Last update: March 23, 2012 11:25:40 AM E-mail Print

 

Breë grondpatrone van die Karoostreek

 

J.S. GREYLING & M. VORSTER

Afdeling Hulpbronontwikkeling

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg KP

5900

 

INLEIDING

Die doel van 'n breë grond patroonkaart vir 'n gebied is om 'n aanduiding te gee van die produksiepotensiaal en erosiekwesbaarheid van die gronde van die gebied, asook waar dit in die gebied geleë is. Tans bestaan daar 'n grondkaart vir die Karoostreek (Anon., 1981) wat hoofsaaklik op die werk van Van der Merwe (1962) gebaseer is.

Gedurende die afgelope jare (1977-1982) is grondkundige inligting volgens die binomiese sisteem van grondklassifikasie (grondvorm, -serie, -diepte en beperkende materiaal) (MacVicar, De Villiers, Loxton, Verster, Lambrechts, Merryweather, Le Roux, Van Rooyen & Harmse, 1977) op die ongeveer 291 voorlopige landtipes van die Karoostreek ingesamel. Dit is vervat in finale verslae K-VL 17/1-17/16 (Departement van Landbou en Visserye, 1982).

As gevolg hiervan is daar besluit om die bestaande grondkaart vir die Karoostreek te hersien, te verbeter en om dit volgens die breë grondpatroonindeling van die Navorsingsinstituut vir Grond en Besproeiing (NIGB) (Departement Landbou-tegniese Dienste, 1979) te karakteriseer. 'n Soortgelyke studie is deur Ellis & Lambrechts (1983) langs die Weskus, Namakwaland en Klein-Karoo gedoen.

 

METODES EN TEGNIEKE

Die topografiese eenhede (veldsoort - Roux, 1966), grondsoort-assosiasie, is eerstens vir drie gebiede van die Streek, naamlik 'n noordwestelike gebied (die voorligtingswyke van Calvinia, Kenhardt, Prieska, Carnarvon en Fraserburg), noordoostelike gebied (die voorligtingswyke van Cradock, Burgersdorp, Middelburg, Colesberg, De Aar en Victoria-Wes) en die sentrale en suidelike gebied (die voorligtingswyke van Graaff-Reinet, Beaufort-Wes, Laingsburg, Jansenville en Somerset-Oos) bepaal. Dit is gedoen om die intra-streeksverskille tussen die veldsoort- en grondassosiasies uit te lig. Hierna is die inligting vir die Streek in geheel saamgevat.

Die veldsoort x grondvorm x beperkende materiaal x gronddiepte-assosiasies is vir die 291 voorlopige landtipes met behulp van die PHYTOTAB-rekenaarprogrampakket (Westfall, Dednam, Van Rooyen & Theron, 1982) bepaal. Hierdie rekenaarprogram is gebruik omdat dit die vermoë het om die verskillende assosiasies in alfabetiese volgorde te rangskik, terwyl dit terselfdertyd ook die aantal kere wat 'n spesifieke assosiasie voorgekom het, bereken. Gevolglik was dit moontlik om die assosiasies in volgorde van belangrikheid volgens voorkoms te bepaal en in tabelle saam te vat. Hierdie resultate is volgens die breë grondpatroon indeling (Departement Landbou-tegniese Dienste, 1979) gegroepeer. Aangesien die verskille binne landtipes nie op kaart gestel kan word nie, is die dominante grondpatroon er voorlopige landtipe bepaal, en die breëgrondpatroonkaart saamgestel met gebruikmaking van die landtipegrense as basis.

 

RESULTATE

Daar is 18 verskillende grondvorms met 'n verskeidenheid diepte- en beperkende materiaal- assosiasies in die voorlopige landtipes van die Karoostreek gevind. Na vergelyking het dit geblyk dat die volgende breë grondpatrone volgens die NIGB-indeling (Departement Landbou-tegniese Dienste, 1979) dominant in die voorlopige landtipes voorkom, naamlik:

 

*   Rooi-geel apedale. goedgedreineerde gronde

. Ae : Rooi. hoë basestatus, > 300 mm diep

. Ag : Rooi, hoë basestatus, <300 mm diep

 

*   Prismakutaniese en/ of pedokutaniese diagnostiese horisonte

. Da : Rooi B-horisonte

. Db : Nie-rooi B-horisonte

 

