Last update: April 11, 2012 08:44:29 AM E-mail Print

 

Onekonomiese Hoewes

G. J. Schuurman

 

DIE uiteindelike doel van enige onderneming, hetsy van 'n suiwer handels- of landbou-aard, is om uit die belegde kapitaal die grootste wins te maak. Dikwels is die netto-wins in die geval van boerdery baie klein as gevolg van die strawwe mededinging, wisselende markpryse en ander faktore, en dit kan geensins altyd in geldwaarde bereken word nie. Meestal is 'n redelike wins bo produksiekoste slegs moontlik as die opbrings baie groot is en daar op lopende uitgawes en produksiekoste bespaar word.

Produksie of opbrings van 'n sekere omvang is nodig om vir 'n redelike inkomste voorsiening te maak, wat sal afhang van die waarde van elke produksie-eenheid in verhouding tot die opleweringskoste. Dit is onnodig om op die gunstigste produksie-omvang in te gaan, want dit hang af van die mate en doeltreffendheid waarmee kapitaal, arbeid en bestuursbekwaamheid vir die grond aangewend word. Daar moet streng gewaak word teen die ander kant van die saak, as die opbrings te klein is om vir die handhawing van 'n beskaafde lewenstandaard voldoende inkomste te verseker. As kapitaal, arbeid en bestuursbekwaamheid doeltreffend toegepas word en die produksie-omvang desnieteenstaande nog so gering bly dat 'n fatsoenlik lewenstandaard onmoontlik blyk, is die betrokke plaas 'n onekonomiese eiendom. Hierdie faktor - omvang van produksie – word deur aspirantboere te dikwels verontagsaam met die gevolg dat die aantal onekonomiese hoewes bepaald toeneem en sodanige hoewes, veral by beesboerderytoestande, 'n groot bedreiging word.

Dit is onmoontlik om deur 'n vaste reël definitief te bepaal wat nou eintlik 'n onekonomiese hoewe is, omdat toestande so wyd uiteenlopend is. Die prys- en kostepeil wat van tyd tot tyd heers staan met die uiteindelike wins in die nouste verband. Met wol teen agtien pennies per pond is baie skaapplase betalende ondernemings, terwyl baie hoewes onekonomies word as wol op die helfte van daardie prys te staan kom. Soortgelyke prysskommelings kan aangehaal word ten opsigte van ander plaasprodukte, maar met die gemiddelde pryse oor 'n aantal jare as grondslag, moet 'n taamlik betroubare syfer die gevolg wees. Insgelyks kan die grootte van die bedryfseenheid ook te klein blyk te wees as die kostepeile konsekwent ongunstig sou bly.

 

Intensiewe Boerdery

Aan die ander kant het sommige plase, onder sekere klimaatstoestande hul gunstigste produksiegrens nog nie bereik nie. Dit is insonderheid van toepassing op ons intensiewe streke met 'n goeie reënval of 'n afdoende watervoorraad vir besproeiingsdoeleindes, waar onekonomiese boerderyondernemings omgesit kan word in betalende ondernemings deur die toepassing van verskillende metodes, soos die voer van gewasse aan diere en die bemarking van die diere of hul produkte in stede van die gewasse. Wisselboerdery word met sodanige toestande die aangenome beginsel. In die nabyheid van 'n groot stad kan die bemarking van vars melk baie winsgewend wees, terwyl die verkoop van room verder weg, gepaard met varkboerdery, die beste wins kan lewer. Eweneens kan 'n boer met hooi en kuilvoer die drakrag van sy plaas verhoog, die opbrings vermeerder en groter winste maak. Sonder om op verdere besonderhede in te gaan, moet dit klaarblyklik wees dat die vooruitstrewende, wakker boer, onder sekere klimaats- en ekonomiese toestande wat intensifikasie toelaat, baie geleentheid het om die ekonomie van verskeie boerderyvertakkings. in praktyk te bring. Tussen die ekstensiewe en intensiewe skeidingslyne is daar plase van 'n half-ekstensiewe aard. Deur 'n ander stelsel of vertakking van die boerdery toe te pas, staan boere in die half-ekstensiewe streke 'n goeie kans om onekonomiese plase in betalende ondernemings om te sit, hoewel nie tot dieselfde mate as in die intensiewe streke nie.

