Last update: April 4, 2012 03:06:27 PM E-mail Print

 

DIE GROEPKAMPSTELSEL

deur P. W. ROUX en T. E. SKINNER Landbounavorsingsinstituut Karoostreek

 

DIE meeste veeboere is terdeë bewus van die noodsaaklikheid van die toepassing van oordeelkundige veldbeheer. Dit is egter verontrustend dat slegs 'n klein persentasie boere bepaalde of vaste stelsels van veldbeheer toepas. Die vernaamste faktore wat skynbaar hiertoe bydra, is hoofsaaklik 'n onvoldoende kennis van die elementêre grondbeginsels van veldbeheer en die beginsels waarop wisselweidingstelstels en veldbehandelings berus. Verder word wisselweidingstelsels ook soms verkeerdelik as onprakties en onbuigsaam veroordeel.

Dit is derhalwe die doel van hierdie artikel om boere op hoogte te stel met die heel nuutste verwikkelinge op die gebied van die wisselweidingstelsels en die beoefening van veldbeheer in die praktyk.

 

BASIESE VEREISTES

Stelsels van veldbenutting en veldbeheer moet aan twee hoof vereistes voldoen, naamlik om die veldbedekking, kwaliteit en produksie op 'n hoë peil te handhaaf en om te voorsien in veevoedingsbehoeftes.

Omdat verskillende soorte veld op 'n plaas voorkom wat onderling van mekaar verskil ten opsigte van die geaardheid van die plantegroei, smaaklikheid van die plante, en selfs die bekombaarheid van veldgedeeltes, soos byvoorbeeld beïnvloed deur hellings, slote, die voorkoms van kapok, ensovoorts, is dit noodsaaklik dat verskillende soorte veld behoorlik geskei moet word deur afkamping om veral kolstreekselektiewe beweiding sover moontlik te bekamp. Die uitvoering van hierdie stap skep die basiese raamwerk waarop aIle verdere onderverdelings van kampe berus.

Aan veld wat bewei word, moet van tyd tot tyd 'n voldoende rusperiode verskaf word sodat hergroei en vestiging van plante weer kan plaasvind. Aangesien veld uit baie soorte plante saamgestel is en verskillende vereistes stel ten opsigte van rusperiodes, word dit vereis dat 'n kamp, oor 'n periode van tyd rusbeurte sal kry wat al die verskillende seisoene insluit, en sodoende aan die vereistes van die vernaamste plante voldoen.

Dit is betreklik maklik om in die praktyk aan hierdie vereistes te voldoen, bloot deur seisoensrusbeurte te verskaf wat mekaar volgens 'n voorafbepaalde orde opvolg. Die mate waartoe hierdie rusbeurte doeltreffend toegepas kan word, sal afhang van die aantal kampe wat beskikbaar is.

Die 3-kamp-wisselweidingstelsel, wat in Tabel 1 uiteengesit is, voldoen aan die vernaamste vereistes wat gestel word.

 

Aantal kampe

In die Karoo- en aangrensende droë soetgrasveldgebiede sal 15 veldkampe in die meeste gevalle genoegsaam wees om te voorsien in die behoeftes vir die doeltreffende toepassing en uitvoering van weidingstelsels op 'n buigsame wyse terwyl dit ook voorsien aan die praktiese vereistes wat kleinveeboerdery stel. Die kampe moet verkieslik tussen 100 en 200 morge groot wees, maar hulle kan ook heelwat kleiner wees.

Een tot vyf afsonderlike veetroppe sal in die 15 kampe volgens 'n voorgeskrewe wisselweidingstelsel verwissel kan word. In die meer dorre gebiede van die Karoo sal selfs 9 voldoende wees. Dit sal verder tot groot voordeel strek indien die aantal troppe of kuddes tot 'n minimum beperk word.

Bo en behalwe hierdie kampe moot daar ook etlike kleiner kampies opgerig word om te voorsien in besondere behoeftes soos byvoorbeeld vir ramme, voer van vee, en so meer.

 

Kampgroepering

Om 'n wisselweidingstelsel op 'n praktiese, maklike en uiters buigsame en aanpasbare wyse toe te pas, kan gebruik gemaak word van die eenvoudige beginsel van kampgroepering.

