Last update: March 26, 2012 03:51:34 PM E-mail Print

 

Enkele weidingkundige aspekte van Karooveld en die effek daarvan op die veebedryf in die Karoostreek

 

M. Vorster

Afdeling Hulpbronontwikkeling (Karoostreek)

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg Kaap

5900

 

INLEIDING

Karooveld het verskeie weidingkundige eienskappe wat dit van grasveld en bosveld onderskei. Hierdie eienskappe het 'n groot invloed op die veebedryf (byvoorbeeld die verspreiding en produksie van vee) en moet deeglik by veeboerdery in aanmerking geneem word.

 

ALGEMENE BESKRYWING

Die veld van die Karoo is vir die eerste keer deur vroeë reisigers soos Barrow, Burchell, Campbell, Lichtenstein, Thompson en Thunberg beskryf. Meer gedetailleerde beskrywings is deur, onder andere, Pole-Evans (1935) en Adamson (1938) gedoen. Die omvattendste beskrywing is egter "Veld types of South Africa" van Acocks (1975). Van die sewentig veldtipes in Suid-Afrika, kom 25 geheel of gedeeltelik in die Karoostreek voor (naamlik veldtipes 23 tot 33, 35 tot 40, 42, 43, 48, 50, 59, 60, 69 en 70).

Van wes na oos wissel die plantegroei van die vlaktegebiede van hoofsaaklik yl sukkulente en karoobossies, Boesmangras (Stipagrostis spp.), gemengde karoobossies en gras tot grasveld. Hoër struike word in variërende hoeveelhede dwarsdeur die vlaktegebiede aangetref. Die belangrikste karoobossies is Pentzia spinescens, P. incana, P. globosa, Eriocephalus ericoides, E. spinescens, Chrysocoma tenuifolia, Rosenia humilis, R. prostrata, Salsola spp., Galenia spp., Pteronia spp., Zygophyllum spp. en Eberlanzia spp. (byvoorbeeld E. spinosa). Die dominante eenjarige en meerjarige grasse is Stipagrostis obtusa en S. ciliata in die westelike dele en Aristida diffusa var. burkei, A. congesta, Eragrostis lehmanniana en E. bicolor in die oostelike dele. Die belangrikste hoe struike en lae bome is Acacia karroo, A. mellifera var. detinens, Rhigozum trichotomum, R. obovatum, Rhus spp. En Lycium spp. (Vorster & Roux, 1983).

Volgens Vorster & Roux (1983) word die berggebiede deur struike (byvoorbeeld Elytropappus rhinocerotis, Euryops spp)., veselagtige grasse (byvoorbeeld Merxmuellera disticha) , meerjarige soetgrasse (byvoorbeeld Themeda triandra en Ehrharta calycina) en karoobossies (byvoorbeeld Eriocephalus ericoides, Chrysocoma tenuifolia, Pteronia spp.., Pentzia spp. en Eberlanzia spp.) gekarakteriseer.

 

VERSPREIDING VAN VEE

As gevolg van die plantegroeitipes (byvoorbeeld gemengde grasbossieveld) en klimaat, is karooveld hoofsaaklik vir kleinvee geskik, terwyl beeste in die oostelike grasvelddele, waar Themeda triandra en Merxmuellera disticha oorwegend voorkom, 'n betekenisvolle rol speel.

Die plantegroeitipe en klimaat het ook 'n aansienlike effek op die verspreiding van kleinveerasse in die Karoostreek. In die dor noordwestelike en suidwestelike dele van die gebied is vleisrasse (byvoorbeeld Dorpers en Karakoele) belangrik. Die Angorabok en Boerbok word oorwegend in die bosstruikveld-gebiede in die suidoostelike dele van die Karoostreek aangetref. Die wolproduserende Merino is verreweg die belangrikste kleinveeras in die Karoostreek en word oor die res van die gebied, waar gemengde karooveld voorkom, aangetref (Roux, Vorster, Zeeman & Wentzel, 1981).

Daar moet egter in gedagte gehou word dat aansienlike oorvleueling van verspreidingspatrone wel voorkom. Dit kan oorwegend aan ekonomiese faktore toegeskryf word. Die uitbreiding van die Angorabok uit die tradisionele gebiede na die res van die Streek, die afgelope 10 jaar, is 'n goeie voorbeeld.