*   Vlak gronde van Glenrosa- en/ of Mispahvorms

. Fb Kalk. skaars in hoogliggende gronde, maar teenwoordig in laagliggende gronde

. Fc : Kalk gewoonlik teenwoordig oral in die landskap

 

*   Diverse landklasse

. 1a Ongedifferensieerde diep afsettings

. 1b Rotsgebiede met diverse gronde

 

Die belangrikste grondvorms wat per breë grondpatroon gevind is, asook die relatiewe belangrikheid in terme van voorkoms en landboukundige waarde, word vervolgens per grondpatroon vir die Karoostreek bespreek (Fig, 1). Die definisies van grondvorms en ander grondkundige terme wat gebruik word, is volgens die van MacVicar et al. (1977).

 

BREë GRONDPATRONE

1. Rooi-geel apedale, goedgedreineerde gronde

1.1 Ae: Rooi, hoë basestatus, >300 mm diep

Hierdie grondpatroon kom slegs dominant in enkele, verspreide, relatief klein landtipes in die Streek voor (Fig. 1). Die gronde wat hier dominant voorkom, is die van die diep Hutton- en Oakleafvorms (30 - 100 cm), maar kom egter ook vry algemeen op 'n relatief klein skaal voor in die meerderheid voorlopige landtipes en wel op die voorskoot- en waterbaan- topografiese eenhede.

As gevolg van die diepte, sanderige tekstuurklas en afwesigheid van sterk struktuurvorming by hierdie gronde, besit dit 'n relatief hoë produksiepotensiaal en 'n lae erosiekwesbaarheidsgraad.

1.2 Ag: Rooi, hoë basestatus, <300mm diep

Vlak Hutton- en Mispahvorms is die belangrikste gronde van hierdie grondpatroon wat oor 'n wydverspreide gebied van die Karoostreek, en veral dominant in die voorlopige landtipes van die noordwestelike en sentrale gedeeltes van die Streek, voorkom (Fig. 1). Dit is opvallend dat in die ariede dele van die Karoostreek die grondpatroon hoofsaaklik deur die geologiese stratigrafie beïnvloed word (NIGB-verslag oor Landtipe-opname, 1983/84), en kom dan ook hoofsaaklik voor waar graniet en doleriet dominant is. Hoewel hierdie gronde vlak is, is dit relatief stabiel met 'n lae erosiekwesbaarheidsgraad, asook 'n lae produksiepotensiaal.

 

2. Prismakutaniese en/of pedokutaniese diagnostiese horisonte

2.1 Da: Rooi B-horisonte

Die Da-grondpatroon kom dominant voor in sekere van die voorlopige landtipes van die oostelike gedeelte van die Streek, veral direk suid en ten noorde van die Groot Eskarp (Fig. 1). Die dominante gronde is die van die Swartland-, Valsrivier- en Shortlandsgrondvorms. Volgens Ellis & Lambrechts (1983) is hierdie dupleksgronde (gronde waarvan die klei-inhoud van die B-horison minstens dubbel soveel as die van die A-horison is) veral volop in die hoër reënvalgebiede van die Streek en word dit geassosieer met die moddersteen en skalies van die Tarkastad-subgroep van die Beaufortgroep (Department of Mineral and Energy Affairs, 1980). As gevolg van die morfologie van hierdie gesteentes, is die gronde gewoonlik hoogs erodeerbaar. Volgens Ellis & Lambrechts (1983) besit hierdie gronde 'n uiters lae waterinfiltrasievermoë, 'n lae ysterinhoud in die A-horison en relatief hoë UNP-waardes.

Die hellingsgradiënt is ook hoër in die gebied waar hierdie gronde voorkom as in die res van die Karoostreek en dra verder by tot die hoë erosiekwesbaarheidsgraad.

Dit is dan ook nie geskik vir bewerking nie en moet versigtig benut word, want ontbloting van die oppervlak lei tot verhoogde waterafloop wat grip- en donga-erosie tot gevolg het.

Die produksiepotensiaal van hierdie grondpatroon is hoër as die van die Ag-grondpatroon (par. 1.2), terwyl die erosiekwesbaarheidsgraad ook hoër is.

