Last update: April 3, 2012 10:37:20 AM E-mail Print

 

SIEKTES VEROORSAAK DEUR ANORGANIESE GIFSTOWWE

 

GF Bath

 

Daar is talIe stowwe wat al vergiftiging by diere veroorsaak het. Terwille van bondigheid en duidelikheid sal slegs die wat belangrik is, en dikwels by skape voorkom, hier behandel word.

'n Vermoedelike geval van vergiftiging skep dikwels 'n ingewikkelde probleem en behoort gewoonlik deur 'n veearts ondersoek te word. Dit geld ook vir die behandeling van aangetaste diere, aangesien daar dikwels geen bepaalde teenmiddel is nie en diere behandel moet word volgens die voorkoms en graad van siektetekens wat hulle toon.

 

ANORGANIESE GIFSTOWWE

Arseen

Omdat wetgewing die gebruik van arseen in veemiddels en dipstowwe beperk, word hierdie soort vergiftiging maar seldsaam aangetref.

Opvallende siektetekens is buikpyn, diarree, verlamming, bewerasie, ineenstorting en skielike vrekte. Die voormae en derms van die dier is baie rooi en die inhoud dikwels bloederig. Maag- en derminhoud en die lewer kan ontleed word vir arseeninhoud om die diagnose te bevestig. Behandeling is dikwels ondoeltreffend omdat die siekte gewoonlik baie snel verloop.

 

Swael

Blomswael word dikwels gedoseer, maar veral as 'n lek toegedien om wolkwaliteit te verbeter en ook ter voorkoming van blousuurvergiftiging. 'n Oormaat (5 gram of 1 teelepel per volwasse skaap per dag moet as 'n absolute maksimum beskou word) gal erg, vuilgrys tot swart onwelriekende diarree veroorsaak, met gevolglike ontwatering van die liggaam.

By langdurige vergiftiging breek die wol en skape vertoon kaal kolle en toiingrige wol. Dikwels is die bosse en doringdraad in die kamp oortrek met klossies wol wat uitgetrek word soos skape daarteen verbyskuur.

Nadoodse ondersoek toon ontsteking in die voormae en derms en die inhoud ruik na vrot eiers (swaelwaterstof). By langtermyngevalle kan 'n breek in die wol waargeneem word, en die derminhoud is swarterig en onwelriekend.

Voorkoming is gemik op 'n beperkte swaelinname. Die swaelinhoud moet verminder word tot minder as 3 persent as die lek baie mieliemeel of melasse so os by droogtevoeding bevat.

 

Koper

Twee tipes word onderskei, die akute (vinnige) vorm en die chroniese (stadige) vorm.

 

Akute vorm

Die akute vorm word veroorsaak deur koperbevattende stowwe, gewoonlik blouvitrioel (kopersulfaat), in oormatige hoeveelhede te doseer. Skape vrek skielik nadat pyn in die buik en 'n diepgroen diarree voorgekom het, alhoewel daar soms geen siektetekens waargeneem word nie. By nadoodse ondersoek is die ingewande en veral die melkpens baie rooi en bloederig, en die inhoud het gewoonlik 'n diepgroen kleur.

 

Chroniese vorm

Hierdie vorm word beskou as identies met die siekte bekend as enzoötiese ikterus of geelsiekte.

 

Oorsaak en aanleidende faktore

Die oorsaak van chroniese vergiftiging is 'n geleidelike opbouing van koper in die lewer, wat weens die een of ander spanningsfaktor weer in die bloedstroom vrygestel word. Die skielike vrystelling van koper in die bloed bring mee dat daar 'n grootskaalse opbreking van rooibloedselle plaasvind, sodat die lewer en niere oorlaai word met die vrygestelde produkte. Die dier vrek dus as gevolg van die gesamentlike uitwerking van ernstige bloedarmoede en 'n oorlaaiing van die uitskeidingsorgane. Enige spanning kan die siekte teweegbring, maar droogtes, kampwisseling, dosering en skeerdery is die mees algemene aanleidende faktore.

Omdat die ophoping van koper in die lewer geleidelik plaasvind, word die siekte seIde by skape jonger as 6-tand en meestal by ou slytbek diere aangetref. Hierdie siekte kom redelik algemeen voor in die Karoogebiede. Ofskoon dit dikwels slegs op enkele plase in 'n bepaalde distrik voorkom, is daar dikwels bepaalde areas wat berug is vir uitbreke van geelsiekte. Soms word slegs enkele gevalle elke paar jaar aangetref. Op hierdie plase is die opbouing van koper laag en kom die siekte slegs in buitengewone omstandighede voor.

Dit is tans nie bekend waarom skape in hierdie streke oormatige hoeveelhede koper in die lewer opgaar nie. Daar kan of groot hoeveelhede koper in die weiding wees, of ander belemmerende stowwe wat koperabsorbering en –opbouing verhoog, of die een of ander gifstof wat die normale kopermetabolisme in die liggaam versteur.

 

Siektetekens, nadoodse ondersoek en diagnose

Aangetaste skape draal agter die trap aan, of staan alleen met die kop omlaag gehou. Ondersoek van die oë en bek toon 'n vuilgeel verkleuring en die urine is donker rooibruin.

Skape weier om te vreet en word vinnig maer as hulle etlike dae lank leef. Dit gebeur seIde dat skape herstel of dat die siekte van lange duur is - die meeste skape vrek binne vier dae nadat hulle begin siek word.

Na die dood het die hele karkas 'n diep kerriegeel kleur. Aangesien ontbinding baie vinnig plaasvind, mag daar niks verder waarneembaar wees nie. Die lewer is baie sag en donkergeel en die derm- en maaginhoud is hard en droog. Wat baie kenmerkend is, is dat die niere erg geswolle en heeltemal swart is, maar nie pap nie (in gevalle waar die dood pas ingetree het).

 

Voorkoming en behandeling

Behandeling is seIde suksesvol, maar dieselfde prosedure kan gevolg word vir voorkoming. Dit bestaan uit dosering met natriummolibdaat.

Die dosis en doseringsinterval sal bepaal moet word na gelang van die hewigheid van die siekte op die plaas.

Sestand- en ouer skare moet, indien moontlik, nie op plase waar die siekte voorkom, aangehou word nie, maar verkoop word voordat die aansameling van koper in die lewer te gevaarlik word.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 6.1 / 1976