Last update: March 26, 2012 02:06:48 PM E-mail Print

 

Geografiese verspreiding en tendense van die Merinoskaap

 

P G Marais, J A Roux en A Koen

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG K P

5900

 

Die Merinoskaap speel 'n belangrike rol in die volkshuishouding van die Republiek in die algemeen en van die landboubedryf in die besonder. Daarom is dit nodig om van tyd tot tyd voorraad te neem van die huidige stand van die bedryf.

Interessante en betekenisvoIle vrae om te stel is :

*           Wat is die huidige tendens ten opsigte van die aantal Merinoskape in die RSA?

*           Wat is die uitbreidingspatroon Van die Merino die afgelope kwarteeu in die RSA?

Ten einde hierdie vrae te kan beantwoord, is dit nodig om die Landbousensusse van 1959/60, 1963/64 en 1976 (Departement van Statistiek 1959/60, 1963/64 en 1976) asook die Kortbegrip van Landboustatistiek (Kortbegrip 1986) na te gaan om sodoende die getaIletendens asook die uitbreidingspatroon te kwantifiseer.

Volgens Figuur 1 waarin die MerinoskaapgetaIle in die RSA (Kortbegrip, 1986) uitgebeeld word, is dit baie duidelik dat daar 'n konstante afname in getalle oor hierdie jare plaasgevind het. Sedert 1969 tot 1971 was daar 'n drastiese afname in getalle. Die huidige aantal Merinoskape is ongeveer 15,8 miljoen teenoor die 28,2 miljoen in 1960. Ten opsigte van die persentasie van die totale skaapbevolking (Fig 2) is dit duidelik dat hier ook 'n konstante afname vanaf 76,2 tot 59,6% te bespeur is. Hierdie afname toon dus duidelik dat die persentasie ander wolskape teen 'n konstante tempo toeneem (Fig 3).

 

Hierdie afname in die aantal Merinoskape toon egter nie die verspreiding in die RSA aan nie. Gevolglik is die volgende figure saamgestel om die verandering in verspreidingspatroon aan te toon.

Figure 4, 5 en 6 is uit statistiek van die onderskeie Landbousensusse verkry. Uit Figuur 4 is dit duidelik dat die primêre verspreiding (grootste konsentrasie) van Merino's (78 - 150/1 000 ha) in die distrikte Malmesbury, Caledon, Beaufort-Wes, die gebied omsluitend deur Venterstad, Molteno, Tarkastad, Bedford Adelaide, Komga, Stutterheim, Queenstown, Sterkstroom, Indwe, Elliot, Maclear, Barkly-Oos, Lady Grey, Zastron, Wepener, De Wetsdorp, Reddersburg, Trompsburg en Bethulie, asook die gebied omsluitend deur Lindley, Harrismith, Vrede, Volksrust, Wakkerstroom, Piet Retief, Ermelo, Carolina, Belfast, Standerton, Frankfort, Heilbron en Winburg voorkom. Die sekondêre verspreiding (39-78/1 000 ha) sluit die volgende kusdistrikte soos Piketberg, Hopefield, Hermanus, Bredasdorp, Swellendam, Heidelberg, Riversdal, Mosselbaai, George en Humansdorp in, asook die gebied omsluitend deur Victoria-Wes, Murraysburg, Aberdeen, Pearston, Somerset-Oos, Cradock, Hofmeyr, Steynsburg, Colesberg, Philippolis, Fauresmith, Bloemfontein, Marquard, Bethlehem, Reitz, Senekal, Kroonstad, Philipstown, De Aar en Richmond. Newcastle, Kliprivier Dundee, Utrecht, Estcourt, Underberg en Mooirivier kan ook hieronder gegroepeer word. Dit is ook verder duidelik dat 'n derde (tersiêre) verspreidingspatroon geïdentifiseer kan word (20 - 39/1 000 ha). Hierdie gebied word omsluit deur die volgende distrikte, Calvinia, Ceres, Laingsburg. Prince Albert, Willowmore, Uitenhage, Jansenville, Fraserburg, Carnarvon, Britstown, Prieska en Williston. Volgens Figuur 5 het die opvallendste verskuiwing by Beaufort-Wes plaasgevind, naamlik vanaf 'n primêre na 'n tersiêre kategorie. Figuur 6 toon onteenseglik aan dat die kategorieë nie net noemenswaardig verklein het nie, maar dat daar 'n uiters sterk neiging is dat Merinoskape na die meer oostelike gebiede van die land verskuif.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 15-18