Last update: April 3, 2012 01:58:05 PM E-mail Print

 

ERFLIKE GEBREKE EN ONGEWENSTE EIENSKAPPE BY WOLSKAPE

J.E. NEL

 

Vir die praktiese boer is erflike gebreke by wolskape nie juis van groot belang nie. Die rede hiervoor is dat die meeste erffaktore wat vir erflike gebreke verantwoordelik is, resessiewe of weggesteekte gene is wat ook relatief skaars is. Dit gebeur dus maar seIde dat 'n resessiewe erffaktor vanaf die vader by 'n soortgelyke erffaktor vanaf die moeder uitkom om 'n sigbare erflike gebrek te voorskyn te laat tree. Wanneer sulke diere wel voorkom, word hulle eenvoudig geprul en daarmee is dit uit en gedaan.

Erflike gebreke is die gevolg van strawwe inteling. Sulke inteling het egter so baie nadele dat dit in die praktyk nooit toegepas word nie. Duidelikheidshalwe moet 'n paar terme hier verduidelik word:

Wanneer daar verwys word na 'n erflike gebrek, word bedoel 'n nadelige eienskap of faktor wat vanaf een of beide van die ouers aan die nageslag oorgedra word, met die gevolg dat die dier gebreklik of abnormaal is.

'n Letale eienskap kom te voorskyn wanneer 'n geen wat noodsaaklik is vir 'n spesifieke lewensfunksie vervang word deur 'n geen met die teenoorgestelde uitwerking. Die uiting van 'n letale geen kan verander word deur die genotipe of die omgewing, en wanneer die letale werking van die geen onvolledig is, is die geen of die eienskap semi-letaal. 'n Semi-letale geen kan dan ook as 'n laat of nawerkende letale geen beskou word.

Soms ontstaan daar 'n dominante letale mutasie maar dit word meesal nie waargeneem nie omdat die betrokke individue gewoonlik doodgaan voordat die eienskap - indien dit sigbaar is - tot uiting kan kom. Hoewel daar beweer word dat baie diersoorte heterosigoties is vir minstens een ongewenste geen, sal die voorkoms van 'n resessiewe letale, semi-letale of abnormale eienskap in die reël laag wees. Dit blyk dat die voorkoms van 'n ongewenste geen verhoog word in 'n bevolking waarin die heterosigoot meerderwaardig is bo enigeen van die homosigote.

By skape is dit moeilik om letale faktore te identifiseer wat die vroeë stadia van voorgeboortelike ontwikkeling beïnvloed. Die ekonomiese verlies wat deur so 'n letale geen veroorsaak word, is nie noodwendig groot nie omdat die betrokke dier weer in dieselfde seisoen gedek kan word. Op 'n soortgelyke manier kan die gene wat die lewenskragtigheid later in die dier se lewe verlaag, sander om enige maklik waarneembare effek te toon, van redelik groot ekonomiese belangwees.

Die skadelike verskynsels wat tot dusver by skape gevind is, is beperk tot die waarvan die werking maklik waarneembaar is en wat met geboorte of kort na geboorte opgemerk kan word.

 

A. LETALE EN SEMI-LETALE EIENSKAPPE

1. Verlamde ledemate

Al die ledemate van die lam is styf en die nek is agteroor getrek. Lammers wat so aangetas is, word gewoonlik doodgebore. Hierdie verskynsel word gewyt aan ‘n enkel resessiewe geen.

 

2. Letale spierdistrofie

Lammers word lewend gebore maar vrek kort daarna omdat hulle nie kan asemhaal nie. Die gewrigte is styf, spiere is nie ontwikkel nie, die lewer is abnormaal vergroot en die-niere is onderontwikkeld. Toetsparings het getoon dat die toestand die gevolg van ‘n letale resessiewe geen is.

 

3. Verlamming

Hier is die agterbene verlam en die lammers vrek kort na geboorte. Die toestand word toegeskryf aan 'n enkele resessiewe geen.

 

4. Verlamming of senuwee-inkoördinasie by geboorte

In baie ernstige gevalle is die nek sywaarts en die rug hol getrek as gevolg van spiersametrekkings. Die dood tree gewoonlik binne 48 uur na geboorte in. Die vermoede is dat hierdie toestand die gevolg is van ‘n resessiewe letale geen, maar dat meer as een genepaar betrokke is. Ook word vermoed dat die graad van ernstigheid van die abnormaliteit deur modifiserende gene bepaal word.

 

5. Stywe klougewrigte

Sulke lammers word lewend gebore, maar kan nie loop of suip nie en vrek binne 'n paar dae. Die klougewrigte en ledemate is styf saamgetrek. Die liggaam is kort en dik en die lam het 'n vergrote kop met 'n kort bokaak. Die wol van sulke lammers is gewoonlik kort en die vel onder die pens - vanaf die bors tot by die anus - is ook dikwels sonder bedekking, Hierdie toestand is blykbaar die gevolg van die werking van ‘n enkele resessiewe geen.

 

6. Klouloosheid

By hierdie semi-letale eienskap by lammers ontbreek die ledemate by die klougewrigte. Die presiese manier van oorerwing hiervan is tot dusver nog nie bekend nie.

 

7. Oorloosheid en gesplete verhemelte

Hierdie abnormaliteite kom dikwels saam met drieledige kloutjies en ‘n verkorte onderkaak voor. Die lammers word sonder ore en met 'n gesplete verhemelte lewend gebore, maar vrek kort daarna. Hierdie verskynsel word aan 'n enkele resessiewe geen toegeskryf.

