van die lêhen behalwe ten opsigte van kalsium, natrium, en fosfor. Hierdie drie word dan ook direk aan die lêhen gegee; kalsium in die vorm van oesterskulp of fyngemaalde kalkklip, natrium in die vorm van kombuissout, en fosfor in die vorm van beenmeel. Saam met bogenoemde voedingstowwe moet die liggaam ook voorsien word met wat vandag bekend is as vitamine. Groenvoer word grotendeels weens sy vitamiengehalte en lakserende uitwerking gevoer. Hoewel daar vitamine A, B, C, D, E, F, en G is, is die belangrikstes wat in pluimveevoer in aanmerking geneem moet word, vitamine A, B, D, E, en G. Tekorte aan hierdie stowwe veroorsaak verskillende soorte gebreksiektes, soos verlamming, onvrugbaarheid, voedings-" roup ", ens.

 

Tyd van Uitbroei

Die tyd van uitbroei beïnvloed ook die produksie van eiers. Verskillende navorsers het hierdie stelling alreeds prakties bewys. Die beste uitbroei-tyd in ons land is gedurende die maande Augustus en September tot middel Oktober. Kuikens wat na hierdie tyd uitbroei, groei gewoonlik stadiger en kom gevolglik ook baie later in die lê. Henne wat egter gedurende hierdie tydperk uitgebroei word en normale behandeling geniet, kom gewoonlik gedurende Maart, April, Mei en Junie in die lê wanneer die prys van eiers hoog is. Hierdie faktor het sy grootste invloed gedurende die eerste lêjaar van die hen, wanneer ook die hoogste produksie verwag word.

 

Parasiete en Siektes

Parasiete en siektes kan eierproduksie so nadelig beïnvloed dat dit geheel-en-al kan ophou. Eksterne parasiete soos luise en myt het veral die gevolg om produksie te verminder wanneer hulle te veel word op die hoenders. Interne parasiete soos rondewurms, lintwurms, ens., het dieselfde uitwerking. Siektes kan of die dood veroorsaak of die inkomste so verminder dat die onderneming nie meer betalend is nie. Om hierdie rede is dit wenslik dat diere geteel moet word uit gesonde ouers, en so dat hul gestelle sterk genoeg is om soveel weerstand as moontlik te kan bied teen siektes. Dit is nie 'n wyse beleid om van siek diere te teel nie, of van teelhoenders waarvan die nageslag reeds 'n hoë sterftesyfer in die verlede getoon het nie. Die eier is in sommige gevalle die draer van sekere siektekieme. Sorg dus dat die teeldiere of deur bloedtoetse of deur nageslagstoetse bewys gelewer het dat hulle absoluut gesond is en weerstand kan bied teen siektes. Dit is vandag 'n algemeen bekende feit dat met die verhoogde eierproduksie daar ook 'n toename in die sterftesyfer is, nie omdat ons voeding of behuising foutief is nie, dog miskien in die eerste plek omdat die gestel nie die produksie kan staan nie en dus blootgestel word aan allerhande siektekieme. Die oorsaak hiervan moet in die meeste gevalle in die teelhokke gesoek word.

 

Algemene Verstorings

Net soos skielike temperatuurskommelinge, veroorsaak algemene verstorings ook 'n tydelike vermindering in eierproduksie. Hierdie verstorings mag wees as gevolg van liggaamlike ongelukke, skrik, of omdat die lêhenne te dikwels van een plek na 'n ander verskuif word. Dit sal gevind word dat lêhenne wat gewoon was om op 'n vryloopstelsel te lewe en dan na hokke of lêhuise oorgebring word, op sal hou met Iê. Hierdie feit bewys dat om maksimum produksie te verkry, dit 'n beleid in die bestuur moet wees om die lêhenne so min as moontlik te hinder en dat algemene toestande so eenvormig moontlik gehou moet word.

Uit die voorafgaande word dit dus duidelik dat die pluimveeboer tot 'n groot mate eksterne faktore kan beheer en wysig sodat dit maksimum produksie in die hand sal werk. Dit moet egter hier opgemerk word dat wanneer al bogenoemde faktore normaal is, dit nog nie beteken dat swakgeteelde diere sal verbeter nie. Aan die ander kant kan goed geteelde diere baie nadelig beïnvloed word wanneer die omgewingsfaktore ongunstig is, trouens, so nadelig dat, afgesien van swak produksie, hulle heeltemal ongeskik mag word om in die toekoms van te teel. 'n Deeglike kennis van oorerwing en praktiese ondervinding van bestuur is die basis waarop suksesvolle eierproduksie berus.

 

LEKTUUR

(1) King, F. H. Physics of Agriculture, Madison, Wis.

(2) Dann, A. B. 1923 Wet Litter in the Poultry House. Poultry Sc. 111, pp. 15-19.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 13