Last update: April 3, 2012 09:51:09 AM E-mail Print

 

Voordele en Praktiese Toepassing van die - Groepkampstelsel

Dr. PW ROUX 


DIE GROEPKAMPSTELSEL het 'n lang ontwikkelingsgeskiedenis agter die rug. Dit strek van die laat veertigerjare tot in die laat sestigerjare toe dit uitgekristalliseer het en sy beslag formeel gekry het as die Groepkampstelsel (Roux en Skinner, 1970).

Die aanvaarbaarheid en geslaagdheid waarmee die stelsel toegepas word, word weerspieël deur die feit dat die stelsel vir feitlik alle plaasbeplannings in die Karoostreek gebruik word, asook op baie plase in die aangrensende streke. Dit is ook ingesluit in die kursusse in weidingkunde by universiteite en landboukolleges.

Die moontlikhede van die stelsel is feitlik onbeperk. Getuienis en bewys van die geslaagdheid van die stelsel word deur voorligtingsbeamptes en talle boere gerapporteer.

So byvoorbeeld, onder meer deur mnr A Lund (Beaufort-Wes) en mnr J S van Zijl (De Aar) in die Karoo-Streeknuusbrief van Junie 1975 en 1976 onderskeidelik. So ook deur mnre M Galloway (Vryburg) en M en R Hume (Willowmore) in die Landbouweekblad van Mei en Junie 1976 onderskeidelik. Mnr Van Zijl het daarin geslaag om sy ekstensiewe waterbaanvelde volwaardig in sy groepkampstelsel in te skakel, met behoud van die voordelige winterbeweiding en benutting van waterbane, soos vir sy gebied voorgeskryf.

Die ander boere hierbo genoem, het ook daarin geslaag om oor 'n tyd hul groepkampstelsels so aan te pas en te intensiveer dat dit bykans grens aan die ideale stelsel. Uiters voordelige veldreaksies en veeproduksie het plaasgevind.

Die uitvoering van weidingstelsels en ander maatreëls op 'n groepkampstelselbasis is so na as wat daar ooit in die praktyk daarin geslaag sal kan word om veeboerderybestuurspraktyke te verenig met die van die noodsaaklike vereistes en beginsels vir doeltreffende bestuur en beweiding van veld.

Hoewel die groepkampstelsel aanvanklik vir die Karoo en aangrensende soetgrasvelde ontwikkel is, het dit reeds vanweë sy praktiese uitvoerbaarheid, buigsaamheid, aanpasbaarheid en sukses reeds uitgekring tot ver buite hierdie velde.

 

Voorbeeld van die uitlê van 'n groepkampstelsel

Wanneer 'n wisselweidingstelsel, of stelsels, vir 'n plaas uitgelê word, dien die groepkampstelsel as basis daarvoor. Dit bly steeds noodsaaklik dat die elementêre reëls soos die afkamp van veldsoorte, die afsny van waterbane, die inkamp van erg verspoelde of vernielde gebiede, drakrag, en so meer eerbiedig word. Daar is geen wegkomkans van hierdie basiese beplannings nie.

Hoe meer kampe daar op 'n plaas is, hoe makliker en met soveel groter voordeel kan die stelsel toegepas word. Vyf kampe per afsonderlike trap vee is 'n baie uitstekende algemene norm en grens feitlik aan die ideaal. In die meer intensief benutbare velde kan selfs soveel as nege kampe of meer per trap oorweeg word.

Die groepkampstelsel kan egter ook suksesvol op so min as nege kampe, in totaal, op 'n plaas bedryf word. In sommige gebiede waar water 'n baie beperkende faktor is, kan dit selfs op so min as sewe kampe bedryf word met soveel as drie veetroppe.

In Figuur 1 is 'n 3-kamp-soetgrasveld-wisselweidingstelsel vir kampe (of groepe) A, B en C uiteengesit. Deur die volgorde van die verskyning van kamp A op die skyf (Fig. 1) na te gaan, sal dit duidelik word gedurende watter maande en jare Kamp A (of groep A) bewei word en wanneer dit rusperiodes ondergaan.

 

 

Die wei- en rusperiodes vir wisselweidingstelsels is so agtermekaar gekoppel dat die beste voordeel vir veld en vee daaruit verkry kan word oor die kort- sowel as langtermyn vir die spesifieke gebied, plaas of veldsoort.

In Figuur 2 word 'n plaas met 15 kampe diagrammaties voorgestel. Die doer is om die driekampstelsel, in Fig. 1, op die plaas op 'n groepkampstelselbasis toe te pas. Die eerste stap is om die 15 kampe in drie lotte (groepe) te groepeer sodat elke lot of groep naastenby dieselfde is wat drakrag en soorte veld betref. Die kampe in 'n groep kom dus gewoonlik versprei oor die plaas voor, soos in die diagram aangetoon.

Die moontlikheid vir die groepering van kampe is gewoonlik beperk en maak dus die groepering van kampe in groepe meer akkuraat en skakel die moontlikheid om swak of foutiewe groeperings te maak grootliks uit. Hergroeperings kan in elk geval weer later gemaak word indien nodig.

Om groepe te balanseer, kan groepe soms uit ongelyke aantal kampe bestaan soos bv die G-groep in Fig. 4.