 

2.2 Db: Nie-rooi B-horisonte

Hierdie grondpatroon het die laagste voorkoms in die Streek. Dit kom slegs dominant voor in enkele van die klein voorlopige landtipes wat die hoërliggende bergplatogebiede van die Groot Eskarp verteenwoordig (Fig. 1). Op die Stormbergplato in die Burgersdorpdistrik is gronde van die lnhoekvorm gevind, terwyl gronde van die Bonheim- en Tambankuluvorm op die Boschbergplato (Somerset-Oos) aangetref is. Hierdie gronde is die enigstes met melaniese A-horisonte wat in die Karoostreek tydens die voorlopige landtipe-opnames gevind is, en droëlandgewasverbouing vind op hierdie gronde plaas. Enkele voorlopige landtipes het 'n dominansie van nie-rooi Valsrivier- en Swartlandvorm-gronde getoon, wat ook ingesluit is in hierdie breë grondpatroon (Fig. 1).

Gronde van hierdie breë grondpatroon het 'n relatief hoë produksiepotensiaal en 'n lae erosiekwesbaarheidsgraad.

 

 

3. Vlak gronde van Glenrosa- en/ of Mispahvorms

3.1 Fb: Kalk, skaars in hoogliggende grande, maar teenwoordig in laagliggende gronde

Die Fb-grondpatroon kom dominant oor 'n groot gebied in die westelike en suidwestelike gedeelte van die Streek voor (Fig. 1). Die gronde van die Mispahgrondvorm is dominant in hierdie breë grondpatroon en is gewoonlik baie vlak (5-20 cm). Hoewel die gronde oorwegend kalkhoudend is, kom hardebank-kalkreet nie as beperkende laag voor nie, maar wel die skalies en sandsteen van die geologiese stratigrafie van daardie gebied. Hierdie grondpatroon word dan ook gekenmerk deur die opsigtelike aanwesigheid van gruiserigheid op die oppervlak en staan in die volksmond bekend as "Skraalvlaktes". Hierdie benaming is ook 'n goeie aanduiding van die produksiepotensiaal van die grondpatroon.

 

3.2 Fc: Kalk gewoonlik teenwoordig oral in die landskap

Die landtipes waar hierdie grondpatroon domineer, is hoofsaaklik in die sentrale en noordelike gedeeltes van die Streek geleë (Fig. 1). Die gronde van die Mispah- en Glenrosagrondvorms word hier onderlê deur hardebank-kalkreet, wat dan ook plek-plek op die oppervlak sigbaar is as gevolg van die uiters vlak gronde. Volgens Brady (1974), is hierdie akkumulasie van kalsiumkarbonaat die gevolg van onvoldoende loging van die grond weens die lae reënval en hoe verdamping in ariede gebiede.

Volgens Vorster (1985) is die erosiekwesbaarheidsgraad van hierdie gronde laag en die produksiepotensiaal ook uiters laag as gevolg van die geringe diepte.

 

4. Diverse landklasse

4.1 Ia: Ongedifferensieerde diep afsettings

Hierdie grondpatroon sluit hoofsaaklik die gronde van die Dundee- en Oakleafgrondvorms in en word op alluviale depressies (byvoorbeeld waterbane) oral in die Streek gevind. Die landtipes waar hierdie grondpatroon dominant is, is hoofsaaklik langs die groter riviere van die Karoostreek (Grootvis-, Kleinvis-, Sondags- en Sakrivier), en die panne of vloere van die Noordweste, geleë (Fig. 1).

Die gronde van die Dundee-vorm kom in 'n verskeidenheid fases voor, wat wissel van growwe gruisspoellae met spoelklippe in resente afsettingsgebiede tot fynsand- en sliklae in die ouer  stroomgebiede. Die potensiaal van hierdie gronde wissel dus ook aansienlik.

Dit is die enigste grondpatroon in die Streek waarop permanente besproeiing toegepas word, aangesien dit oor voldoende diepte beskik.

Die pH-waardes van die gronde is oor die algemeen hoog en die gevaar van verbrakking bestaan deurgaans en verlaag die produksiepotensiaal.

 

4.2 lb: Rotsgebiede met diverse gronde

Verskille in gesteentesoorte, sowel as klimaatsverskille, het tot gevolg dat hierdie grondpatroon, met groot variasies ten opsigte van grondsoorte en produksiepotensiaal, dwarsoor die Streek voorkom. Die Groot Eskarp wat die Streek in die hoërliggende noordelike gedeelte en die laerliggende gedeelte (Groot-Karoo) verdeel, bestaan hoofsaaklik uit doleriet gemeng met sandsteen van die Beaufortgroep met diverse gronde tussenin (Department of Mineral and Energy Affairs, 1980).

