Last update: March 30, 2012 12:31:25 PM E-mail Print

 

Die rol van water by herkouers

 

P.J.L. ZEEMAN

Diereproduksie

Landboukollege Grootfontein

MIDDELBURG K.P. 5900

 

INLEIDING

Water is 'n essensiële bestanddeel van alle lewende organismes. Dit is veral die geval by diere aangesien water die grootste enkele bestanddeel van hul liggame is. Die waterinhoud van diere wissel van 75 tot 80% by geboorte terwyl die waterinhoud van die volwasse dier tussen 50 tot 60% geleë is.

Die lewensbelangrike rol van water in die diereliggaam word deur Rubner (1854-1932) se waarneming bevestig dat 'n dier feitlik al sy vet en meer as helfte van sy proteïene kan verloor en nog bly lewe terwyl 'n verlies van slegs 10% van sy liggaam se water die dood tot gevolg kan hê. (Maynard, Loosli, Hintz & Warner, 1979). Verder het Adolph (1933) daarop gewys dat in terme van omset, water die hoogste rangorde van alle bestanddele in die liggaam beklee. Gevolglik maak water die grootste deel van enige dier se daaglikse voedingstof inname uit.

Die herkouer is spesiaal ontwerp om ekstensiewe weiveld te benut. Die herkouers sluit skape, beeste, bokke en kamele in, asook 'n wye verskeidenheid antiloop-soorte (wildsbokke). Aangesien water in die meer ariede gebiede dikwels 'n beperkte faktor is, is dit te verwagte dat dit 'n belangrike rol speel in die diere se weidingsgedrag asook voerinname en gevolglik ook hulle produksietempo's.

 

WATERBENODIGDHEDE

Water word benodig om die fisiologiese behoeftes van diere naamlik vir afkoeling, uitskeiding van afvalstowwe en ander metaboliese prosesse te bevredig. Ten einde 'n dier In waterbalans te hou, word sy behoefte op drie maniere bevredig, naamlik:

(i) Water wat vrywillig ingeneem word, dit wil sê drinkwater.

(ii) Water in die voer wat die dier vreet.

(iii) Water wat deur metabolisme binne die dier se liggaam gevorm word, naamlik metaboliese water.

 

Metaboliese water maak tussen 5 tot 10%van die totale wateromset van plaasdiere uit en die hoeveelheid geproduseer hang van die metaboliese tempo in die liggaam af (Maynard et aI, 1979). Schmidt Nielsen (1962) het beraam dat die toename in respirasie by 'n kameel vir die metabolisme (katabolisme) van 1,0 6kg vet, in 'n droë atmosfeer, 'n verlies van 1,8 kg water vanuit die longe tot gevolg sal hê, terwyl slegs 1,1 kg metaboliese water geproduseer word. Dit verteenwoordig 'n verlies aan water wat uit ander bronne aangevul moet word. Metaboliese water kan dus nie in die weidende herkouer se waterbehoeftes voorsien nie. Gevolglik word drinkwater en water in die voer hoofsaaklik aangewend om herkouers se waterbehoeftes te bevredig. Die gemiddelde waterbenodigdhede van sommige herkouers word in Tabel 1 aangegee.

 

 

Die gemiddelde hoeveelheid water wat 'n dier benodig word deur 'n verskeidenheid faktore naamlik die soort dier, fisiologiese staat van die dier soos onderhoud, dragtigheid, laktasie en groei, omgewingstemperatuur, en ander faktore beïnvloed.

 

FAKTORE WAT WATERINNAME BEïNVLOED

(a)   Genera en spesies (Soort dier)

