Last update: March 30, 2012 01:46:21 PM E-mail Print

 

ENKELE GEDRAGSPATRONE VAN SKAPE

 

G. Van N. du Toit

Landbou-opIeidingsbeampte

Landboukollege Grootfontein. Karoostreek.

Privaatsak X529. Middelburg K.P. 5900

 

 

TOT op die huidige berus die meeste van die aanbevole veldbestuurstelsels op navorsing wat gedoen is ten opsigte van die fisiologiese uitwerking wat benutting (bewei en rus) op die plantegroei het. Heelwat werk is al in die verband gedoen en word nag gedoen. Min aandag is egter nog aan die daaglikse gedrag van die diere, en die invloed daarvan op wetenskaplike veldbestuurspraktyke, geskenk.

Uit navorsing wat reeds gedoen is, het dit duidelik geword dat sommige van die daaglikse aktiwiteite van die diere wel 'n invloed op wetenskaplike veldbestuur en volgehoue diereproduksie sal hê. 'n Deeglike kennis van die daaglikse aktiwiteit van die dier is dus nodig.

Al die daaglikse aktiwiteite van die dier is dan daarop gemik om homself te onderhou en te oorleef. Die basiese gedragspatrone sluit in wei, loop, waterdrink, rus, herkou, misuitskeiding en urinering. Vir sommige van die aktiwiteite is daar duidelike patrone waarneembaar terwyl ander geen patrone toon nie. Elk van die aktiwiteite word deur verskeie faktore beïnvloed soos byvoorbeeld temperatuur, humiditeit reën, wind, tipe voedsel en tyd van sonsopkoms en sonsondergang.

 

WEIPATROON

Daar is basies twee dryfvere wat die weipatroon van skape sal beïnvloed. Dit is die behoefte aan voedsel en skuiling.

Navorsing het getoon dat skape meer aktief in die dag wei as in die nag. Die belangrikste weityd begin rondom sonsopkoms en sonsondergang. Tussen-in sal daar korter weiperiodes wees wat ook bekend staan as "sekondêre" periodes. Die aanvang en duur van hierdie "sekondêre" periodes sal afhang van verskeie klimaatsfaktore en die weidingsdruk (Arnold & Dudzinski, 1978). Daar is dan sekere tye van die dag wanneer die hele trap sal wei en ander tye wanneer net 'n gedeelte van die trap sal wei.

Dudzinski & Arnold (1979) het gevind dat skape kan voorspel of die dag uitsonderlik warm gaan wees en dus hul wei-aktiwiteit vroeër begin. Die aanvang sal egter nog gekoppel wees aan sonsopkoms. Die lengte van die weiperiode sal bepaal word deur die hoeveelheid beweiding die vorige nag, die aanvangstyd van beweiding en die afname in humiditeit gedurende die dag.

Dit wil voorkom of reën 'n klein effek het op die algemene weipatroon. Reënvlae laat die rigting van beweiding verander. So sal skape wat teen die wind gewei het, hul weirigting verander en nou saam met die wind en reën wei. In hewige aanhoudende reën sal skape hul wei-aktiwiteit staak. Na 'n periode van 'n halfuur tot een uur sal beweiding hervat word ongeag die reën.

Die hoeveelheid voer beskikbaar vir benutting en die veebelading affekteer nie die beweidingspatroon nie, maar wel die aantal en lengte van weiperiodes. Die hoof weiperiode duur voort, maar met 'n tekort aan voedsel en 'n hoë veebelading sal die diere minder rus en gevolglik langer weiperiodes hê. Dit word in Fig. 1 en Tabel 1 geïllustreer.

 

 

Die fisiologiese toestand (droog, dragtig of lakterend) van die dier en 'n voorafgaande periode van voedseltekorte of kouespanning beïnvloed ook die weipatroon van diere. So het Arnold & Dudzinski (1978) gevind dat dragtige ooie en droë ooie dieselfde weityd het.

Lakterende ooie sal egter 12% langer wei, behalwe onder goeie voedingstoestande wanneer die weityd dieselfde is as vir droë en dragtige ooie. Tydens koue soek die diere skuiling met die gevolg dat sy weipatroon moet verander. Kouespanning na skeer lei tot 'n afname in die weityd. Die diere sal egter heelwat vinniger vreet (Arnold & Birrell, 1977).

Skape is bodemvlakvreters en relatief selektiewe beweiers. Skape benut dus die plantegroei tussen 2 en 40cm bo die grondoppervlakte, maar hulle hou daarvan om laer as 10cm te vreet (Roux, 1968). Die gevolg hiervan is dat skape die veld makliker kan beskadig as beeste wat die laer en middel strata benut (dit wil sê tussen 8 en 70cm). In normale veldbestuur is dit dus van groot belang om te waak teen te kort benutting van die veld aangesien die plante ernstig beskadig kan word.

 

WATERSUIP

Die frekwensie van watersuip sal afhang van 'n verskeidenheid van faktore, onder meer die temperatuur, tipe voedsel en waterverspreiding. Die meeste besoeke aan die water vind voor 08:30 plaas (Bowns, 1971). Squires (1971) vind dat indien skape twee maal per dag watersuip, dit om en by 08:00 en 16:00 sal plaasvind.

'n Styging in temperatuur verhoog die frekwensie van watersuip. So het Roux (1967) 'n toename in die frekwensie van watersuip gevind sodra die temperature in die lente begin styg het. Dit word gestaaf deur die werk van Lynch (1974, soos aangehaal deur Arnold & Dudzinski, 1978). Hy het gevind dat Merino's drie maal in 'n elf dae periode watersuip in die somer en nooit in 'n elf dae periode in die winter. Waar temperature bo 38° C styg sal Merino's, wat twee maal per dag watersuip, hul namiddagloop na die water uit skakel en dus net een maal per dag watersuip (Daws & Squires, 1974).

Die tipe voedsel speel ook 'n rol in die frekwensie van watersuip. So het Lynch (1974, soos aangehaal deur Arnold & Dudzinski, 1978) gevind dat Merino's op 'n Casuarina-Heterodendron assosiasie drie maal in elf dae watersuip. Hierteenoor het Merino's op 'n Atriplex (soutbos)-weiding twee maal per dag water gedrink (Squires, 1976), afhangende van die afstand tussen die kos en water (Squires & Wilson, 1971). Merino's sal twee maal per dag water drink tot dat die afstand tussen die kos en water langer as 4,0 km word. Daarna verminder dit na een maal per dag as die afstand verder as 4,8km is.

Uit die resultate is dit duidelik dat waterpunte nie te ver van mekaar moet wees nie. 'n Algemene riglyn is dat die verste punt in 'n kamp nie verder as 1,5km van die waterpunt moet wees nie. Lang afstande tussenvoedsel en water kan lei tot hoër energieverbruik by skare en 'n moontlike laer diereproduksie.

Die lengte van die weiperiode speel ook 'n rol by die frekwensie van watersuip. So het Roux (1967) gevind dat vee in 'n "varskamp" die meeste water inneem. Na vier-en-twintig uur neem die waterinname af. Die groter waterinname word toegeskryf aan die groter hoeveelheid materiaal wat gevreet word. Hy vind verder dat die trop die eerste drie tot vyf dae bymekaar gebly het, daarna het dit opgebreek en oor 'n groter oppervlakte gewei. Daar was ook gedurigdeur groepies vee by die waterkrippe. Van ongeveer die tiende tot twaalfde dag was die vee geneig om etlike ure by die water te luier.

 

LOOPAFSTAND

In sy daaglikse natuurlike beweiding van die veld moet die dier 'n sekere afstand beweeg om in die benodigdhede vir sy fisiologiese prosesse, energie en produksie te bevredig (Roux, 1979).

Verskeie navorsers het al die loopafstand van die verskillende skaaprasse bepaal. Wisselende resultate is verkry. Dit kan toegeskryf word aan 'n kombinasie van faktore. Hieronder ressorteer faktore soos kampgrootte, tipe plantegroei en frekwensie van waterdrink.