Op die suidelike grens van die Streek word die massiewe sandsteen van die Witteberg- en Bokkeveldgroep aangetref met min tot geen grond tussenin, terwyl op die noordwestelike grens (in die omgewing van Pofadder) die graniete en gneise van die Namakwalandse Metamorfiese kompleks aangetref word (Fig. 1).

 

GEVOLGTREKKINGS

Uit Fig. 1 en die voorgaande besprekings, is dit duidelik dat die grootste gedeelte van die oppervlakte van 29,062 miljoen ha van die Karoostreek uit vlak gronde van die Ag-, Fb- en Fc-grondpatrone bestaan. Groot dele word ook beslaan deur die Ib-grondpatroon wat uit rotsgebiede met diverse gronde bestaan. Die Da- en Db-grondpatrone is beperk tot die oostelike gedeelte van die Streek, terwyl diep, ongedifferensieerde afsettings slegs langs die riviere en waterbane aangetref word.

Aangesien slegs die dominante grondpatroon per landtipe gebruik is, moet daar in gedagte gehou word dat die breë grondpatroonkaart (Fig. 1) slegs as riglyn vir die Streek in die geheel opgestel is, en dus nie vir gedetailleerde veldondersoeke, soos op plaasvlak, gebruik kan word nie.

 

VERWYSINGS

ANON., 1981. Landbou-ontwikkelingsprogram, Karoostreek, Departement van Landbou en Visserye, Middelburg, K.P.

BRADY, N.C., 1974. The nature and properties of soils, 8th ed. New York: MacMillan Publishing Co. 636 pp.

DEPARTMENT OF MINERAL AND ENERGY AFFAIRS, l980. Stratigraphy of South Africa. Handbook 8. Part 1: Lithostratigraphy of the Republic of South Africa. Pretoria: Government Printer. 690 pp.

DEPARTEMENT VAN LANDBOU EN VISSERYE, 1982. Beskrywing van voorlopige landtipes met spesiale verwysing na plantegroeiformasieklasse. Finale verslae K-VI.17/1-17/16.

DEPARTEMENT VAN LANDBOU-TEGNIESE DIENSTE, 1979. Landtipereeks, 1:250 000-kaart, 3024 Colesberg. Pretoria: Staatsdrukker.

ELLIS, F. & LAMBRECHTS, J.J.N., 1983. Voorkoms en eienskappe van gebleikte A-horisonte aangetref in gronde van ariede en semi-ariede dele van Suid-Afrika, Stellenbosch. (Ongepubliseerd.)

MACVICAR, C.N., DE VILLIERS, J.M., LOXTON, R.F., VERSTER, E., LAMBRECHTS, J.J.N., MERRYWEATHER, F.R., LE ROUX, J., VAN ROOYEN, T.H. & HARMSE, H.J. VON M., 1977. Grondklassifikasie. 'n Binomiese sisteem vir Suid-Afrika. Departement van Landbou-tegniese Dienste, Navorsingsinstituut vir Grond en Besproeiing. Wetenskaplike Pamflet no. 390.

NAVORSINGSINSTITUUT VIR GROND EN BESPROEIING, 1984. Verslag van faset: Landtipe-opname (terreinvorm, gronde, klimaat) van die Karoostreek.

ROUX, P.W., 1966. Beginsels van veldbeheer in die Karoo en aangrensende droë soetgrasveldstreke (In Hugo, W.J. Die kleinveebedryf in Suid-Afrika.) pp. 3l8-340 Pretoria: Staatsdrukker.

VAN DER MERWE, C.R., 1962. Soil groups and subgroups of South Africa. 2nd and revised edition of Science Bulletin No. 32. Pretoria: Government Printer.

VORSTER, M., 1985. Die ordening van die landtipes in die Karoostreek in Redelik Homogene Boerderygebiede deur middel van plantegroei- en omgewingsfaktore. D.Sc.-proefskrif: P.U. vir C.H.O., Potchefstroom.

WESTFALL, R.H., DEDNAM, G., V AN ROOYEN, N. & THERON, G.K., 1982. PHYTOTAB - A program package for Braun-Blanquet tables. Vegetation 49: 35-37.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 19-23