Last update: April 10, 2012 08:43:22 AM E-mail Print

 

Laat die grond toets

PL Le Roux

 

SKEIKUNDIGE grondtoetse is vandag 'n erkende hulpmiddel in die boerdery. Baie grondmonsters word jaarliks deur die Departement van Landbou getoets en die nodige aanbevelings aan boere gemaak.

 

DIE DOEL

Die grond bevat verskillende plantvoedingstowwe en betreklik gesproke kom slegs 'n klein gedeelte van hierdie voedingstowwe in die grond voor in 'n vorm wat vir die plante geredelik toeganklik is. Deur gronde skeikundig te toets, word vasgestel hoeveel van hierdie plantvoedingstowwe vir die plante toeganklik is en die resultate gebruik om die mees doeltreffende bemestingsprogram vir 'n bepaalde gewas voor te skryf.

'n Ander aspek van skeikundige grondtoetse is om te bepaal of die grond suur of alkalies is, d.i. die pH-waarde van die grond. Die meeste boere is met hierdie term bekend wat 'n eenvoudige manier is om die intensiteit van suurheid of alkaliniteit in die grond uit te druk. So dui 'n pH-waarde van 7.0 'n neutrale grond aan. Gronde met 'n pH hoër as 7.0 is alkalies, terwyl suur gronde 'n pH laer as 7.0 het. Die pH van gronde in Suid-Afrika varieer tussen pH 4, en selfs laer (sterk suur) , tot pH 9, en selfs hoër (sterk alkalies). Die meeste landbougewasse groei die beste in gronde wat net effens suur is, d.i. pH van 6.5. By hierdie pH sterkte is die plantvoedingstowwe ook gewoonlik die meeste toeganklik vir die gewasse. Deur die pH in die grond te bepaal, kan aanbevelings gemaak word om die pH van gronde binne redelike perke van bogenoemde ideaal te hou.

Skeikundige grondtoetse is ook waardevol om die oorsake vir swak opbrengste en misoeste vas te stel. Sulke onbevredigende resultate word dikwels gevind as gevolg van onvoldoende beskikbare plantvoedingstowwe, veral fosfaat en stikstof, 'n te hoë konsentrasie van braksoute in die grond, swak grondstruktuur, besproeiing met water met 'n te hoë brakinhoud, en so meer.

 

AANBEVELINGS

Die korrekte vertolking van hierdie skeikundige grondtoetse is van besondere belang. Die opstelling van bevredigende bemestingsprogramme vereis aansienlike ondervinding en word baseer op die resultate verkry uit veelvoudige kunsmisproewe. 'n Bevredigende aanbeveling is verder net moontlik indien verwante veldgegewens soos vorige gewasse en bemestingstoedienings op die grond, dreinasie, gronddiepte en -struktuur, en so meer, bekend is. j

Hierdie inligting word gevra in vorm U.A.D. 151 en boere word sterk aangeraai om eers so 'n vorm van sy Voorligtingsbeampte of die naaste Landboukollege te bekom, voordat grondmonsters vir ondersoek aangestuur word. Die vorm gee ook volledige aanwysings vir die neem van grondmonsters.

Hierbo is gemeld dat die vertolking deur die landbouskeikundige in 'n groot mate afhang van navorsingsresultate. Ten einde hierdie navorsing meer pertinent aan die boere se probleme te koppel, is die Landboukollege Grootfontein tans besig met 'n opname van die toestande waaronder gewasse in die Karoostreek verbou word.

 

GRONDPROBLEME IN DIE BOERDERY

Uit die groot aantal grondmonsters wat reeds by die Landboukollege Grootfontein ondersoek is, het dit geblyk dat boere in die Karoo- en Oos-Kaapstreke hoofsaaklik. met die volgende probleme in hulle gronde te kampe het:

(i) As gevolg van langdurige verbouing is die grond totaal uitgeput. Sulke gronde kan alleenlik herwin word deur doeltreffende bemesting toe te dien, terwyl 'n goed beplande wisselboustelsel toegepas word.

(ii) Meeste van die gronde wat hier ondersoek word bevat min organiese materiaal. Die opgaar van aIle organiese afvalmateriaal vir gebruik op landerye moet in hierdie verband besonder aangemoedig word om sodoende die inhoud aan organiese materiaal van verboude gronde te probeer verbeter.

(iii) Sommige gronde in die Oos-Kaapstreek, veral die kusstreke, is te suur. Hierdie gronde kan verbeter word deur in sterk suurgronde (pH laer as 5.5) o.a. kalk toe te dien, terwyl gronde met 'n pH tussen 5.5 en 6.5 met basiese bemestingstowwe bemes moet word,

(iv) In teenstelling met hierdie suurgronde. word in die Karoostreek dikwels swartbrakgronde aangetref. Hierdie grond is weer te alkalies (pH hoër as 8.5) as gevolg van die feit dat dit vry natriumkarbonaat (wassoda) bevat. Min plante verdra so 'n hoë alkaliniteit en verder is die klei in 'n ontvlokte toestand, slaan toe en is hierdie tipe grond gevolglik sleg gedreineerd en deurlug. Swartbrak gronde ontstaan gewoonlik in hierdie streek wanneer onoordeelkundig met vloedwater of water met 'n te hoë pH besproei word. Hierdie tipe grond word gewoonlik herwin deur die toediening van gips.

(v) Dit word dikwels gevind dat die grond te brak is vir gewone gewasse om daarop te groei. Een van die kenmerke van sulke gronde is dat hulle 'n hoë konsentrasie van soute soos natriumkloried (tafelsout) en natriumsulfaat (glaubersout) bevat. Die konsentrasie van braksoute in die grond word dikwels te hoog onder besproeiing omdat die dreinasie swak is of met water met 'n te hoë brakinhoud besproei word. Dit is dus noodsaaklik dat die boer sy beskikbare water vir besproeiingsdoeleindes moet laat ondersoek. Moeilikheid word dikwels in die Karoostreek ondervind om lusern te vestig.

Jong lusern is redelik gevoelig vir brak, terwyl gevestigde lusern baie meer weerstandbiedend is teen die konsentrasie van braksoute in die grond. Gronde wat te brak geword het, kan herwin word deur swaar besproeiings te gee, veral gedurende die reënseisoen met ‘n goeie besproeiingswater op gronde wat goed dreineer. Om hierdie dreinasie van braksoute te bevorder moet mis, kompos of strooi ook in die grond gewerk word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 32 (9)