 

Grootbeesboerdery

In ons groot ekstensiewe strook, waar suiwer beesboerderytoestande heers, word dit feitlik onmoontlik om van skaap- of beesboerdery na 'n ander soort oor te gaan ten einde in staat te wees om daaruit voordeel te trek. In half-dorre dele is akkerbou tot versterking van die dravermoë van plase feitlik 'n saak van onmoontlikheid, en gevolglik moet die omvang van die plaas so groot wees dat voldoende weiding afgesonder kan word ten einde vir die vee voorsiening te maak tydens periodieke droogtes, wat in hierdie streke 'n normale verskynsel is. Die mees onekonomiese hoewe word in die ekstensiewe strook gevind waar boere hul toevlug neem tot oorbeweiding om hul verpligtings te kan nakom. As die reënvaltoestande wat heers abnormaal is, d w s. bo die gemiddelde, het die bewoners in taamlike mate sukses, maar in normale jare met 'n gemiddelde reënval is hulle genoodsaak om kragtens bestaande noodlenigingsmaatreëls hulp te vra en in baie gevalle word hulle uiteindelik 'n Staatslas.

 

Die Grootte van die Plaas

Soos hierbo aangetoon, is dit uiters moeilik om in die intensiewe streek, waar verskillende boerderystelsels toegepas word, te bepaal wat die minimum grootte van 'n ekonomiese hoewe behoort te wees. Waar boerdery meer gespesialiseer is, soos in ons ekstensiewe streke van skaap- en veeboerdery, is dit egter maklik om te se hoe groot die kleinste plaas moet wees vir 'n betalende onderneming. Die produktiwiteit van die plaas en sy dravermoë, klimaats- en reënvaltoestande, aard van weiding, topografie, ens., is almal faktore wat in aanmerking geneem moet word. In skaapboerdery-streke is skape die meet-eenheid en die grootte van die marginale ekonomiese hoewe sal afhang van (1) die kleinste aantal skape nodig om 'n voldoende opbringsomvang en eventuele wins te verseker, en (2) die drakrag van die grond in die betrokke omgewing. Aangesien daar vir ons toestande geen gegewens beskikbaar is om 'n gevolgtrekking te maak nie, is dit interessant om die syfers vir ander lande waar sodanige opnames gedoen is, na te gaan. In Queensland byvoorbeeld word dit deur die Staat aangeneem dat onder veeboerderytoestande in ekstensiewe streke die minimum-aantal skape wat 'n ekonomiese hoewe uitmaak, 7,000 is.

Hierdie minimum is by ons toestande onteenseglik te hoog en ons moet aflei dat of die lone en ander uitgawes in Queensland betreklik hoog is, of dat die lewenstandaard daar baie hoër is as hier; waarskynlik is albei verklarings geldig. Laat ons aanneem dat onder ons toestande twee duisend skape die minimum-aantal is vir 'n ekonomiese hoewe in ekstensiewe streke waar skape die enigste middel bied om 'n lewe te maak en laat ons ons dan die aantal plase voorstel wat nie winsgewend is nie. Waar die drakrag vier morge per skaap is, moet die minimum-grootte van die plaas agtduisend morge wees. Neem die verdere voorbeeld van 'n skaapplaas in die half-ekstensiewe gebied in die nabyheid van die Grootfonteinse Landboukollege. Gedeeltelik is die naam "half-ekstensief" in hierdie distrik van pas, want met besproeiingsmoontlikhede, pragtige vleie, ens., is dit moontlik om langs ander wee die inkome van so 'n plaas te vermeerder. Neem ons aan dat die gemiddelde drakrag in die distrik Middelburg (Kaap) twee morge per skaap is, sou vier duisend morge 'n ekonomiese hoewe uitmaak as die plaas 'n suiwer ekstensiewe beesboerdery-onderneming was, maar die hoewe sou tot die helfte van daardie grootte en in enkele gevalle selfs meer verminder kan word, wat egter sou afhang van die half-ekstensiewe aard van die plaas.Op soortgelyke wyse kan die aantal beeste wat in beesboerdery en gedeeltelike beesboerderywêreld 'n ekonomiese hoewe sou uitmaak, bepaal word. Afgesien van die grootte kan 'n hoewe onekonomies wees weens te hoë grondpryse. As die vraagstuk verstandig oorweeg word, sal dit blyk hoe nutteloos dit is om geld te belê in onekonomiese boerdery-ondernemings.

