Last update: March 30, 2012 11:29:24 AM E-mail Print

 

MINIMUM ENTINGS – EN DOSERINGSPROGRAMME VIR KLEINVEE

 

E M VAN TONDER

Veterinêre Streekslaboratorium

Middelburg KP 5900

 

 

Die voorkoms van interne parasiete en besmetlike siektes wissel van streek tot streek, beide wat die tipe parasiete of siekte en seisoen betref. Die voorkoms van die probleme is nou gekoppel met klimaatsomstandighede soos vag en omgewingstemperatuur en ander faktore soos tipe weiding, topografie, die konsentrasie van vee, ensovoorts. Ofskoon warm vogtige toestande normaalweg meer gunstig is, is sekere parasiete baie weerstandig en bereik hulle hoogtepunt van besmetting in die dier gedurende die wintermaande of droogtes.

Behalwe vir die direkte invloed op die lewensloop van parasiete of konsentrasie van besmetting, het die faktore in baie gevalle ook 'n invloed op die voorkoms van tussengashere.

Om 'n doeltreffende entings- of doseringsprogram vir die hele land voor te skryf is onmoontlik. Daar kan dus slegs basiese riglyne aanbeveel word wat na gelang van omstandighede binne elke gebied aangepas moet word. Die boer moet dus ten nouste met sy naaste veearts skakel. Gereelde ondersoeke van siek diere, nadoodse ondersoeke en misondersoeke sal die veearts in staat stel om op hoogte te bly met die voorkoms van parasiete en siektes in die streek en ook op individuele plase.

 

BESMETLIKE SIEKTES

Daar is 'n groot verskeidenheid van besmetlike siektes wat kleinvee aantas en waarteen entstowwe beskikbaar is. Enkele van hulle kom landswyd voor, terwyl andere meer streeksgebonde en beperk is tot bepaalde rasse. Ofskoon daar verskille tussen rasse ten opsigte van vatbaarheid mag wees, word sekere rasse aan bestuurspraktyke onderwerp wat hulle meer blootstel aan siektes. Die verspreiding van kleinveerasse in bepaalde ekologiese streke dra ook by tot die streeksgebonde voorkoms van siektes.

Wat entings betref, is daar twee basiese aanbevelings wat gemaak kan word, naamlik, teen siektes waarteen landswye enting aanbeveel word en teen die groep wat tot bepaalde streke beperk is. Entings kan dus as verplig of opsioneel beskou word. Wat kleinveesiektes betref, bedoel die term verpligte enting nie verpligting deur wetgewing nie, maar 'n spesifieke verantwoordelikheid van die boer omdat, wanneer 'n siekte wydverspreid voorkom, hy verplig sou wees om daarteen te ent indien hy 'n bestaan wil maak. Ten opsigte van ander siektes met 'n lae voorkoms kan hy 'n berekende kans neem en enting vermy. Die risiko wat hy neem, sal dus moet opweeg teen die kanse dat die siekte na sy vee sal versprei en die persentasie verliese wat so 'n besmetting normaalweg eis.

Daar is ook 'n ander keuse, naamlik, tussen gereelde en sporadiese enting. Afgesien van die omvang en verspreiding van 'n siekte, mag dit ook nog gereeld of sporadies voorkom. Afhangende hiervan sal enting teen 'n bepaalde siekte dus gereeld jaarliks of sporadies volgens verwagtinge gedoen moet word.

Gereelde jaarlikse inenting op 'n landswye vlak behoort siektes soos bloednier, bloutong, Slenkdalkoors, Wesselsbronsiekte en ensoötiese aborsie in te sluit.

Bloednier se voorkoms is nou gekoppel aan optimale voedingstoestande en veral skielike toegang daartoe en, onder ekstensiewe toestande, dus ook aan reënval, wat dit steeds die belangrikste oorsaak van landswye kleinveeverliese maak.

Ofskoon bloutong, Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte meer afhanklik is van reënval, tussendraerinsekte en reservoirs van besmetting en nie gereeld landswyd voorkom nie, veroorsaak hulle gewoonlik groot verliese en word jaarlikse enting aanbeveel.

Ensoötiese aborsie is landswyd versprei en het 'n aanhoudende of knaende voorkoms. Die voorkoms van draerdiere, die mindere rol van klimaatsomstandighede en die wisselende insidens wat afhang van die vatbare populasie bring mee dat dit met behulp van die beskikbare entstof moeilik uitgeroei kan word. Gereelde jaarlikse inenting is dus essensieel, alhoewel eenmalige enting van ooie voor eerste paring voorgeskryf word.

