Last update: April 2, 2012 02:42:13 PM E-mail Print

 

INVLOED VAN GEWIGSVERLIES OP WOLPRODUKSIE

 

G.A. JACOBS

Landbounavorsingsinstituut

Grootfontein

 

DIE voedingswaarde van die veld is die faktor met die grootste invloed op die lewende liggaamsgewig van 'n skaap. Daarom bereik die gemiddelde gewig van skape gewoonlik 'n laagtepunt gedurende die natuurlike droë seisoen van die jaar. Gedurende rampdroogtes kan dit gebeur dat die gemiddelde gewig van skape skouspelagtige laagtepunte bereik.

Omdat die gewig van 'n skaap so 'n maklik bepaalbare eienskap is, en so goed verband hou met ander belangrike, maar moeiliker bepaalbare produksie-eienskappe, is die weeg van minstens 'n deel van elke kamp se skape 'n noodsaaklike bestuursaspek. Deur byvoorbeeld net 12 keer per jaar elke keer vyf persent van die plaas se skape te weeg, kan 'n goeie beeld van die voedingstatus van die diere en van die toestand van die veld verkry word. 'n Skaap se liggaamsgewig, en veral ook liggaamsgewigveranderings, kan byvoorbeeld ook 'n goeie maatstaf wees van veranderings in die hoeveelheid wol geproduseer. (Hugo, 1951; Swart, Van Schalkwyk, Hugo & Venter, 1963; Coetzee, Nel & Joubert, 1968a; Coetzee, Nel & Joubert 1968b en Jacobs & De Wet, 1979).

 

Die omvang van wolproduksieverliese tydens droogtes

Aangesien akkurate voorspellings van verlies aan wolproduksie nou moontlik is vir verskillende hoeveelhede liggaamsgewigsverlies, kan die voerkoste wat nodig is om skape op 'n bepaalde gewig te hou, nou vergelyk word met die groter inkomste wat uit die wol verwag word. In Tabel1 word die liggaamsgewigte van agt groepe Merinohamels wat gebruik is om wolproduksie by verskillende gewigte te bestudeer, aangetoon. Altesaam 37 skape was in hierdie proef betrokke en die proeftydperk was 32 weke. (Jacobs & De Wet, 1977 en Jacobs & De Wet, 1979).

Uit Tabel 1 is dit duidelik dat die gewigsverliese van die groepe aansienlik gevarieer het tydens die eerste periode van 16 weke. Daarna, tydens die tweede periode van 16 weke, het sommige groepe herstel tot hul aanvanklike gewig voor die proef begin het, terwyl ander groepe se gewigsverlies redelik konstant gebly het.

 

 

Gedurende hierdie proef is die skape drie keer geskeer, naamlik aan die begin van die proef, 16 weke later (einde van Periode 1), en daarna weer 'n verdere 16 weke later (einde van Periode 2). In Tabel 2 word die totale wolproduksie tydens die proef, as 'n persentasie van die normale wolproduksievermoë soos vooraf bepaal, asook die minimum lewende gewig as 'n persentasie van die lewende gewig aan die begin van die proef, aangedui. Uit Tabel 2 is dit duidelik dat die groepe wat die meeste gewig verloor het tydens Periode 1, ook die meeste aan wolproduksie verloor het. Tydens die peri ode van herstel, (Periode 2) het die groepe wat die meeste in wolproduksie verloor het weer ingehaal sodat daar geen groep was wat betekenisvol in totale wolproduksie (Periode 1 plus Periode 2) van die kontrolegroep verskil het nie.

Die gegewens van Tabel 2 is gebruik om die persentasie verlies in totale wolproduksie te bereken in vergelyking met Groep 1 se wolproduksie, waar die skape op ongeveer dieselfde gewig, en in 'n matige kondisie gehou is. Dit is bereken dat totale wolproduksie by konstante lae gewigte 6,1 ± 7,0* persentasie-eenhede meer gedaal het as lewende massa, onafhanklik van die graad van gewigsverlies. Dit beteken dus dat 'n skaap wat in 'n matige kondisie 46kg weeg, en op 'n konstante gewig van 46kg 'n wolproduksie van 100% het, na 30% gewigsverlies (14kg gewigsverlies) 32kg sal weeg. Op hierdie konstante gewig van 32kg sal die totale wolproduksie gemiddeld 36,1% (30% + 6,1%) laer wees as op 46kg.

* Standaardafwyking

 

Met inagneming van die standaardafwyking van ± 7 persentasie-eenhede, kan dit as algemene reël gestel word dat wolproduksie hier met ongeveer dieselfde aantal persentasie-eenhede as lewende gewig daal.

Gewigsverlies het tydens hierdie proef teen gemiddeld 162g per skaap per dag plaasgevind. Aan die einde van die periode van gewigsverlies was die totale wolproduksie gemiddeld 2,1 ± 5,8** persentasie-eenhede groter as verliese in lewende gewig. Vir 'n tempo van 162g per skaap per dag gewigsverlies kan die algemene reël dus weer eens geld dat die persentasie gewigsverlies, en die totale persentasie verlies aan wolproduksie, dieselfde kan wees. Hier moet egter bygevoeg word dat dit ook afhang van die resultate van Groepe 5a en 5b gekombineerd. Waar moontlik is ook van die resultate van die ander proefgroepe gebruik gemaak om hierdie beeld te gee van wolproduksietempo en lewende liggaamsgewig soos dit werklik eksperimenteel verkry is, asook om te interpoleer na die verwagte situasie onder ekstensiewe toestande.