 

WISSELENDE VOERPRODUKSIE EN VOEDINGSWAARDE

Dit is welbekend dat die voerproduksie en voedingswaarde van karooveld geweldig fluktueer en dat dit gevolglik 'n aansienlike uitwerking op veld- en diereproduksie het. Periodes van oorvloed word gewoonlik opgevolg deur periodes van skaarste. Hierdie fluktuasie kan hoofsaaklik aan klimatologiese faktore - waarvan reënval die belangrikste is - en die groei-aktiwiteit van die verskillende plantegroeikomponente (byvoorbeeld bome, struike, karoobossies, grasse en opslag) gedurende verskillende seisoene toegeskryf word (Roux, 1966; Vorster & Sykes, 1982).

Die seisoenale en jaarlikse fluktuasie in die produksie van karoobossies word in Fig. 1 aangetoon en die seisoenale variasie binne die verskillende veldsoorte (byvoorbeeld bulte, vlaktes, ensovoorts) in Fig. 2.

 

 

Bogenoemde neigings word ook in die voedingswaarde van karooveld aangetref. Meerjarige soet- en suurgrasse toon 'n groter afname in voedingswaarde gedurende die winter as bossies. Die variasie in meerjarige soet- en suurgrasse is ook groter as die van bossies gedurende die seisoene. Dit is veral proteïen wat sulke groot fluktuasies toon. Gedurende die groeiseisoen is daar min verskil in die voedingswaarde tussen meerjarige soet- en suurgrasse en bossies. Die grasse het egter in hierdie tyd 'n hoër totale voedingstofinhoud en dus 'n hoër weidingskapasiteit as bossies. Daarenteen, het bossies 'n hoer voedingswaarde gedurende die winter as meerjarige soet- en suurgrasse (Henrici, 1935; Botha, 1938; Louw, 1969). Die feit dat bossies 'n hoër wintervoedingswaarde as grasveld het, moet egter nie gebruik word om 'n gebied waar meerjarige soet- en suurgrasveld dominant kan voorkom, in 'n bossieveld te omskep om sodoende die voedingsprobleme wat gedurende die winter in grasveld kan ontstaan, die hoof te bied nie. Op die lang termyn is so 'n praktyk nie ekonomies geregverdig nie omdat die weidingskapasiteit daardeur verlaag word. Daar moet eerder oorweeg word om die meerjarige soet- en suurgrasveld te behou en die voedingstekorte wat gedurende die winter ontstaan oordeelkundig aan te vul.

As gevolg van die afname in die gemiddelde jaarlikse reënval van oos na wes (> 450 mm tot < 100 mm), is daar dienooreenkomstig 'n afname in die gemiddelde jaarlikse produksie van karooplante (Botha, 1982a), met die gevolg dat die langtermyn-weidingskapasiteite ook dieselfde tendens sal toon. Trouens, die beraamde langtermyn-weidingskapasiteite wissel van ongeveer 10 ha/GVE in die ooste tot meer as 45 ha/GVE in die weste en verre noordweste (Fig. 3) (Vorster, Meyer, Du Preez, Van der Merwe & Kirsten, 1985). Gedurende seisoenale en langdurige droogtes is karooveld nie in staat om normale diereproduksie in stand te hou nie. Op grond hiervan is addisionele voeding (byvoorbee1d droogtevoergewasse) uiters belangrik om optimale diereproduksie te verseker (Roux, et al., 1981).

 

BENUTBAARHEID VAN PLANTE

Die algemene verspreiding van karooplante gebaseer op benutbaarheid word in Fig. 4 opgesom. Hiervolgens bestaan die grootste gedeelte van die Streek (61,6%) uit 'n mengsel van hoë, redelik en lae benutbare plante. Die suidwestelike en westelike dele word deur redelik en lae benutbare plante oorheers, en enkele gebiede in die verre ooste deur hoë en redelik benutbare plante. Die noordwestelike deel word oorwegend deur hoe sowel as lae benutbare plante oorheers.

 

Die belangrikste hoe benutbare plante in die oostelike helfte van die Streek is Themeda triandra, Eragrostis lehmanniana, E. curvula, E. bicolor, Portulacaria afro, Pappea capensis, Grewia oxidentalis en Acacia karroo, terwyl Stipagrostis obtusa, Salsola tuberculata en S. zeyheri die belangrikste hoe benutbare plante in die westelike dele is. Die redelik benutbare plante is hoofsaaklik Pentzia spinescens, P. incana, P. globosa, Eriocephalus ericoides, E. spinescens, Zygophyllum microphyllum, Salsola aphylla, Merxmuellera disticha en Aristida diffusa var. burkei. Die lae benutbare plante word, onder andere, gekenmerk deur spesies soos Elytropappus rhinocerotis, Euryops spp., Rhus spp., Euclea undulata, Lycium spp., Acacia mellifera var. detinens, Rhigozum .trichotomum, Chrysocoma tenuifolia, Rosenia humilis, Pteronia spp. en Eberlanzia ferox (Vorster, 1985).

