Last update: March 27, 2012 12:24:08 PM E-mail Print

 

Die voordele van groepkampe vir weiveldbeheer

 

PW Roux, G van N du Toit & M Vorster

 

 

DIE MEESTE BOERE is maar te bewus hoe noodsaaklik dit is om veld oordeelkundig te benut. Tog is dit so dat nog net 'n klein persentasie boere 'n vaste weistelsel toepas. Waarskynlik is onvoldoende kennis van selfs die elementêre grondbeginsels van veldbeheer en wisselweidingstelsels die vernaamste oorsaak van die onrusbarende situasie. Maar te dikwels nog word verkeerdelik beweer dat wisselweidingstelsels onprakties en onbuigsaam is. Hierdie artikel gaan kortliks probeer wys hoe die groepkampbenadering van veldbeheer vir groter buigsaamheid in konvensionele wisselweidingstelsels aangewend kan word. Dit behels basies die groepering van weikampe in twee, drie of vier groepe.

Die groepe word weer om die beurt volgens konvensionele wisselbeweidingstelsels bewei. Inderdaad dien die groepkampstelsel as 'n basis wanneer 'n bepaalde wisselweidingstelsel vir 'n plaas uitgelê word.

Waar weidingstelsels op 'n groepkampstelsel gebaseer word, word daar so na as wat moontlik is in die praktyk daarin geslaag om veeboerdery bestuurspraktyke te verenig met die noodsaaklike vereistes en beginsels vir doeltreffende bestuur en beweiding van veld.

Dit is steeds noodsaaklik om die elementêre reëls soos die afkamp van veldsoorte, die afsny van waterbane, die inkamp van erg verspoelde of vernielde gebiede, drakrag, ensovoorts, te eerbiedig. Van hierdie basiese beplanning is daar geen wegkomkans nie.

Hoe meer kampe daar op die plaas is hoe makliker en met soveel groter voordeel kan die stelsel toegepas word. Vier tot ses kampe per afsonderlike trop is 'n uitstekende norm en grens feitlik aan die ideaal. In die meer intensief benutbare veld kan selfs soveel as nege kampe of meer per trop oorweeg word.

Die stelsel kan egter ook op so min as drie kampe per trop toegepas word.

Indien die boer nie aan die minimum vereistes kan voldoen nie, is daar een van twee uitweë, naamlik deur die aantal troppe te verminder of indien moontlik die aantal kampe te vermeerder. Veegetalle moet egter in ooreenstemming met die drakrag van die plaas wees.

As aan hierdie basiese vereistes voldoen is, moet die volgende stappe gevolg word. Eerstens moet elke kamp besoek en 'n veldinventaris opgestel word. Inligting wat benodig word behels die kampnommer of naam, die grootte daarvan in hektaar, die verskillende veldsoorte soos berg-, rante-, vlakte- of leegteveld. Die drakrag van elke kamp in hektaar per kleinvee-eenheid sowel as die skaapweidae daarvan moet verstrek word.

Voorts moet aspekte soos geskiktheid vir sekere praktyke soos paring, lam, speen, ens, en besondere probleme soos met verlammingsbosluis, kapok, rooikatte, ens, sowel as spesiale behandelings soos winterbeweiding, algehele rus, ens, in ag geneem word.

Die keuse van 'n bepaalde wisselweidingstelsel sal grootliks beïnvloed word deur die gebied waarin die plaas geleë is soos soetgrasveld, gemengde Karooveld of dorre Karooveld. Ook sal die aantal beskikbare kampe en die doel wat bereik wil word soos of veld herwin of net benut wil word, die keuse van 'n weistelsel beïnvloed.

Daar is 'n groot aantal stelsels wat gevolg kan word. In sy boek "Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika" wat by landboubiblioteke verkrygbaar is, bespreek W J Hugo juis 'n klompie van hulle. Die getal groepkampe sal uiteindelik bepaal word deur die wisselweidingstelsel waarop besluit is. So sal vir 'n driekampstelsel drie groepe, en 'n tweekampstelsel twee groepe benodig word.

'n Aantal punte moet egter in gedagte gehou word tydens die groepering van kampe. So byvoorbeeld word slegs weikampe gegroepeer; geleentheidskampies en kampies wat spesiale behandeling moet kry soos waterbane en erosiekampe, moet buite rekening gelaat word.

Verkieslik moet elke veldsoort op die plaas in elke afsonderlike groep verteenwoordig wees. Met die skaapweidae van elke groep in ag geneem, moet gepoog word om elke groep ewe groot te hou sodat die drakragte van die onderskeie groepe min of meer ewe veel is. 'n Verskil van kleiner as 10000 skaapweidae is nog aanvaarbaar.

Voorts moet elke groep kampe insluit vir paringsdoeleindes en waar ooie kan lam en lammers gespeen kan word. Die kampe van elke groep moet sover as moontlik oor die hele plaas versprei wees.

Die gekose wisselweidingstelsel kan op 'n skuifkaart aangebring word (kyk illustrasies). Die verskillende groepe kan in verskillende kleure op die plaaskaart met die ooreenstemmende kleure ook op die skuifkaart uitgebeeld word.