Die waarde van die grond per gegewe eenheid (morge) hang nie alleen af van die drakrag, vrugbaarheid, klimaatsomstandighede, ens., nie, maar ook van die heersende pryse vir landbouprodukte. As die nodige gegewens beskikbaar is, kan bank-inrigtings, verenigings en enkelinge wat geld op verband uitleen, die Staat 'n groot diens bewys deur hul geld slegs te belê in plase wat ekonomies gesond is.

 

Onderverdeling van Plase

Vandag is dit 'n algemeen erkende feit dat daar vir elke soort boerdery 'n gunstigste plaasgrootte is. Wat hierdie laer en hoër produktiewe uiterstes in landboustreke onder verskillende toestande is, moet nog vasgestel word, maar dit moet vanselfsprekend wees dat boerdery op 'n submarginale eenheid afgeraai en selfs afgekeur moet word. Inderdaad sal geen verstandige persoon ontken dat 'n wet wat daarop bereken is om die verdeling van plase in klein, onekonomiese hoewes te verhoed die gemeenskap as geheel tot voordeel sal strek nie. In Ierland is daar wetsbeperking van oorbodige onderverdeling van plase en tot sekere mate het 'n paar Europese lande ook 'n beskermingsgedragslyn gevolg teen "onekonomiese" plase. In die Unie word in Wet No. 29 van 1937 voorsiening gemaak vir die onteiening van plase wat vir ekonomiese opbrings te klein beskou word, maar daar is geen wet om onderverdeling te voorkom nie. Slegs nadat 'n plaas te klein bevind is, kan die wet van toepassing wees. Hierdie onekonomiese hoewes word by verskillende boerderysoorte gevind met 'n uiters nadelige uitwerking op die mees ekonomiese arbeids- en kapitaalsverdeling, en vorm met ander faktore, miskien een van die hoofoorsake van die plattelandse verhuising na die stede.

In teenstelling met ons moderne nywerhede waarvan die produksie-eenheid altyd uitbrei en waar arbeid en kapitaal met die uiterste doeltreffendheid aangewend word, is daar in die landbounywerheid as gevolg van gebrek aan kapitaal en ons oorerwingsgewoonte 'n neiging om plase in kleiner en kleiner eenhede te verdeel. Te groot plase is egter ook nie wenslik nie, hoewel daar uit hierdie soort plaas sekere voordele voortspruit wat op gelyke voet staan met die wat ons aantref in grootskaalse produksie by ander nywerhede.

Ten slotte kan die hoop uitgespreek word dat ons binnekort juiste inligting sal hê betreffende die plaasgrootte wat onder die afwisselende toestande in die verskillende dele van die land 'n ekonomiese eenheid vorm. Die landbou-ekonomiese opname waarmee die Departement tans besig is, bied 'n fundamentele benadering van hierdie vraagstuk en sodra hierdie inligting beskikbaar is, sal dit moontlik kan wees om die nodige wetgewing daar te stel om hierdie vraagstuk doeltreffend aan te pak. Ondertussen word boere sterk aangeraai om ernstig na te dink oor hierdie vraagstuk van onekonomiese hoewes. Daar word, om hierdie rede, by voornemende kopers van plase daarop aangedring dat hulle, voordat hulle 'n plaaseiendom koop, hulle daarvan verseker dat die hoewe in staat is om 'n inkomste af te werp wat groot genoeg is om 'n beskaafde lewensstandaard te kan handhaaf.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 15