Daar is groot verskille in waterbenodigdhede tussen verskillende diersoorte. In 'n vergelykende studie tussen verskillende herkouers het King (1979) vasgestel dat gemsbokke die herkouer met die laagste wateromset is, terwyl die wateromset van kamele 1,39; skape 1,74; bokke 1,82; elande 2,12; zebubeeste 2,3 en buffels 2,62 keer hoër as gemsbokke is. Die verskille tussen die verskillende diersoorte is hoofsaaklik aan verskille in vloeistofabsorbering deur die niere en in die dermkanaal toegeskryf (Macfarlane & Howard, 1970), terwyl ander faktore soos verskille in metaboliese tempo, liggaamstemperatuur, haarbedekking, selektiewe vreetwyse en ander gedragspatrone bydraende faktore is (King 1979). Daar is ook betekenisvolle verskille tussen skaap- en beesrasse wat op dieselfde weidings wei. Merinoskape se wateromset is byvoorbeeld 20 tot 30% laer as die van Leicesterskape (Macfarlane, Howard & Siebert, 1967), terwyl Dorperskape weer 'n laer wateromset as Merinoskape het (Macfarlane, 1974). Fynwol Merinoskape het verder ook 'n kleiner wateromset as Merinoskape wat sterkwol produseer (Macfarlane & Howard, 1970). By beeste is die wateromset van die Bos taurus 20% hoër as die Bos indicus tipes (Springell, 1968). Die verskille tussen diersoorte en rasse is moontlik aan verskille in die omgewing van oorsprong toe te skryf. Verskille in wateromset behoort ook 'n belangrike faktor te wees in die bepaling van aanpasbaarheid van diersoorte in ekstensiewe gebiede met min water.

 

(b) Die fisiologiese status van diere

Waterinname, wateromset en gevolglik ook die waterbenodigdhede van die diere varieer verhoudelik tot die fisiologiese status waarin hulle verkeer. Net na geboorte is die waterinhoud van 'n soogdier se liggaam ongeveer 20 tot 25% hoër as die van 'n volwasse dier (Maynard et aI, 1979). Die hoër waterinhoud asook 'n meer aktiewe metabolisme het tot gevolg dat die water benodigdhede vir groei ongeveer twee keer hoër is as vir onderhoud van 'n volwasse dier (A.R.C. 1980). Macfarlane & Howard (1970) het vasgestel dat die omset van liggaamswater van suiplammers 26% was teenoor 12% by jaaroud skape en 6% by volwasse skape. Die waterbehoefte neem gevolglik af met 'n toename in ouderdom en afname in groeitempo. Thickett, Cuthbert, Brigstoke, Lindemann & Wilson (1981) het verder vasgestel dat waterinname betekenisvol gekorreleerd is met gewigstoename en droë materiaal inname. Dit beteken dat indien water beperk word die voerinname van herkouers en gevolglik hul groeitempo nadelig beïnvloed sal word.

Die waterbehoefte van dragtige diere neem vinnig toe met 'n toe name in dragtigheidsduur. Head (1953) het aangedui dat ooie in die 5de maand van dragtigheid ongeveer 2 keer meer water inneem as ooie gedurende die eerste maand van dragtigheid. Verder is vasgestel dat ooie wat 'n tweeling dra weer ongeveer 1,5 keer meer water benodig as ooie met eenlinge (Forbes, 1968). Dit blyk verder dat die invloed van dragtigheid by beeste 'n soortgelyke tendens toon (A.R.C., 1980). Proporsioneel tot hulle liggamsgewig is die waterbenodigdhede van melkproduserende diere die hoogste gedurende die piek laktasietydperk, waarna dit geleidelik afneem na die einde van laktasie (A.R.C., 1980). Gedurende die piek van melkproduksie benodig lakterende diere ongeveer 1,5 keer meer water as droë diere (Forbes, 1968). Die grootste deel van die verhoogde waterinname word aangewend vir die produksie van melk wat 85 tot 87% bevat (A.R.C., 1980). Die voorsiening van voldoende water gedurende reproduksie en groei is dus van groot belang by weidende herkouers.

 

(c) Omgewingstemperatuur en ander klimaatsfaktore

Water speel in intieme rot by die temperatuurregulering van 'n dier se liggaam. Gevolglik sal omgewingstemperatuur, en faktore wat dit beïnvloed, 'n invloed op die wateromset en waterbenodigdhede van diere uitoefen. So byvoorbeeld was die verhouding tussen waterinname en droëmateriaal inname van beeste skynbaar konstant tussen -12°C tot 4°C en het waterinname toegeneem met 'n styging in temperatuur bo 4°C (Mc Donald & Bell; 1958). Die waterinname van droë skape was tot by 15°C ± 2kg, van 15 tot 20°C ± 2,5kg en by temperature bo 30°C:t 3kg per kg droëmateriaal ingeneem (Anad Parker & Parker, 1966). Droë beeste het -17 tot 10°C, 5,2kg; 11 tot 15°C, 5,4kg; 16 tot 20°C, 6,1kg en vanaf 21 tot 25°C, 7kg water per kg droëmateriaal ingeneem (A.R.C., 1980). 'n Toename in relatiewe vogtigheid veral by hoë temperature lei tot 'n verlaging in waterinname met 'n verhoging in die waterdrinkfrekwensie (Ragsdale, Thompson, Worstell & Brody, 1953). Dit blyk verder dat die verlaging in waterinname by hoë temperature en vogtigheid gedeeltelik bydra tot laer droëmateriaal innames en 'n verlaging van vogverdamping vanaf die vel en uit die longe (A.R.C., 1980). 'n Toename in windspoed tot 45 m/s by 'n lugtemperatuur van 10 tot 27,6°C het 'n effense verlaging in waterinname tot gevolg, maar by 35°C was waterinnames dieselfde by 'n windspoed van 1,8 en 45 m/s (Brody, Ragsdale, Thompson & Worstell, 1954). Dit blyk dus dat omgewingstemperatuur die belangrikste invloed op waterinname uitoefen.

