Last update: April 3, 2012 08:02:35 AM E-mail Print

 

BYVOEDING VAN SKAPE IN DIE KAROO

 

F.C. Hayward

Hoof Voedingseksie

Landbounavorsingsinstituut, Grootfontein

 

 

WEENS die lae reënval, is die landboubedryf in die Karoo hoofsaaklik op die potensiaal van sy natuurlike weidings aangewys. Kleinveeboerdery is by verre die belangrikste boerderyvertakking en hierdie diere is vir ongeveer 85-95 persent van hul voedsel van die natuurlike weiding afhanklik. Die kwaliteit van die weiveld bepaal dus grotendeels die produksie van elke plaas. Dit is algemeen bekend dat die weidings uiters heterogeen van aard is as gevolg van topografiese, geologiese en klimatologiese omstandighede. Hierdie omstandighede bring mee dat die aard en samestelling en gevolglik ook die voedingswaarde van die veld van plaas tot plaas en gebied tot gebied wissel. Dit mag dus nodig wees om moontlike voedingstekorte aan te vul wat in die weiding mag bestaan of om beter benutting van beskikbare weiding te verkry by wyse van byvoeding.

Die mees praktiese en ekonomiese manier om byvoeding te verskaf is deur middel van lekke. 'n Voorvereiste vir doelgerigte lekaanvulling is dus om die tekort te identifiseer. Hierdie tekort is nie noodwendig altyd 'n mineraaltekort nie, maar kan enige voedingstof insluit wat sou veroorsaak dat optimale produksie nie verkry word nie. Waar spesifieke tekort simptome as gevolg van mineraaltekorte voorkom, kan skouspelagtige resultate verkry word met die regte aanvulling (Theiler, Green & Du Toit, 1924); Perold, 1949; Van der Merwe, 1957). Dikwels is daar egter geen ooglopende tekort simptome nie en word verlaagde produksie toegeskryf aan 'n mineraaltekort. Die gebruik van aanvullings wat 'n wye spektrum minerale voorsien, kan in sulke gevalle meer kwaad as goed doen, aangesien dit kan beteken dat minerale aangevul word waarvan daar reeds 'n oormaat in die weiding voorkom.

In 'n poging om tekorte in die natuurlike weiding te bepaal of te identifiseer, is 'n groot aantal plantspesies in die Karoostreek skeikundig ontleed (Louw, 1962; Louw, Steenkamp & Steenkamp, 1968). Met die interpretering van resultate verkry vanaf skeikundige ontledings, moet 'n aantal faktore in gedagte gehou word. Eerstens moet dit aanvaar word dat mensversamelde monsters verskil van die wat deur die dier geselekteer word, veral indien die weigewoontes van die verskillende diersoorte in ag geneem word.

Wanneer plantmonsters skeikundig ontleed word, word die konsentrasie van die verskillende voedingsbestandele kwantitatief bepaal. In die geval van die dier sal die verteerbaarheid van die verskillende plante bepaal hoeveel van die voedingstowwe wel vir die dier beskikbaar sal wees. Hoewel die konsentrasie vesel 'n aanduiding van verteerbaarheid kan gee - hoe hoër die veselinhoud, hoe laer is die verteerbaarheid - is op die huidige baie min bekend omtrent die verteerbaarheid van plantspesies wat in die Karoostreek voorkom. Die plantsamestelling van enige spesifieke weiding en die vrywillige inname van elke plantspesie is ander faktore wat sal bepaal hoeveel voedingstowwe deur die dier ingeneem word.

Dit is dus duidelik dat resultate wat verkry word van skeikundige ontledings, slegs 'n aanduiding kan gee van moontlike tekorte. In Tabel1 word die chemiese samestelling van sommige plantspesies gedurende die winter en somer op 'n vogvrye basis aangegee. Dit sluit smaaklike sowel as onsmaaklike spesies in en hoewel dit in die brei gesien die mees algemene spesies in die Karoostreek insluit, kan die resultate in Tabel 1 slegs dien om aan te dui in watter orde die konsentrasie voedingstowwe in die verskillende plantspesies voorkom, Wanneer die ontledingsresultate van meer as 100 verskillende spesies in aanmerking geneem word, kan die gevolgtrekking gemaak word dat die grasse gedurende die winter nie genoegsame ruproteïen bevat om aan die vereiste te voldoen nie, terwyl bossieveld moontlik nie genoegsame energie voorsien nie, Volgens die vereiste wat gestel word, naamlik dat 'n weiding minstens 0,15 tot 0,23 persent fosfor moet bevat om in die behoeftes van 'n skaap te voldoen kan 'n fosfortekort bykans dwarsdeur die jaar verwag word, Dit word egter algemeen aanvaar dat hierdie vereiste vir skape te hoog gestel word. Tans word uitgebreide navorsing gedoen om die nut van fosforaanvulling vir skape te ondersoek.