Deur die skyf (Fig. 1) maandeliks op datum te hou, sal dit aantoon watter groep kampe, A of B of C, bewei moet word:

Veronderstel dit is Mei 1978; die A-groep-kampe word dan vir beweiding aangetoon. Die A-kampe kan nou, na goeddunke, oordeel, of volgens heersende praktiese behoeftes bewei word. So byvoorbeeld kan daar 'n trap vee in elk van die vyf A-kampe (in Fig. 2) gehou word vir solank as wat die skyf dit aandui. Daar kan ook slegs drie A-kampe bewei word, terwyl twee rus om 'n bietjie later bewei te word.

Indien veldomstandighede dit vereis, kan selfs al die vee in een A-kamp gestop word om byvoorbeeld lank uitgegroeide veld kort te vreet. Daarna kan die troppe weer normaal in die A-groep-kampe versprei word, of indien nodig kan die vee na die volgende A-kamp geskuif word om die veld daar kort te vreet.

In so 'n geval sal die veldbenutting feitlik ooreenstem met die soort van beweiding wat in 'n "multikampstelsel" verkry word.

Waar daar 'n baie hoë konsentrasie vee in 'n kamp vir 'n kort periode gelaai word, sal dit weer vergelyk kan word met 'n nie-selektiewe beweidingstelsel.

Die A-:kampe kan ook in rotasie vir sewe of meer dae per kamp bewei word in welke geval, indien die vee verskuif word wanneer die verlangde benuttingsgraad bereik is, dit sal ooreenstem met die begrip van beheerde selektiewe beweiding.

Indien daar baie kampe per trap beskikbaar is (6 of meer), kan die weiperiodes so ingestel word dat dit sal ooreenstem met die begrip van Kortwei-Langrus.

Soos die skyf op datum gedraai word, kom beweiding vir die B- of C-groepe ook aan die beurt vir beweiding. Dieselfde uiteensetting soos vir die A-groep-kampe geld ook vir die B- en C-groepe. Die oorskakeling van een groep na 'n ander verloop gladweg en die voorgeskrewe wisselweidingstelsel word sonder onderbreking of afwyking uitgevoer.

Een van die belangrikste aspekte van die groepkampstelsel is dus dat dit 'n oorkoepelende metode is waarvolgens feitlik enige stelsel van beweiding op 'n stelselmatige wyse uitgevoer kan word, met inagneming van die ontwikkelings- en bewaringsvereistes van die veld en die voorsiening in die voedingsbehoeftes van die vee.

 

Groepkampstelsel prakties toegepas

In Figuur 3 is 'n 4-kamp-stelsel vir D,E,F en G uiteengesit wat geskik is vir baie soorte karooveld asook vir droëre tipes soetgras- en rooigrasvelde.

 

 

In figuur 4 verskyn die kaart van 'n plaas wat volgens die 4-kamp-stelsel (Fig. 3) en die 3-kamp-stelsel (Fig. 1) beplan is. Hierdie twee stelsels word gelyktydig uitgevoer. Die kampgroepe is D,E,F,G,A,B en C. As die twee skywe (Fig. 1 en Fig. 3) op datum gehou word, sal hulle aantoon watter kampgroepe bewei moet word.

 

 

Hierdie uitleg dien dan ook om die verdere moontlikhede van die kombinering van verskillende wisselweidingstelsels op 'n groepkampbasis te illustreer.

Sulke kombinasies is veral voordelig waar die velde op 'n plaas so verskil dat hulle verskillende weidingstelsels vereis; so byvoorbeeld waar bergsuurgrasveld, rooigrassoetveld en gemengde bosveld op dieselfde plaas voorkom.

Op die plaaskaart verskyn ook die twee waterbaankampe, W, en W2, en een erosiekamp, Z. Die voorgeskrewe spesiale beweiding vir hierdie kampe word ook op Fig. 3 aangegee.

Hoewel dit wenslik is dat verskuiwings van een groep na 'n nuwe groep volgens datum geskied, is dit baiekeer weens praktiese redes en bestuursomstandighede nie altyd moontlik nie. Daar word dus 'n speling van 10 dae weerskante van 'n verskuiwingsdatum toegelaat. Daar is dus feitlik drie weke kans om gelyktydig, of kamp vir kamp, soos wat die omstandighede vereis van een groep na die nuwe groep te verskuif.

Dit is 'n interessante spel en oefening, en ook goed om die moontlikhede van die groepkampstelsel te begryp, om die beweiding van die plaas (Fig. 4) met gemerkte, gekleurde papiertjies, wat troppe vee voorstel, te volg. Vir hierdie doel kan sewe denkbeeldige troppe gebruik word. Die troppe kan ooie, hamels, beeste, en so meer gemerk word. Uit die oefenlopie sal dit baie duidelik word dat die groepkampstelsel se praktiese moontlikhede en buigsaamheid baie groot is.

Om die grootste voordeel uit 'n groepkampstelsel-uitleg te verkry, is dit noodsaak1ik dat dit verstaan word, en dit kan geskied deur die voorbeelde wat hier aangegee word deeglik te bestudeer.

Vir die verskillende wisselweidingstelsels wat in 'n spesifieke gebied van toepassing is, kan 'n voorligtingsbeampte van die Departement van Landbou-tegniese Dienste geraadpleeg word.

 

Published

Boerderykeur