Last update: April 3, 2012 12:02:42 PM E-mail Print

 

GEHALTE-ASPEKTE VAN MERINOWOL

JJ Venter


Dr J J Venter van die Navorsingsinstituut van die Karoostreek het hom in sy doktorale studie verdiep in die oorsake wat gehalteverskille by Merinowol teweegbring. Aandag is veral gewy aan gehalteverskille wat moontlik te wyte kan wees aan seleksievoorkeur en teling asook voedings- en klimaatstoestande.

Eerstens is ondersoek gedoen na die gehalteverskille in wol van skape wat doelbewus geselekteer en geteel is vir wol van goeie of swak kwaliteit. Dit is gevind dat wol van goeie kwaliteit, waar sagtheid van aanvoeling as ‘n voorvereiste gestel word, oor die algemeen hoogs betekenisvol fyner is, tot twee mikrometers, en tot 'n groter mate ondergekarteld is as wol van swak kwaliteit. Verder is vasgestel dat ‘n inherente gebrek aan styfheid of staankrag tot gevolg het dat verwering in 'n groter mate dieper in die stapel indring. Die verskille in die aard van karteling in verhouding tot die veseldikte is hoofsaaklik verantwoordelik vir gehalteverskille in wol. Dit verklaar in alle waarskynlikheid die feit dat Suid-Afrikaanse Merinowol gaandeweg papper geword het met ‘n laer weerstand teen samepersing en 'n hoër verviltingsvermoë, want daar word in wol van goeie kwaliteit streng geselekteer by skape wat vir teeltdoeleindes gehou word.

Tweedens is aandag geskenk aan daardie vag- en veseleienskappe wat die bestandheid van wol teen verwering onder veld- sowel as ad lib toestande beïnvloed. Die ondersoek het getoon dat die vagwol van skape onder beter voedingstoestande en bestuur oor die algemeen dikker (sterker), langer en ietwat meer gekarteld was met 'n hoër weerstand teen samepersing. Verder is 'n meer vloeibare wolwas tot in die tipgedeeltes aangetref asook meer sweet met 'n hoër pH en gevolglik was die wol chemies en fisies relatief minder verweerd. Genoemde vag- en veseleienskappe kan dus deur seleksie, teling en voeding verbeter word om die verwering van wol tot 'n minimum te beperk.

Derdens is ondersoek ingestel om te bepaal in watter mate verwering beperk kan word deur die aanpassing van die skeertyd. Die graad van verwering van die boonste Tip A-gedeeltes was oor die algemeen hoog (79 persent) ongeag die periode waarin die wol gegroei het. Die wol wat gedurende die warm somermaande gegroei het, was nietemin hoogs betekenisvol meer verweerd as die gedurende die koeler maande. Die resultate dui daarop dat, indien wol redelik lank is tydens een of meer van die somermaande en daarby geneig is om oop te val vanweë swak stapelformasie, digtheid of gebrek aan voldoende vloeibare wololie, dieper beskadiging in die stapel geredelik plaasvind. Dunner en ongekartelde wol asook relatief lang wol, neig om meer en dieper verweerd te wees. Die grootste verlies as gevolg van verwering vind in die was- en kaardproses plaas, waar soveel as 30 persent wol verlore gaan. Ten einde verwering in so ‘n mate te beperk dat slegs die heel boonste Tip A-gedeelte verlore sal gaan, word aanbeveel dat skeertyd so gereël word dat die wol gedurende die somermaande November tot Maart so kort as moontlik is, maar ten minste reeds in stapels gebind is.

Laastens is die effek van beskutting by wyse van skaduweevoorsiening of skaapkomberse as praktiese moontlikheid om verwering te beperk, ondersoek. Verwering van wol op skape is grootliks uitgeskakel deur voltydse bedekking met skaapkomberse, maar skaduweevoorsiening deur bome en sonskerms blyk die aangewese aanbeveling te wees. Alhoewel dit relatief min verskil in Tip A toon, is die dieper verwering in Tip B met soveel as 35 persent verminder.

Die gehalte van wol kan dus verbeter word by wyse van oordeelkundige seleksie en teling van ‘n Duerden-getroue wol gegrond op objektiewe maatstawwe en ‘n kennis van die gekorreleerde verwantskappe tussen ekonomies belangrike eienskappe met voorbehoud van goeie bestuur en gunstige voeding.

 

Published

D.Sc. (Agric.) : UP, Karoo Streeknuusbrief Desember