Last update: April 3, 2012 08:06:26 AM E-mail Print

 

GESLOTE KUDDETELING

 

J.J. OLIVIER

 

 

Daar is vandag basies drie stelsels waarvolgens die kuddeboer sy kudde se genetiese potensiaal kan verhoog. Eerstens kan hy by 'n stoetteler sy ramme koop (konvensionele stelseI) , tweedens kan hy sy eie ramme teel (geslote-teelstelsel) en derdens kan hy by 'n groepteelskema aansluit waar die sentrale kudde van die Groepteelskema hom van ramme voorsien.

Elk van die metodes het sy nadele en 'n boer is soms in die war oor watter stelsel vir hom die beste resultate sal lewer. As 'n boer nie tevrede is met die ramme wat hy van stoettelers kry nie, moet hy oorskakel na 'n ander stelsel. By kan byvoorbeeld sy eie ramme teel, maar die ramnageslag moet dan tot op 'n ouderdom van 18 maande aangehou word voordat akkuraat geselekteer kan word. Die praktyk is soms onprakties weens bestuursprobleme, en dit is veral vir die vleisskaaptelers 'n ekonomiese probleem.

Die boer kan ook nie altyd aan 'n groepteelskema behoort nie, want daar is moontlik nie 'n groep in sy onmiddellike omgewing nie, of die boere in sy gebied is nie te vinde vir Groepteling nie. Wat nou?

Die boer kan nou sy eie ramme teel volgens die beginsels van groepteling. Met ander woorde, hy stig 'n kemkudde uit sy beste kudde-ooie en daaruit word die ramme vir sy kudde geteel. 'n Sekere persentasie van die kudde-ooie word elke jaar in die kemkudde opgeneem.

Neem nou byvoorbeeld 'n boer met 2000 kudde-ooie. By selekteer uit elke ouderdomsgroep in sy kudde die beste ooie. Volgens groeptelingsbeginsels moet die kemkudde vyf tot tien persent uitmaak van die totale ooiproduksie.

Met ander woorde, die boer selekteer 'n kemkudde van sowat 200 ooie. Die vier beste ramme word geselekteer as kemkudderamme. Die aanteel van die kemkudde word tot op tweetandouderdom grootgemaak voordat hulle finaal geselekteer word. Vooraf seleksie vir prulfoute word gedoen op sowel ooie as ramme. Die helfte van die kemkudde se ooivervanging word uit die ooinageslag van die kernkudde geselekteer. Die ooitjies wat nie vir die kern geselekteer is nie, gaan terug na die kudde en word as kuddevervanging geselekteer. Die ander helfte van die kernkudde se ooivervanging kom uit die kudde-ooinageslag. Al die ooinageslag van die kudde (behalwe die prulle) word grootgemaak tot tweetandouderdom, wanneer hulle geëvalueer en die bestes vir die kern geselekteer word.

Die mate waarin die kernkudde beter sal wees as die kudde, sal afhang van die akkuraatheid van seleksie aan die begin en die genetiese voortreflikheid van die geselekteerdes. Dit is dus belangrik dat die aanvanklike seleksie streng moet wees en dat die kernkudde nie noodwendig met die eerste seleksie "vol" moet wees nie. Die genetiese vordering in die kudde sal 2 Δ G keer agter die van die kernkudde wees.

'n Nadeel van die met ode is dat dit beperk is tot die groter kuddeboere, dit wil sê boere wat 1 000 of meer teelooie in hul kuddes het. Die metode moet nie gesien word as 'n "goedkoop" manier om teelramme te verkry nie. Dit is miskien 'n goedkoop metode, maar die sukses wat behaal sal word, hang grootliks van die boer self af. As daar nie akkuraat geselekteer word en die regte seleksiestelsel gebruik word nie, sal hy homself benadeel en dus min voordeel uit die metode trek.

Daar bestaan reeds 'n hele paar groepteelskemas en 'n boer kan by die bestuurder van 'n groepteelskema gaan hulp soek oor die bestuur van 'n kernkudde saam met sy eie kudde. Omdat die kernkudde en die kudde op dieselfde plaas is, is daar baie min genotipe X-omgewinginteraksie en die ramme wat so geteel word, is aangepas by die omgewing. Die kernkudde hoef nie apart aangehou en spesiaal behandel te word nie, maar kan tussen kuddediere loop as hulle geïdentifiseer is.

lnteling speel 'n minimale rol by 'n vryparende kudde van 1 000 en meer ooie. As 'n boer wel ramme wil aankoop, hoef hy net vir die kernkudde ramme te koop, want die ramme se goeie eienskappe sal deurwerk na die kuddediere toe. By die aankoop van ramme moet seker gemaak word dat die ramme se genetiese potensiaal hoër is as die van sy eie ram nie. Dit kan bepaal word met behulp van kontroleramtoetse.

Die metode kan baie bydra tot die genetiese verbetering van ons skaaprasse. Dit kan ook redelik baie voordeel inhou vir die vleisskaaptelers omdat daar nie 'n groot hoeveelheid ramlammers tot tweetandouderdom grootgemaak hoef te word nie. Verder is dit binne elke boer se vermoë om ramme met bekende teelwaardes aan homself te verskaf.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie