Last update: April 5, 2012 09:10:10 AM E-mail Print

 

Grootfonteinse graadfriese staan hul plek vol in Karoo en Oos-Kaap

F Lűdeman

 

GEDURENDE die afgelope agtien jaar het die klem wat betref die teelt van beeste by die Landboukollege Grootfontein hoofsaaklik op die Jerseybeesstoetery geval. Die Frieskudde wat in hierdie tydperk hier aangehou is, het maar altyd in die agtergrond gebly. Die kudde wat uit ongeregistreerde diere bestaan, het nietemin ontwikkel tot 'n heel bevredigende standaard.

Friesbeeste het reeds vanaf die vroegste jare 'n deel van die inrigting se veestapel uitgemaak. Sedert die stigting van die kollege, of kort daarna, het daar, sover vasgestel kon word, reeds 'n Friesstoetery bestaan. Hierdie geregistreerde Frieskudde is oor 'n tydperk van 30 jaar hoofsaaklik met die gebruik van bulle van die Landboukollege. Elsenburg opgebou tot 'n hoogstaande kudde wat bouvorm en veral melkproduksie betref. Dit wil voorkom asof die sukses wat hiermee behaal is in geen geringe mate ook te danke is aan die lewendige belangstelling en waardevolle advies van professor Theo Reimers, die destydse hoof van die Departement Veeteelt van die Universiteit Stellenbosch.

'n Beeld van die mooi vooruitgang en prestasie van hierdie kudde word gekry van Tabel 1 wat die produksiebesonderhede oor 'n aantal jare aandui sowel as die plek wat die kudde ingeneem het ten opsigte van alle ander kuddes in die land wat toe melkaantekening toegepas het.

 

 

Soos gesien kan word, is die hoogtepunt in die laaste jaar bereik toe die kudde die vierde plek ingeneem het met die gemiddelde produksie van 19 koeie.

 

OORPLASING

Gebeure in die daaropvolgende jare, soos 'n ernstige droogte in 1941/42 en gevolglik gebrek aan voer; 'n versoek van die destydse Direkteur van Veeteelt en Akkerbou in 1942 om die vermindering van vee te oorweeg; beperkte beskikbaarheid van kragvoer; 'n groot vermindering van studente in 1943; die vooruitsig dat daar geen studente in 1944 sou wees nie en gevolglik te veel melk vir eie gebruik geproduseer sou word en die feit dat die veeteeltbeampte

belas was met ander werksaamhede, veral bulinspeksies, het daartoe gelei dat hierdie Frieskudde bestaande uit 54 diere in 1943 oorgeplaas is na die Vaalhartsnavorsingstasie. Eers was dit "op leen" maar later (1945) permanent.

Die besluit om die Frieskudde oor te plaas en nie die Jerseykudde nie, wat ook reeds bestaan het, is waarskynlik ook beïnvloed deur die besondere prestasies wat met 'n koei uit die Jerseykudde in hierdie jare behaal is. Sy het naamlik in 1941 die Suid.Afrikaanse rekords vir melk en bottervet van Jerseykoeie geslaan en weer eens in 1943 die Suid-Afrikaanse rekord vir bottervetproduksie van Jerseykoeie.

Spoedig het daar egter weer 'n behoefte aan meer melk op Grootfontein ontstaan omdat daar in 1944 'n kursus vir teruggekeerde soldate ingestel is. Om aan die benodigdhede van die hostel en die personeel te voldoen, was 51 gelling per dag nodig. Interessantheidshalwe kan hier genoem word dat die huidige daaglikse benodigdhede op 130 gelling te staan kom.

 

HUIDIGE KUDDE

Ongeregistreerde Frieskoeie, afkomstig van die Vaalhartsnavorsingstasie en die Landboukollege Glen is gevolglik beskikbaar gestel en in 1944/45 na Grootfontein oorgeplaas. Hierdie koeie van ander inrigtings, 25 in getal, was dus die begin van die huidige ongeregistreerde Frieskudde op Grootfontein. Hiervan het agt koeie stammoeders geword van die bestaande kudde.

