Last update: August 18, 2011 04:12:15 PM E-mail Print

 

Vestiging van ‘n genetiese fynwolkudde

 

J. J. OLIVIER, H. STEYNBERG & D. WENTZEL

Landboukollege Grootfontein,

Middelburg, 5900

 

 

Leiers in die wolbedryf het in die onlangse verlede by talle geleenthede hul kommer uitgespreek oor die afname van wolproduksie in die RSA. Hierdie tendens is hoofsaaklik te wyte aan finansiële en ander oorwegings wat die produksie van skaapvleis per se begunstig het. Tesame met hierdie ongunstige toestand neig die Suid-Afrikaanse wolskeersel ook om voortdurend sterker te word in 'n tyd wat markkragte die produksie van fyner wol vereis. Volgens Marx (1981) het die persentasie fynwol van 20 mikron en minder van 69% in 1951/55 tot 4% in 1976/80 verminder. In hierdie verband toon 'n ontleding van die Wolraad jaarverslag vir die jongste seisoen (87/88) dat die wolskeersel, in terme van fynheid, as volg ingedeel is:

 

Fynheid (mikron)                   Persentasie van skeersel

Superfyn (219)                                     1,2

Fyn (20)                                              6,2

Medium (21 & 22)                               41,8

Sterk (23 & 24)                                  41,6

Oorsterk (325)                                    9,2

 

Hiervolgens is dit voor die handliggend dat bykans 51 % van die nasionale wolskeersel as sterkwol geklassifiseer word.

 

1. Waarom is dit belangrik dat die RSA fyner wol moet produseer?

In die tekstielbedryf het die aanvraag vir fynwol aansienlik toegeneem wat die prys daarvan oor die afgelope aantal jare dramaties laat styg het teenoor die prys van sterkwol. Daar bestaan ook voldoende aanduidings dat hierdie groter aanvraag na fyner wol, en gevolglik 'n aansienlike prysgaping tussen fyner en sterker wol, in die toekoms sal voortduur (D Hardisty, Direkteur IWS, 1987 pers. mededeling) (Fynwol - 20 mikron en minder).

In die lig van die voorafgaande, blyk dit dus dat die grootste gedeelte van die nasionale skeersel in die huidige stadium nie die volle voordeel van die hoer wolpryse vir fyner wol geniet nie. Verder ding hierdie sterker vesels mee met ander wolproduserende lande wat meer van hierdie vesels produseer en dus 'n sterker bedingingsmag het. As hierdie tendens sou voortduur, soos tans die aanduiding is, kon Suid-Afrika sy gunstige posisie om 'n kwaliteitvesel wat in groot aanvraag is te produseer, verloor. In hierdie opsig is 'n land soos Australië in 'n baie beter posisie om vinniger na die produksie van fyner wol om te skakel omdat hulle die skaapgetalle en ook aansienlik groter getalle geneties fynwoldiere beskikbaar het. Dit is dus van strategiese beland dat SA so gou as moontlik 'n kernpoel van genetiese fynwolskape opbou om in die nasionale wolskaapkudde aan te wend indien hierdie verwagte tendens ten gunste van fyner wol sou voortduur. Vanuit 'n ekonomiese oogpunt sowel as op grond van die vereistes wat deur die tekstielbedryf gestel word, soos gereflekteer in die hoër pryse vir fynwol, is dit dus van uiterste belang dat spesiale insette gemaak word ten einde die nasionale wolskeersel effens fyner te maak. Dit is ook van strategiese belang om meer genetiese plooibaarheid ten opsigte van veseldikte in die SA Wolskaapbedryf te induseer.

'n Verlaging in veseldikte kan verkry word deur wolskape in 'n minder gunstige omgewing (laer voedingspeil) aan te hou en/op deur genetiese diere te teel. Ten opsigte van eersgenoemde moontlikheid is dit voor die handliggend nie 'n aanvaarbare opsie nie aangesien 'n voedingsverlaging uiters nadelige gevolge vir reproduksie sal inhou. So byvoorbeeld is in proewe te Grootfontein in samewerking met SAWTNI gevind dat deur voedingsmanipulasie die fynwol met 27% verlaag kan word. Dit het egter gepaard gegaan met 'n drastiese afname van 60% in produksie (P D Grobbelaar, 1986 pers. med.)

