Last update: April 4, 2012 03:28:20 PM E-mail Print

 

GESLAGSORGAANINFEKSIES BY RAMME

 

EM van Tonder

 

 

SEDERT die bevestiging van Brucella ovis-besmetting in Suid-Afrika in 1958, het die kondisie bekend as epididimitis of inflammasie van die byballe en die kliniese beeld daarvan, bekend geword onder die meeste kleinvee-eienaars en ander persone betrokke by die kleinveebedryf.

Terme en uitdrukkings soos epididimitis, ramsiekte, skrotale (balsak-) absesse, teelbalabsesse, onvrugbaarheid en aansteeklike onvrugbaarheid het alledaagse en algemene gebruik geword.

Ongelukkig egter word hierdie terme beskou as dieselfde betekenis te he en aanduidend van enige kliniese of voelbare afwyking van die normale balsak met sy inhoud, ongeag die oorsaak van die afwykings. Dit wil ook voorkom asof 'n redelike persentasie van vee-eienaars Die vertroud is met die feit dat verskeie oorsake betrokke mag wees by teelbalabnormaliteite en dat epididimitis op sigself deur verskeie besmettings veroorsaak kan word nie.

 

Die regte entstof

Tydens die huidige opname na die voorkoms van bybalontsteking veroorsaak deur 'n sekere kiem, het dit duidelik geword dat 'n groot aantal boere nie tussen Brucella ovis en Corynebacterium pseudotuberculosis (Preisz Nocard se kiem) onderskei me, inteendeel dit word beskou as een en dieselfde organisme verantwoordelik vir aIle teelbalabnormaliteite.

Op hierdie en ander plase word gevind dat daar 'n groot mate van onkundigheid bestaan wat betref, die korrekte gebruik en doel van die verskillende entstowwe.

So vind ons byvoorbeeld dat op sekere eiendomme, Rev. 1-entstof (teen Brucella ovis) gebruik word met die doel om skrotale en ander absesse, veroorsaak deur Corynebacterium pseudotuberculosis te beheer wyl op ander plase weer Corynebacterium-enting toegepas word ten einde epididimitis deur Bruscella ovis of Actinobacillus seminis, te bekamp.

Hierdie verkeerde en onoordeelkundige gebruik van die verskillende entstowwe is hoofsaaklik te wyte aan onkunde in verband met die besondere toestande van geslagsorgane en die onderskeie oorsake daarvan en is direk verantwoordelik vir klagtes van ondoeltreffende entstowwe of die volharding van probleme ten spyte van enting.

 

Rev. 1-enting

Volgens die inligting wat reeds met die huidige opname ingesamel is, is nog 'n teleurstellende en verontrustende toedrag van sake blootgelê. Daar word gevind dat ten spyte van die beskikbaarheid van die hoogs doeltreffende entstof teen 'n lae koste, daar 'n verbasende hoë aantal stoetboere is wat glad nie van Rev. 1-enting gebruik maak nie, terwyl 'n verdere aantal dit slegs vir 'n jaar of wat gebruik het nadat dit die eerste keer beskikbaar gestel is.

In eersgenoemde gevalle waar geen enting toegepas word nie, verkeer die eienaars onder die indruk dat hulle plase vry is van besmetting terwyl die tweede groep enting gestaak het omdat hulle van mening was dat hulle die besmetting suksesvol beheer het. .

Kliniese en bloedtoetse het bevestig dat die meeste plase nog onderhewig was aan Brucella ovis-besmetting.

Hoewel gereelde uitskakeling van ramme met letsels wat beskou was as die resultaat van nie-spesifieke oorsake, 'n sekere mate van beheer uitgeoefen het op die voorkoms en verspreiding van besmetting op sommige van die plase, het dit nogtans nie die besmetting en gereelde ramverliese uitgeskakel nie.