 

PLANTGEASSOSIEERDE SIEKTES

Ten minste 30 plantspesies is giftig vir kleinvee in die Karoostreek (Bath, 1979, Pers. kom.). Die belangrikste van hierdie plantspesies is Cynodon spp. wat geilsiekte veroorsaak en Cotyledon spp., Kalanchoe spp. en Tylecodon spp. wat verantwoordelik is vir krimpsiekte, veral by Angorabokke. Laasgenoemde spesies word hoofsaaklik in die suidelike dele van die Groot Karoo sowel as in die Klein Karoo aangetref en verhoed dat Angorabokke verder in hierdie gebiede kan uitbrei (Botha, 1982b). Tribulus terrestris (duwweltjie) is die hoofoorsaak van die metaboliese siekte, geeldikkop (Tribulus ovis) (Kellerman, Van der Westhuizen, Coetzer, Roux, Marasas, Minne, Bath & Basson, 1980).

Op erg gedegradeerde veld is die vee, as gevolg van eensydige diëte, geneig om fisiologiese steurnisse te kry. Dit gee aanleiding tot laer veeproduksie of vrektes. Die belangrikste van hierdie siektes is domsiekte wat as gevolg van 'n energietekort ontstaan terwyl ensoötiese ikterus, 'n vorm van chroniese kopervergiftiging, ook kan voorkom (Brown, 1962).

Aan die ander kant vermoed Hayward  dat daar 'n kopertekort kan ontstaan by vee op veld waar Salsola tuberculata en Stipagrostis obtusa in die Noordwestelike Karoo voorkom. Die tekort gee aanleiding tot lamsiekte, beenbreuke en bloedarmoede by lammers.

 

VELDPLAE

Karooveld word van tyd tot tyd deur akute insekplae geteister. Hierdie insekte benut die blare, stingels en lote en kan die voer op die veld drasties verlaag, en 'n tydelike voertekort veroorsaak.

Die belangrikste plaag in die Karoostreek is die karoorusper (Loxostege frustalis). Möhr (1982) het gevind dat die Pentzia spp., wat algemeen voorkom, die vernaamste gasheerplant vir hierdie plaag is.

Ander plae wat voorkom, is die grasdraertermiet, Hodotermes mossambicus (Van Ark, 1969; Nel, Walters & Pretorius, 1974) en die bruinsprinkaan (Locustana pardalina) (1964).

 

GEVOLGTREKKINGS

Uit bogenoemde is dit duidelik dat veeproduksie vanaf veld in die Karoo aan 'n verskeidenheid weidingkundige beperkings onderhewig is. Dit is dus van die uiterste belang dat veeboere kennis van hierdie beperkings moet dra en bulle boerderye daarby aanpas. lndien dit nie gedoen word nie, sal die stabiliteit en winsgewendheid van kleinveeproduksie benadeel word.

 

1 Adres: Veterinêre Laboratorium, Privaatsak X9005, Pietermaritzburg, 3200.

 

LITERATUURVERWYSINGS

ACOCKS, J.P.H., 1975. Veld types of South Africa. 2nd Edition. Mem. Bot. Surv. S. Afr. 40. Dep. agric. tech. Serv., Pretoria.

ADAMSON, R.S.. 1938. The vegetation of South Africa. British Empire Vegetation Committee, London.

BOTHA, J.P., 1938. The digestibility and nutritive value of Karoo pasture plants. Fmg S. Afr.: Feb. - Oct., 1938.

BOTHA, P., 1982a. Weidingskapasiteitnorme: Bepaling van produksie en biomassa van 11 veldtipes in die Karoostreek. Vorderingsverslag van faset K-Gf 124/2, Karoostreek, Middelburg KP. Dept. Landbou-tegniese Dienste.

BOTHA, P., 1982b. Ongepubliseerde data van 'n ondersoek na die voorkoms van krimpsiekte by Angorabokke in die Groot en Klein Karoo. Dept. Landbou (Karoostreek), Middelburg KP.