Dit word ook verwag dat met die huidige Weidingstrategie sowel as die gebruik van aangeplante weidings in die marginale saaigebiede vir veeproduksie, die algemene omgewingstoestande waaronder wolskape aangehou word, aansienlik sal verbeter. Dieselfde neiging is ook te bespeur in die besproeiingsgebiede en hoe potensiële saaigebiede. Laasgenoemde sal, volgens alle aanduidings, dus die nasionale skeersel met die huidige beskikbare genetiese materiaal nog sterker maak. Hiervolgens is dit dus duidelik dat die enigste prakties aanvaarbare oplossing om die produksie van fyner wol te bevorder, via die genetiese weg bereik kan word. Spesiale insette sal egter gemaak moet word om dit te bereik, aangesien slegs 'n beperkte getal genetiese fynwolskape plaaslik beskikbaar is.

Hierdie ongunstige situasie ten opsigte van genetiese fynwol materiaal blyk uit die feit dat slegs 7.4% van die totale skeersel 20 mikron en fyner is. Dit kan verder aanvaar word dat 'n aansienlike gedeelte van hierdie fynwol afkomstig is van jong diere en diere wat as gevolg van voedingstres fynwol produseer (met ander woorde omgewingsgeïnduseerde fynwol). Daar kan dus verwag word dat die gemiddelde veseldikte aansienlik hoer sal wees in normale reënvaljare.

Om hierdie probleem die hoof te bied is die Departement van Landbou en Watervoorsiening deur die Advieskomitee vir Wolproduksie genader om die probleem van oorsterk wol in die Suid-Afrikaanse Wolskeersel te ondersoek. Hierdie taak is aan die Karoostreek en NIVS opgedra. Na beraadslaging met verskeie instansies in die wolbedryf, het die volgende aan die lig gekom:

 

 

'n Integrale deel van hierdie fynwolprojek sal noodwendig ook die evaluasie van fyner wolskape in verskillende omgewings behels. In hierdie opsig sal die beskikbaarstelling van genetiese fynwolskape dus eerstens gemik wees op die verkryging van doeltreffende fynwolproduksie in die hoë potensiaal gebiede en veral op aangeplante weidings (dit wil sê onder gunstige voedingsomstandighede). Met die huidige genetiese materiaal kan hierdie doelstelling nie bereik word nie soos blyk uit die volgende resultate wat te Cradock proefstasie met tipiese Merino’s behaal is.

 

    Gemiddelde jaarlikse lampersentasie - 181 ,5 (3 x 8 maande paarseisoene in twee jaar).

    Gemiddelde jaarlikse wolproduksie - 9,41 kg per ooi.

    Gemiddelde veseldikte - 26,14 mikron.

    Gemiddelde voorspeense groei - 174 9 per dag

    Gemiddelde naspeense groei - 102 9 per dag.

 

Volgens hierdie resultate is dit duidelik dat alhoewel wolproduksie besonder hoog is, die veseldikte van die wol onaanvaarbaar vir die tekstielbedryf is. Ekonomiese ontledings van hierdie data toon verder dat wolproduksie kan afneem, indien veseldikte verlaag word, om dieselfde inkomste te verkry. Byvoorbeeld as die veseldikte van 26 m na 20 mikron verlaag kan word, hoef die diere teen huidige wolpryse slegs 5 kg wol (in plaas van 9,41 kg) te produseer om finansieel gelyk te breek.

Alhoewel die daarstelling van genetiese fynwolskape oënskynlik genoemde probleme sal regstel, bestaan daar egter geen wetenskaplik gefundeerde inligting oor die prestasies van sulke diere ten opsigte van ander produksie-eienskappe (reproduksie, vleisproduksie ens.) onder genoemde gunstige omgewingstoestande nie.

Soortgelyk aan die voorafgaande bestaan daar ook geen wetenskaplike inligting oor die produksie van genetiese fynwolskape onder ekstensiewe toestande nie. Die weerstand van fynwol teen verwering en die aanpasbaarheid van fynwolskape in ariede omgewings is ook nie bekend nie.

