Last update: March 26, 2012 03:39:00 PM E-mail Print

 

Die etiologiese rol van bruinmaagwurm (Ostertagia circumcincta) ten opsigte van swelsiekte by Angorabokke

 

SO Vermeulen

Veterinêre Streekslaboratorium

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X528

Middelburg Kaap

5900

 

INLEIDING

Swelsiekte by Angorabokke, wat gekenmerk word deur die akute ontwikkeling van 'n matige tot uitgesproke pynlose onderhuidse edeem van die ventrale liggaamsdele (uitgesonderd die uier en skrotum), word dikwels deur boere en veeartse aan hewige Ostertagia circumcincta-besmettings gekoppel1,2,10.

Tipiese swelsiekte, d.w.s. onderhuidse edeem van veral die keel, nek, bors, buik en ledemate, kom by Angorabokke van beide geslagte en aIle ouderdomsgroepe voor, maar is 'n meer algemene verskynsel by jong bokke tussen speenouderdom en ongeveer 12-maande-ouderdom2,10. Die simptome

verdwyn dikwels net so vinnig as wat dit ontwikkel. Dit is seIde dodelik indien dit ongekompliseerd is, maar word soms deur veral longontsteking gekompliseer en is dan dikwels fataal. Erg aangetaste bokke beweeg soms moeilik en verloor dikwels kondisie. Dit is dus meer 'n erosiesiekte as wat dit direkte verliese tot gevolg het.

Die belangrikste nadoodse letsels sluit in onderhuidse edeem, asook edeem in die tussenwande (septa) van spiere en in die mesenterium, abomasum en dunderm2,10. Limfknope is geswolle en edemateus en het dikwels 'n ring van puntbloedings ("petechiae") by die skors/murgaansluiting. Askites, hidroperikardium en hidrotoraks is soms teenwoordig. Anders as in die geval van onderhuidse vloeistof, stol hierdie vloeistowwe wanneer dit toegelaat word om 'n tyd te staan.

Die uitstaande histopatologiese waarnemings is verhoogde limfositopoiëse in die limfknope en milt, asook infiltrasie van limfosiete, globulêre leukosiete en eosinofiele in die dunderm en abomasum2,10.

Geen duidelike letsels word in die hartspiere gevind, soos beskryf deur Horak en medewerkers4 tydens eksperimentele Trichostrongylus colubriformis-infestasie, met gevolglike onderhuidse edeem van die kop, by skape, nie.

Uit 'n vraelys11 wat gedurende 1985 aan Angoraboktelers uitgestuur is, is die volgende afleidings gemaak ten opsigte van episoötiologie:

(i) Swelsiekte het 'n effens hoër insidens gedurende die somer en herfs, wat waarskynlik toegeskryf kan word aan die verhoogde parasietladings gedurende daardie tyd, veral met betrekking tot O. circumcincta.

(ii) Die meerderheid gevalle van swelsiekte kom op aangeplante weidings voor. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan hoër parasietladings (insluitend koksidiose), asook die relatief laer voedingswaarde van jong, groen weiding.

(iii) Die belangrikste aanleidende faktore blyk inwendige parasiete en algemene stremmingstoestande (insluitend skeer, speen, hoe konsentrasie diere, droogte, verandering van weiding en oormatige hantering) te wees.

(iv) Die gemiddelde persentasie aangetaste bokke is ongeveer 3% en die gemiddelde persentasie vrektes ongeveer 0,6%.

Hierdie afleidings bevestig tot 'n groot mate wat reeds voor die uitstuur van die vraelys vermoed is2,10.

Die uitstaande biochemiese afwyking is die konstante lae totale plasmaproteïenwaarde2,10. Dit is hoofsaaklik die albumiengedeelte wat verlaag is. Die kolloïdale osmotiese druk van die bloed is gevolglik ook verlaag2,6,10. Die edeemvloeistof het 'n baie lae kolloïdale osmotiese druk, as gevolg van die lae proteïeninhoud daarvan. Ten spyte hiervan is die osmolatiteit van die vloeistof hoër as normaal, as gevolg van die hoër natrium- en chloriedinhoud daarvan. Bevindinge deur Mitchell et al6 dui sterk daarop dat die edeem primêr aan hipoalbuminemie toegeskryf kan word, asook aan 'n verhoogde kapillêre deurlaatbaarheid vir albumien. Ander bestanddele van die bloed, insluitende kortisol, is oor die algemeen normaal. Urine-analise is ook normaal.

Ten opsigte van hematologie is die totale witbloedsel-telling gewoonlik verhoog (20 x 109/ l), 10

'n Siekte wat moontlik met swelsiekte vergelykbaar is, kom in die lande om die Middellandse See voor9. Die siekte word deur Mycoplasma agalactia veroorsaak. AIle pogings om bakterieë en mikoplasmas van aangetaste bokke te kweek, was egter onsuksesvol.