 

8. Dwergagtigheid

Hierdie lammers bet kort bene, is breed oor die blaaie en het 'n uitstaande voorkop. Hulle gewig neem vinnig toe en hulle word baie vet, maar vrek binne 'n paar weke na geboorte. 'n Histologiese ondersoek het getoon dat die dwergagtigheid gepaard gaan met 'n versteuring van die skildklier.

 

9. Subletale grys

Die teelt van grys Karakoelskape word gestrem deur die voorkoms van subletale grys, waardeur die individue wat geneties suiwer vir die grys kleur is, mettertyd na geboorte vrek. Die gevolg hiervan is dat Karakoelskape nie suiwer geteel kan word vir die grys kleur nie.

Lammers wat aan hierdie subletale werking onderhewig is, vertoon by nadoodse ondersoek gewoonlik steurnisse in die verteringskanaal wat veral die grootpens en die melkpens aantas. Sulke lammers kan met redelike sekerheid by geboorte uitgeken word aan hul betreklik ligte grys kleur, die afwesigheid van pigment aan die tong en wit vlekke aan die blImekant van die ore.

Skimmelbruin (grysbruin) lammers is ook onderhewig aan die subletale skimmelingsfaktor. By hierdie kleur kan tot dusver nie tussen die heterosigoot en homosigoot onderskei word nie.

 

B. ABNORMALITEITE EN ONGEWENSTE EIENSKAPPE

1. Foute by kake van skape

Die sogenaamde visbek (of kort bokaak) en papegaaibek (of kort onderkaak) is algemene verskynsels by skape en skyn 'n hoë oorerflikheid te hê. Hierdie eienskappe het 'n nadelige uitwerking op die weivermoë van skape, soos weerspieël deur die laer liggaamsmassa en wolproduksie van skape met hierdie gebreke. Sulke skape kry veral swaar om kort gras af te wei.

 

2. Haarloosheid by pasjgebore lammers

Hierdie abnormallteit is reeds aangetref by bykana alle,skaaprasse en gaan dikwels gepaard met vrektes na geboorte.

Haarloosheid by geboorte is waarskynlik die gevolg van abnormale ontwikkeling van die vel, en dit lei tot oorontwikkeling en gevolglik verdikking van die buitenste vellae en 'n onderontwikkeling van die haarfollikels en hul bykomstige strukture.

Die lam word heeltemal sonder hare gebore. Eers teen ongeveer die sesde dag na geboorte verskyn hare op die veloppervlakte en op 'n ouderdom van sowat drie weke is die hele liggaam met hare bedek.

Hierdie abnormaliteit is waarskynlik te wyte aan 'n enkele resessiewe geen.

 

3. Ingevoude ooglede (entropion) by lammers

Daar word onderskei tussen twee tipes ingevoude ooglede, naamlik infantiele en Merino-entropion. Eersgenoemde toestand word opgemerk by pasgebore lammers. Aangetaste lammers het seer oë as gevolg van die hare op die ingevoude ooglid wat teen die oog skuur. As hierdie irritasie lank aanhou, kan die oog permanent blind word en later selfs bars. 'n Groot persentasie van die aangetaste lammers herstel binne 10 dae. Indien die oog nie self regkom nie, kan 'n stukkie vel uit die ooglid uitgesny word.

Merino-entropion kom voor op 'n ouderdom van 'n paar weke tot 'n paar maande. Gewoonlik is net die boonste ooglid aangetas, maar albei ooglede kan ingevou wees. Namate die wol van die skaap langer word, is die toestand meer opmerkbaar. Die mening bestaan dat hierdie toestand die gevolg is van plooie op die vel en op die ooglid, maar dat dit nie verband hou met die plooie op die lyf van die skaap nie. Die presiese manier van oorerwing is nog nie bekend nie. Ook hierdie toestand kan verhelp word deur 'n stukkie vel uit die ooglid te knip.

 

4. Kriptorchidisme of die klopramverskynsel

Hierdie benaming word gebruik vir die beskrywing van ramme waarvan een of albei van die teelballe in die maagholte bly sit en nie in die skrotum afsak nie. Dit is bevind dat hierdie toestand gekoppel is aan horingloosheid by die vroegryp rasse en die vermoede bestaan dat die verskynsel toegeskryf kan word aan dieselfde geen wat verantwoordelik is vir horingloosheid.

 

5. Die Ancon-skaap

Dit is 'n welbekende mutasie wat vir die eerate keer in 1791 in die V.S.A. voorgekom het. Die skaap het kort bene, loop moeilik -en die voorbene is kruppel. Hierdie eienskap kom voor as 'n enkele resessief.

 

6. Kleurfoute

Swart vagkleur by Merinoskape is 'n eienskap wat deur 'n resessiewe geen veroorsaak word en in die praktyk word aIle swart lammers eenvoudig geprul. Dit lyk egter of kleur op die nie-wolgedeeltes van 'n wolskaap veroorsaak word deur 'n aparte stelerffaktore wat onafhanklik is van vagkleur. Die oorerwing hiervan is meer ingewikkeld as die van kleur in die vag. Aangesien kleur op die nie-wolgedeeltes wel kan vermeerder, word daar in die praktyk teen oormatige pigmentaste geselekteer.

 

7 Steekhaar

Die oorerflikheid van steekhaar skyn redelik hoog te wees. Boonop versprei steekhaar ook na die vag. Daar moet dus deurgans streng teen steekhaar geselekteer word.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie B 2/1975