Last update: April 3, 2012 10:34:54 AM E-mail Print

 

SIEKTES VEROORSAAK DEUR ORGANIESE GIFSTOWWE: INSEKDODERS

 

GF Bath

 

Omdat die gechlorineerde koolwaterstowwe (veral DDT en BHC) van gebruik onttrek is, sal hulle nie hier bespreek word nie.

Tans is die belangrikste groep gifstowwe die organiese fosfate. Hulle word hoofsaaklik as dipstowwe gebruik, maar kom ook voor in handdresseer- en wurmdoseermiddels. Vergiftiging kom seIde voor, omdat hulle gewoonlik 'n taamlik wye veiligheidsgrens het, en as dit gebeur is dit byna altyd as gevolg van agtelosigheid.

Faktore wat die opname van die gifstof verhoog of die gestel van die dier verswak, sal die gevaar natuurlik vergroot. Voorbeelde hiervan is die dip van skape met baie lang wol, veral op warm vogtige dae en die dip of dosering van skape in 'n baie swak kondisie of net nadat hulle 'n ver ent aangejaag is.

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

Die organiese fosfate verhoed dat 'n ensiem van die senuweestelsel normaal funksioneer, en hierdie versteuring is verantwoordelik vir die afskeiding van groot hoeveelhede speeksel en trane, diarree en spiertrekkings. In sommige gevalle word die diere baie swak en kan hulle nie opstaan nie.

Geen kenmerkende veranderings is waarneembaar by diere wat gevrek het nie, maar groot hoeveelheid vog in die longe en rooi ingewande kan 'n aanduiding wees.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

'n Spesifieke teenmiddel in die vorm van atropien kan ingespuit word, maar omdat 'n oordosis atropien self ook giftig is, moet die inspuiting in oorleg met 'n veearts toegedien word. In die geval van dip kan die diere met water gewas word om van die oortollige dipstof ontslae te raak, en dus verdere opname te voorkom.

Voorkoming is grootliks gebaseer op die stiptelike nakoming van die gebruiksaanwysings. Die aanwysings ten opsigte van die vermenging en gebruik van middels moet noukeurig nagekom word. Middels moet ook nooit gebruik word vir 'n doel of teen 'n sterkte wat nie spesifiek aanbeveel word nie.

Diere moet nie onmiddellik nadat hulle lang ente aangejaag is met hierdie stowwe gedip of gedoseer word nie, maar moet uitgerus wees. Diere in 'n swak kondisie moet verkieslik met minder gevaarlike middels gedip of gedoseer word. Om langwolskape te dip kan gevaarlik wees, veral op warm vogtige dae.

 

Published

Bladskrifreeks: E6.2