Entings wat op 'n landswye en gereelde jaarlikse grondslag vir individuele kleinvee-eienaars aanbeveel word, is teen Brucella ovis op stoetplase, sponssiekte vir skape wat geskeer word en dikkop by gehoringde ramme onder intensiewe toestande.

Enting teen sponssiekte behoort jaarliks, ten minste 3 weke voor aanvang van die skeertyd, toegedien te word. long ramme vanaf speenouderdom totdat hulle verkoop word, behoort ook jaarliks teen dikkop geënt te word.

Op 'n streeksbasis is daar slegs een siekte waar gereelde enting aanbeveel word, naamlik, teen hartwater in die bekende hartwater gebiede. Waar die diere gereeld aan herbesmetting blootgestel word, word slegs gereelde enting van die aanwas aanbeveel.

Entings teen nageboorte gasgangreen, pasteurellose, klem-in-die-kaak, corynebacteriose, vuilbek en vratte word slegs aanbeveel op plase waar die probleme ondervind word. Dieselfde geld vir bloedpens en kolibasillose.

Pasteurella en Staphylococcus entstowwe word aanbeveel op plase wat las ondervind van pasteurella longontsteking of blou-uier as gevolg van een van die twee organismes.

AIle entstowwe hier ter sprake is vryelik beskikbaar, behalwe teen Pasteurellastamme wat nie in die bestaande entstof is nie en waarteen eksperimentele entstowwe berei kan word. In geval van vratte, kan entstowwe deur die naaste veearts op aanvraag berei word.

 

INTERNE PARASIETE

Interne parasiete by skape behels slakwurms, naamlik, lewer- en peervormige slakke wat in die lewer en die voormaag en dunderm onderskeidelik voorkom, lintwurms wat in die dunderm voorkom en 'n verskeidenheid van rondewurms wat in die longe, die melkpens en res van die dermkanaal gevind word.

Hierdie parasiete wissel ook baie in voorkoms deur die land. Die wisseling is nie net beperk tot die tipe parasiet nie, maar ook ten opsigte van die tyd van die jaar of seisoen waarin die hoogtepunt van besmettings in die gasdier in die verskillende klimatologiese gebiede voorkom. Die wisseling is hoofsaaklik aan klimatologiese faktore te wyte, waar die meeste parasiete van warm vogtige toestande hou, sommige koel vogtige weer verkies, en ander weinig deur weersomstandighede beïnvloed word.

 

SLAKWURMS

Die parasiete kom feitlik oral in die land voor waar permanente of semi-permanente oop waters is, behalwe in groot dele van die Karoo. Die voorkoms word deur die aanwesigheid van die tussengasheer, naamlik, varswaterslakke bepaal. Een soort varswaterslak verkies koue bergagtige dele van die land, terwyl die ander twee soorte in die laerliggende dele gedurende die warm maande aktief is. Die twee belangrikste parasiete hier is lewerslak en peervormige slak.

 

LONGWURMS

Twee soorte kom by kleinvee voor. Die een soort bly in die lugweë van die dier en kom in Suid-Afrika slegs op geïsoleerde plase aan die kusstreke van die Westelike Provinsie tot by die Transkei en in die Oostelike Vrystaat, Suid- en Oos- Transvaal voor. Die ander soort wat in die lugsakkies van die longe voorkom, word ook slegs in die Westelike Provinsie en die Misbelt van Natal aangetref. Oor die spesifieke tye van voorkoms is min bekend.

 

LINTWURMS

Lintwurms word oor die hele land aangetref en kom in die dunderm van diere voor. Swaar besmettings word gewoonlik gedurende die warm somer- en herfsmaande ondervind.

 

RONDEWURMS

Die vernaamste van hierdie groep parasiete wat in die melkpens, dunderm en dikderm aangetref word, is die volgende:

Haarwurms

Haarwurms, wat in die melkpens voorkom, is wydverspreid in die somer- en nie-seisoenale reënvalgebiede, met die hoogtepunt van besmettings in die gasheer vanaf Oktober tot Maart. In die Karoo is die voorkoms nie so hewig nie, maar is redelik algemeen, behalwe in die verre Noord-Westelike gebiede. Die hoogtepunt van besmettings is gewoonlik vanaf Desember tot Februarie. Haarwurm kom nie in die Winterreënstreek voor nie.

