Last update: August 17, 2011 02:55:58 PM E-mail Print

 

Evaluasie van fynwol-Merinoskape op aangeplante weidings onder  besproeiing

A.G. Bezuidenhout, J.J. Olivier en A.C. Greyling

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Aangeplante weidings onder besproeiing kan 'n belangrike bydrae lewer tot verhoogde wol- en vleisproduksie in Suid-Afrika. So byvoorbeeld het resultate op Cradock Proefstasie aangetoon dat Merino-ooie jaarliks 9,5 tot 10,4 kg wol produseer met 'n lampersentasie van so hoog as 160. Merino-ooie het 67 % meer wol geproduseer as die 5,7 kg onder ekstensiewe veldtoestande en die jaarlikse wolproduksie per ha aangeplante weiding was ongeveer 240 kg (Bezuidenhout, 1983). Hierdie verhoogde wolproduksie het egter met 'n ongewenste toename in gemiddelde veseldikte van die wol (23 tot 26,14 mikron) gepaard gegaan wat die ekonomiese waarde van die hoë wolproduksie aansienlik verlaag het. So byvoorbeeld toon die afgelope 5 jaar se gemiddelde skoonwolpryse dat die waarde van 21 mikron wol 73 % hoër is as die van 26 mikron wol. Met hierdie prysverskil ten gunste van fyner wol, kan die produksie van fynwol onder intensiewe toestande dus meer ekonomies wees.

Die moontlike produksie van fynwol op aangeplante weidings het onder meer aanleiding gegee tot die volgende vrae waarvoor antwoorde en norme nie beskikbaar was nie :

Gedurende September 1988 is 'n genetiese fynwolkudde bestaande uit 354 ooie (Groep F) op Cradock Proefstasie gevestig. Die gemiddelde veseldikte van die kudde was aanvanklik 19,2 ± 1,81 mikron. Die ooie is reeds vir drie lamseisoene met Australiese fynwolramme (ongeveer 20 mikron) gepaar. Saam met Groep F word ook 'n kontrolekudde sterkwolooie (Groep K) aangehou wat met sterkwolramme ( ongeveer 26 mikron) gepaar word. Die gemiddelde veseldikte van die sterkwolooie was aanvanklik 25,94 ± 1,28 mikron. Albei groepe ooie word op aangeplante weidings onder besproeiing aangebou, naamlik lusern gedurende die somer en kleingraan- of raaigrasweiding gedurende die winter.

Na die vestiging van die genetiese fynwolkudde, was een van die doelstellings om inligting in te samel oor die produksiepotensiaal van fynwolskape onder intensiewe toestande om sodoende antwoorde vir genoemde vrae te verkry.

 

PROEFPROSEDURE

Die resultate van sowel fyn- (Groep F) as sterkwolooie (Groep K) gedurende die eerste twee lamseisoene is verpoel en vir jaar, ouderdom en lamstatus (nie gelam, eenlinglam, tweelinglammers ens.) gekorrigeer. Die nageslag is op 12 tot 14 maande ouderdom geëvalueer en data is vir die effekte van geboortejaar, geslag en geboortestatus gekorrigeer.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Volwasse ooie

Die gemiddelde veseldikte van Groep F-ooie het gedurende die eerste 8 maande betekenisvol (p ≤ 0,01) toegeneem met ongeveer 1,9 mikron tot 21,07 ± 1,61 mikron waarop dit gestabiliseer het. Volgens Tabel 1 was al die produksie-eienskappe van fynwolooie, behalwe vir afwyking vanaf Duerden, betekenisvol (P ≤ 0,01) laer as die van sterkwolooie. Die waardes van Groep F was van 12 % (vir skoonopbrengs) tot 41 % (vir skoonvagmassa) laer as die van Groep K. Die gemiddelde skoonvagmassa was 207 en 305 g per kg metaboliese massa vir fyn- en sterkwolooie onderskeidelik. Hierdie verskille het voorgekom met 'n veseldikteverskil van 4,7 mikron (18 %) tussen Groepe F en K. 'n Verlaging van 1 mikron in veseldikte het dus tot gevolg dat liggaamsmassa met 2,7 kg verlaag en dat skoonvagmassa met 0,66 kg verlaag. Hierdie relatief groot verskille tussen die twee groepe kan aan moontlike verskillende omstandighede waarin die diere grootgeword het, toegeskryf word. Die fynwolooie is in verskillende dele van die land aangekoop en sommige van die ooie bet slegs 29 kg (18 maande ouderdom) geweeg toe hulle aangekoop is. Hierteenoor is die ooie van Groep K op Cradock Proefstasie gebore waar bulle onder intensiewe toestande grootgeword het. Die verskille in produksie-eienskappe van die nageslag van die twee groepe behoort dus 'n meer akkurate weergawe te gee.

