Last update: April 3, 2012 07:15:52 AM E-mail Print

 

GESKlEDENIS VAN DIE GROOTFONTEIN MERINOSTOETERY

 

JAA Baard

Grootfontein

 

DIE Grootfontein Merino-stoetery het in 1922 tot stand gekom. Net soos in die geval van baie ander stoeterye het invoere uit Australië 'n belangrike bydrae gelewer tot die verbetering van die Suid-Afrikaanse Merino.

 

 

In 1912 is 'n toevoeging van 63 ooie en twee ramme van die Wanganella, Bundemar en Murgha tipes uit Australië tot die Stoetery gemaak. 'n Verdere twee ramme is later uit Australië ingevoer. Hierbenewens is aankope van tyd tot tyd gemaak van Suid-Afrikaanse stoeterye. Die grootste toevoeging is gemaak in 1929 toe 180 ooie en 5 ramme van die Tasmaniese stoetery van Sir Abe Bailey aangekoop is. Daarna is daar oor die jare heen ramme van toonaangewende stoeterye in die land aangekoop.

In 1955 is 'n baie belangrike toevoeging tot die Grootfontein stoetery gemaak deur die invoer van vier Australiese ramme van die Uadry, Wahwoon en Wanganella Estates Stoeterye. Hierdie ramme was die eerste Australiese Merino's wat uitgevoer is sedert 1929 toe daar 'n verbod geplaas is op die uitvoer van Merino's uit Australië. Hierdie invoer is moontlik gemaak deur die toedoen van die destydse Minister van Landbou, wyle dr. S.P. Ie Roux. In dieselfde jaar is 227 teelooie, waarvan sommige aangekoop en ander deur telers geskenk is tot die Stoetery toegevoeg. In 1957 het Grootfontein 'n lid geword van die Merino Stoettelersvereniging van S.A.

Destyds was subjektiewe beoordeling en klassering van Merinoskape algemene praktyk vir die seleksie van teeldiere. Hoewel hierdie metode van seleksie ook in 'n groot mate in die Grootfontein Merinostoetery toegepas is, is daar ook gebruik gemaak van rouwolgewig en veseldikte as hulpmiddels in die seleksie van teeldiere.

Op grond van resultate van navorsingswerk in Australië, is daar in 1965 besluit om die Australiese Halfklas vaggewigstelsel as seleksiemetode op die Stoetery toe te pas. Die Stoetery is toe as 'n navorsingsprojek geregistreer. Die doel van die projek is om die praktiese probleme verbonde aan die stelsel te evalueer en uit te skakel, teeltvordering te meet en die stoetery as demonstrasie-eenheid vir telers en vir die opleiding van studente te gebruik.

Die eerste stadium van seleksie vind plaas op speenouderdom (gestandardiseerde 120-dae gewig en korreksie vir tweelinge) wanneer van die ooi- en ramlammers op speengewig plus bouvormgebreke uitgeskot word. Op 18 maande ouderdom word die ramme sowel as ooie subjektief beoordeel ten einde rasdiskwalifikasies, anatomiese gebreke, ongewenste wolkwaliteit en ander ongewenste wolfoute en oormatige plooi-ontwikkeling uit te skakel. Die diere wat nie op grond van genoemde subjektiewe beoordeling uitgeskakel is nie, word finaal geëvalueer op grond van skoonwolgewig, stapellengte met 'n grens op veseldikte. Ooie wat op 18 maande ouderdom in die stoetery opgeneem word, word later slegs op grond van onvoldoende reproduksievermoë en fisiologiese verval uitgeskakel.

Ten einde die inteelt so laag as moontlik te hou, is die Stoetery in vier paringsgroepe verdeel en sikliese paring word deur middel van handdekking toegepas.

Die Stoetery het aanvanklik uit 500 teelooie bestaan waarvan die een helfte in die herfs en die ander helfte in die lente gepaar was vir 'n periode van ses jaar. Die doel hiermee was om herfs- en lenteparing met mekaar te vergelyk. Insiggewende inligting is hiermee ingewin soos blyk uit die volgende:

 

In 1972 is die Stoetery verminder tot 300 teelooie wat jaarliks gedurende die herfsmaande gepaar word.

Die hoë reproduksievermoë is 'n uitstaande kenmerk van die Stoetery. So byvoorbeeld kom die speenvermoë (die getal lammers gespeen, uitgedruk as persentasie van die getal ooie beskikbaar vir paring) op gemiddeld 120% te staan vir die afgelope vyf jaar.

Goeie vordering is ook gemaak met verhoogde wolproduksie. Sedert 1965 is daar 'n geleidelike opwaartse tendens in wolproduksie van 3,2 kg skoonwol tot 4,4 kg in 1977 per ooi van die ongeselekteerde tweetand-ooie. Hier kan genoem word dat die ongeselekteerde tweetand-ooie in 1974 in die omgewing van tien kilogram rouwol en ses kilogram skoonwol gemiddeld per ooi gelewer het - die hoogste tot dusver in die geskiedenis van die Stoetery. Die gunstige reënseisoen het waarskynlik baie daartoe bygedra, maar dit toon tog die potensiaal van hierdie diere.

Ofskoon die Stoetery in 'n teelprojek is en dit geensins die bedoeling is om ramme te teel vir beskikbaarstelling aan Stoettelers en kuddeboere nie, word daar wel van tyd tot tyd surplusramme per publieke veiling verkoop. Alle veilings het nog baie goed verloop en daar is 'n goeie vraag na Grootfontein ramme. Die pryse wat behaal word vergelyk baie gunstig met die van gemiddelde prys van ramme, op die jaarlikse ramvendusie te Bloemfontein. So byvoorbeeld is 25 Grootfontein ramme in 1977 verkoop teen 'n gemiddelde prys van R830 per ram wat R240 per ram meer was as die gemiddelde van R590 van die vorige jaar.

 

Published

Karoo Agric 1 (1)