Die groepe word nou volgens die gekose weistelsel bewei. Soos in die geval van 'n konvensionele tweekampstelsel soos in tabel1 uiteengesit, word groep A dus in weijaar 1 vanaf September tot einde Januarie bewei en weer vanaf begin Mei tot einde Augustus. In die tyd rug Groep B. Groep B word in weijaar 1 vanaf begin Februarie tot einde April bewei terwyl Groep A rus.

 

 

In weijaar 2 word die behandelings omgeruil terwyl weijaar 3 ooreenstem met weijaar 1. Hierdie aksie word groeprotasie genoem. Binne so 'n groep kan die boer sy vee en veldbestuur na eie goeddunke toepas. Die verskuiwing van vee tussen kampe binne 'n groep word kamprotasie genoem. Kyk fig 1 vir 'n plaasplan.

 

 

 

Die enigste reël wat by die benadering geld, is dat 'n groep nie bewei mag word indien die wisselweistelsel aantoon dat die groep moet rus nie.

Om wisselbeweiding volgens die groepkampbenadering toe te pas, moet dus eerstens bepaal word in watter maand begin sal word. Dan word die groep op die skuifkaart bepaal. Vervolgens kan die vee nou in enige van die kampe van die gekose groep geplaas word. Die boer is ook vry om enige stelsel van veebestuur en veldbestuur in die groep toe te pas.

In die verband word gedink aan praktyke soos kort weitydperke, kudde-opvolging, die kort vreet van sekere uitgegroeide kampe, brand van veld, doelbewuste spaar van veld vir paring, termietbestryding en vele meer. Ook kan kampe onttrek word van beweiding weens die voorkoms van gifplante en om probleme met ongediertes, kapok en verlammingsbosluis te vermy.

In goeie reënseisoene kan slegs enkele kampe bewei word terwyl die ander rus om voerreserwes vir latere moontlike droogtes op te bou. Indien nodig kan kampe verder onderverdeel of hergroepeer word sonder veel ontwrigting.

Die enigste probleem is dat 'n kamp of kampe in 'n spesifieke groep vir 'n bepaalde rede uitermate oorlaai kan word. Oorbelading is geregverdig slegs indien dit vir 'n spesifieke doel aangewend word soos die kortvreet van uitgegroeide veld. Deur van skaapweidae gebruik te maak, kan die nadeel grootliks uitgeskakel word.

 

 

In fig 2 word 'n driekamp-soetgrasveld-wisselweidingstelsel vir kampe (of groepe) A, B en C uiteengesit. Deur die volgorde van die verskyning van kamp A op die skyf na te gaan, sal dit duidelik word gedurende watter maande en jare Kamp A (of Groep A) bewei word en wanneer dit rusperiodes moet ondergaan.

Dit moet altyd in gedagte gehou word dat die wei- en rustydperke vir wisselweidingstelsels juis so agtermekaar gekoppel is dat die beste voordeel vir beide veld en vee verkry kan word oor sowel die kort- as die langtermyn vir 'n bepaalde gebied, plaas of veldsoort.

In fig 3 word 'n vierkampstelsel uiteengesit wat geskik is vir baie soorte Karooveld asook vir droër tipes soetgras- en rooigrasvelde.

 

 

In fig 4 is 'n kaart van 'n plaas wat volgens so 'n vierkampstelsel (fig 3) en 'n driekampstelsel (fig 2) beplan is. Hierdie twee stelsels word gelyktydig uitgevoer. Die kampgroepe is D, E, F,G, A, B, en C. As die twee skywe (fig 2 en 3) op datum gehou word, sal hulle aantoon watter kampgroepe bewei moet word.

Hierdie uitleg dien dan ook om die verdere moontlikhede van die kombinering van verskillende wisselweidingstelgels op 'n groepkampbasis te illustreer. Sulke kombinasies is veral voordelig waar die veld op 'n plaas so verskil dat verskillende weistelstel vereis word, soos waar byvoorbeeld bergsuurgrasveld, rooigrassoetveld en gemengde bosveld op dieselfde plaas voorkom.

Op die plaaskaart in fig 4 verskyn ook twee waterbaankampe (W1 en W2) en een erosiekamp (Z). Aanbevelings oor wanneer om hierdie kampe te bewei word ook in fig 3 aangetoon.

Hoewel dit wenslik is dat verskuiwings van een groep na 'n nuwe groep volgens datum geskied, is dit baie keer weens praktiese redes en bestuursomstandighede nie moontlik nie. 'n Speling van 10 dae word na weerskante van die verskuiwingsdatum toegelaat. Daar is dus bykans drie weke kans om na gelang van omstandighede van een groep na die volgende groep te verskuif.

Dit is 'n interessante spel en oefenlopie om die beweiding van 'n plaas soos in fig 4 met gemerkte en gekleurde papiertjies wat troppe vee voorstel, uit te beeld. Vir die doel kan sewe denkbeeldige troppe gebruik word en onder meer ooie, hamels, beeste verteenwoordig. Die praktiese moontlikhede en buigsaamheid van die groepkampstelsel sal juis uit so 'n oefenlopie na vore kom. Die speletjie sal ook help om die moontlikhede van die groepkampstelsel beter te begryp.

Om die grootste voordeel uit 'n groepkampstelsel te verkry, is dit juis noodsaaklik dat dit behoorlik verstaan word.

 

Published

Goue Vag 15 (4)