 

(d) Voerbestanddele en minerale

Verhoogde voerinnames (droë materiaal) hou in die algemeen verband met 'n verhoging in vrywillige waterinname (Thickett, et al, 1981). Vir 'n gegewe liggaamsgrootte is waterinname egter hoër by voere met 'n hoe voginhoud as by voere met 'n lae voginhoud sodat waterbenodigdhede oorskry word op sappige voere (Leitch & Thompson, 1944 - 45). Herkouers drink verder meer water as hulle rantsoene met ‘n hoë proteïen-inhoud inneem aangesien die stikstof endprodukte 'n groter urinevolume vir uitskeiding benodig (Sykes, 1955). Die inname van voere met 'n hoe minerale-inhoud soos plante met 'n hoe sout-inhoud, brak water, asook soutbevattende aanvullings het ook verhoogde waterinnames tot gevolg. Aangesien oortollige hoeveelhede minerale hoofsaaklik in die urine uitgeskei word, is die uitskeiding van water ook groter (A.R.C., 1980).

 

WATERINNAME DEUR WEIDENDE HERKOUERS

AI die faktore wat waterinname beïnvloed sal 'n effek hê op die waterbenodigdhede van die weidende herkouer. Die weidende herkouer moet egter loop om sy voer in te neem. Hierdie aktiwiteit lei tot 'n verhoogde energieverbruik (Graham, 1982). wat die waterbenodigdhede sal verhoog. Op 'n yl bedekte ekstensiewe weiding sal water benodigdhede nog groter wees. In die geval sal 'n weidende herkouer dus 'n kompromie moet tref tussen die drinkfrekwensie wat verkies word en die afstand wat afgelê moet word van 'n waterpunt na die naaste onbeweide of minder beweide gedeeltes (Arnold & Dudzinski, 1978). In klein kampies met verskeie waterpunte neem die waterdrinkfrekwensie toe met 'n toename in omgewingstemperatuur. In so 'n geval word die grootste deel van die herkouer se loopafstand aan wei spandeer. Indien die waterpunte in groot kampe egter beperk is, word die grootste deel van die totale loopafstand spandeer om water te drink (Arnold & Dudzinski, 1978). In laasgenoemde geval mag diere te min water inneem. Te lae waterinnames lei tot 'n aansienlike afname in produksie wat gedeeltelik aan 'n afname in voerinname toegeskryf kan word (English, 1966; Konar & Thomas, 1970; Umunna, Chinene, Sator, Ahmed & Abed, 1981). Herkouers kan egter tot 'n mate kompenseer vir 'n beperking in waterinname deur minder water in die mis uit te skei, urine met 'n hoër konsentrasie afvalstowwe uit te skei (dit behels nie noodwendig 'n kleiner volume urine nie), asook met 'n laer respirasietempo (Little, Sansom, Manston & Allen, 1976). Schmidt-Nielsen, Crawford & Hammel (1981) het verder vasgestel dat kamele selfs respiratoriese waterverliese kan beperk deur lug met 'n laer temperatuur as liggaamstemperatuur en relatiewe vogtigheid laer as 100% uit te asem. Skaduweevoorsiening in ariede omgewings kan verder 'n dier se waterbenodigdhede met 19% verminder (Roman-Ponce, Thatcher & Wilcox, 1981).