 

Bruinmaagwurms

Bruinmaagwurms word oor die hele land aangetref en kom in die melkpens voor. In die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede word die hoogtepunt van besmettings gedurende April tot September ondervind, terwyl in die somerreënvalstreke dit wydverspreid voorkom en swaar besmettings gedurende twee periodes, naamlik, Februarie tot Mei en weer Oktober tot Desember verwag kan word. In die Karoo en aangrensende Oos-Kaapgebied kom die hoogtepunt van besmetting gedurende Februarie tot Mei voor.

 

Marshallagia wurms

Hierdie parasiet van die melkpens van skape en bokke kom tans slegs in die Winterreënstreek en kusgebiede van die Oostelike Provinsie voor.

 

Bankrotwurrns

Bankrotwurms is waarskynlik die belangrikste parasiete in die kleinveebedryf. Een van die groep kom in die melkpens voor, terwyl die ander in die eerste gedeelte van die dunderm aangetref word. In die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede, asook die somerreënstreek, word swaar besmettings gedurende die periode vanaf April tot September ondervind, terwyl in die Karoo die hoogtepunt van besmettings gedurende Maart tot Augustus voorkom.

 

Langnekbankortwurrns

Langnekbankrotwurms is van min belang in die somerreënvalgebiede en totaal afwesig in die Hoëveldstreek. In die Karoo en aangrensende Oos-Kaapgebiede word swaar besmettings van die dunderm gedurende April tot Augustus ondervind. Dit kom ook voor in die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede met die hoogtepunt van besmetting gedurende die winter.

 

Beesbankrotwurms (Cooperia spp.)

Hierdie parasiete kom in die dunderm voor en is slegs beperk tot die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede waar besmetting gedurende die kouer maande, veral Mei, voorkom. Ofskoon dit ook wel in die Oostelike Provinsie en Grensgebiede aangetref word, is dit egter van min belang.

 

Knoppieswurms

Knoppieswurms word wyd aangetref in die somerreënvalgebiede, die Hoëveld, Oostelike Provinsie, Grens- en Oostelike Karoogebiede. Dit is egter afwesig in die Sentrale- en Wes-Karoo, en die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede. In die somerreënvalgebiede bereik besmetting deur die volwasse stadium 'n hoogtepunt gedurende die periode Julie tot Januarie, terwyl die knoppies-stadium weer vanaf Februarie tot Augustus 'n hoogtepunt bereik. Volwasse parasiete kom in die dikderm voor.

 

Grootbekwurms

Hierdie parasiete word slegs in die winter- en nie-seisoenale reënvalgebiede, asook die Klein Karoo aangetref, waar hulle in redelik lae getalIe regdeur die jaar gevind word. Dit is ook 'n dikderm parasiet.

 

Grasveldhaakwurms

Die grasveldhaakwurm kom die meeste in die Oos-Vrystaat voor, terwyl middelmatige besmettings ook aan die kusstreke om en by George aanwesig is. Die dundermparasiet verkies 'n omgewing met 'n reënval van 500 mm en hoër.

 

Sand veldhaakwurms

Die parasiete kom algemeen in die sandveld van die noordwestelike dele van die Kaap en in Suidwes-Afrika voor. Die larwe verkies warm vogtige omstandighede en besmettings in die dunderm kom algemeen deur die somermaande, veral rondom waterbakke, voor.

 

Wit bankrotwurms

Die witbankrotwurm kom regdeur Suid-Afrika voor en is veral 'n probleem onder kraaltoestande en op lande gedurende die somermaande. Die parasiet word in die dunderm gevind.

 

MINIMUM ENTINGS- EN DOSERINGSPROGRAMME

Basiese beginsels

In enige siektevoorkomende program is daar altyd 'n paar basiese beginsels wat nagestreef behoort te word, byvoorbeeld :

(a) Entings- en doseringsprogramme behoort in te pas by die algemene bestuursprogram

(b) Daar moet altyd voorbehoedend eerder as behandelend opgetree word, dit wil sê, voordat siektes of parasiete toeslaan

(c) Die mees doeltreffende entstof of middel moet altyd gebruik word, ongeag die koste daarvan

(d) AIle handelinge moet streng volgens voorskrif geskied en alle middels moet versigtig hanteer en geberg word

(e) Geen program is absoluut onbuigbaar nie en behoort altyd aangepas te word

(f) Verskille en wisselings in toestande tussen en binne streke en van plaas tot plaas moet in gedagte gehou word.