Die beweging van die dier en die frekwensie van waterdrink is gewoonlik geassosieerd wanneer die voedselvoorsiening laag is. Op ekstensiewe gebiede moet die dier 'n kompromis tref tussen die frekwensie van waterdrink en die afstand wat afgelê moet word van die water na die ligste beweide dele (Arnold & Dudzinski, 1978). In klein kampies met voldoende groenvoer is die loopafstand laag en behels dit grootliks die beweging tydens beweiding. Onder ekstensiewe toestande met vryelik beskikbare water sal die diere verder loop vir voedsel. Die loopafstand om water te drink is egter oor kort afstande. Waar die watervoorsiening egter laag is, en net droë voer beskikbaar is, sal die beweging tussen die water en voer die meeste van die loopafstand opmaak. Hoe groter die kamp dus is, hoe verder sal die dier loop met 'n toename in energieverbruik en 'n moontlike daling in produksie.

Die tipe voedsel in 'n kamp beïnvloed ook die loopafstand. Op 'n soutboskampie het Merino's 8km per dag geloop as hulle een maal water drink en 14km per dag as hulle twee maal water drink, terwyl hulle op 'n grasweiding tussen 4,7 en 6,2km geloop het (Squires, 1976). Squires & Wilson (1971) is egter oortuig dat yler weiding tot groter afstande afgelê sal lei. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat groter afstande nodig is om voldoende voedsel in te neem. Hulle beskou egter 'n afstand van 13,6km per dag as die limiet by Merino's. Squires (1976) Iê ook klem op die feit dat loopafstand deur die fisiologiese toestand (dragtigheid, laktasie, ens.) van die dier beïnvloed sal word.

 

VOETPAADJIEVORMING

Daar bestaan nog min inligting oor voetpaadjievorming. Roux (1967) het voetpaadjies as primêr of sekondêr geklassifiseer. Die primêre voetpaadjies begin by die waterpunt. Sekondêre voetpaadjies ontstaan uit die primêre voetpaadjies. Arnold & Dudzinski (1978) het gevind dat skaapvoetpaaie in groot kampe gewoonlik tot so 50 meter vanaf die heining parallel met die heining geloop het. Verder as 50 meter van die heining het dit in verskillende rigtings geloop.

Die ontstaan van voetpaaie is die gevolg van die begeerte van skaap om 'n voetpad te volg na 'n spesifieke objek. Al is die objek sigbaar, beweeg die diere eers na 'n versamelpunt waarna hulle die voetpad volg (Bates, 1951). Dieselfde voetpad terug word egter nie gevolg nie, behalwe as dit na 'n ander spesifieke objek lei. Die gedrag word net tydens vrywillige beweging waargeneem, anders word die kortste roete gevolg. Wanneer skape egter wei, word voetpaaie nie gevolg nie, behalwe in bergveld.

Voetpadvorming hang ook nou saam met kampvorm en grootte. Van der Vyver (1981) vind dat hoe kleiner die kampe en hoe skerper die hoek na die waterpunt, hoe groter is die spooroortrapping. Naby die waterpunt is die spooroortrapping ook groter. Gevolglik behoort voetpadvorming te verhoog. Om die rede is dit wenslik dat die waterpunte op die harder dele in die kamp moet wees om die gevare van erosie te verminder.

Die veebelading beïnvloed ook die mate van vertrapping en voetpadvorming. So het Roux (1976) gevind dat onder intensiewe beweiding (hoë veedigtheid) die vertrapping en versteuring van die grondoppervlakte die mees opsigtelike kenmerk van die kamp is. Die vertrapping was feitlik eweredig oor die kamp behalwe om die suipkrippe waar vertrapping erger was. Die losgetrapte toestand skep 'n goeie saadbed, maar die gevaar van ernstige erosieskade met 'n vinnige donderstorm is groot. Die potensiële skade vergroot soos die helling steiler word. Roux (1967) vind dan ook aktiewe water-erosie na 'n bui van 28,6mm.

Volgens voetpadtellings was daar 9,5 tot 11,9 primêre voetpaadjies en 21,1 tot 37,9 sekondêre voetpaadjies per kamp van 3,1 ha. Die primêre voetpaadjies het ongeveer 5,44km beslaan en die sekondêre voetpaaie 15,84km (Roux, 1967).