 

GEVOLGTREKKINGS

Water vervul 'n belangrike funksie in die metabolisme en fisiologie van herkouers. 'n Beperking op waterinname het tewens 'n nadelige effek op 'n herkouer se produksie. Verskeie faktore naamlik die soort dier, fisiologiese staat van die dier, omgewingstemperatuur en voersamestelling het 'n invloed op 'n dier se waterbenodigdhede. Met in ag neming van hierdie faktore is watervoorsiening 'n belangrike bestuursaspek. Onder ekstensiewe toestande kan die verspreiding van waterpunte lei tot 'n meer eweredige benutting van beskikbare plantmateriaal. Verder is skaduweevoorsiening in ekstensiewe dele 'n belangrike oorweging aangesien dit waterbehoeftes verminder. (Onder ekstensiewe toestande waar water met windpompe gepomp word, moet reservoirs ongeveer 14 dae se water kan stoor. 'n Reservoir se volume word bereken op 5 x 14 dae x tropgrootte waar 5 die gemiddelde waterbehoefte in liter per kleinvee-eenheid is. 'n Minimum lopende suipkriplengte van 2,5cm per kleinvee-eenheid word verder aanbeveel).

 

VERWYSINGS

ADOLPH, E.F., 1933. Physiol. Rev. 13,336.

ANAD, R.S., PARKER, A.H. & PARKER, M.R., 1966. Am. J. Vet. Res. 27, 899.

A.R.C., 1980. The nutrient requirements of ruminant livestock. London, C.A.B.

ARNOLD, G.W. & DUDZINSKI, M.L. 1978. Ethology of free-ranging domestic animals. Amsterdam, Elsevier Scientific Publishing Company.

BRODY, S., RAGSDALE, A.C., THOMPSON, H.J. & WORSTELL, D.M, 1954. Res. Bull. Mo. Agric. Exp. Stn. No. 545.

ENGLISH, P.B.1966, Res. Vet. Sci. 7, 133.

FORBES, J.M., 1968. Br. J. Nutr. 22,33.

GRAHAM, N. MCD., 1962. Nature. 196,289.

HEAD, J.J., 1953. J. Agric. Sci. Camb. 43,214.

KING, J.M., 1979. J. Agric. Sci. Camb. 93, 71.

KONAR, A. & THOMAS, P.C. 1970. Br. Vet. J. 126,25.

LEITCH, I. & THOMPSON, J.S., 1944 - 45. Nutr. Abstr. Rev. 14,197.

LITTLE, W., SAMSON, B.F., MANSTON, R. & ALLEN, W.M., 1976. Anim. Prod. 22,329.

MACFARLANE, W.V., 1974. Handbook of physiology environ. ment. Washington D.C. Amer. Phys Soc. 4,509

MACFARLANE, W.V. & HOWARD, BETH, 1970. Water in the physiological ecology of ruminants. In Physiology of digestion and metabolism in the ruminant. ED A.J. Phillipson. Cambridge, Oriel Press.

MACFARLANE, W.V., HOWARD, B. & SIEBERT, B.D., 1967. Aust. J. Agric. Res. 18,947.

MAYNARD, L.A., LOOSLI, J.K., HINTZ, H. F. & WARNER, G.W., 1979. Animal Nutrition. New York, McGraw Hill Bocc Co.

McDONALD, M.A. & BELL, J.M., 1958. Can. J. Anim. Sci. 38,23.

RAGSDALE, A.C., THOMPSON, H.J., WORSTELL, D.M. & BRODY, S., 1953. Res. Bull. Mo. Agric. Exp. Stn. No 521.

ROMAN-PONCE, H., THATCHER, W.W., WILCOX, C.J., 1981. Theriogenology. 16,139.

SCHMIDT-NIELSEN, K., 1962. Mo. Agric. Exp. Stn. Special Rept. 21,1.

SCHMIDT-NEILSEN, K., CRAWFORD, E.C. & HAMMEL, H.T., 1981. Proc. Royal Soc. London. 211,291.

SPRINGELL, P.J., 1968. Aust. J. Agric. Res. 19,129.

SYKES, J.F., 1955. Yb Agric U.S. Dep. Agric. P 14.

THICKETT, W.S., CUTHBERT, N.H., BRIGSTOCKE, T.D.A., LINDEMANN, M.A. & WILSON, P.N., 1981. Anim. Prod. 33,25.

UMMUNNA, N.N., CHINEME, C.N., SAROR, D.I., AHMED, A. & ABED, S., 1981. J. Agric. Sci. Camb. 96,619.

 

Published

Karoo Agric, Vol 2, no 4, 1983, 10-12