Die daarstelling van 'n genetiese fynwolkudde is dus 'n voorvereiste vir hierdie ondersoeke van genotipe x omgewings-interaksies. Voorts sal die beskikbare resultate uit die verskillende ondersoeke ook dien as 'n voorvereiste vir die verspreiding en vermeerdering van genetiese fynwoldiere in die RSA.

 

4. Uitvoering

Hierdie ondersoek het 'n nasionale inslag en sal ander departementele instansies bo en behalwe Karoostreek ook met die uitvoering van bepaalde fases betrokke wees. Dit geld eerstens vir die NIVS met betrekking tot die aanwending van gevorderde reproduksiefisiologie-tegnieke en die moontlike aanwending van biotegnologie vir die ontwikkeling van nuwe genotipes terwyl van die ander Streeksorganisasies veral by verdere genotipe-omgewingevaluasie ingeskakel sal word.

Die eerste fase in die projek was om 'n kernkudde te stig. Beamptes van die NWKV het die fynste skeersels in die hawens geïdentifiseer. Die produsente van die skeersels is genader en van hulle is verwag om hulle fynste 100-150 ooie te identifiseer. Beamptes van Karoostreek, die Vagtoetssentrum en NWKV het volgens die hand en oog metode die fynste 30-40 diere geïdentifiseer. Van die diere midribmonsters geneem en die fynste 10-30 diere is vir die fynwolprojek aangekoop. In totaal is op die huidige stadium 356 ooie van 19 verskillende telers aangekoop. Die diere is eers te Landboukollege Grootfontein vir drie maande in voerkrale aangehou. Die begin- en eindmassas asook die veseldiktes was as volg:

 

                               Begin                Na 3 maande

Liggaamsmassa        39,7 kg                  58,3 kg

Veseldikte                19,1 mikron           20,9 mikron

 

Na 3 maande op volvoeding was nog 50% van die ooie 20 mikron en fyner. AI hierdie ooie is met 4 ramme wat vanaf Australië ingevoer is gepaar en 94% lammers per ooie beskikbaar is gebore.

Plaaslik beskikbare ramme sowel as ooie sal moontlik nog vorentoe in die kudde opgeneem word. Hierdie kudde sal die kern vorm van 'n genetiese fynwolkudde.

Sodra voldoende surplus ooimateriaal uit faset 2 beskikbaar raak sal hierdie diere onder gesimuleerde en gekontroleerde ariede en semi-ariede voedingstoestande geëvalueer word. Afhangende van hierdie resultate wat binne een jaar na die aanvang van die faset beskikbaar sal wees, sal die evaluasie van die fynwoldiere uitgebrei word na verskillende natuurlike omgewings, soos onder andere Grootfontein en Carnarvon proefstasies en moontlik die Rûensgebied (Winterreënstreek).

 

SLOT

As die nasionale skeersel met een mikron verlaag kan word kan dit miljoene rande ekstra inkomste beteken. Die volle konsekwensies van so 'n verlaging op ander produksie eienskappe soos bv. aanteeltempo, fiksheid ens. is nog onbekend. Dit word duidelik gestel dat met die lootsing van die ondersoek nie bedoel word dat die produksie van fynwol aanbeveel word nie. Hierdie ondersoek het ten doeI, eerstens, die daarstelling van 'n genetiese fynwolkudde en tweedens, die gebruik van hierdie genetiese fynwolskape om produksienorme in 'n reeks van omgewingstoestande in te samel.

 

LlTRATUUR

BIRCHARD, M. 1971. Disemination of genetic improvement through a livestock industry. Anim. Prod. 13: 401.

HARDISTY, D., 1985. Presentation to the 56th annual congress of the National Woolgrowers' Association of South Africa. 24 July 1985.

MARX, F. E., Die gehalte van die Suid-Afrikaanse Merinoskeersel oor dertig jaar. Karoo Agric. 2 (1): 13.

S.A. WOLRAAD, 1988: Statistiese oorsig van wolproduksie in Suidelike Afrika 1987/88 Seisoen.

 

Published

Merino joernaal 52 (1)