 

**95% grense

 

Alle skape in hierdie proef se rantsoen het bestaan uit 75% lusernmeel en 25% geelmieliemeel. Die energie-, ruproteïen- en asinhoud van hierdie rantsoen was onderskeidelik 18,63 ± 0,14 kJ/ g, 16,9 ± 0,2% en 7,6 ± 0,4%. Die droëmateriaalinhoud van die rantsoen was 88,2 ± 0,6%. (Die standaardfout van die gemiddelde word hier net na die gemiddeldes genoem. Hierdie rantsoen is deur die heIe proef gebruik.)

 

Die invloed van gewigsverlies op veseldikte

In Tabel 3 word die gemiddelde veseldikte van die wol in die proefgroepe aangetoon. Hieruit is dit duidelik dat die veseldikte van die wol van 'n skaap wat ongeveer 30% van sy gewig verloor teen 162g per dag (Groep 4) van 24 na 'n minimum van 16 mikron kan daal. Tydens Periode 2 toon die gegewens van Groepe 3a, 4a en 5a dat veseldikte nie drasties bo die normale toegeneem het tydens die hersteltydperk toe wolproduksie ver bo normaal was nie. (Kyk Tabel 1 en Fig. 1). Die grootste bydrae tot die verhoging van die wolproduksie tydens die herstelperiode is dus teweeg gebring deur verhoogde lentegroei van die wolvesels. Tydens gewigsverlies het die afname in veseldikte die grootste bydrae gelewer tot verlaagde wolproduksie.

Hoeveelhede voer nodig vir die handhawing van sekere lewende gewigte en wolproduksie In Tabel 4 word die onderhoudsbehoeftes van Merinohamels by verskillende gewigte aangedui. Die hoeveelhede proefrantsoen gevoer word ook aangegee (op 'n natuurlike vogbasis). In Tabel 5 word die besparing in voerkoste vergelyk met verliese in totale wolproduksie.

 

 

 

Uit Tabel 5 is dit duidelik dat 'n skaap met 29% gewigsverlies gedurende die 16 weke van gewigsverlies 57% minder voer ingeneem het en 31 % minder wol geproduseer het. Met onderhoudsvoeding op die konstante lae gewigvlak van 29% gewigsverlies het die skape 20% minder voer ingeneem en 35% minder wol geproduseer. Omdat die voerkoste 5,89 sent per skaap per dag beloop het vir onderhoudsvoeding op 46kg lewende gewig, het 20% besparing neergekom op 1,178 sent per dag. Die wolproduksie van 'n skaap wat 46kg weeg op onderhoudsvoeding, het 'n waarde van 3,09 sent per skaap per dag gehad. 35% minder wol het dus neergekom op 1,08 sent per dag minder wolinkomste. Hieruit is dit duidelik dat dit beter betaal het om voer te bespaar deur liewer gewigsverlies en wolproduksieverlies toe te laat. Die mees ekonomiese grens van gewigsverlies wanneer skape intensiewe droogtevoeding ontvang, Iê waarskynlik in die omgewing van 30% gewigsverlies, bereken vanaf die gewig toe die diere in 'n goeie kondisie was.

 

Verwysings

COETZEE, C.G., NEL, J.W. & JOUBERT, D.M., 1968a Aspekte van oorwintering van nie-dragtige wolskape op grasveld. 1. Verhouding tussen wolgroeitempo, liggaamsgewig en voerinname op 'n rantsoen van konstante samestelling. S. Afr. Tydskr. Landbouwet. 11, 503-522.

COETZEE, C.G., NEL, J.W. & JOUBERT, D.M., 1 968b. Aspekte van die oorwintering van nie-dragtige  wolskape op grasveld. 2. Verhouding tussen wolgroeitempo en liggaamsgewig op grasveld aangevul met voerkorrels. S. Afr. Tydskr. Landbouwet. 11, 697-712. HUGO, W.J., 1951

Die invloed van kondisie of graad van vetheid op wolproduksie. Boerd. S. Afr. September, p. 303-306.

JACOBS, G.A. & DE WET, P.J., 1977 Optimum massaverliese tydens langdurige droogtes. Agroanimalia 9, 1-6.

JACOBS, G.A. & DE WET, P.J., 1979 Veranderinge in wolproduksie en veseldikte tydens massaveranderinge van skape. In die pers. Agroanimalia.

SWART, J.H., VAN SCHALKWYK, A., HUGO, W.J. & VENTER, J.J., 1963. Die voedingswaarde van rooigrasveld vir Merinoskape. - S.Afr. Tydskr. Landbouwet. 6,603-612.

 

Published

Karoo Agric 1 (3), 27-32