Last update: April 11, 2012 09:30:45 AM E-mail Print

 

Gronderosie-bestryding in die Unie

Die Beheer van Water en Afvloei van Contourwalle Af

C. R. Maggs 

 

DIE meeste boere, veral in die Karoostreke, het op verskillende tye grondherwinningswerk in een of ander vorm onderneem. Baie tipes van gronderosiebestrydingswerke en metodes van toepassing daarvan is in ander publikasies volledig behandel, maar dit is die skrywer se doel om in hierdie kort maar algemene opsomming die aandag te vestig op enkele belangrike punte wat by die oprigting van contourwalle in ag geneem moet word. Die progressiewe boer van vandag wat 'n duidelike begrip het van die vereistes van sy plaas, het natuurlik praktiese planne wat hy wil uitvoer om die verwoesting van gronderosie te bestry. Daarenteen kan hy miskien besonderhede oor die hoof sien, wat, hoewel hulle klein is, nogtans verreikende gevolge kan hê. Gehoop word dat sommige van onderstaande wenke in hierdie opsig van waarde gal wees.

Stopsit van sydelingse en agterwaartse verspoeling van dongas.-Logies beskou, moet alle werke in verband met die stopsetting van agterwaartse verspoeling van die walle van 'n donga opgerig word in die boonste strook van die opvanggebied wat herwin moet word, d.w.s. aan die voethellings van die heuwels. Water wat teen die skuinstes afloop, moet van die dongas af weggelei word deur middel van 'n grond-afleiwal wat so gegooi is dat dit die water na 'n punt weg van die donga af sal lei. 'n Afleiwal met 'n helling van 1 in 600 behoort die water snel af te lei na die uitloopplekke aan die end van die wal. Hierdie uitloopplekke moet goed beskerm word teen die spoelwerking van die water, deur middel van klipbestrating wat rondom die punt van die wal moet loop; ook moet die punte van die wal vir 'n paar voet skuins stroomaf uitgebrei word ten einde die water so egalig moontlik te versprei, by voorkeur oor rots of harde grond wat geen verspoeling sal laat ontstaan nie. In elk geval moet die oorspronklike grondoppervlakte nie by die uitlooppunte verwyder word nie. Nadat die water van die bo-end en kante van die dongas afgelei is, is dit nog nodig om die stroom te beheer en dit oor die veld te versprei deur middel van 'n stelsel van verspreidings- of onderbroke contourwalle wat die snelheid van die water breek en dit oor 'n groot oppervlakte versprei. Afgesien van die voordeel dat slooterosie hierdeur stopgesit en 'n groot veldoppervlakte deurweek word, word 'n groot hoeveelheid slik agtergelaat. As hierdie water na 'n besproeiingsdam gelei word, sal dit skoner wees en op hierdie wyse word die onvermydelike toespoeling vertraag. Inderdaad, as ons die toespoel van ons damme tot 'n minimum wil beperk sal dit van onskatbare waarde wees as hierdie werk op groot skaal in die opvanggebiede van ons riviere uitgevoer word.

In verband met die helling wat nodig is vir 'n afleiwal en wat nie meer as 1 in 600 moet wees nie, hang alles geheel en al af van die soort grond in die betrokke streek; dit moet ook onthou word dat nadat plantegroei op die wal gevestig is, die stroomsnelheid van die water aansienlik sal afneem. Die bo-end van 'n skuins afleiwal moet effens teen die helling oploop om te verhoed dat water by die verkeerde end uitloop, veral wanneer die wal weer met plantegroei bedek is. Dit is ook raadsaam om met tussenruimtes 'n paar sooie op die walle te plaas ten einde die plantegroei aan te help.

Onderbroke contourwalle - Soos die naam aandui, is hierdie walle waterpas en moet dus die natuurlike hoogtelyne van die grond volg. Die, openings in die walle word so gespasieer dat die water uit enige opening uiteindelike teen die geslote gedeelte van die laer wal sal stroom, d. w .s. elke opening in 'n wal lê teenoor 'n geslote gedeelte van die volgende laer wal. Die walle moet van 25 tot 35 jaarts van mekaar af wees en iedere wal moet van twee tot drie voet hoër as die volgende lê. Die wydte van 'n opening moet nie meer as 10 voet wees nie en moet, indien moontlik, met klip bestraat word. Indien geen klippe beskikbaar is nie, kan sooie gebruik word maar onder geen omstandighede mag die oorspronklike veldoppervlakte uitgegrawe word nie, want as die oppervlakte ongestoord gelaat word, is daar minder kans vir verspoeling. Hoe meer openinge, hoe veiliger en hoe makliker word die water oor die veld versprei en hoe groter is die oppervlakte wat met 'n dunner stroom benat word. Gras moet so gou moontlik op die walle geplant word en vee moet van die pasgemaakte walle weggehou word, altans totdat plantegroei daar gevestig is.

Klipbestrate versnellingsplekke. – As die surpluswater wat deur afleiwalle en 'n stelsel van onderbroke contourwalle afgelei is, nie vir besproeiing gebruik of in damme gelei word nie, is dit dikwels nodig om dit weer in die hoofsloot terug te lei op 'n geskikte plek laer af. Dit is noodsaaklik dat die teruglei van die water na die sloot net so min skade moet veroorsaak as die oorspronklike afleiding, en 'n goeie inloopplek moet dus gekies word. As die wal van die sloot laag is en uit rots bestaan met 'n rotsbedding is die plek ideaal. Daarenteen is die wal dikwels 'n hoë grondwal, gewoonlik sonder die voordeel van 'n rotsbedding, en dan vereis dit behoorlike behandeling om 'n doeltreffende versnellingsplek te bou , sodat die water na die sloot kan terugvloei. In bogenoemde geval moet die wal van die sloot so plat moontlik weggegrawe word en die versnellingbaan moet, indien moontlik, nie reghoekig op die, donga gemaak word nie maar liewer met 'n hoek wat so skerp moontlik is, stroom-af. As die grond hard is, kan die versnellingsplek met klip bestraat en met sementmortel 4:1 uitgeflodder word, maar oor die algemeen is 'n eenvoudige bestrating van klip-in-draad bevredigend mits die klippe goed invoeg en ingebind is in draadnet van No.8 en 9 heiningdraad met vierkantige maas van hoogstens 6 duim sodat daar geen klippe deur kan gaan nie.

Die metode is om een net op die bodem van die uitgrawing aan te bring en dan die klippe daarop in te pak. Daar moet gesorg word dat die klippe goed gegradeer is en stewig invoeg, en dat die water nie by die versnellingsplek onder die klippe langs kan vloei nie. Die klippe moet tussen 6 duim en 9 duim dik wees. Plaas dan 'n tweede net bo op die klippe. Bind die twee nette styf aanmekaar deur middel van vertikale drade wat voorheen aan die onderste net geheg is. Die geheel moet styf in een stuk vasgebind word. Die klippe moet ook goed vasgekeil en in albei rigtings met verband gepak word, met gruis tussenin vasgestamp. As daar geen rots in die slootbedding is nie, sal die met klip bestrate end van die versnellingsplek vir 'n aansienlike afstand in die bodem van die sloot verleng moet word om verspoeling te voorkom.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 13