Rondewurmbesmettings van bokke met swelsiekte varieer van laag tot matig en in sommige gevalle hoog2,10. Bruin maagwurm (O. circumcincta) is die mees algemene rondewurm wat in bokke met swelsiekte gevind word, met of sonder ander rondewurms. In sommige gevalle word geen parasiete gevind nie, selfs in diere wat nie met wurmmiddels behandel is nie. Dit sluit egter nie die moontlikheid uit dat die diere vroeër hoë parasietbesmettings gehad het nie. Eiertellings van die mis van aangetaste diere varieer ook van laag tot baie hoog. Koksidiose-oösisttellings is gewoonlik laag en dermletsels as gevolg van koksidiose kom seIde voor.

Benewens die verminose-proewe met O. circumcincta-larwes, wat verder bespreek sal word, is die volgende eksperimente ook uitgevoer2,10

(a) Biologiese eksperimente om die oordraagbaarheid van swelsiekte te bepaal. Geen aanduiding van oordraagbaarheid is waargeneem me.

(b) Radio-aktiewe gemerkte albumien wat in bokke met swelsiekte ingespuit is, is teen dieselfde tempo verwyder as in normale bokke, terwyl die hoeveelhede in die mis en urine ook ooreengestem het. Albumienverlies tydens die swelling is dus nie 'n kenmerk van die siekte nie.

(c) Aldosteroon is in bokke met hipoproteïenemie ingespuit om die moontlikheid te ondersoek dat onvoldoende aldosteroon-uitskeiding as gevolg van "stress" die snellermeganisme is vir die akute edeemontwikkeling. Geen simptome het egter ontwikkel nie.

(d) Histamien is in bokke met hipoproteïenemie ingespuit, maar weer eens het dit geen simptome van swelsiekte tot gevolg gehad nie.

Sommige navorsers5 beweer dat swaar besmettings van Linognathus africanus (skaapblouluis) ernstige anemie tot gevolg kan hê in Angorabokke, asook ontwikkeling van edeem van die ledemate en liggaamsonderlyn. Die gelyktydige voorkoms van swelsiekte en groot getalle van die luise is egter baie seldsaam.

 

PROEFPROSEDURE

Slegs die twee verminose-proewe wat positiewe resultate gelewer het, naamlik bokke wat swelsiekte ontwikkel het, sal hier bespreek word. Die proewe sal as Proef 1 en Proef 2 onderskeidelik bespreek word.

(i)   Proef 1

 

Vier-en-vyftig Angorabokke, waarvan die meerderheid ongeveer 12 maande oud was, is in 5 groepe verdeel, as volg:

 

Al die bokke is op 81.10.12, dit wil sê ongeveer 'n week voor aanvang van die proef, met 'n dubbeldosis Albendasool doseer.

Bloedmonsters is vanaf 81.10.19 tot 82.01.05 weekliks van alle bokke geneem vir bepaling van totale plasmaproteïne.

Mismonsters is op dieselfde datums as die bloedmonsters geneem, vir bepaling van rondewurmeiers en koksidiose-oösiste. Die massas van al die bokke is ook op dieselfde datums bepaal.

Al die bokke is op 81.10.01, dit wil se ongeveer 3 weke voor aanvang van die proef, geskeer.

Die bokke is in krale met sementvloere aangehou en die krale is drie keer per week skoongemaak. Die kontrolegroep was aan die bokant van die helling en groep 1 aan die onderkant.

Die rantsoen het bestaan uit 'n lusernhooi/grasmengsel met 10% mieliemeel.

Groep 1 is vanaf 81.12.01 tot 81.12.04 daagliks met Amprolium doseer teen die aanbevole dosis.

Groep 2 is op 81.12.01 met enkeldosis Albendasool doseer en groep 4 op 81.12.08. Geswelde bokke is periodiek geslag en wurmidentifikasies en parasiettellings is gedoen. Orgaanmonsters is ook vir histopatologiese ondersoek geneem. Parasiettellings is gedoen volgens die metode soos beskryf deur Robertson & Elliott8.

 

(ii) Proef 2

Twintig Angorabokke van viertand- tot sestand-ouderdom is in 3 groepe verdeel, as volg:

 

 

Al die bokke is twee keer, met twee weke tussenpose, doseer met dubbeldosis Albendasool, voor aanvang van die proef.

Bloedmonsters is vanaf 84.07.03 tot 84.10.02 weekliks van alle bokke geneem vir bepaling van totale plasmaproteïene en elektroforese. Mismonsters is op dieselfde datums geneem, vir bepaling van rondewurmeiers en koksidiose-oösiste. Bloedmonsters van die bok wat swelsiekte ontwikkel het, is verder geneem op 84.10.15 en 84.10.18, en mismonsters ook nag op 84.10.19.

