Last update: April 4, 2012 07:51:10 AM E-mail Print

 

INDRINGERPLANTE - WAT IS DIE GEVAAR?

EM Meyer 

 

Die indringing van nuttelose bosse, bosstruike en grasse oor groot dele van veral die bergkomplekse van Suid-Afrika en in besonder die Karoo, het 'n stadium bereik waar dit beslis as 'n wesentlike probleem en 'n gevaar vir die veld beskou moet word.

In S.A. waar ongeveer 33 persent van die oppervlakte deur bos, struike en gras bedek is, word beraam dat ten minste 15 miljoen morg bos- en grasveld reeds deur indringerplante bedreig word. In die Karoostreek mag dit voorkom asof die probleem nie so aktueel soos in die hoër reënvalgebiede is nie, maar aan die ander kant is dit 'n onrusbarende verskynsel dat indringerplante selfs in 'n relatief droër klimaatsdeel soos die Karoo wel die omvang bereik het waarin dit huidig verkeer.

Ons vind byvoorbeeld dat daar baie min van die bergkomplekse van die Oostelike Karoo (Sneeuberge, Bosberg, Bankberge, Tandjiesberge, Naudésberge, Winterberge, ensovoorts) is wat nie in 'n mindere of meerdere mate deur een of meer indringerplante bedreig word nie. Aan die ander kant is daar nog enkele plase in dieselfde bergkomplekse wat vir die hede nog uitstaande voorbeelde van vaste rooi- en soetgrasvelde is en dus daarop dui wat die moontlike klimaksbedekking van hierdie streek behoort te wees. Voornoemde geld ook vir ander probleemgebiede in die Karoo.

Alhoewel indringing klimaatsgebonde kan wees, dui die geskiedenis van S.A. eerder daarop dat indringing in die verlede voorgekom het en tans steeds voorkom as gevolg van die verswakte graskomponent of versteuring van die plantsamestelling weens foutiewe beweidingsmetodes. Bosindringing in SA. is dus 'n kunsmatige suksessie-verskynsel as gevolg van veldagteruitgang.

Die gevaar van indringerplante lê daarin, dat digte stande die weidings sodanig inneem, dat dit nutteloos, onbruikbaar en landboukundig onproduktief raak. Bosindringing gaan gewoonlik ook gepaard met  'n afname in die benuttingspotensiaal van ons weidings en dit op sigself moet as 'n baie belangrike ekologiese probleem beskou word. Ekoloë en ander navorsers op die gebied van die landbou het in Amerika reeds so vroeg as 1886 bevind dat die praktyk van aanhoudende beweiding sekere veranderinge in die plantsamestelling teweegbring wat die produksie-kapasiteit van gras- en ander veld, katastrofies kan benadeel. Aangesien die bergkomplekse van die Karoo ons belangrikste grasveldstreke was en ook aan die beoefening van verskillende wanpraktyke onderhewig was, kan dieselfde van voornoemde veldtipe aanvaar word. Dit sou dus moontlik 'n eenvoudige antwoord kon wees deur te beweer dat gesonde maatstawwe van weiveldbeheer beoefen moet word ten einde hierdie probleem van indringing te stuit. Ongelukkig is dit nie so 'n eenvoudige resep nie en onder hedendaagse boerderytoestande is dit hoogs onwaarskynlik dat gevestigde struikgewas deur enige praktiese uitvoerbare metodes van weiveldbeheer uitgeroei kan word. Ander metodes van bestryding moet toegepas word en eerder opgevolg word met oordeelkundige weiveldbeheer.

Bergstruikveld in die Karoo behels gewoonlik die voorkoms van renosterbos (Elytropapus rhinocerotis), (harpuisbos (Euryops spp.) windmakerbos (Eumorphia dregeana), besembos (Anthrosolen polycephalis), blinkblaar (Rhus Lucida), pakaan (Passerina montana), bakkerbas (Pentzia cooperi), en bitterbos (Chrysocoma tenuifolia). Genoemde indringers hou belangrike weiveldprobleme in, beide ten opsigte van beheer en benutting. Die voorkoms van voornoemde bosse en struike in die Karoo is verspreid van aard, in die sin dat al die indringers gewoonlik nie in dieselfde area voorkom nie. Topografiese verskille is ook soms 'n bepalende faktor in die voorkoms van spesifieke indringers. So byvoorbeeld sal renosterbos, harpuisbos, blinkblaar en besembos hoofsaaklik in berge, klowe en rante voorkom terwyl die bitterbosse algemeen in die vlaktes kan voorkom.

Die indringerplante kan op verskillende maniere bestry word, die vernaamste metodes is meganiese bestryding, biologiese bestryding; veldbrand: chemiese bestrydingsmaatreëls en die toepassing van spesifieke beweidingstelsels. AIle metodes van bos- en struikgewas bestryding wat om watter rede ook al tot dusver bestudeer en beproef is, het bewys gelewer as ekonomies geregverdig te wees. Die spesifieke bestrydingsmetode wat gebruik word sal deur verskillende faktore bepaal word soos byvoorbeeld topografie, huidige en potensiële veldbedekking, reënval en verspreiding daarvan, beskikbaarheid van arbeid, stand van indringerplante ensovoorts. 

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie