Last update: August 18, 2011 09:15:10 AM E-mail Print

 

HEROPBOU VAN VEEGETALLE NA DROOGTE

 

J.J. OLIVIER, M.J. HERSELMAN & M.A. BADENHORST

Landboukollege Grootfontein, Middelburg, 5900

 

Na 'n droogte is elke individuele boer se omstandighede uniek. So byvoorbeeld kan die veldtoestand van sy plaas, die gehalte en samestelling van sy veekuddes ens. drasties van die van sy buurman verskil. Om reëls neer te lê vir die opbou van veegetalle na ‘n droogte wat in alle gevalle geldig moet wees, is dus onmoontlik en selfs voorbarig.

Tog is daar sekere beginsels en feite wat geldig is. Die individuele boer kan sy boerderymetodes opweeg teenoor die feite en beginsels en dan besluit of dit in sy spesifieke geval lonend sal wees om sy metodes aan te pas.

Die eerste beginsel wat hier bespreek sal word, is dat maksimum produksie nie altyd tot maksimum profyt aanleiding gee nie. Na 'n droogte is die vinnige opbou van veegetalle ‘n hoë prioriteit. Die vraag ontstaan of ooie meer as een keer per jaar gepaar moet word. Word met hierdie praktyk meer lammers oor ‘n ooi se leeftyd gespeen as wat die geval sou wees as sy net een keer per jaar gepaar is?

Hierdie vraag is baie moeilik om te beantwoord omrede soveel faktore, waarvan die beskikbare weiding die belangrikste is, die besluit beïnvloed. Min proefresultate in die verband en dan veral met betrekking tot die Dorper is beskikbaar. 'n Paar aanduidings uit eksperimentele datastelle kan egter gebruik word.

Sedert 1986 word te Carnarvon-proefplaas sowel as te Tarka Bewaringsgebied 50 Dorper-ooie en 50 Afrino-ooie elke 6 maande gepaar. Die getal lammers gespeen per ooie gepaar vir elk van die rasse word in Fig. 1 en Fig. 2 voorgestel. Die speenpersentasie met elke paring van beide die Dorper en die Afrino is te Tarka Bewaringsgebied min of meer dieselfde en was vir die periode ongeveer 98% per paring. Daarteenoor was die speenpersentasie van albei rasse te Carnarvon ‘n baie meer op en af tendens (Fig. 1 en Fig. 2). ‘n Goeie lamseisoen is opgevolg deur ‘n swak seisoen. Die gemiddelde speenpersentasie per paarseisoen van die Dorpers was 77% en die van die Afrino’s 73%.

 

 

Hierdie resultate is 'n aanduiding dat onder beter voedingsomstandighede ooie meer geredelik lam en dat reserwes na lamming vinniger opgebou word. Onder swakker voedingsomstandighede vind die opbou van reserwes baie stadiger plaas en beskerm die natuur die ooi teen oormatige lamming. Dit kan ook genoem word dat hierdie resultate in relatief goeie jare ingesamel is en dat die effek in minder gunstige jare nog groter sou wees.

Wat sou die geval gewees het as die ooie net een maal in die jaar sou lam? Slegs data ten opsigte van die Afrino's te Carnarvon is beskikbaar. Die ooie wat elke 6 maande gepaar is het gemiddeld (73 x 2) 146% lammers gespeen. Oor dieselfde tydperk het Afrino-ooie wat eenmaal per jaar gepaar is, 145% lammers gespeen. In hierdie geval het die dubbel paring nie meer lammers tot gevolg gehad nie.

'n Verdere datastel wat gebruik kan word is 'n Namakwa Afrikaner kudde van ongeveer 100 ooie wat sedert 1986 te Tarka Bewaringsgebied aangehou word. In hierdie geval word die ramme deur die jaar by die ooie gehou. Die resultate na 3 jaar was as volg :

 

Ouderdom met eerste lam                 =          492 dae (16 maande)

Gemiddelde laminterval                     =          249 dae (8 maande)

Speenpersentasie per keer gelam      =          96%

Speenpersentasie per jaar                =          144 %

 

Op Carnarvon was die speenpersentasie van die Namakwas, wat net eenmaal per jaar gelam het, gedurende dieselfde tydperk 134% wat goed vergelyk met die 144% wat op Tarka gevind is.