Alle bokke is weekliks vanaf 84.07.02 geweeg.

Groep 2 is op 84.08.21 met dubbeldosis Albendasool doseer. Groep 1 (kontrolegroep) is op 84.09.05 met dubbeldosis Albendasool doseer. Alle bokke is op 84.10.02 met dubbeldosis Albendasool doseer en die geswelde bok (no. 81.4 uit groep 3) ook op 84.10.16.

Al die bokke is op 84.09.12 geskeer.

 

RESULTATE EN BESPREKING

1 Simptome

In proef 1 het 'n totaal van 12 bokke swelsels ontwikkel, maar slegs 2 hiervan, uit groep 2, was ooglopend en het ander liggaamsdele buiten die bors ook ingesluit. Die ander 10 bokke het slegs 'n ligte swelsel (edeem), wat alleenlik met hantering en spesifieke ondersoek van die bors waarneembaar was, ontwikkel. Laasgenoemde groep kan dus nie as werklik positief vir swelsiekte beskou word nie. Albei bokke met duidelike edeem was uit groep 2 en het op 81.11.23 en 81.11.25 onderskeidelik begin swel. Hoewel die simptome van die 2 bokke nie so uitgesproke was as sommige van die natuurlike gevalle wat waargeneem is nie, het dit tog goed ooreengestem met matige natuurlike gevalle.

In proef 2 het slegs een bok, uit groep 3, duidelike simptome van swelsiekte ontwikkel. Die simptome is op 84.08.28 die eerste keer waargeneem en het voortgeduur tot 84.10.18. Die swelsel het aanvanklik slegs onder die bors voorgekom, maar het geleidelik versprei na die buik en agterpote. Die uitbreiding van die swelsel het plaasgevind tussen 84.09.17 en 84.09.21, d.w.s. 5 - 7 dae na skeer (84.09.12). Op 84.10.11, d.w.s. 9 dae na dosering met dubbeldosis Albendasool, het die swelsel geleidelik begin afneem. Na die tweede behandeling met dubbeldosis Albendasool op 84.10.16 het die swelsel vinnig afgeneem en op 84.10.18 verdwyn.

 

2 Totale plasmaproteïene (TPP)

In albei proewe was die TPP van die geswelde bokke laer as die gemiddelde waardes van enige groep, asook die laagste binne die spesifieke groep waarvan die geswelde bokke deel was, soos in Fig. 1 en 2 (t.o.v. proef 1) en Fig. 3 (t.o.v. proef 2) gesien kan word. Die lae TPP-waardes was veral opmerklik kort voor, tydens en na die verskyning van die swelsel.

 

Die albumienwaardes van die geswelde bokke het dieselfde tendens getoon as die TPP-waardes, so os ook die albumien:globulien-verhoudings.

Wat egter opvallend was, is dat nie aIle bokke met TPP-vlakke laer as die aanvaarde normaalwaarde (60 - 75 g/l)swelsiekte ontwikkel het nie. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die afwesigheid van voldoende bykomende stremmingsfaktore.

 

3 Liggaamsmassa

Geen betekenisvolle afleiding kon gemaak word van die verskil in liggaamsmassa tussen geswelde en normale bokke nie, hoewel die geswelde bokke se massas 'n effens meer dalende neiging getoon het, veral kort voor en tydens die ontwikkeling van simptome.

By natuurlike gevalle kom swelsiekte dikwels voor by bokke in goeie kondisie.

 

4 O. circumcincta-wurm- en –eiertellings

Wisselvallige verhoudings tussen die voorkoms van swelsiekte en O. circumcincta-eiertellings is waargeneem. In proef 1 het die verhouding geneig na 'n negatiewe korrelasie, d.w.s. min of geen eiers in die mis tydens die teenwoordigheid van swelsiektesimptome. In proef 1 daarenteen was 'n positiewe korrelasie teenwoordig, soos in Fig. 4 gesien kan word.

 

Dieselfde wisselvallige verhoudings het voorgekom in proef 1 ten opsigte van die teenwoordigheid van swelsiekte en die teenwoordigheid van parasiete tydens nadoodse ondersoek. Dit mag moontlik dui op 'n allergie-sensitiseringsreaksie, dit wil se moontlik soortgelyk aan die "self cure"-verskynsel soos deur Stewart beskryf vir Haemonchus contortus7. Ander moontlike aanduidings van so 'n allergie-tipe reaksie is die eosinofiel-reaksie in die dunderm, soos tydens proef 1 waargeneem, asook die verhoogde kapillêre deurlaatbaarheid waarvan aanduidings deur Mitchell et al6. waargeneem is.

Dieselfde wisselvallige verhoudings word dikwels ook by natuurlike gevalle waargeneem. Dit kan moontlik onder andere toegeskryf word aan een of meer van die volgende faktore:

 

(i) Die effek van die onvolwasse stadia van O. circumcincta.