 

 

Afgesien dus van moontlik fosfor, kon geen ander mineraaltekort, met behulp van skeikundige ontledings in die Karoo vasgestel word nie. Aangesien geen spesifieke tekort simptome voorkom nie. kan algemeen aanvaar word dat die aanvulling van minerale in hierdie stadium doelloos en sonder ekonomiese regverdiging is. Die aanvulling van energie en proteïen, gesamentlik of afsonderlik, mag wel voordele inhou indien sommige aspekte oorweging geniet.

Soos reeds genoem is 'n lek 'n gekonsentreerde vorm van voeding waarvan 'n relatiewe klein inname per dier per dag voldoende behoort te wees om saam met die weidingsinname in sy voedingsbehoeftes te voldoen. Wanneer lekaanvulling dus oorweeg word, moet daar in die eerste plek genoegsame weiding beskikbaar wees en tweedens moet die daaglikse lek inname sodanig wees dat die weiding optimaal benut word. In die praktyk word gevind dat sodra die lek inname te hoog is, word die weiding swak benut aangesien die diere slegs om die lekbak konsentreer. Afgesien daarvan dat dit kan lei tot die uittrap van veld rondom lekbakke, word relatief goedkoop weiding vervang met 'n duur konsentraat. Wanneer die daaglikse lek inname te min is, beantwoord dit ook nie aan die doel nie en word geen resultate verkry nie. Die doeltreffendheid van lekaanvulling, die gepaardgaande weiveldbenutting sowel as die ekonomie van lekaanvulling, word dus bepaal deur die daaglikse inname daarvan.

Die inname van enige spesifieke lek word bepaal deur die plantsamestelling van die weiding asook deur die gehalte van die drinkwater en sal dus nie alleen verskil van plaas tot plaas nie, maar ook van kamp tot kamp op dieselfde plaas. Die inname moet dus kontroleerbaar wees. Die mees algemene manier waarop lek inname beheer kan word, is deur die soutkonsentrasie daarvan te varieer. Hoe laer die soutkonsentrasie hoe hoër is die inname gewoonlik. Afgesien van die feit dat skape lekblokke oor die algemeen sleg benut, het dit die verdere nadeel dat die soutkonsentrasie van die klaar gevormde blok nie verander kan word nie en gevolglik kan die inname daarvan nie maklik gereguleer word nie.

'n Ander aspek van lekaanvulling wat in gedagte gehou moet word, is dat diere in verskillende fisiologiese stadia verskillende voedingsbehoeftes het. Die voedingsbehoefte van 'n dragtige ooi gedurende die laaste ses weke van dragtigheid en gedurende die eerste vier weke van laktasie is aansienlik hoër as die van 'n droë ooi of 'n hamel. Dit gebeur dikwels, afhangende van bestuursaspekte, dat hierdie lye van hoër voedingsbenodigdhede saamval met die periodes waar die produksie-potensiaal van die weiding 'n laagtepunt bereik, Gevolglik kan lekaanvulling met goeie resultate onder sulke omstandighede aangewend word.

Ten einde die mees ekonomiese voordeel van lekaanvulling te kan geniet, is dit dus nodig om doelgerig slegs dit waaraan daar 'n behoefte bestaan, aan te vul. Die onoordeelkundige gebruik van duur lekke lewer dikwels geen resultate nie en lei slegs tot finansiële verliese. Derhalwe is dit belangrik dat boere die nodige aandag aan die praktyk van lekaanvulling sal gee.

 

VERWYSINGS

LOUW, G.N., 1962. D.Sc.(Agric.)-thesis, University of Stellenbosch.

LOUW, G.N., STEENKAMP, C.W.P. & STEENKAMP, E.l., 1968. Tegniese Mededeling Nr. 79. Pretoria: Dept. Landbou-tegniese Dienste.

PEROLD, 1.5., 1949. Proto Spec. Cont. Agric., Austr.7 1949.

THEILER, A., GREEN, H.H. & DU TOIT, P.J., 1924. Union S. Afr. J. Dept. Agr. 8, 460-504.

VAN DER MERWE, F.J., 1957. D.Sc.(Agric.) Thesis, University of Stellenbosch.

 

Published

Karoo Agric 1 (1), 33