 

Beginsels ten opsigte van enting

(a) Wat entings betref, is daar basies vyf entstowwe wat landswyd aanbeveel en in die bestuursprogram ingeruim behoort te word

(b) Die uitgangspunt moet altyd wees om die minste aantal entstowwe gelyktydig toe te dien en, met die uitsondering van Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte, te vermy om lewendige entstowwe gelyktydig toe te dien

(c) Entstowwe moet nooit, tensy so aanbeveel, gemeng word nie

(d) Die nodige skraagdosisse moet altyd tydig toegedien word.

 

Beginsels ten opsigte van dosering

(a) Afhangende van die bepaalde streeks- en klimaatsomstandighede, is parasiete basies deur die jaar 'n probleem

(b) Wat dosering betref, is daar drie benaderings wat gevolg kan word, naamlik :

 

(Behandelende dosering)

Diere word doseer wanneer dit nodig is, dit wil se, wanneer daar reeds tekens van parasitisme is. Dit word nie aanbeveel nie, aangesien groot verliese dan reeds gely is.

 

(Empiriese dosering)

Dosering word gedoen wanneer diere beskikbaar is vir 'n ander doel, naamlik, enting, skeer, ensovoorts. Dit word ook nie aanbeveel nie, aangesien dit onnodige kostes mag meebring

 

(Voorbehoedende dosering)

Hierdie doserings berus op kennis van die faktore wat die voorkoms van die parasiete beïnvloed, dit wil sê, die lewenssiklus en klimatologiese faktore wat gunstig is vir die voortbestaan van die parasiet. Vanuit 'n praktiese en ekonomiese oogpunt beskou, is hierdie benadering die enigste wat aanbeveel kan word

 

(c) Afgesien van die minimum aanbevelings behoort daar ook tussenin gedoseer te word, byvoorbeeld, 2 tot 3 weke na goeie reëns

(d) Diere op landerye of in vleie behoort gereeld op 'n ses-weeklikse basis gedoseer te word

(e) Gedurende die somermaande behoort middels gebruik te word wat beide lint- en rondewurms beheer, en bes moontlik ook slakke. Andersins moet opvolgende middels gebruik word ten einde al hierdie parasiete te beheer.

 

Breë riglyne vir 'n minimum ent- en doseerprogram wat voorsiening maak vir ander bestuurspraktyke word in die volgende tabel verstrek.

 

 

Spesifieke opmerkings met betrekking tot die entings en doseringsprogram

Doserings soos aangedui maak slegs voorsiening vir rondewurms, sodat ander parasiete soos lintwurm en neuswurm veral deur die somer- en herfsmaande apart ingeruim moet word as middels gebruik word wat nie hierdie parasiete ook dek nie.

Noodsaaklike entings soos bloednier, bloutong, Slenkadalkoors, Wesselsbronsiekte en ensoötiese aborsie word ongekwalifiseerd aangedui, terwyl entings wat aanbeveel word in spesifieke streke of wanneer probleme ondervind word deur 'n sterretjie gemerk is.

Die bloednierentings wat in hakies aangedui word, is bykomstige entings wanneer die aluingepresipiteerde entstof gebruik word.

Rev 1- enting word slegs vir ramlammers in stoete eenmalig op 2 maande tot speenouderdom aanbeveel.

Ensoötiese aborsie word gewoonlik slegs vir jong ooie voor hulle die eerste keer en moontlik weer die volgende jaar gepaar word, aanbeveel. Waar die enting in hakies aangedui word, geld dit vir uitbrekings en ook vir jong lammers, aangesien aIle ooie in elk geval geënt word.

Corynebacterium ovis entstof word slegs aanbeveel waar die toe stand volhard en die skeerhok- en algemene higiëne reeds opgeknap is.

 

OPSOMMING

Dit word besef dat daar van wee die uiteenlopende omstandighede en aIle faktore wat 'n rol speel, onmoontlik bevredigende aanbevelings ten opsigte van voorbehoedende enting en dosering vir die hele land en selfs bepaaIde streke gemaak kan word. Die riglyne soos voorgestel is slegs bedoel om te dien as leiding waarvolgens die nodige aanpassings gemaak kan word. Vee-eienaars word dus weereens aangemoedig om ten nouste met hulle naaste veearts saam te werk ten einde noukeurige programme op te stel en sodoende doeltreffende beheer van siektes en parasiete te bewerkstellig.

 

Published

Karoo Agric 3 (1), 10-15