Nog 'n aspek wat na vore getree het uit die betrokke inligting, is die ouderdom waarop gereelde Rev. 1-entings geskied. Hoewel aanbeveel word dat ramlammers op speenouderdom geënt moet word ten einde te verseker dat hulle vry is van besmetting ten tyde van enting, is daar te veel telers wat geneig is om hierdie handeling uit te stel vir enige tydperk tot die 4-tandstadium.

Daar moet genoem word dat die entstof wel doeltreffend op ouer diere gebruik kan word op voorwaarde dat hulle vry van besmetting is ten tye van die toediening en die beste metode om dit te verseker, is om op die aangewese tyd te ent voordat die diere blootgestel is aan besmetting.

 

Die skrotum

Ten einde die hele aangeleentheid van balsak- en teelballetsels as gevolg van besmettings te verduidelik, word dit nodig geag om 'n kort beskrywing van die normale skrotum en sy inhoud te gee.

Die teelbal is 'n ovaalvormige klier bestaande uit talle mikroskopiese buisagtige kliertjies wat verantwoordelik is vir die produksie van spermselle of manlike saadselle. Die buise van die kliertjies smelt saam en vorm 'n netwerk in 'n sentrale koord van bindweefsel van die teelbal, genoem die mediastinum. Vanaf hierdie netwerk loop 'n aantal buise na die boonste end van die teelbal deur die wand en verbind om 'n enkele buis buite die teelbal te vorm.

Hierdie buis wat 'n aansienlike lengte het, is opgekrul en vorm die struktuur bekend as die epididimis of bybal. Die bybal begin vanaf die boonste derde van die voorkant van die teelbal, buig oor die boonste punt en loop aan die agterkant van die teelbal na onder. Die epididimis bestaan uit die kop of boonste gedeelte, die liggaam of middelstuk en die stert of onderpunt. By die stert van die bybal word die buisie weer reguit en vorm die vas deferens (saadafleibuis) wat aan die binnekant van die teelbal oploop, ingesluit word in die saadstring en die buikholte deur die lieskanaal binnedring.

Beide die teelbal en bybal is omring deur 'n dun gladde vlies wat styf teen die oppervlakte aangeheg is.

 

 

Die twee testes (teelballe) en epididimi (byballe) is geleë in die skrotum of balsak wat deur 'n laag onderhuidse weefsel in twee kompartemente verdeel is sodat elke testis in sy holte geleë is. Hierdie holtes is ook uitgevoer deur 'n gladde vogtige vlieslaag genoem die tunica vaginalis.

Na behandeling van die organe self, kan 'n paar spesifieke toestande en beskrywende terme nou verduidelik word. Epididimitis is die term wat gebruik word om inflammasie of ontsteking van die bybal aan te dui en dit mag akuut of chronies wees en is gewoonlik van 'n etterige aard. So ook word inflammasie, of ontsteking van die teelbal deur die term orchitis aangedui. Epididimo-orchitis beskryf weer 'n ontsteking van beide die teelbal en bybal. 'n Abses of sweer is 'n afgebakende etterige inflammasie met holtevorming en aansameling van etter in die betrokke holte.

Afgesien van die res van die liggaam kan absesse op enige plek op die balsak gewoonlik tussen die vel en onderliggende weefsels, of in die byballe en teelballe voorkom. Ons vind ook soms 'n versameling van etter in die balsakholte, rondom die teelballe. Daar sal nou gepoog word om die spesifieke besmettings van die teelorgane van ramme wat in die land gevind word, kortliks te beskryf.

 

Brucella ovis

Soos voorheen vermeld, is besmetting veroorsaak deur hierdie kiem, reeds in 1958 in S.A. bevestig.

Hoewel dit bekend is dat oordra van die besmetting deur noue kontak tussen ramme geskied, is dit nie presies bekend hoe die kiem toegang tot die bybal verkry nie. Dit is egter hoogs waarskynlik dat die besmetting deur die penis binnekom en opwaarts in die urienbuis beweeg deur die saadafleibuise tot in die bybal.