 

RUSPATROON EN DIE KEUSE VAN RUSPLEKKE

Die rusperiodes kan opgedeel word in twee groepe, naamlik periodes waartydens die dier staan en periodes waartydens die dier Iê. Skape spandeer 'n groter deel van hul rusperiodes in die lê-posisie. So het Arnold & Dudzinski (1978) gevind dat skape 88% van die rusperiodes in die wintermaande gele het en 83% in die somermaande. Hulle het dan ook gevind dat diere wat geen skuiling het nie, in baie warm somertoestande eerder staan as wat hulle Iê. Hutchinson & McRae (1969) het dieselfde tendens by pasgeskeerde Merinohamels onder koue weerstoestande gevind.

Die keuse van rusplekke word grootliks bepaal deur die fisiese omgewing, die weerstoestande en waar die diere gewei het. So word ook verskillende rusplekke gekies in die dag en in die nag. Skape neig om snags hul rusplekke op hoërliggende gebiede uit te soek. Die rusplek is in baie gevalle by die punte waar beweiding gestaak het. Tydens matige weer sat die rusplekke in die oopte wees en is daar geen aanduidings van faktore wat die keuse sal beïnvloed nie. In koue winderige weer word egter meer beskutte plekke gekies (Arnold & Dudzinski, 1978). Dit is dus noodsaaklik om, veral in kaal kampe, voldoende skuilings aan die diere te verskaf.

 

VERSPREIDING VAN MIS EN URIENE

Navorsing by skape het 'n heeltemal ander patroon getoon as by beeste. Waar die uitskeidings by beeste toevallig geskied (Petersen, Lucas & Woodhouse, 1956), word uitskeidings van skape gekonsentreer in die klein areas waar die diere slaap (Hilder & Mottershead, 1963; Hilder, 1964). Die bevindings word gestaaf deur die werk van Marten & Donker (1966) wat gevind het dat een derde van aIle uitskeidings op 5-7% van die kamp, gewoonlik by die slaapplekke, aangetref word.

Sears (1953), Petersen et al. (1956) en MacKlusky (1960) vind dat uriene en misuitskeidings die produksie van weidings verhoog. 'n Groot probleem is egter die onegalige verspreiding daarvan en die konsentrasie op klein areas. Ander navorsers soos During & McNaught (1961) en Marten & Donker (1966) vind 'n stikstof- en kaliumverlies in die diergrondsiklus by intensiewe weidings. Die gevolg is dat bemesting nodig is om dit uit te skakel. Op natuurlike veld kan die probleem moontlik nog groter wees. Dit is egter te betwyfel of bemesting van natuurlike veld ekonomies sal wees.

Die invloed van enkele mis- en uriene-uitskeidings van skape op die botaniese samestelling van weiding is klein en net tydelik. Dit word onderskryf deur die bevindings van Sears & Newbold (1942). Hulle het egter gevind dat uriene-uitskeidings grasse bevoordeel en klawers benadeel. Dit word toegeskryf aan 'n fosfaattekort aangesien kalium en natrium voldoende in uriene voorkom. Misuitskeidings het 'n toename in die grasse en klawers gegee en 'n afname by die kruide (Norman & Green, 1958).

Gekonsentreerde uitskeidings kan egter die botaniese samestelling verander. Die verandering sal dan hoofsaaklik by die slaapplekke wees aangesien die meeste uitskeidings daar plaasvind.

Die probleem van vermyding van besmette weidings word nie by skape aangetref nie. Net strawwe besmettings soos by slaapplekke en beesbesmetlings word vermy (Arnold & Dudzinski, 1978).

 

LITERA TUURVERWYSINGS

ARNOLD, G. W., 1962. The influence of several factors in determining the grazing behavour of Border Leicester x Merino sheep. J. Brit. Grassl. Soc., 17: 41-51.

ARNOLD, G. W. & BIRRELL, H., 1977. Food intake and grazing behavour of sheep varying in body condition. Anim. Prod., 24: 343-353.

ARNOLD, G.W. & DUDZINSKI, M.L., 1978. Ethology of free ranging domestic animals. Development in Animal and Veterinary Sciences, 2. Elsevier Scientific Publishing Co. , Amsterdam, Oxford, New York.

BATES, G.H., 1951. Track making by man and domestic animals. J. Anim. Ecol., 20, 21-28.

