Last update: April 10, 2012 11:21:58 AM E-mail Print

 

Grondtonnels in die Vlekpoortvallei

Roscar du Toit

 

'N BEJAARDE BOER wat in die Vlekpoortvallei in die distrik Maraisburg groot geword het, deel mee dat sy oorlede vader nie deur die vallei te perd kon ry nie omdat al die vleie vol fluitjiesriet en te ruig was, en dat hy self vandag nie daardeur kan ry nie weens al die diep slote !

In verband met hierdie slote is daar 'n verskynsel wat tot dusver min aandag geniet het. Dit is die totstandkoming van tonnels of onderaardse gange wat ongemerk tussen ewewydiglopende slote gevorm word, en die uitbreiding van die slote en algemene verwoesting aanhelp en nog steeds bevorder.

Die ontstaan van die ondergrondse deurgange of tonnels is miskien nie so maklik verklaarbaar nie en die oorsake in een geval is nie noodwendig dieselfde as 'n ander nie. Een ding is egter duidelik, naamlik dat hierdie toestande slegs in diep en hoogsverspoelbare grond geskep kan word, wat baie maklik in suspensie gaan as hulle nat word en waarin sedimentêre lagies fyn gruis of sand voorkom. Waar gruis- of sandlagies twee slote verbind, kan 'n mens aanneem dat sypelwater deurgewerk het en so die oorsprong van die tonnel geword het. Dit kan in sekere gevalle ook die gangetjies wees wat na die verrotting van plantwortels gelaat is wat aan die water deurgang verleen het. Ook kan die tonnels wat deur springhase, meerkatte, erdvarke, miere, ens., gemaak word; as verantwoordelik vir die kwaad gehou word. Dassies word gewoonlik in hierdie ondermynde gronde aangetref en derhalwe word die "grotte" waarin hulle woon , gewoonlik as 'n dassie-nes" beskrywe, maar dis twyfelagtig of hierdie diersoort, wat nie juis 'n gatgrawer is nie, baie bydra om die tonnelproses aan te voor.

Afgesien van die gewone tonnel tussen twee slote, kom 'n ander eienaardige verskynsel voor, naamlik 'n diep gat wat onverwags om 'n een of ander rede penregaf in 'n heel stuk grond ontstaan en met 'n tonnel aan 'n naburige sloot verbind is. Of die ontstaan van so 'n diep gat toegeskryf moet word aan 'n verrotte plantwortel of 'n dier, of 'n mier, moet maar deur elke waarnemer self vasgestel word. Daar bestaan egter rede om te glo dat so 'n gat, wat soms 15 voet en selfs dieper is, kan ontstaan as gevolg van 'n baie hoë persentasie lugruimtes in die grond op die betrokke plek, veral as die grondtekstuur en -struktuur van sodanige aard is om dit moontlik te maak.

By gewone grond-damwalle en ander grondwalle wat vir gronderosiebestrydingsdoeleindes opgerig word, is die verskynsel van tonnelvorming ‘n regte nagmerrie vir die boer en die grondingenieur. By pasgeboude grondwalle word daar soms met die eerste reëns tonnels gevorm en dan is daar weer die uiterste geval waar 'n damwal vir 'n tydperk van vier tot selfs twintig jaar goed hou, en dan skielik en onverwags ondermyn word deur 'n tonnel wat die dam leeg lei.

Nuwe grondwalle ontwikkel tonnels gewoonlik net in gevalle waar die grond nie goed vasgetrap is nie, met die gevolg dat daar dan te veel lugruimtes in so 'n wal is. Om hierdie toestand in die praktyk te oorkom is nie te maklik nie want so baie hang af van die optimale hoeveelheid vog wat elke tipe grond vir deeglike vastrap vereis. Dis haas onmoontlik vir die boer om die grondvog optimaal te hou en behoorlike vastheid te kry, veral in die geval van Vlekpoortgronde wat “snuif-trap” as hulle te droog is en "klei-trap" as hulle te nat is. Die beste uitweg in die praktyk is om die natuurlike brakgronde met tot 50 persent sand of fyn gruis te meng, met die opskrop van 'n wal. Hierdie mengsel beheer nie juis die optimale voggehalte nie, maar dit kan as 'n goeie "antitonnel"- materiaal beskou word, aangesien dit, onder andere, uitsetting en inkrimping van die grond baie teëwerk.

Ou bestaande damwalle wat van brakgrond gemaak is, ontwikkel gewoonlik net tonnels as hulle 'n geruime tyd droog gestaan het.

Die verklaring hiervoor is dat hierdie brakgronde uitsit of swel as water opgeneem word, en dan in daardie toestand bly totdat dit droog word en krimping, wat fyn onsigbare barsies veroorsaak, plaasvind. So 'n dam sal met slegs 10 punte reën tonnels kry want baie min water is nodig om deur die hoogsverspoelbare grond te syfer en 'n tonnel wat groot genoeg is vir die instorting van die wal, te veroorsaak.

By gemesselde of betonstudamme met pitmure in die grondwalle, moet voorsorg gemaak word dat goeie " antitonnel "- materiaal aansluit by die pitmure en vlerkmure, anders sal die eerste vloedwaters ongelooflike fratse uithaal en, soos die boere hier sê 'n pomp maak om die pitmuur. Die sogenaamde "pomp" is niks andere as 'n sterk watersyfering en die begin van ‘n tonnel nie. Veral in die geval van studamme waar gewone sinkplate as vorms vir die gooi van konkreet gebruik word, moet rekening gehou word met die sinkplaatgroewe in die konkreet wat 'n ideale geleentheid gee vir die gewone brakgronde om 'n syfering of " pomp" te maak al langs en of meer van die groewe deurdat die grond met krimping wegtrek van die konkreet. 'n Goeie gruismengsel moet in sulke gevalle stewig vasgestamp word langs die vlerk- en pitmure.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 22