Dit vind blyk!baar plaas wanneer ramme bymekaar gehou word tussen teelseisoene en hulle geneig is om mekaar oor en weer te dek.

Wanneer 'n besmette ram 'n ander een dek, word die besmette saad dan rondom en veral in die kaal gebied onder die anus versprei, met die gevolg dat wanneer 'n gesonde ram dieselfde ram dek, die besmetting op sy penis te lande kom en so die liggaam binnedring. Die moontlikheid dat besmetting deur die slymvliese van die oë, neus, ensovoorts kan oordra, moet ook nie uit die oog verloor word nie.

Hoewel storms van aborsies soos in oorsese lande, nog nie hier rapporteer is nie, is dit wel bewys dat hierdie kiem 'n ontsteking van die geslagskanaal (vagina) van ooie kan veroorsaak, maar dat die ooi weer daarvan ontslae raak gedurende die volgende of tweede hitteperiode na besmetting. Die ooi tree dan op as tussendraer of bron van besmetting as sy deur besmette en vatbare ramme gedurende dieselfde of opeenvolgende hitteperiode gedek word. Die mening is ook reeds uitgespreek dat die besmetting van ooi na lam kan versprei gedurende die stadium voor speen.

Hierdie kiem val die voering van die bybalbuisie aan en veroorsaak 'n progressiewe inflammasie wat na 'n variërende tydperk oorgaan in 'n chroniese proses. Gedurende die periode is die hele epididimis of die kop, stert of liggaam vergroot en voelbaar.

In die begin sal die vergrote bybal of gedeelte daarvan nog sag of elasties voel, maar later word dit ferm en hard, wat dan 'n aanduiding is dat 'n chroniese stadium bereik is.

Gewoonlik wanneer die kop van die bybal aangetas is kan 'n verlengde of eiervormige verharding gevoel word en wanneer die stert aangetas is, is dit rond en hard soos 'n gholfbal. Daar moet egter genoem word dat dit geweldig moeilik is om in die beginstadium epididimitis deur middel van kliniese ondersoek en bevoeling te bepaal.

Ons vind dikwels in die gevalle van bybalontsteking dat CoryneI bacterium pseudotuberculosis ook 'n belangrike rol speel as sekondêre besmetting. Dit wil voorkom asof die beskadiging aan die slymvlies van die bybalbuis deur Brucella ovis dien as ingangspoort vir Corynebakterium-kieme wat dan verantwoordelik is vir tipiese absesvorming in die bybal en soms ook in die teelbal. In sulke gevalle is die vergroting waar die abses geleë is soms aansienlik en hard of sag, afhangende van die stadium van die inflammatoriese proses.

Die uitwerking van Brucella ovis-besmetting, met of sonder 'n gepaardgaande Corynebakterium-besmetting, kan beskryf word as 'n variërende graad van onvrugbaarheid tot en met algehele steriliteit afhangende van die graad van ontsteking en afsluiting van die buis van die epididimis, die funksionele toestand van die teelballe en of een of beide kante aangetas is.

In begingevalle waar die bybalbuis nog oop is, sal sulke ramme nog vrugbaar, maar die saad (semen) besmet wees met die produkte en selle van die ontstekingsproses asook met kieme en hulle produkte.

 

Beheer

Die beheer van die betrokke besmetting kan op die volgende wyse uitgevoer word:

 

Daar moet onthou word dat waar besmetting aanwesig is, selfs in die absolute afwesigheid van kliniese tekens, enting van geen nut sal wees nie, aangesien die entstof deur die besmetting geneutraliseer sal word. Sulke ramme sal letsels ontwikkel asof hulle nooit geënt was nie.

