Last update: April 2, 2012 07:32:19 AM E-mail Print

 

Herwinning van ontblote veld met die Grootfontein happloeg

 

Mnr D G de Jager

Beheer Landbou-instrukteur

Landbou-ingenieurswese

Landboukollege Grootfontein

 

 

DIE doel van hierdie skrywe is om die Grootfontein happloeg bekend te stel. Die happloeg is ontwikkel om ontblote oppervlaktes te herwin wat as gevolg van drooglegging, verbrakking en verdigting nie meer voldoende water opneem en opgaar nie. Sulke oppervlaktes kom in sekere gebiede gelokaliseerd voor en in ander gebiede as groot aaneenliggende oppervlaktes.

 

 

Sulke ontblote oppervlaktes ontstaan gewoonlik as gevolg van 'n versteuring in die balans tussen die omgewingsfaktore: reënval, helling, grond en plantegroei. Hierdie versteuring kan biologies, meganies of chemies van aard wees.

Biologiese versteuring vind plaas deur die vernietiging, van die plantegroei deur selektiewe oorbeweiding, dit af te brand, of uit te kap. Kaal kolle wat op die wyse ontstaan, herstel gewoonlik die beste deur biologiese en. meganiese maatreëls toe te pas.

Meganiese versteuring vind plaas deur die afbreek van die grondstruktuur deur verkeerde bewerkingsmetodes, foutiewe grond- en waterbewaringswerke en onoordeelkundige verlegging van afloopwater. Meganiese versteuring vind meestal plaas op waterloopgronde en lande onder bewerking en is dus nie hier ter sake nie.

Chemiese versteuring vind plaas deur verbrakking van die grond as gevolg van versuiping, drooglegging of verdigting.

 

 

In die lig van voorafgaande is dit duidelik dat herwinning en stabilisasie moet geskied met die beskikbare vog. Die water wat as teen uit die lug val, moet op die plek waar dit val in die grond gestoor word. Om dit te bewerkstellig, moet die infiltrasievermoë van die grond meganies verbeter word. Die vermoë van die grond om die water toe te laat om na groter dieptes deur te sypel, sal bepaal word deur die deurlaatbaarheid van die onderste grondlae en mag die sukses van meganiese bewerking sterk beïnvloed.

Die waarde van die ploegvoor en skeurploeg geniet allerweë groot erkenning as metodes van grond "oopmaak". Vore van die skeurploeg is egter geneig om te maklik toe te slaan in veral die grondsoorte wat ons gewoonlik op verbrakte, verdigte en ontblote oppervlaktes aantref. Ploegvore moet ook oordeelkundig aangewend word aangesien dit meet skade kan aanrig as dit foutief beplan word. Elke ploegvoor kan dien as 'n klein afleivoor op effens skuins gronde. Die ongelyke terrein kan water in lae plekke en duikies versamel en klein stroompies vorm wat die ploegvore mag breek. Die Grootfontein happloeg maak 'n reeks klein dammetjies waarin die water opgevang word.

 

 

Die dammetjies is 1,8m lank, 300mm wyd en 250mm diep (sien foto 3). Die kapasiteit van elke dammetjie is ongeveer 135 liter. As aangeneem word dat slegs ongeveer 10 persent van die inhoud van 'n dammetjie infiltreer voordat dit gevul is, is die effektiewe waterhouvermoë van elke dammetjie nagenoeg 148 liter.

Wanneer een hektaar met die happloeg geploeg word, sodat elke ry dammetjies 2 meter uitmekaar is, sal daar 2 500 dammetjies wees met 'n gesamentlike waterhouvermoë van 370 000 liter water. Dit is gelykstaande aan 'n bui reën van 37mm op een hektaar.

 

 

Dit is proefondervindelik op Landboukollege Grootfontein bewys dat op een hektaar ontblote veld wat elke 2 meter met die happloeg geploeg is, daar geen afloop was vir 'n neerslag van 25mm reën nie.

Die dammetjies is ook veral geskik vir die aanplant van Oumansoutboslandjies en turksvye in die droër dele van ons land. Die plantjies kan selfs gedurende rampdroogtes natgemaak word met 'n waterkar wat tussen die rye deurbeweeg met 'n leweringspyp na weerskante. In dele met 'n hoër reënval kan natuurlike grasse en Oumansoutbos-saad in die dammetjies gesaai word deur slegs 'n saadbak op die ploeg aan te bring. Die saadbak kan ook gebruik word om kunsmis of landbougips toe te dien.

Die happloeg word op die driepuntstelsel van 'n trekker gemonteer en die vereiste ploegdiepte vooraf met die boonste verstelarm gestel. Geen ekstra gewig is nodig om die ploeg te laat indring in die grond nie. Die vertikale hoek wat die skottel met die grond maak, sal afhang van die grondhardheid. Vir harder grond sal die hoek groter gemaak word. Die horisontale hoek wat die skottel met die ploegrigting maak, moet net voldoende wees om die skottel stadig te laat roteer. Om te verhoed dat die ploeg skeef trek agter die trekker kan die gewone verstelling op die kruk gedoen word. Die skottel moet te aIle tye skerp wees om beter penetrasie te verkry.

Alhoewel die ploeg nooit tydens toetse probleme ondervind het om selfs in die hardste grond in te dring nie, is dit beter om te ploeg as die grond effens klam is. Dit verminder slytasie en vereis minder trekkrag. Die ploeg word maklik getrek deur trekkers met 'n trekkrag van 25 tot 40 kilowatt.

 

 

 

'n Groot voordeel van die gebruik van die happloeg is dat die dammetjies feitlik verdwyn het na twee of drie seisoene en 'n redelike plantbedekking verkry is. Waar die herstel en aanwas van plantegroei nie na wense is nie, kan addisionele dammetjies tussen die bestaandes gemaak word. Die happloeg kan ook op relatief "heel veld" aangewend word, aangesien die skottel nie die bestaande plantegroei uitploeg of vernietig nie. Die hap ploeg is goedkoop en eenvoudig om te maak.

 

 

Minstens een boer het al sy eie ploeg gemaak vanaf die planne en spesifikasies wat aan hom voorsien is.

Die enigste nadeel van die ploeg is dat vloeiende water wat van aangrensende oppervlaktes oor die bewerkte gebied vloei die dammetjies toespoel. Die happloeg kan dus om dieselfde rede nie op gebiede met 'n helling van meer as 4 tot 5 persent aangewend word nie.

 

 

Firmas, boere. en koöperasies wat belangstel om die ploeg te bou, kan die Direkteur: Karoostreek om meer besonderhede skakel.

 

Published

Karoo Agric 2 (2), 23-28