 

Nageslag

Die nageslag wat gedurende die eerste twee lamseisoene binne elke groep gebore is, se produksie-eienskappe is ook verwerk en word in Tabel2 aangetoon. AI die produksie-eienskappe van die fynwolnageslag was betekenisvol (p < 0,01) laer as die van die sterkwolnagslag. Die waardes van Groep F was 5 % (vir liggaamsmassa) tot 33 % (vir skoonvagmassa) laer as die van Groep K. Die verskil in veseldikte tussen die twee groepe was 2,8 mikron (12 %). Volgens die resultate van die nageslag het 'n verlaging van een mikron in veseldikte tot gevolg dat die verskillende produksie-eienskappe soos volg verlaag :

Liggaamsmassa - 0,96 kg

Skoonvagmassa - 0,64 kg

Skoonopbrengs - 1,68 %.

Die resultate moet egter as voorlopig beskou word aangesien slegs die eerste twee lamseisoene se data beskikbaar was vir verwerking. Die huidige norme kan dus verander namate die fynwolkudde (Groep F) verder veredel word.

 

Ekonomie

Een van die vrae aangaande fynwolproduksie onder, intensiewe toestande is die ekonomie daarvan. Na aanleiding van die resultate van die twee kuddes, kan die produksie-eienskappe van ooie en lammers per mikron, verskil in veseldikte, geëkstrapoleer word. Hierdie resultate is gevolglik gebruik om die relatiewe bruto marge per ha aangeplante weiding, soos in Fig. 1 aangedui, te bereken. Vir die doel van die berekening is 'n lampersentasie van 115 en 'n speenpersentasie van 87 deurgaans gebruik. Die aanteel is nie geskeer nie en reeds op 6 maande ouderdom bemark, terwyl die afgelope 5 jaar se gemiddelde wolprys vir elke mikron gebruik is. Verder is die verlaging in liggaamsmassa, skoonopbrengs en skoonvagmassa wat met 'n verlaging in veseldikte gepaard gaan, ook in ag geneem. Voorlopige resultate dui daarop dat reproduksie nie nadelig deur verlaagde veseldikte beïnvloed word nie en gevolglik is die reproduksie tussen die twee groepe as dieselfde aanvaar.

 

Volgens die resultate in Figuur 1 was die relatiewe bruto marge van 21 mikron ooie 24 % boor as die van ooie met 'n gemiddelde veseldikte van 26 mikron. Die prysvoordeel van fyner wol het tot gevolg dat die verskil in bruto marge, per mikron afname in veseldikte van die ooikudde, toeneem by veseldiktes laer as 24 mikron. Hoewel 21 mikron-ooie 41 % minder wol produseer en ongeveer 18 % ligter weeg as 26 mikron-ooie, het die langtermyn prysverskille ten gunste van fyner wol tot gevolg dat 'n boor inkomste van fynwolskape verkry word. As die huidige gunstige prysverskille ten gunste van fyner wol gehandhaaf word, wil dit voorkom of dit meer ekonomies sal wees om minder maar fyner wol op aangeplante weidings onder besproeiing te produseer.

 

VERWYSING

BEZUIDENHOUT, A.G., 1983. Die benutting van lusern (Medicago sativa) deur reproduserende Merino-ooie. M.Sc. (Agric)- verhandeling. U.O.V.S.

 

Published

Karoo Agric Vol 4, No 3, 1991 (14-15)