Last update: April 3, 2012 03:17:20 PM E-mail Print

 

GESLAGSAKTIWITEIT EN PAARSEISOENE

 

deur D. WENTZEL

Landboukollege Grootfontein, Karoostreek

 

Die belangrikheid van 'n hoë aanteeltempo by wolskaaprasse word dikwels oor die hoof gesien omdat die verlies as gevolg van swak lammeroeste klaarblyklik deur die wolproduksie van die ooi verskans word. By wolproduserende rasse is 'n hoë aanteelprestasie net so belangrik as by vleisrasse. 'n Goeie lammeroes is nie net 'n onmiddellike ekonomiese bate vir die boer nie, maar dit bespoedig ook die vordering wat gemaak kan word met die verbetering van die kuddegehalte deur seleksie en teling.

Om die aanteeltempo van 'n kudde te verhoog moet die boer vertroud wees met die fisiologiese prosesse, wat reproduksie beheer en ook weet hoe hierdie prosesse deur ander faktore beïnvloed word.

Soos in die geval van die meeste ander plaasdiere het skape ook 'n geslags- of teelseisoen. Gedurende die teelseisoen vertoon die ooi geslagsaktiwiteit deur ongeveer elke 17 dae bronstig te raak. Wanneer die ooi bronstig is sal sy kopulasie toelaat sodat bevrugting kan plaasvind. In die Suidelike Halfrond bereik die teelseisoen 'n hoogtepunt gedurende die herfs wanneer die meeste ooie van 'n kudde sikliese aktiwiteit vertoon. Met die naderende lente daal die geslagsaktiwiteit tot 'n laagtepunt gedurende September/Oktober. Hierna styg dit weer progressief tot 'n hoogtepunt in April/Mei.

In ooreenstemming met die seisoenale voorkoms van bronstigheid neig die ovulasietempo (wat aanleiding tot enkel- of meerlingeboortes gee) ook om toe te neem namate die hoogtepunt van die teelseisoen in die herfs naderkom. In die algemeen kan dit dus verwag word dat die aanteelpersentasie van 'n kudde progressief sal toeneem namate die paarseisoen nader aan die herfs verskuif word, terwyl dit sal afneem hoe nader paring aan die lente geskied.

Die seisoenale voorkoms van geslagsaktiwiteit by die ooi word primêr deur die daaglikse lig-donker-ritme beheer en word jaar na jaar herhaal. Daar is egter baie sekondêre faktore wat 'n invloed het op die voorkoms van geslagsaktiwiteit by die ooi en wat kortliks bespreek sal word.

 

1. Ras

Die lengte van die teelseisoen van verskillende rasse varieer aansienlik. Sommige vleisrasse het 'n lang teelseisoen wat wissel tussen agt en 12 maande. Gevolglik kan hierdie rasse met aansienlike sukses gedurende enige periode van die jaar gepaar word. Wolskaaprasse het 'n intermediêre teelseisoen wat wissel tussen vier en agt maande, terwyl die meeste Britse vleisrasse 'n kort teelseisoen van ongeveer vier maande het. Laasgenoemde rasse kan derhalwe slegs gedurende die natuurlike teelseisoen in die herfs suksesvol gepaar word.

 

2. Voeding

Die voedingspeil is sekerlik een van die belangrikste sekondêre faktore wat geslagsaktiwiteit by ooie beïnvloed. Ooie wat in 'n swak kondisie is, sal verlaagde geslagsaktiwiteit vertoon en die teelseisoen sal korter wees. Namate die voedingspeil verhoog word, sal geslagsaktiwiteit toeneem en sal die teelseisoen gevolglik verleng word. Gedurende tydperke wanneer geslagsaktiwiteit normaalweg laag is, is dit dus moontlik om geslagsaktiwiteit te stimuleer deur die voedingspeil van ooie te verhoog deur byvoeding en/of deur die ooie na beter weiveld oor te plaas. In hierdie verband is die voordelige effek van prikkelvoeding, voor paring in die lente, op geslagsaktiwiteit en die persentasie ooie wat beset raak, welbekend. Aan die anderkant moet dit ook in gedagte gehou word dat 'n relatiewe lae voedingspeil 'n veel groter onderdrukkende effek op geslagsaktiwiteit gedurende die lente uitoefen as gedurende die herfs.

