Last update: August 16, 2011 02:41:56 PM E-mail Print

 

Die produksie van die eerste generasie fyn- x sterkwol Merino's onder veldtoestande in die Karoo

 

J.A. Roux, J.J. Olivier en A.P. Pretorius

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Die Suid-Afrikaanse wolskeersel neig om aan die sterk kant te wees en in die onlangse verlede het markkragte die produksie van fyner wol vereis. Vanaf 1986 tot 1991 was die prys van fynwol baie beter as die van die sterker tipes. Die prysgaping per mikron tussen fyn- en sterkwol het al groter geword en baie boere het oorgegaan tot die produksie van fyner wol. Tans is die prysgaping weer nouer. Dit bly egter die meeste boere se doelwit om met verloop van tyd fyner wol te produseer, met die behoud van ander produksiefunksies soos hoeveelheid wol, reproduksie en liggaamsmassa.

Die oorgrote meerderheid van die 57,94 miljoen kg Merinowol (l991/92-seisoen )wat landwyd geproduseer is, is onder ekstensiewe toestande geproduseer. 'n Neiging na fyner wolproduksie in die ekstensiewe dele laat 'n paar vrae ontstaan wat in hierdie stadium nie met die beskikbare inligting beantwoord kan word nie. Die eerste vraag is wat die produksie- en reproduksieprestasie van die fyner genotipes onder ekstensiewe toestande sal wees, en die tweede of fynwolramme met sterkwolooie gepaar kan word sonder om die kwaliteit van die wol wat geproduseer word, te benadeel. In verskillende kringe bestaan die mening dat die opgradering na 'n fyner kudde geleidelik gedoen moet word, omdat die paring van uiterstes nadelige gevolge vir die "gehalte" van wol sal inhou.

Om hierdie vrae te probeer beantwoord, is kudde ooie (23‑24F) met genetiese fynwolramme (19-20 F, getoets op 18-24 maande onder optimale voedingstoestande) op Grootfontein gepaar om die produksie- en reproduksieprestasie en die effek van uiterste parings op die kwaliteit van die wol vas te stel. Die doel is dus om produksie- en reproduksienorme aan die boer beskikbaar te stel waarvolgens hy meer akkurate besluite kan neem.

 

PROEFPROSEDURE

Hierdie ondersoek is onder natuurlike veldtoestande uitgevoer. Vierhonderd Merino-ooie, met 'n gemiddelde veseldikte van 23,6 F, is in twee groepe, Fyn en Kontrole, van 200 elk verdeel. Die Fyngroep is met fynwolramme (19-20 F) en die Kontrolegroep met sterkwolramme (24-26 F) gepaar. Die liggaamsmassa van die nageslag is op 4-, 6-, 12- en 18-maande-ouderdom bepaal. Die wol is vir veseldikte, kartels/25 mm, stapellengte en skoonopbrengs ontleed en die skoonvagmassa is bepaal. Die plooitelling is net na skeer geneem. Die data van die nageslag wat gedurende 1989 en 1990 gebore is, is verpoel en met behulp van die kleinste-kwadrate-metodes (Harvey, 1990) ontleed. Die lineêre model wat gebruik is, het die vaste effek van geboortejaar, geslag, geboortestatus, groep en alle betekenisvolle interaksies tussen die hoofeffekte ingesluit.

 

RESULTATE EN BESPREKING

In Tabel1 word die kleinste-kwadraat -gemiddeldes van die vesel eienskappe en plooitelling op 18-maande-ouderdom, en die liggaamsmassas van albei groepe vanaf 4- tot 18-maande-ouderdom, weergegee.

 

Die veseldikte van die Fyngroep was 2,26 mikron (P < 0,05) laer as die van die Kontrolegroep. Die verlaging in veseldikte by die Fyngroep word ook duidelik weerspieël in die aantal kartels/25 mm. So byvoorbeeld bet die Fyngroep 5,63 kartels 25 mm meer as die Kontrolegroep (8,83) gebad. Die stapellengte van die Kontrolegroep (90,06 mm) was egter betekenisvol (P < 0,05) langer as die van die Fyngroep (86,87 mm). Die skoonopbrengs van die Fyngroep (67,24 %) was 0,51 % laer as die van die Kontrolegroep (67,75) en het nie betekenisvol verskil nie. Die skoonvagmassa van die Fyngroep (3,08 kg) was betekenisvol (P < 0,05) laer as die van die Kontrole (3,50 kg). Vanuit hierdie data kan afgelei word dat vir elke 1 mikron verlaging in die Fyngroep, dit tot 'n verlaging van 190 g in skoonwolmassa in vergelyking met die Kontrolegroep gelei het.

Hierdie verlaging in skoonwol per mikronverlaging is heelwat minder as die 640 g/mikron wat deur Bezuidenhout, Olivier & Greyling (1991) gerapporteer is. Moontlike verklarings hiervoor is dat die twee groepe ooie wat gebruik is, nie vergelykbaar is nie. In die huidige ondersoek was die ooie in die Fyn- en Kontrolegroepe afkomstig van dieselfde basiskudde. Daarteenoor was die ooie in die Fyn- en Kontrolegroepe soos deur Bezuidenhout, et al. (1991) gerapporteer, van twee uiteenlopende tipes. Indien 'n kudde na fynwol opgegradeer sou word, blyk die resultate van hierdie ondersoek meer betroubaar te wees.

Die liggaamsmassa (Tabel 1) is op 4-, 6-, 12- en 18-maande-ouderdom geneem. Die enigste betekenisvolle verskil (P < 0,05) tussen die Fyn- (28,97 kg) en Kontrolegroep (27,96 kg) het op 6 maande voorgekom. Die Fyngroep se liggaamsmassa was deurgaans effens hoër as die van die Kontrolegroep. Hierdie tendens is nie verwag nie en die enigste oorsaak waaraan dit toegeskryf kan word, is dat daar moontlik 'n basterkrag-effek teenwoordig moes wees tussen die fyn ingevoerde ram en die kudde ooie.

Ter opsomming kan daar na 2 jaar met redelike sekerheid gesê word dat die nageslag van sterkwolooie (23,6 F.) wat met genetiese fynwolramme (19-20 F) gepaar is, se wol op 18-maande-ouderdom 2,26 mikron fyner was, 5 meer kartels 25 mm en 3 mm korter stapellengte gehad het en hul skoonopbrengs 0,5 % laer en skoonwol 420 g minder was. Geen betekenisvolle verskille in liggaamsmassa het tussen die twee groepe voorgekom nie. Die kruising van uiterstes moet egter ekonomies verantwoordbaar wees en volgens genoemde gegewens blyk dit dat die fyner wol ongeveer 11 % per mikron duurder as die sterker wol (wat tans geskeer word) moet wees om dieselfde inkomste te lewer.

 

VERWYSINGS

BEZUlDENHOUT, A.G., OLIVIER, J.J. & GREYLING, A.C., 1991. Evaluasie van fynwol‑Merinoskape op aangeplante weiding onder besproeiing. Karoo Agric., Vol. 4, No.3.

HARVEY, W.R, 1990. Users' guide for LSMLMW and MIXMDL PC-2 version.

 

Published

Karoo Agric, Vol 4, No 4, 1992 (12-13)