(ii) Die moontlike effek van parasietoorblyfsels in die abomasumwand na afsterwe van die parasiete.

(iii) Beskadiging van die abomasumslymvlies herstel nie onmiddellik na die parasiete verwyder is nie.

(iv) Oormatige dosering met wurmmiddels (dikwels in reaksie op 'n hewige rondewurminfestasie) is 'n verdere stremmingsfaktor.

(v) 'n Moontlike sensitiseringsreaksie.

(vi) Ander moontlike oorsake van 'n verlaagde TPP, byvoorbeeld wanvoeding.

(vii) Effek van ander parasiete.

(viii) Afwesigheid van voldoende bykomende stremmingstoestande.

 

5 Histopatologie

Histopatologiese monsters is slegs tydens proef 1 ondersoek. Die belangrikste afwykings was (edeem uitgesluit):

(i) Matige eosinofiel-reaksie in abomasum.

(ii) Matige plasmasel-reaksie in dunderm.

(ii)  Uitgesproke Kupffersel-reaksie in lewer.

 

GEVOLGTREKKINGS

Die resultate van die proewe dui sterk daarop dat O. circumcincta wel 'n bydraende rol speel in die etiologie van swelsiekte.

Dit wil voorkom as of 'n verlaagde TPP-waarde (veral van die albumiengedeelte), wat onder andere die gevolg van O. circumcincta-besmetting is, die onderliggende oorsaak van swelsiekte is, wat dan aanleiding gee tot verhoogde filtrasie van vloeistof uit die kapillêre bloedvate. Verskeie stremmingsfaktore (bv. koue, skeer, hoë konsentrasie diere, wanvoeding of voedingsverandering, speenskok en oormatige hantering) is waarskynlik die snellermeganisme wat 'n uitbreking van swelsiekte aan die gang sit. Die presiese meganisme van die reaksie is nog onduidelik, maar die verhoogde kapillêre deurlaatbaarheid, soos deur Mitchell et al6. vermoed word, mag moontlik bier 'n rol speel. Verder moet die moontlikheid van ander faktore wat 'n verlaagde TPP-waarde tot gevolg kan hê, byvoorbeeld wanvoeding, nie uit die Dog verloor word nie. Dit is moontlik dat enige toestand wat daartoe aanleiding gee dat die TPP-waarde onder 'n sekere drumpelwaarde daal, swelsiekte-tipe simptome kan laat ontwikkel3.

Die sensitiewe aard van die Angora, veral jong bokke, maak hierdie diere uiters geskik vir die ontwikkeling van swelsiekte.

 

VERWYSINGS

1. BATH, G.F., 1981. Die moontlike rol van Bruin Maagwurm (Ostertagia circumcincta) in die voorkoms van Swelsiekte by Angorabokke. Interne Verslag.

2. BATH, G.F., 1983. Investigations into Swelling Disease (Swelsiekte) of Angora Goats. Summary of findings of the Regional Veterinary Laboratory, Middelburg C.P. 1977 - 1982. Internal Report.

3. FIOROTTO, M. & COWARD, W.A., 1979. Pathogenesis of oedema in protein-energy malnutrition: the significance of plasma colloid osmotic pressure. British Journal of Nutrition 42,21-31.

4. HORAK, I.G., CLARK, R. & GRAY, R.S., 1968. The pathological physiology of helminth infestations. III. Trichostrongylus colubriformis. Onderstepoort Journal of Veterinary Research 35 (I), 195-224.

5. HOWELL, C.J., WALKER, J.B. & NEVILL, E.M., 1978. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Deel ,. Wetenskaplike Pamflet no. 393. Departement van Landbou-Tegniese Dienste, RSA. 68.

6. MITCHELL, G., HATTINGH, J. & GANHAO, M.F., 1983. The composition of plasma and interstitial fluid of goats with swelling disease. Journal of the South African Veterinary Association 54 (3),181-183.

7. REINECKE, R.K., 1974. Helminthology. Lectures for B. V.Sc. course. University of Pretoria. 13.

8. ROBERTSON, T.G. & ELLIOTT, D.C., 1965. The laboratory assessment of worm parasite populations in sheep. New Zealand Journal of Agricultural Research 9, 350-358.

9. STAMPA, S., 1977. Swelsiekte by Angorabokke. Die Angorabok- en Sybokhaarblad. Deel 19 No I, 51-57.

10. VERMEULEN, S.O., 1984. Verslag oor ondersoeke i.v.m. Swelsiekte gedoen by die VSL, Middelburg Kaap, vanaf 1977 tot 1984. Interne Verslag.

11. VERMEULEN, S.O., 1985. Ondersoek in verband met die voorkoms en ekonomiese belang van Swelsiekte by Angoras. Interne Verslag.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 7, 1986, 45-50