Die volgende uiteensetting dien as voorbeeld vir die toepassing van 'n 3-kamp-wisselweidingstelsel op 'n plaas wat uit vier hoofveldsoorte bestaan, naamlik bergveld, ranteveld, leegteveld en vlakteveld soos in Skets 1 aangetoon. In Skets 1D kan ook gesien word hoe die plaas in kampe onderverdeel is en hoe die Groepe A, B en C saamgestel is (Sketse 1A, B en C) . Spesiale afkampings is gemaak ten opsigte van erosie en waterbane (Kampe Z1, Z2 en 11 en 12) soos in Skets 1D aangetoon.

Die wisselweidingstelsel wat vir die plaas voorgeskryf word, is soos in Tabel 1 uiteengesit.

 

 

Skets 2 toon 'n skuifkaart wat op 'n maandelikse basis uiteengesit is volgens die voorgeskrewe stelsel in Tabel 1. Die skuifkaart kan ook direk in gebruik geneem word vir enige plaas deur slegs die nommers van die plaaskampe wat saamgegroepeer is, en die jaar op die kaart in te vul soos hierbo uiteengesit. Die skyf kan met 'n spykertjie op die plaaskaart vasgesit word, op datum gedraai word, en daarna gereeld verstel word.

 

 

Die Groep A-kampe kan groen gekleur word op die plaaskaart en die B- en C-groepe blou en rooi onderskeidelik. Dieselfde kleure kan ook op die skyf aangebring word vir die ooreenstemmende groepe soos reeds in Skets 1 en op die skyf aangetoon is. Die skyf sal outomaties aantoon watter groep kampe gedurende watter tye van die jaar bewei moet word.

 

Spesiale behandelings

Kampe Z1 Z2, 11 en 12, in Skets 1, is in 'n waterbaan geleë. Die veld in kampe Z1 en Z2 is erg verniel en verspoel. Hierdie kampe, wat afsonderlik afgekamp is, moet apart behandel word en nie by 'n spesifieke groep ingeskakel word nie. Die kampe (Z1 en Z2) kan vir etlike jare aan beweiding onttrek word en erosiewerke, takpakke, klippakke, rietaanplantings, ensovoorts gemaak word.

Na 'n periode van gedeeltelike herstel - wat soms jare kan duur - kan die kampies gedurende Seisoen 4 bewei word, wat die beste behandeling vir die tipe kampe is. Sorg moet egter gedra word dat vernielde waterbaankampies, soos Kampe Z1 en Z2 nie oorbewei word wanneer hulle vir beweiding gedurende Seisoen 4 oopgestel word nie.

Kampe 11 en 12, wat ook in die waterbaan geleë is, kan ook voorkeurbehandeling kry deur hulle vir 'n paar jaar slegs gedurende Seisoen 4 te bewei. Nadat die plantegroei in die kampe goed aangekom het, kan hulle afsonderlik by die bestaande Groepe A, B en C ingeskakel word.

 

Spesiale kampies

Dit sal tot groot voordeel strek indien 'n voerreserwekamp (dit is 'n kamp wat met doringlose turksvye, oumansoutbosse, ensovoorts, beplant is) vir elke groep kampe opgerig word. Op die wyse kan voldoende droogtebystandsvoer tot stand gebring word en dit sal ook help om die wisselweidingstelsel sover moontlik in stand te hou indien tekorte ontstaan soos gedurende strawwe droogtes.

Wanneer vee gevoer word, moet dit in aparte kampies geskied wat spesiaal vir die doel opgerig is. Dit is verder noodsaaklik dat vee te alle tye toegang tot 'n geskikte mineraal of energielek het.

 

VOORDELE

Die voordele wat die stelsel van kampgroep inhou is:

Enkele kampe kan maklik uit 'n groep onttrek word as gevolg van byvoorbeeld die voorkoms van gifplante, of vir die doel om veld te brand, of om enige ander veldbehandeling toe te pas.

Wanneer daar 'n genoegsame getal kampe beskikbaar is, kan enkele kampe selfs tydelik onttrek word om later te dien as paringskampe, lamkampe of speenkampe, dit wil sê enkele kamp word doelbewus uitgehou vir gebruik van die vee wanneer hulle voedingsbehoeftes hoer is.