 

Daar word gevoel dat die enting van ramlammers 'n eenvoudige taak is wat min koste behels en dat elke stoetteler 'n morele verpligting teenoor sy klante het om dit as 'n staande prosedure te aanvaar. Voornemende kopers behoort ook nie ramme te koop van telers wat nalaat of weier om hulle jong ramlammers te ent nie. Telers wat hulle stoeterye as skoon beskou, moet nietemin ent om sodoende hulle verkoopsramme teen latere besmetting te beskerm. Sodoende beskerm hulle ook hulle eie reputasies en die belange van hulle klante. Daar is absoluut geen grond of bewyse vir die bevooroordeelde mening dat enting die besmetting in 'n stoet kan inbring nie.

In geval van Brucella ovis-besmetting is daar alleenlik die welbekende Elberg Rev. 1-entstof wat gebruik kan word om dit te bekamp. Dit is beskikbaar teen drie sent per dosis en slegs een inspuiting is nodig om die dier vir die res van sy lewe te beskerm. Daar word ook sterk aanbeveel dat alleenlik vars voorrade van die entstof gebruik word en dat dit voor gebruik behoorlik gehanteer en opgeberg moet word.

 

Actinobacillus seminis

Hierdie kiem is eers onlangs as oorsaak van bybalontsteking in ramme in die land geïsoleer. Hoewel dit voorheen in Australië beskryf was, is baie min bekend omtrent die organisme en sy spesifieke gedrag.

Die verskillende aspekte van die betrokke besmetting naamlik voorkoms, verspreiding, wyse van oordraging, uitwerking op die verskillende geslagte en ouderdomsgroepe, ensovoorts, word tans deeglik ondersoek.

Dit wil egter voorkom asof die wyse van oordraging, die effek op die geslagsorgane en kliniese simptome, presies dieselfde is as by Brucella ovis, maar hierdie en ander feite moet nog deur bepaalde ondersoeke opgeklaar word.

Volgens voorlopige resultate wat verkry is van 'n spesifieke opname wat tans aan die gang is, is dit duidelik dat die besmetting wyd verspreid is en 'n hoe voorkoms het. Mens kan dus geredelik aanvaar dat hierdie kondisie reeds vir

'n geruime tyd hier voorkom en moontlik net so oud is as die veroorsaak deur Brucella ovis. Dit is hoogs waarskynlik dat besmetting deur hierdie kiem verantwoordelik is vir die hardnekkige gevalle en op baie plase vir 'n hoe voorkoms van epididimitis, ten spyte van gereelde Rev. 1-enting en uitskakeling van kliniese gevalle.

Die gereelde uitsetting van ramme met kliniese letsels, wat 'n algemene gebruik was met die beskikbaarstelling van Rev. 1-entstof het blykbaar ook in so 'n mate beheer op hierdie toestand uitgeoefen dat die indruk ontstaan het dat bybalontsteking doeltreffend beheer was. Gedurende die afgelope paar jaar het dit egter opgevlam, blykbaar as gevolg van 'n verslapping in die gereelde ondersoek en eliminasie van klinies aangetaste ramme.

'n Sekondêre Corynebakterium-besmetting, soos in die geval van Brucella ovis word ook dikwels hier gevind.

Behalwe die gereelde uitsetting van klinies positiewe ramme, is daar nog geen metode om die toestand te beheer nie.

 

Corynebacterium pseudotuberkulosis

Hierdie kiem is verantwoordelik vir die kondisie bekend as Preisz Nocard se siekte of kaasagtige limfklierontsteking, wat veral gekenmerk word deur absesvorming in die limfkliere van die liggaam. Dit is ook verantwoordelik vir die meeste swere wat oor die liggaam en skrotum gevind word en as sekondêre indringer, ook vir absesse in die bybal en teelbal, volgende op besmetting deur Brucella ovis en Actinobacillus seminis.

Oordraging van die besmetting geskied deur wonde veroorsaak deur skeer, stertafsit, kastreer, bosluisbyte, ensovoorts. Hoewel die besmetting kan versprei vanaf die wond en swere elders in die liggaam veroorsaak, vind ons gewoonlik dat die abses by die plek van indringing of in die naaste limfklier geleë is.