BROWN, J.J.M., 1962. Advances in "geeldikkop" (Tribulus ovis) research 5: Aetiological factors in geeldikkop and enzootic icterus. Jl S. Afr. vet. med. Ass. 33: 493-514.

DU PREEZ, C.M.R., 1972. Die produksiepotensiaal van Karooveld: Groei en opbrengs van Karoobossies en reaksie op snoei. Finale verslag van faset K-Gf 109/1. Karoostreek, Middelburg KP Dept. Landbou-tegniese Dienste.

HENRICI, Marguerite, 1935. Voerplante van die Gebroke Veld: Die. chemiese samestelling, smaaklikheid en drakrag daarvan. Wet. Pamflet 142, Dept. Landbou en Bosbou. Pretoria: Staatsdrukker.

KELLERMAN, T.S., V AN DER WESTHUIZEN, G.C.A., COETZER, J.A.W., ROUX, CECILIA, MARASAS, W.F.O., MINNE, J.A., BATH, G.F. & BASSON, P.A., 1980. Photosensitivity in South Africa. 11. The experimental production of the ovine hepatogenous photosensitivity disease geeldikkop (Tribulus ovis) by the simultaneous ingestion of Tribulus terrestris plants and cultures Phitomyces chartarum containing the mycotoxin sporidesmin. Onderstepoort J. vet. Res: 231-261.

LEA, A., 1964. Some major factors in the population dynamics of the brown locust Locustana pardalina (Walker). In: Ecological studies in southern Africa. Ch. xx. Ed. D.H.S. Davis. The Hague: Dr W. Junk Publishers.

LOUW, G.N., 1969. The nutritive value of natural grazings in South Africa. Proc. S. Afr. Soc. Anim. Prod. 8: 57-61.

MöHR, J.D., 1982. The Karoo Caterpillar Loxostege frustalis Zeller (Lepidoptera: Pyralidae) in relation to its host plants and natural enemies. Ph. D. thesis, Rhodes Univ., Grahamstown.

NEL, J.J.C., WALTERS, M.C. & PRETORIUS, M.W., 1974. Pests of pastures.  Entomology Mem. 41. Dep. agric. tech. Serv., Pretoria: Government Printer.

POLE-EVANS, I.B., 1936. A vegetation map of South Africa. Mem. bot. Surv. S. Afr. 15. Pretoria: Government Printer.

ROUX, P.W., 1966. Beginsels van veldbeheer in die Karoo en aangrensende Droë Soetgrasvelde. In: Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika. Red: W.J. Hugo. Pretoria: Staatsdrukker.

ROUX, P.W., VORSTER, M., ZEEMAN, P.J.L. & WENTZEL, D., 1981. Stock production in the Karoo Region. Proc. Grassld Soc. sth. Afr. 16: 29-35.

VAN ARK, H., 1969. Control of Hodotermes mossambicus (Hagen) (Hodotermitidae, (soptera) in the Karoo. Phytophylactica I: 41-50.

VILJOEN, L.F. & IMMELMAN, W.F., ongedateerd. Biomassa van verskillende veldsoorte in die Dorre Karoo. Karoostreek, Middelburg KP. Dept. Landbou-tegniese Dienste. (Ongepubliseerd.)

VORSTER, M., 1985. Data is verwerk uit: Die ordening van die landtipes van die Karoostreek in Redelik Homogene Boerderygebiede met behulp van plantegroei- en omgewingsfaktore. D.Sc.-proefskrif, Potchefstroom Univ. vir CHO, Potchefstroom.

VORSTER, M. & ROUX, P.W., 1983. Veld of the Karoo areas. Proc. Grassld Soc. sth. Afr. 18: 18-24.

VORSTER, M. & SYKES, E., 1986. Die groei-aktiwiteit van sewe-en-dertig Karooplantspesies op ses verskillende habitatte in die Skyn Hoër Karoo. J. Weidingsver. S. Afr.: Op die pers.

VORSTER, M., MEYER, E.M., DU PREEZ, G., V AN DER MERWE, I. DU T. & KIRSTEN, G.J.C., 1985. Gemiddelde huidige langtermynweidingskapasiteite van Redelik Homogene Boerderygebiede in die Karoostreek. Karoostreek, Middelburg KP. Dept. Landbou & Watervoorsiening. (Ongepubliseerd.)

 

Published

Karoo Agric 3 (8), 12-16