Gedurende die paartydperk is dit belangrik dat die ooie se kondisie voortdurend moet verbeter aangesien sulke ooie makliker beset raak. Groter ooie is ook gewoonlik beter reproduseerders wat die belangrikheid dat ooilammers goed moet uitgroei, beklemtoon.

 

3. Ouderdom van die ooi

Die lengte van die teelseisoen neem toe met ouderdom tot die derde jaar en bly dan ongeveer konstant tot die vyfde jaar. Vanaf Iaasgenoemde ouderdom neig dit weer om korter te word. Hierdie aspek is veral van belang in die geval van die jong ooi wat 'n relatiewe kort teelseisoen het en dit verklaar waarom die lampersentasie van lentegepaarde jong ooie besonder laag is in vergelyking met die wat in die herfs gepaar word.

 

4. Teenwoordigheid van die ram

Die teenwoordigheid van die ram het 'n stimulerende invloed op die geslagsaktiwiteit van ooie. Veral aan die begin van die teelseisoen (Oktober/November) mag die plasing van ramme by ooie die aanvang van geslagsaktiwiteit aanhelp. Dit word aangedui deur die relatiewe groot aantal ooie wat gedurende die derde week nadat die ramme in die lente bygesit is, bronstigheid vertoon. Wanneer ooie in die lente gepaar word, mag dit die moeite werd wees om koggelramme vir twee weke voor die paartyd by die ooie te sit. Die vrugbare ram se krag word dan gespaar vir die periode wanneer die ooie meer geredelik bronstig is. Hierdie praktyk mag ook die paartydperk verkort sodat bestuur vergemaklik word.

 

5. Temperatuur

Besondere hoë en lae omgewingstemperature onderdruk die geslagsaktiwiteit van ooie. Wanneer ooie gedurende 'n warm tydperk van die jaar gepaar word, wat dikwels die geval met 'n lentepaarpraktyk is, moet voldoende skaduvoorsiening aangebring word. 

Die invloed van hoe temperature op die ram mag egter van groter belang wees aangesien sulke toestande 'n afmattende effek op die ram het, wat sy paarvermoë sal verlaag. Dit is voor-die-hand-liggend dat hierdie nadelige effek deur paring in relatiewe groot kampe vererger sal word.

Met inagneming van bogenoemde faktore wat geslagsaktiwiteit en derhalwe die aanteeltempo van 'n kudde beïnvloed, is dit duidelik dat vanuit 'n reproduksie oogpunt beskou, paring gedurende die herfs die voordeligste is, terwyl die swakste tydperk daarvoor gedurende die lente is. Navorsers het dan ook tot die gevolgtrekking gekom dat 20-30% meer lammers gespeen kan word as 'n herfspaarseisoen gebruik word in vergelyking met 'n lentepaarseisoen. Onder ekstensiewe toestande noodsaak voedings- en ander praktiese oorwegings egter dikwels die toe passing van 'n paarseisoen gedurende 'n ander tydperk van die jaar, en dikwels word ooie gedurende die lente gepaar. Die voor- en nadele van hierdie twee paarseisoene moet sorgvuldig deur die boer oorweeg word om te kan besluit watter een vir hom die voordeligste sal wees, veral vanuit 'n ekonomiese oogpunt. 'n Opsomming van die belangrikste oorwegings mag vir die boer as gids dien om die paarseisoen van sy kudde te beplan.

 

HERFSPARING

Voordele

  1. Geslagsaktiwiteit van ooie is hoog en 'n hoë lampersentasie kan verwag word.

  2. 'n Hoër ovulasietempo as in die lente en meer tweelinge kan verwag word (navorsingsresultate dui 40 persent teenoor ses persent tweelinge aan met herfs- en lenteparing onderskeidelik).

  3. 'n Korter paarseisoen is nodig en dit bring 'n korter lamseisoen mee wat bestuur vergemaklik.

