Last update: April 10, 2012 11:16:58 AM E-mail Print

 

Fluitjiesriet vir Gronderosiebestryding

Roscar du Toit

 

DIE Vlekpoortvallei was vroeër een van die beste jagvelde in die Unie. Uit ou geskrifte blyk dit dat selfs jagters van oorsee hier grootwild kom skiet het. Toe was hier nie riviere, slote en karoobossies nie, maar wel natuurlike vleie, dig begroei met fluitjiesriet en ruigte, asook met goeie weiding wat hoofsaaklik uit die beste grasse soos rooigras, buffelsgras, blousaadgras, ens., bestaan het. Vandag is die vallei in die ergste mate verspoel, met diep rivierkanale en slote en die grasweiding byna geheel en al vervang deur karoobossies, wat nie genoeg bedekking kan verskaf om nog verdere grondverspoeling en winderosie te voorkom nie.

Hierdie verspoeling het as gevolg van verkeerde boerderystelsels ontstaan. Die eerste boere het die vleie gereeld gebrand om sodoende ongediertes soos tiere uit te roei en kort groen weiding te kry. Die gevolg was dat die vleie in die loop van jare riviere geword het. 'n Verdere gebruik was om die natuurlike klipriwwe (dykes), wat die wêreld aanmekaar vasgehou het, te verbreek en op die wyse die te nat gedeeltes vir landboudoeleindes te dreineer. Die riviere, wat eers vleie was, het die reënwater vinnig weggevoer. Die diep gronde is al hoe meer gedreineer; die grondwaterspieël het vinnig gesak; die grasse het begin verdwyn en die veld het geleidelik tot Karoo oorgegaan. Die diep en hoogsverspoelbare gronde het vinnig weggespoel en met die bekende terugvretingsproses het diep slote vanaf die laagliggende riviere teruggevreet, selfs tot op die kruin van die Bamboesberg. Op die oomblik word daar gedurende elke reënseisoen sowat 5,000 ton grond vanaf elke vierkante myl na die Arthurmeer gevoer.

Ingevolge Wet No. 13 van 1941 is die Vlekpoortvallei as bewaringsgebied geproklameer, en in 1942 is 'n aanvang; met werksaamhede gemaak. Hierdie werk het onder aan die voet van die Bamboesberge begin.

 

 

Walle wat hier deur die slote gebou is, het hoofsaaklik die growwe bestanddele wat afgespoel het, opgevang. Die kapasiteit van die damme teen die steiltes aan die voet van die berge is natuurlik betreklik gering sodat nie veel water en slik hier behou kan word nie. Die meeste water het dus nog voortgevloei, belaai met die fyner grondbestanddele.

Dit was duidelik dat hoofsaaklik van onderaf gewerk moes word ten einde die slote geleidelik van onderaf te laat toespoel, en namate meer verspoelde plase aangekoop is en meer werkkragte en gereedskap beskikbaar geword het, is 'n begin gemaak met die oprigting van 'n reeks studamme in die Vlekpoortrivier self en ook op strategiese plekke in die hoofdreineringspruite en slote. Vanaf die Vlekpoortrivier as die laagste en hoofdreineringskanaal is 'n reeks studamme beplan waarvan 'n hele aantal reeds opgerig is. So 'n dam spoel vinnig toe, meesal binne een somerseisoen tot op die volwatermerk. Die probleem is dan om verdere opslikking stroomop na die berge toe te bewerkstellig.

 

 

In vinnigvloeiende riviere dink 'n mens nie onmiddellik aan een of ander vorm van plantegroei nie want die jong plantjies het min kans teen die spoed en krag van die water wat swaar belaai is met grondbestanddele wat, soos Dr. Bennett van die V.B.A. dit uitgedruk het; " te styf vir pap is maar ook te dun om te ploeg". Daar is toe baie aandag geskenk aan tydelike versperrings om die slik voor die studamme op te vang en die terugslikkingsproses aan te help. 'n Aantal tipes van tydelike versperrings is op die proef gestel maar geeneen kon weerstand bied teen die vinnige en swaar belaaide vloedwaters nie.

 

 

Intussen is aandag geskenk aan grasse en ander gewasse wat dalk bruikbaar kon wees om die slik te bedek en vas te hou. In 'n meerdere of mindere mate was al die gewasse en grasse, soos kikuyu, Panicum repens, Makarikari, olifantsgras, kudzu, Rhodesgras, vingergrasse en dies meer 'n mislukking. Daar was nog net een hoop, en dit was om gebruik te maak van plante wat jare gelede in die natuurlike staat in die vleie gefloreer het. Gelukkig het fluitjiesriet, wat tans haas onverkrygbaar is in die streek, sommer uit die staanspoor die voortou geneem en vandag is die gewas wat die hoofrol speel om slik vas te hou en die terug-slikkingsproses te verwesenlik. Met die aankweek van fluitjiesriet is die probleem om doeltreffende versperrings te ontwerp, ook opgelos. Nou word hier slegs konkreetstudamme van standaardtipe op die sleutelposisies gebou en die toeslikkingsproses word verder deur fluitjiesriet aangepak om sodoende die slik op die bepaalde kurwe op te bou tot aan die voet van die berg.

 

 

Bygaande foto's toon aan hoe die slik, wat deur studamme in die Vlekpoortvallei opgevang word, deur fluitjiesriet toe- en vasgegroei word en verdere opslikking stroomopwaarts bewerkstellig. Fluitjiesriet is in elke distrik van Suid-Afrika bekend. Die plant dra die tegniese naam van Phragmites communis en soos die laaste gedeelte van die benaming aandui, groei die riete saam in 'n digte massa wat ideaal is vir die besondere doel waarvoor dit hier gebruik word. Daarby het die plant nog ander spesiale voordele, naamlik dat dit homself voortplant vanaf die moederstam met sowel ondergrondse as bogrondse lopers. Verder het die digte groeiwyse die voordeel dat die vloedwaters opgedam word en dus die plant nog meer geleentheid gee vir vinnige verspreiding al in die slote op in die water en slik wat dit terughou Lopers van 20 voet is baie algemeen. Hier is al 'n loper van 51 voet gevind, en dit gedurende 'n groeiperiode van een seisoen. Les bes is daar die feit dat fluitjiesriet smaaklike weiding is vir beeste en ook nie so maklik verniel word as beheerde beweidingstelsels toegepas word nie.

Vir die erosiebestrydingswerk in die Vlekpoortvallei is fluitjiesriet met sy huidige prestasie meer werd as enige ander plant wat sover bekend is, en as hierdie plant weer kan floreer soos vanmelewe, sal dit 'n belangrike middel wees om die grondverspoeling in hierdie dele deeglik onder beheer te bring. 

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 22