Last update: April 10, 2012 02:14:05 PM E-mail Print

 

Lusern die Vernaamste Hooigewas

F. H. Bosman

 

DIE belangrikheid van lusern lê in die feit dat dit 'n proteïnryke voer is, bestand teen droogte, met 'n hoë opbringsvermoë en 'n lang lewe. Dit is geskik vir hooi-, groenvoer- en kuiIvoerdoeleindes en as weiding vir alle soorte diere. Geen wonder dat dit die koning van die voergewasse genoem word, want min ander voerplante, indien enige, bevat so baie goeie eienskappe.

Die gewas word hoofsaaklik in die droër dele van Suid-Afrika onder besproeiing gekweek, alhoewel dit vinnig toeneem as 'n droë-landsgewas, selfs in die droër gedeeltes.

Die verbouing van hierdie waardevolle gewas word aangemoedig selfs waar omstandighede nie baie gunstig is nie. 'n Gebrek aan gronddiepte mag die lewensduur van die gewas verkort en 'n tekort aan besproeiingswater kan die opbrings beperk, maar waar daar 'n tekort aan proteïne-voer is, sal die gewas dikwels ekonomies gekweek kan word ten spyte van hierdie tekortkominge.

As gevolg van die diep wortelstelsel is die gewas in staat om van ondergrondse water gebruik te maak tot 'n diepte van vyftien voet of meer. Ondergrondse watervoorrade kom meer voor as wat gewoonlik besef word, veral in die Karoo en aangrensende streke. Waar die plantegroei dit aandui, is 'n poging om lusern op droëland te vestig gewoonlik geregverdig.

 

Grondvereistes

Onder gunstige besproeiingstoestande sal vier tot ses en, in plekke, selfs sewe, snysels per seisoen verkry word wat 'n totale opbrings van 10 tot 20 ton hooi of 50 tot 100 ton kuilvoer per morg gee.

Die wortelstelsel van die gewas vereis 'n diep, goed-gedreineerde grond, en waar moontlik, moet vlak en onvrugbare grond vermy word. 'n Goeie stand word gewoonlik makliker op sanderige gronde verkry, maar sulke gronde is dikwels onvrugbaar. Swaar of kleigronde, veral wat 'n ondeurdringbare ondergrond het, is gewoonlik ongeskik vir droëland en besproeiingsdoeleindes.

Jong lusernplantjies verdra nie baie alkaliniteit nie, terwyl suurheid (geassosieer met hoë reënval) eweneens onwenslik is. Laasgenoemde toestande kan deur kalktoedienings verander word.

Die permanente geaardheid van die gewas regverdig 'n deeglike voorbereiding.van die grond. Dit is nodig om vroeg te ploeg om onkruidbestryding te vergemaklik, om 'n fyn saadbedding te kry en vog te versamel. As gevolg van die moeilikheid om kunsmis toe te dien nadat die gewas gevestig is, moet 800 -1,000 lb. superfosfaat per morg ondergeploeg word wanneer die grond voorberei word. Op hierdie stadium is 'n ligte toediening van stikstof dikwels voordelig.

Saad-inenting met die wortel-knoppie organisme is selde nodig, behalwe waar die grond 'n neiging toon om suur te wees. Veertig pond goeie saad per morg is die normale saaidikte en dit kan effens verander word om by toestande te pas. Die saad moet van ½ dm. tot 1½ dm. diep gesaai word, deur die saadbedding met 'n tandskoffelploeg los te maak en dit dan op te volg met 'n veertand-eg nadat die saad gesaai is.

 

Besproeiing

Die land moet deeglik besproei word voordat gesaai word, om 'n vogreserwe in die grond op te bou, en dit maak finale gelykmaking moontlik.

Dis nog nie 'n uitgemaakte saak of die saad voor of na besproeiing gesaai moet word nie. Proewe by die Grootfonteinse Landboukollege het egter op alle tye van die jaar beter ontkieming gegee wanneer die saad voor die besproeiing gesaai is, as wanneer dit daarna gesaai is. Waar die grond 'n: harde kors na die besproeiing vorm, is dit raadsaam om later te saai. In al sulke gevalle moet die grond gerol word nadat dit gesaai is.