Ander veldbehandelings sluit byvoorbeeld in die intensiewe kortvreet van veld, termietbestryding, ensovoorts. Al die kampe in 'n groep moet nie in dieselfde seisoen of jaar aan intensiewe kortvreet onderwerp word nie aangesien sulke kampe gewoonlik langer as 6 tot 18 maande sal moet rus voordat hulle genoegsaam herstel het om weer bewei te kan word. Indien daar nie hieraan voldoen word nie kan daar 'n tekort aan beweibare kampe in 'n groep ontstaan as gevolg van die onttrekking van sulke intensiefbeweide kampe sodat hulle kan voldoen aan 'n lang rusperiode.

Op die wyse kan enige kamp in 'n groep voorberei word om aan 'n spesifieke bestuursvereiste te voldoen. So ook kan ooie byvoorbeeld eerste tot 'n kamp toegelaat word om later byvoorbeeld deur hamels gevolg te word.

Aangesien die kampe in 'n groep gewoonlik oor die hele plaas versprei Iê, begunstig los reënbuie, wat soms slegs oor dele van die plaas uitsak, ten minste 'n paar kampe waarin geen vee is nie. Wanneer 'n algemene reën voorkom, kry ten minste twee derdes van die plaas die volle voordeel daarvan.

Met goeie reënseisoene kan slegs vier of drie kampe per groep bewei word terwyl die ander gerus word om 'n voerreserwe op toe bou wat later tot groot voordeel gebruik kan word.

Kampe in groepe kan verder, indien nodig, in kleiner kampe onderverdeel word sonder om enigsins die verloop van die stelsel, te onderbreek.

Indien kampe aanvanklik nie na wense gegroepeer is nie, kan heraanpassings gemaak word sonder enige noemenswaardige ontwrigting van die verloop van die stelsel. Om 'n kamp te hergroepeer moet die spesifieke kamp, wanneer dit opkom vir beweiding in 'n groep, nie bewei word nie maar direk in sy nuwe groep ingeskakel word.

Hoe meer kampe daar per groep is hoe meer verskillende troppe vee kan aangehou word en hoe groter is die buigsaamheid van die stelsel.

Gedurende 'n droogte moet vee op die veld sover moontlik verminder word anders kan kampe progressief aan oorbeweiding onderhewig raak.

 

NADELE

Die enigste groot nadeel van die beheer van veld onder 'n groepstelsel is dat 'n kamp, of kampe, in 'n spesifieke groep oorbelaai kan word wanneer vee om een of ander rede in een of twee kampe gekonsentreer word.

Daar moet dus sorg gedra word dat 'n kamp, of kampe, in 'n groep nie uitermatig met vee belaai word nie tensy so 'n oorbelading vir 'n spesifieke doel aangewend word soos byvoorbeeld die afvreting van ruig uitgegroeide plantegroei. Dit is tewens noodsaaklik dat wanneer die veegetalle aanvanklik vir 'n plaas bereken word dit op 'n realistiese en konserwatiewe basis geskied.

Verder ook, aangesien Seisoen 2 'n lang seisoen is, kan daar moontlik 'n veldtekort teen die einde van die seisoen ontstaan. Hierdie toestand kan egter te bowe gekom word deur gedurende die eerste twee of drie maande van die seisoen slegs drie of vier kampe van die betrokke groep te bewei en die orige te laat rus en in gebruik te neem tesame met die reeds beweide kampe in die groep gedurende die laaste 8 of 4 weke van die seisoen.

 

REKORDS

Die hou van rekords van veegetalle en soorte vee, soos hulle in die verskillende kampe wei, hou baie groot voordele in, veral met die bepaling van die aantal weidingsdae in kleinvee-eenhede per kamp. Weidingsrekords is besonder waardevol waar dit nodig word om 'n sekere toestand van die veld, soos teweeggebring deur die stelsel, te ontleed.

Met die toepassing van wisselweidingstelsels op 'n kampgroepbasis kan die grootste mate van buigsaamheid en aanpasbaarheid in veldbeheer op 'n plaas op 'n praktiese en eenvoudige manier verkry word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (10)