  4. Ooie word op goeie veld gepaar wat 'n gunstige uitwerking op die lampersentasie behoort te hê. (Dit geld veral vir die Karoogebiede.)

  5. In die somerreënvalstreke word die lammers op goeie veld gespeen.

  6. Die kritieke wisselstadium op 14 tot I8 maande geskied ook op goeie veld (somerreënvalstreke).

  7. Paring van jong ooitjies op l8-maande-ouderdom geskied weer in die herfs met optimale geslagsaktiwiteit.

 

Nadele

  1. Parasietbesmetting, veral in die grasveldgebiede, kan lamvrektes en swak groei tot gevolg hê. (Die moderne middels teen parasiete skakel egter die probleem in 'n groot mate uit.)

  2. Hoe temperature vertraag die groei van lammers (skaduvoorsiening is uiters belangrik).

  3. Ooie lam op swak veld (Karoo). Laat reëns kan ook gesaaides vertraag met noodlottige gevolge.

 

LENTEPARING

Voordele

  1. Ooie lam op goeie veld (somerreënvalstreke en veral Karoo). Hoe melkproduksie stimuleer vinnige groei van lammers.

  2. Parasietbesmetting is tot 'n minimum beperk.

  3. Koel temperature is bevorderlik vir die groei van lammers.

 

Nadele

  1. Ooie word gepaar met die geslagsaktiwiteit op 'n laagtepunt en lae lampersentasies is dikwels die gevolg. (Met korrekte bestuur kan redelike resultate egter verkry word.)

  2. Veldtoestande is dikwels swak wat geslagsaktiwiteit verder kan onderdruk.

  3. Lammers word op swak veld gespeen (Karoo).

  4. Die kritieke wisselstadium kom voor in die wintermaande wanneer voeding gebrekkig is (veral in die somerreënvalstreke).

  5. Paring van jong ooie op 18-maande-ouderdom geskied in die lente wanneer geslagsaktiwiteit laag is. Waar sulke jong ooie dan nie beset raak nie, word bulle dus eers op 'n ouderdom van twee en 'n half jaar weer gedek.

Om op 'n paarseisoen te kan besluit is verwante ekonomiese oorwegings van uiterste belang. Die voorsiening van groenvoer of byvoeding om die aanteeltempo te verhoog deur die paarseisoen te verskuif, moet versigtig oorweeg word. Die ekonomiese waarde van so 'n praktyk sal grootliks bepaal word deur die heersende koste en beskikbaarheid van aanvullende voer in vergelyking met skaapvleispryse.

In plaas van slegs een paarseisoen te gebruik, kan die toepassing van twee paarseisoene ook oorweeg word. By groot boerdery-eenhede mag so 'n stelsel bestuur gedurende paar- en lamtye vergemaklik, terwyl arbeid en ander geriewe ook beter benut kan word. Verder kan 'n aansienlike besparing bewerkstellig word deurdat slegs die helfte van die aantal ramme nodig is, of beter ramme kan teen dieselfde uitgawe aangekoop word. Ooie wat nie beset geraak het nie kan dan ook binne ses maande na die vorige paarseisoen weer gepaar word. Dit is veral van belang in die geval van jong ooie waar 'n redelike hoë persentasie gewoonlik nie met die eerste paring beset raak nie, veral wanneer paring in die lente geskied. Indien slegs een paarseisoen per jaar toegepas word, beteken dit dat hierdie ooie die volgende keer op 'n ouderdom van twee en 'n half jaar gepaar word en dus bulle eerste lammers op drie jaar produseer.

Die grootste nadeel van hierdie stelsel is dat diere van twee ouderdomsgroepe op die plaas voorkom, wat algemene bestuur bemoeilik.

Ten slotte moet daarop gelet word dat die voordeligste paarseisoen, of kombinasie daarvan, van streek tot streek en selfs van plaas tot plaas sal verskil. Die boer se ideaal moet egter altyd wees om die hoogste moontlike aanteelpersentasie onder sy besondere omstandighede te verkry.

 

Published

Bladskrif D 5/1975. Pretoria : Departement Landbou-tegniese Dienste