BOWNS, J.E., 1971. Sheep behaviour under unherded conditions on mountain summer ranges. J. Range mgmt., 24: 105-109.

DAWS, G.T. & SQUIRES, V.R., 1974. Observations on the effect of temperature and distance to water on the behaviour of Merino sheep and Border Leicester sheep. J. Agric. Sci., 82: 383-390.

DUDZINSKI, M.L. & ARNOLD, G. W., 1979. Factors influencing the grazing behaviour of sheep in a Mediterranean climate in summer. Appl. Anim. Ethol., 5: 125-144.

DURING, C. & McNAUGHT, K.J., 1961. Effects of cow urine on growth of pasture and uptake of nutrients. N.Z.J. Agric. Res., 4: 591-605.

HILDER, E.J., 1964. The distribution of plant nutrients by sheep at pasture. Proc. Aust. Soc. An. Prod., 5: 241-248.

HILDER, E.J. & MOTTERSHEAD, B.E., 1963. The redistribution of plant nutrients through free grazing sheep. Aust. J. Sci., 26: 88- 89.

HUTCHINSON, K.J. & McRAE, R.P., 1960. Some factors associated with the behaviour and survival of newly shorn sheep. Aust. J. Agric. Res., 20: 512-521.

LYNCH, J.J. 1974. Behaviour of sheep and cattle in the more arid areas of Australia. In: A.D. Wilson (Ed.). Studies of the Australian Arid Zone, Part 2 - Animal Production. S.I.R.O., Melbourne pp. 37-59. (Cited Arnold & Dudzinski, 1978).

MacK LUSKY, D.S., 1960. Some estimates of the areas of pasture fouled by the excreta of dairy cows. J. Brit. Grassld. Soc., 15: 181-188.

MARTEN, G.C. & DONKER, J.D., 1966 Animal excretement as a factor influencing acteptibility of grazed forage. Proc. 10th Int. Grassld. Congr. Helsinki., 359-363.

NORMAN, M.J.T. & GREEN. J.O.. 1958. The local influence of cattle dung and urine upon the yield and botanical composition of permanent pasture. J. Brit. Grassld. Soc., 13: 39-45.

PETERSEN, R.G., LUCAS, H.L. & WOODHOUSE, W. W., 1956. The distribution of excreta by freely grazing cattle and its effect on pasture fertility. Agron. J., 48: 440-449.

ROUX, P. W., 1967. Die onmiddellike uitwerking van intensiewe beweiding op gemengde Karooveld. Hand. Weidingsveren. S.A. 2, 83-90.

ROUX, P. W., 1968. Principles of veld management in the Karoo and the adjacent dry sweet-grass veld. In: The Small Stock Industry in South Africa. Ed. W.J. Hugo. Government Printer, Pretoria.

ROUX, P. W. 1979. Elements of the trampling factor in stock. Karoo Agric., Vol. I. No.3: p.9-12.

SEARS, P. D., 1953. The influences of red and white clovers, superphosphate, lime and sheep grazing on pasture yields and botanical composition. N.Z.J. Sci. and Tech., A35 Supp.

SEARS, P.D. & NEWBOLD, R.P., 1942. The effect of sheep droppings on yield, botanical composition and chemical composition of pasture. I. Establishment of trial, technique of measurement and results for 1940-41 season. N.Z.J. Sci. Tech., A24: 36-61.

SQUIRES. V.R.. 1971. Temporal patterns of activity in a small flock of Merino sheep determined b: an automatic recording technique. Anim. Behav., 19: 657-661

SQUIRES, V.R., 1976. Walking, watering and grazing behaviour of Merino sheep on two semi-arid range lands in South-West New South Wales. Aust. Rangel. J., I: 13-23.

SQUIRES, V.R. & WILSON, A.D., 1971. Distance hetween food and water supply and its effect on drinking frequency and food and water intake of Merino and Border Leicester sheep. Aust. J. C!f Agril'. Res., 22: 283-290.

VAN DER VYVER. 1981. Ongepubliseerde data. Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek, Landboukollege Grootfonttein, Middelburg K.P., 5900.

 

Published

Karoo Agric 2 (3), 22-25