Geregistreerde bulle uit die Elsenburgstoetery het weer grootliks bygedra om die kudde op te bou tot die huidige peil. Die vooruitgang wat in die kudde bewerkstellig is ook as gevolg van goeie bestuur, word duidelik daardeur aangedui dat die gemiddelde daaglikse produksie per koei in die eerste jaar (1946) 'n skamele 24.2 pond melk, was met die laagste gemiddelde vir een maand slegs 18 pond terwyl dit in die daaropvolgende twee jare reeds gestyg het tot 31.7 pond in 1947 en 37.0 pond in 1948 toe die hoogste gemiddelde produksie vir een maand op 49.8 pond vir aIle koeie in melk te staan gekom het.

In die afgelope ses tot sewe jaar het die bottervettoets van hierdie kudde 'n geleidelike styging getoon. Volgens die jongste amptelike gegewens (1958/59) staan dit op 4.0 persent bottervet.

Die hoogste jaarlikse kudde gemiddelde van melk- en bottervetproduksie wat gedurende die afgelope ses jaar deur die kudde behaal is, was in 1956/57 toe die koeie wat in melk was (aIle ouderdomme) die onderstaande produksie opgestel het: 13,399.4 pond melk - 515.0 pond bottervet - 3.84 persent bottervet - 300 dae.

Die feit dat daar op Grootfontein slegs 'n ongeregistreerde Frieskudde bestaan en die inrigting gevolglik nie leiding kan neem in die verspreiding en teling van die Friesras nie, moet nie as 'n weerspieëling van die relatiewe belangrikheid van hierdie melkras in die Karoo en Oostelike Kaapprovinsie beskou word nie.

 

BESTE TEELMATERIAAL

Hierdie deel van die land neem inteendeel 'n prominente plek in op die gebied van Friesbeesboerdery in Suid-Afrika - nie in die eerste plek as belangrike, kommersiële melkproduserende streek waar melkproduksie die hoofbron van inkomste is nie, maar eerder as besonder waardevolle streek vir die verskaffing van die allerbeste teelmateriaal van die hele land.

Hierdie landstreek kan trouens met reg beskryf word as die wieg van Friesteelt in ons land. Baie van die baanbrekers op die gebied het reeds sedert so vroeg as 1850 hul stoeterye hier opgebou met suiwergeteelde Friese, ingevoer vanaf Nederland. Onder hulle was daar die volgende stoeterye waarvan 'n paar vandag nog bestaan:

W. Townsend, Bedford – eerste invoere in 1850

J. N. Vermaak, Steynsburg eerste invoere in 1860

S. A. Cloete, Bedford – eerste invoere in 1870

F. Wienand, Bedford – eerste invoere in 1870

John Frost, Waverley - eerste invoere in 1875

Gerard Bekker, Steynsburg - eerste invoere in 1860

R. Cross, Bollotwa - eerste invoere in 1882, en

J. A. van Niekerk, Bedford - eerste invoere in 1882.

 

Tagtig Friesstoettelers waaronder 'n tiental of meer toonaangewende persoonlikhede op die gebied van Friesteling in Suid-Afrika is, bevind hulle vandag in die Karoo en Oostelike Kaapprovinsie.

Die beste bewys van die sonderlinge bydrae wat deur hierdie deel van die land aan die Frieswêreld gelewer is, is dat dit daarin geslaag het om agt Frieskoeie van die tien wat Suid-Afrikaanse interras-melk- en bottervetrekordhouers is, op te lewer. Van die 12 Suid-Afrikaanse Interrasrekords wat daar bestaan, word trouens nege deur hierdie agt koeie gehou. Dit is sekerlik geregverdig om hier te noem dat sewe van hierdie koeie

uit die kudde van wyle mnr. P. W. Michau (tans Michau Broers), Doornhoek, Cradock, kom.

 

 

As hierdie prestasies in oënskou geneem word, is dit dus te verwagte dat juis hierdie deel van die land niks minder as die hoofbron van teelmateriaal van die beste gehalte is nie. Gevolglik word Oos-Kaapse Friesbloed ook in die meeste kuddes van die land aangetref.

Dat hierdie boerderyvertakking en die leidende rol wat die Oostelike Kaap vandag op die spesifieke gebied speel, basies gesond is, is te danke .aan die natuurlike geskiktheid van die streek om as "stoetplaas" van die land ontwikkel te word. Dit is geen kunsmatig gestimuleerde, fundamenteel ongesonde of ongewenste bedryf nie, maar 'n voorbeeld van 'n ontwikkeling in balans met die natuurlike potensiaal van die betrokke streek, met sy eienaardighede van klimaat, topografie, bodemgesteldheid, aard van plantegroei en inherente gesondheid as veeboerderystreek.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 38 (11)