 Uit hierdie resultate blyk dit dat veral in die swakker omgewings, min voordeel i.t.v. verhoogde lampersentasie verkry word deur ooie meer as eenkeer per jaar te paar. ‘n Droogte word normaalweg deur ‘n aantal goeie jare opgevolg en 'n dieregesondheidsprogram is in sulke tye belangrik. As ooie deur die jaar lam, maak dit die toepassing van so ‘n dieregesondheidsprogram baie moeilik. Die gebruik van definitiewe paarseisoene maak 'n doeltreffende bestuursprogram ook moontlik.

 Een van die nadele om ooie net een maar per jaar te laat lam, is dat lammers net gedurende spesifieke tye bemark kan word. Dit verhoog risiko's en kan kontantvloei nadelig beïnvloed. Dit is dan ook vir die redes waarom meer as een lamseisoen in baie gevalle noodsaaklik is. Met twee paarseisoene word alle ooie wat nie lam nie 6 maande later gepaar en met drie paarseisoene word alle ooie wat nie dragtig is nie 4 maande later gepaar. Die invloed van die aantal paarseisoene op die persentasie lammers wat oor 'n jaarperiode bemark kan word, word in Fig. 3 aan getoon. Soos verwag gee die drie paarseisoene ‘n meer eweredige bemarking deur die jaar.

 

 Benewens die bemarkingspatroon van die lammers, het die keuse van 'n paarseisoen ook belangrike implikasies ten opsigte van die veebelading deur die jaar op die plaas. Die ideaal sou wees om die tyd van swaarder belading (lamming) so te kies dat dit sou saamval met die tyd wat die produksie van die veld ook optimaal is. As die veebelading deur die jaar so konstant as moontlik gehou wil word, moet tenminste 4 lamseisoene gebruik word.

 

 Die keuse van 'n geskikte paarseisoen sal dus van boer tot boer verskil. Dit hou egter belangrike implikasies ten opsigte van lampersentasie, bemarkingspatroon, veebelading en getal ooie per GVE, wat later bespreek sal word, in. Hierdie faktore moet geïntegreer word by die keuse van 'n geskikte persoon.

 'n Tweede beginsel wat geld, is dat die dier by die omgewing aangepas moet wees en dat daar nie probeer moet word om die omgewing by die dier aan te pas nie. By 'n vleisprodukslestelsel is die ooi die belangrikste genereerder van inkomste. Die hoeveelheid lammers asook die gewig van die lam en dan ook die ooi se onderhoudskoste, het belangrike invloede op die winsgewendheid van die onderneming.

 Op die huidige stadium is daar geen betroubare metode om op 'n jong ouderdom die ooi se aanteelvermoë te beraam nie. Liggaamsmassa op 2-tand word in baie gevalle as so 'n aanduiding gebruik. Volgens Badenhorst (1989 Fig.5) is daar by Afrino-ooie te Carnarvon-proefplaas geen verband tussen die massa lammers gespeen na 4 lamkanse en die 2-tand-liggaamsmassa van die ooi gevind nie.

 

Hierteenoor dui navorsing oor 'n wye terrein dat die aantal lammers met eerste lamming 'n aanduiding van die ooi se reproduksie die res van haar leeftyd is (Tabel 1).

 

Tabel 1. Die aantal lammers gebore per ooi gepaar tydens die eerste lamkans as aanduiding van gemiddelde aantal lammers gebore vir die res van die ooi se leeftyd.

Eerste lamkans

(aantal lammers)

Daaropvolgende lamkanse
Afrino1 Merino2 SA Vleismerino3 Dormer3
0 1.30 0.95 1.21 1.13
1 1.33 1.14 1.38 1.28
2 1.47 1.38 1.57 1.34

1 Badenhorst, 1989

2 Cloete & Heydenrich, 1986

3 Kritzinger et.al., 1984

 

Hierdie resultate dui daarop dat as ooie wat nie met eerste lamming lam nie, geprul word, dit die doeltreffendheid van die kudde kan verhoog. Tydens die seleksie van jong ooie moet daar nie te streng op nieproduksie-eienskappe gekonsentreer word nie. Meer as die “normale" getal ooie kan geselekteer word en die jong ooie wat nie gelam het nie, kan dan in die daaropvolgende lamseisoen geprul word.

'n Verdere vraag wat ontstaan, is wanneer ou-ooie uit die kudde verwyder moet word? Dit is 'n bekende feit dat ou-ooie baie gereeld lam. 'n Ooi bereik egter haar optimum reproduksie op 4 - 5 jaar (Fig. 6). Op Carnarvon is ooie vir 'n here aantal jare op grond van bekfoute (geslyte lande, stukkende tande ens.) geprul. Alhoewel die ou-ooie goed gelam het, was hulle nie in staat om die lammers goed groot te maak nie. Jong reproduktiewe ooie kon gevolglik eerder in hulle plek aangehou gewees het. Dit blyk 'n goeie praktyk te wees om ooie op 'n gegewe ouderdom te prul eerder as op "bekfoute".

 

Die weidingskapasiteit wissel van seisoen tot seisoen en dit het 'n wesenlike invloed op die getal vee wat aangehou kan word. So wissel die lampersentasie ook van seisoen tot seisoen wat weer 'n effek op die veebelading het. Die Departement het 'n aanbevole weidingskapsiteit vir 'n gebied daargestel wat nie oorskry moet word nie. Met 'n weidingskapasiteit wat wissel van seisoen tot seisoen moet die boer besluit watter norm vir hom oor die langtermyn aanvaarbaar sal wees. Met die "vasgestelde" weidingskapasiteit sal die lampersentasie en die aantal paarseisoene bepalend wees ten opsigte van die getal vee wat aangehou kan word.

Die vraag wat gewoonlik gevra word, is watter getal ooie aangehou kan word om binne 'n vasgestelde weidingskapasiteit te bly? Die verhouding tussen getal Dorperooie per GVE soos beïnvloed deur paarseisoen en lampersentasie word in Fig. 7 voorgestel. Die regressies wat die verhouding beskryf , is as volg:

Aantal ooie per GVE = a + b(lam% + 100) + c(lam% 2 + 100000)

met die waardes van a,b en c as volg:

a b c
2 x per jaar 5.446 -1.004 0.995
3 x in 2 jaar 5.567 -1.277 0.994

 

 

Die getal ooie per GVE vir lam% van 70 tot 150 vir elk van die twee paarmetodes word in Tabel 2 aangetoon.

 

Tabel 2. Getal Dorperooie per GVE vir lam% (per paring) van 70 tot 150 en twee paringsmetodes.

Lampresentasie 2 x per jaar 3 x in 2 jaar
70 5.08 4.82
80 5.04 4.74
90 5.00 4.66
100 4.97 4.59
110 4.93 4.52
120 4.90 4.47
130 4.87 4.41
140 4.84 4.37
150 4.82 4.32

 

Soortgelyke verhoudings bestaan vir ander kombinasies van paarseisoene en lampersentasie.

Uit voorafgaande is dit duidelik dat die keuse van 'n geskikte paar seisoen, veebelading, bemarkingspatroon ens. kompleks is nie net ten opsigte van die tegniese besluitneming nie, maar ook ten opsigte van die finansiële gevolge. Verder word dit weereens beklemtoon dat elke boer se situasie uniek is. Om hierdie tegniese besluite en finansiële gevolge te integreer, kan die bestuursbesluitnemingsmodelle wat op die Landboukollege Grootfontein ontwikkel is, gebruik word. Vir meer inligting hieroor kan u met u plaaslike voorligtingsbeampte of met die Landboukollege Grootfontein in verbinding tree.

 

LlTERATUUR:

BADENHORST, M.A., 1989. Seleksiemaatstawwe by Afrinoskape. MSc (Agric)-tesis. Univ. Pretoria, Pretoria.

CLOETE, S. W.P. & HEYDENRYCH, H.J., 1984. Die herhaalbaarheid van reproduksie-eienskappe in die Tygerhoek Merino-kudde – voorlopige waamemings. S. Afr. Tvdskr. Veek., 14:29

KRITZINGER, N.M., STINDT, H.W. & V.D. WESTHUIZEN, J.M., 1984. Assessment of different selection criteria for reproduction rate in Dormer and SA Mutton Merino sheep. I: Birth type and early reproductive performance of the ewe. S Afr. J. Anim. Sci., 14:79

 

Published

Dorperland : 23-32