Lusern kan gedurende die hele jaar gesaai word, mits die grond vogtig genoeg is, dog dit is die beste om dit in die herfs te saai want in die Karoo val dan gewoonlik meer reën en die verdamping is minder; ook word someronkruide dan makliker bestry. Toestande in die middel van die somer begunstig 'n vinnige uitdroging van die grond, terwyl temperature in die middel van die winter ontkieming vertraag en dus die oorsaak kan wees dat sommige plantjies in die winter doodgaan.

Beskermingsgewasse is onnodig en word nie op droëland aanbeveel nie. Waar dit wenslik is, kan 'n vroeë wintergraan dun gesaai word en dan verwyder word liefs voordat dit ryp is.

 

Variëteite

Die variëteite, Provence en Hunter's River, wat algemeen gekweek word, is nog die geskikste vir algemene doeleindes. Eersgenoemde is meer gehard en pas beter aan by droëlandtoestande as laasgenoemde, wat egter onder gunstige omstandighede 'n bietjie meer oplewer as eersgenoemde.

Die gewas moet nie gesny word voordat dit goed in blom is nie, tensy onkruid dit noodsaaklik maak. Moenie jong lusern laat afwei nie. Dit moet gesny word wanneer ongeveer een-tiende van die gewas geblom het, want as dit later gesny word is die kwaliteit van die hooi nie so goed nie.

 

Lusernhooi

Sukses met hooimaak word gewoonlik alleen deur ondervinding verkry. Die proses beoog 'n voldoende uitdroging van die lusern om opberging moontlik te maak ten einde minimum verlies van blare en die maksimum geurontwikkeling te verkry.

Snytyd moet deur weersomstandighede bepaal word; nat weer moet so ver as moontlik vermy word (vir kuilvoerdoeleindes is koel klam weer wenslik) en die meeste dou moet van die plante wees as werksaamhede begin.

Onder gunstige weersomstandighede is dit moontlik om die lusern die dag nadat dit gesny is in windrye te hark, maar nie op die hitte van die dag wanneer die blare droog en breekbaar is nie. Na ‘n dag in die windry is dit gewoonlik moontlik om hopies te maak, en ook dit kan met die grootste voordeel in die koel oggend gedoen word. Die hopies moet hoog en spits wees en moet liefs op die walle van die akkers gemaak word. Hier vind finale uitdroging plaas wat van twee tot vyf dae kan neem. Die windrye en hopies dien om 'n egalige uitdroging van die hooi toe te laat om die verlies aan blare te verminder.

Voordat lusern in 'n mied gepak word, moet die hooi droog genoeg wees om verhitting te voorkom. Ondervinding sal die boer in staat stel om hierdie toestand deur gevoel te bepaal, anders is die afwesigheid van vog in die stingels wanneer dit styf gedraai word, of die stewigheid van die nerf van die stingels 'n aanduiding dat dit droog genoeg is.

Miedens moet op hoë en goed gedreineerde plekke gemaak word, en die mied moet in die middel styf gepak wees om te verhoed dat dit sak en dus maklik nat word.

 

Ekonomiese Oorwegings

Lusern kan gebruik maak van baie water, maar die opbrings per eenheid water wat toegedien word verminder aansienlik met vermeerderde besproeiings. Op Grootfontein is oor 'n periode van 12 jaar die vermeerdering in opbrings van 12 tot 22 ton hooi per morg verkry met 'n vermeerdering in besproeiing van 18 dm. tot 96 dm. per seisoen, maar die opbrings per eenheid water het gedaal van 1,248 lb. tot 405 1b. Die mate van besproeiing moet dus in verhouding wees met die hoeveelheid water en bewerkbare grond wat beskikbaar is. Dis dus noodsaaklik om die hoeveelheid leiwater te meet. Toedienings van 6. dm. per snysel behoort taamlike ekonomiese opbringste te gee.

Die gebruik van lusern as 'n weidinsgewas neem vinnig toe, dog beweiding gee nie die beste resultate nie en verkort die lewensduur van die gewas, gevolglik moet die swakste lusernlande vir hierdie doel gebruik word. Aanhoudende beweiding van jong lusern is die nadeligste gedurende die herfs, winter en lente. Beweiding in die middel van die somer skyn die minste nadelig te wees maar dit is dan ook van die minste waarde vir die boer. Waar beweiding toegepas word, moet die lusern nie op ‘n vroeë groeistadium bewei word nie en beurtelingse beweiding moet toegepas word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 17