Last update: April 2, 2012 03:09:52 PM E-mail Print

 

GENETIKA IN DIE JAAR 2000

 

J.J. Olivier

Landboukollege Grootfontein

 

 

Dit klink ongelooflik as iemand vir u sou sê dat dit moontlik is om Hitlers, Kennedy's ensovoorts te maak, of bakterieë wat fotosintetiseer, of dat 'n dier ontwikkel kan word sonder dat bevrugting plaasgevind bet. Al hierdie dinge skyn egter nie te vergesog te wees nie. Vandag word daar intensiewe navorsing – wat bekend staan as gene-rekombinasie en kloning - oor die hele wêreld gedoen.

Wat is kloning en rekombinasie van gene? Elke individu is opgebou uit miljoene selle. Elke sel besit 'n selkern met kernmateriaal. Die kernmateriaal is chromosome waarop klein eenhede naamlik gene gerangskik is.. Die gene is die draers van die erffaktore en is verantwoordelik vir die sintese van bloed, been, spier, hormone, ensieme ensovoorts. Die gene bepaal ook of 'n mens byvoorbeeld blou oë, swart hare ensovoorts het. Sekere mikro-organismes besit slegs 'n paar gene, gedra op 'n enkele chromosoom en hulle is die proefdiere van die genetiese ingenieur. Rekombinasie van gene kom daarop neer dat 'n paar spesifieke gene uit die kern van 'n individu geneem word, die gene weer gekombineer en dan byvoorbeeld in 'n bakterie oorgeplant word. Kloning is die vermeerdering van 'n spesifieke aantal gene. Neem byvoorbeeld 'n virus met nege gene op een chromosoom. Vier van die nege gene word losgemaak van die chromosoom en dan weer aanmekaargelas (rekombinasie van gene). Die gene word oorgeplant in bakterieë en die bakterieë word toegelaat om te vermenigvuldig (kloning). Die eindproduk is 'n hele aantal bakterieë met presies dieselfde vier gene as die wat uit die virus verkry is.

Dwarsdeur die wêreld is navorsers druk besig om gene te rekombineer en dan te vermeerder deur die proses van kloning. Een van die eerste deurbrake is gedoen met die menslike hormoon insulien, waarmee suikersiektelyers (diabete) daagliks ingespuit moet word. .lnsulien word verkry van die vark- of beesskildklier, maar is nie heeltemal dieselfde as die menslike insulien nie. Om die rede is daar een uit elke twintig diabete wat allergies is vir vark- of beesinsulien.

Navorsers het daarin geslaag om die gene wat verantwoordelik is vir insuliensintese te identifiseer. Die gene is geïsoleer en "oorgeplant" in bakterieë. Die bakterieë vervaardig of sintetiseer dan die menslike insulien. Op dieselfde wyse sintetiseer bakterieë al die wit van eier (albumien) en groeihormone. Dit sal egter nog geruime tyd duur voordat hierdie "bakteriefabrieke" in volle produksie is.

Ook op landboukundige gebied hou gene-rekombinasies en kloning groot moontlikhede in. Pogings word aangewend om die gene wat vir fotosintese in die plant verantwoordelik is, te identifiseer, asook die gene wat lugstikstof kan bind. Dink net aan die kunsmis wat bespaar kan word as ons plante het wat hulle stikstof uit die atmosfeer verkry. Daar word ook gewerk in die rigting om plante wat arm is aan proteïen, byvoorbeeld mielies, te teel wat genoegsaam proteïen besit. As mens dan mielies in 'n voerkraal aan diere gee, hoef daar geen proteïenaanvullings te wees nie.

Wat die skaar betref, is werkers in Australië besig om te bepaal watter gene verantwoordelik is vir wolproduksie by die verskillende rasse. Daar is ook groot belangstelling in die Wiltshire Horn-skaap wat jaarliks sy vag verloor. As die gene wat daarvoor verantwoordelik is, gevind kan word, kan wolskape geteel word wat vanself elke jaar hulle vag verloor. Dit sal nie alleenlik goedkoper wees nie, maar ook kleiner risiko's meebring as die chemiese middels wat vandag vir ontvagting in Australië gebruik word. By die Australian National University word navorsing gedoen oor 'n ensiem wat manlike spermselle vernietig. Die ensiem word baie moeilik verkry en as die gene gevind word wat die ensiem vervaardig, kan die gene geïsoleer word en bakterieë kan die ensiem vervaardig. Semen wat dan met die ensiem behandel word, sal dus net vroulike spermselle bevat en as 'n ooi, koei ensovoorts geïnsemineer word, kan met sekerheid gesê word dat die lam of kalf 'n vroulike dier gaan wees.

Kloning van hoer dierordes is nog in die begin van die ontwikkelingsfase. So byvoorbeeld is reeds daarin geslaag om paddas te laat ontwikkel deur slegs die maagselle van een padda te kloon.  Dink aan die moontlikheid as u 'n goeie produseerder het. Die ooi of ram kan dan onbeperk vermeerder word deur kloning.

Al die opwindende moontlikhede wat gene-rekombinasie en kloning bied, moet nog deeglik nagevors word. Sommige navorsers meen dat dit nog tot 30 jaar sal neem voordat dit tot praktiese voordeel van die gewone mens aangewend sal kan word.

 

Verwysing

 

CSIRO - (1979) Genetic engineering: working with recombinant DNA. Rural Research.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Somer