Last update: April 12, 2012 08:08:10 AM E-mail Print

 

Hamelboerdery

CT Van Rensburg

 

MNR. C. T. VAN RENSBURG, Skaap- en Wolbeampte, Grootfonteinse Landbouskool sê dat baie boere vir hierdie klas van skaapboerdery ingaan, en daar is waarskynlik baie van hulle wat volkome sukses hiermee behaal. In Australië is dit opmerklik om te sien met hoeveel aandag, kennis en oorleg die boer hamelboerdery onderneem. Soos in baie ander besighede moet die saak eers goed oorweeg word, die planne moet die werklikheid voorafgaan.

Miskien is daar maar baie min skaapboere vandag, wat nie 'n klompie hamels tussen hul skape hou nie, miskien word die hamelboer baie keer op gelyke voet gestel met 'n spekulateur. Maar as hamelboerdery sistematies en prakties gedrywe word, is dit nie 'n dobbelspel nie, maar wel 'n lyn van goeie gesonde skaapboerdery.

 

Die Plaas

Die plaas moet die weiding, die kos verskaf vir die hamel, en dit verdien dus die eerste konsiderasie van die boer wat wil ingaan vir hamelboerdery. Geskikte veld en weiding is die vernaamste faktor. Hoe beter behandeling die hamel kry, hoe beter wol sal hy lewer, en hoe groter sy karkas gaan wees. Maar dit gebeur baie dat die boer orige veld of voer het wat hy deur die hamel winsgewend kan laat oorsit in wol en vleis. In so 'n geval sal die wakkere boer sy kans sien en daarvan gebruik maak.

Gaan daar nie baie keer van ons weiding verwaarloos deur ryp of winter wat ons in wins kon oorgesit het, of van ons produkte of graan, wat ons voordelig as hamelvoer kon verbruik het nie? Laat die boer hier vir homself besluit.

Deur die plaas verstandig op te deel in kampe, deur behoorlike veldbeheer te beoefen, kan 'n boer baie keer in 'n kans staan om die hamel voordelig op sy plaas te hou. Onder gewone omstandighede is die ooi duurder om aan te koop en verdien meer aandag die hamel daarenteen kom meer op die mark en kan verkoop word wanneer hy geskik is vir die mark.

Hoewel die plaas en die boer self groot faktore is wat sal toedoen of afbreek aan die wins van hierdie boerdery, nogtans is die hamel of klas van hamels 'n derde faktor wat spesiale aandag verdien.

 

Die Ongewenste Hamel

Boere van ondervinding weet daar is so 'n dier as 'n slegte, onvoordelige hamel. het sowel as daar is wat voordelig is. Die klein, sleggeteelde hamel wat nie wil groei of groot word nie, altyd in swak kondisie is, wat maar van drie tot vier pond wol op 'n jaar se groei afskeer, is nie 'n baie voordelige merinohamel nie. Hy is te klein en dra te min wol. Dan is daar die hamel met 'n swak konstitusie, wat swak van bene en bouvorm is. Die hamel word nie vet nie en slag nie 'n goeie gewig nie. Die hamel se bek moet gesond wees: hiermee moet hy sy baas betaal vir wat hy vreet. 'n Ou hamel is dus nie gewens nie; ook nie 'n hamel met 'n slegte bek nie, want hy kan nie goed vreet nie omdat die een kakebeen langer is as die ander, en die dier is nie in staat om die gras behoorlik en maklik af te byt nie.

Die kortwol, en tot 'n oormate geplooide hamel is ook ongewens. Hierdie soort hamel is altyd agter en gewoonlik swak in kondisie – gaan swaar om vet te kry vir die slagter. By droogtes of wanneer skaars tye kom, val die ongewenste hamels altyd eerste af in kondisie, en bly altyd agter as die slagter kom uitsoek. Hamels met baie toe gesigte, is baiekeer swak in kondisie omdat hulle nie kan sien om te wei nie, en baie senuweeagtig. Die oë moet altyd oopgeskeer word, of nog beter, vermy die aankoop van toegesig-hamels.

 

Die Gewenste Hamel

Die gewenstheid of diensbaarheid van die hamel hang grootliks af van die profyt wat kan gemaak word. Hiermee moet ook in aanmerking geneem word die prys waarvoor die hamels gekoop word. Die gewenste hamel moet in die eerste opsig sterk en gesond wees van konstitusie, daarby moet hy 'n voordelige wolvag dra. Hoe groter die hamel en hoe beter die gehalte van sy vag, hoe meer wol en vleis. en hoe hoër gevolglik die markwaarde.

'n Hamel van tweetand na volbek dra gewoonlik die beste wol en vermeerder in gewig. Sodra sy tande begin slyt dan neem sy produktiwiteit af, hy dra nie meer dieselfde hoeveelheid wol nie, en sy gewig gaan nie meer op nie. Die verstandige boer gaan die hamels verkoop voordat hulle begin afgaan in gewig en wolopbrings.

Die egaligheid van die klomp hamels is een van die vernaamste punte om in aanmerking te neem. Die egalige wolskeersel wat van 'n egalige klomp hamels geskeer word, is baie aantreklik vir die wolkoper. Die egaligheid van voorkoms in 'n klomp hamels trek die oog van die slagter. Dus kan 'n hamelboer, nie verkeerd gaan nie as hy sy hamels behoorlik gaan uitsoek of klassifiseer. 'n Goeie hamel betaal beter en 'n slegte hamel moet plek maak vir die voordeliger hamel.

Dit is wenslik om waar moontlik die kwaliteit van wol op die hamels so egaal moontlik te kry, want dan kan 'n egalige skeersel wol verwag word by skeertyd.

Daar wolgroei grotendeels afhang van die kos of egaligheid van weiding gedurende die wolgroeiperiode, is dit van belang om hierdie punt altyd te onthou: Hoe egaliger die weiding gedurende die jaar is, hoe egaliger die groei van die wol. Probeer dus die hamels altyd in goeie, groeiende kondisie te hou.

Waar moontlik, is dit baie keer 'n goeie plan om hamels aan te koop van telers wat 'n goeie klas hamel teel. Sulke hamels is goed geteel, egalig van tipe en gevolglik is hulle feitlik die beste klas hamel om mee te boer. Van hierdie hamel kan 'n vergelyklike goeie karkas verwag word, en die vag ,behoort ook goed en van goeie gehalte en gewig te wees.

Soms sluit hamelboere kontrakte met telers van 'n goeie klas skaap om al hul jong hamels elke jaar aan te koop.

Die boer moet in alle opsigte dan probeer om die beste klas hamel te kry vir die doel, maar moot dan ook aandag daaraan wy dat hy nie besmette hamels op sy plaas bring nie. Waar hamels onderhewig is aan maagwurms of ander nadelige parasiete, moet versigtig te werk gegaan word, anders word die hele plaas besmet met siektes.'n Goeie plan is om die nuwe aangekoopte hamels eers te doseer teen maagwurms en hulle goed te ondersoek, voordat hulle na hul kampe gejaag word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 4