Skrotale absesse word gewoonlik op die middellyn, maar soms ook op ander plekke op die skrotum gevind. In die eerste geval blyk dit asof bosluise die belangrikste oordraers is aangesien hulle 'n voorliefde vir die betrokke gebied het, maar skeerwonde, en wonde veroorsaak deur dorings en grassaad (steekgras) wat in die wol vassit speel ook 'n belangrike rol.

In die geval van bybalabsesse wil dit blyk asof die beskadiging aan die buiswande van die epididimis deur Brucella ovis en Actino-bacillus seminis optree as die wond wat nodig is vir die indringing van Corynebacterium-kieme. In hierdie gevalle is die besmetting sekondêr en volg op 'n besmetting van bovermelde organismes.

Goeie rede vir hierdie sienswyse word gevind in die feit dat in 'n aantal stoeterye met Brucella ovis-besmetting en bybalabsesse waar Corynebacterium pseudotoberculosis betrokke was, die probleem geheel en al voorkom was deur die gebruik van Rev. 1-entstof, terwyl Corynebacterium-absesse en kaasagtige limfklierontsteking steeds voorgekom het.

Dit blyk dus duidelik dat in die afwesigheid van Brucella as die primêre besmetting, Corynebacterium kieme nie bybalabsesse kon veroorsaak nie, blykbaar aangesien hulle nie 'n wond of ingangspoort gehad het nie.

Die besmetting neem gewoonlik die vorm van tipiese absesse met die versameling van geelgroen kaasagtige etter aan. Somtyds bars die swere oop met uitpersing van die inhoud wat dien as bron van besmetting, veral in 'n skeerhok. In die meeste gevalle vind ons egter dat die swere ferm en hard word en in die toestand behoue bly vir die res van die dier se lewe.

 

Beheer

Ontsmetting en behoorlike higiëne in die skeerskuur is die beste en mees praktiese metode om Preisz Nocard-siekte te beheer. Dit sluit in die algehele ontsmetting van die skeerskuur voor daar geskeer word deur gebruik van 'n 3 tot 5 persent formalien-oplossing, die voorsiening van skoon oorpakke aan skeerders en die skeer van jong skape eerste. Formalien-oplossing moet ook in die skeeremmertjies gebruik word en oopgebreekte absesse en wonde moet met jodium of soortgelyke middels behandel en ontsmet word.

Absesse moot ook nooit in die skeerhok oopgemaak word nie en die inhoud moet altyd verbrand of begrawe word. In gevalle waar swere vanself oopbars, moet die besoedelde oppervlakte goed skoongemaak en met formalien of ander geskikte middels ontsmet word.

Op plase waar die toestand volhard ten spyte van streng higiëniese maatreëls en waar dit 'n hoë voorkoms het, kan enting met, Corynebacterium pseudotuberculosis entstof toegepas word.

Besondere voorsorg moet getref word by die skeer van die balsakdele by ramme en die beheer van bosluise. Wonde in die dele moet onmiddellik en gereeld behandel word. Deur gereeld die wol op die skrotum kort te knip, veral waar die ramme in die veld uitgeplaas word, blyk ook van praktiese waarde te wees in soverre dit die aanhegting van grassaad en dorings in 'n redelike mate beperk.

Aangesien dit blyk dat Corynebacterium pseudotuberculose nie op sigself bybalabsesse kan veroorsaak nie, maar as sekondêre komplikasie by Brucella ovis en Actino-bacillus seminis-besmettings intree, is dit dus duidelik dat die primêre oorsake beheer moet word. In geval van Brucella ovis kan dit maklik deur gereelde Rev. 1-entings, gedoen word, maar ongelukkig is daar tans nog geen definitiewe beheermaatreël of entstof beskikbaar teen Actinobacillus seminis nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (6)