Last update: March 26, 2012 02:40:39 PM E-mail Print

 

Insekplae op doringlose turksvye en hul bestryding

 

M W Pretorius

Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

P/a Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG K P

5900

 

INLEIDING

Die wilde turksvy, Opuntia ficus-indica, is oorspronklik van Noord-Amerika afkomstig. Turksvye is waarskynlik by meer as een geleentheid na Suid-Afrika ingevoer. Daar bestaan goeie bewyse dat van hierdie plante reeds deur Jan van Riebeeck (in 1654) saam met mielies vanaf Marokko ingevoer is. Turksvye is aanvanklik vir die gebruik van die vrugte en later vir die teel van die kleurstof-cochenille en as sierplante in Suid-Afrika aangeplant.

Die eerste turskvyplante wat die land binnegekom het, was doringloos. Nadat die plante vrylik en wild met saad begin versprei het, het die doring-tipes weer verskyn en omdat hulle 'n beter kans op oorlewing gehad het, het hulle die doringlose-tipes begin verdring. Tans kom slegs hier en daar nog enkele doringlose turksvyplante wild in die veld voor. Die doringturksvye het egter destyds so vinnig ingedring en vermeerder dat dit sekere dele van die land, veral die Oos-Kaap. byna ondeurdringbaar gemaak het. Gedeeltes van die streek is vandag nog besmet.

Gedurende die vroeë dertigerjare word hierdie plante as onkruid verklaar en daar word besluit dat beheermaatreëls toegepas moet word. Die destydse Minister van Landbou (Generaal Kemp) en die boere het gesamentlik besluit dat biologiese beheer van die doringturksvye die aangewese maatreël was. As deel van hierdie bestrydingsveldtog word twee inseksoorte naamlik die Suid-Amerikaanse turksvymot Cactoblastis cactorum (Berg) en die cochenille-insek Dactylopius opuntiae (Cockerell) in 1932 en 1937 onderskeidelik, ingevoer om die wilde turksvy biologies te beheer. Dr F W Pettey van die Departement van Landbou het destyds (1932) gewaarsku dat genoemde twee inseksoorte ook ander opuntias sal aanval. Ten spyte van hierdie waarskuwing het die boere ten gunste van biologiese beheer besluit.

Intussen is al hoe meer doringlose turksvykultivars ontwikkel, waarvan sommiges gedurende droogtes as veevoer aangewend word en ander weer vir die gebruik van die vrugte (ook in huistuine) gekweek word. Mettertyd het bogenoemde twee inseksoorte ook hierdie doringlose kultivars begin aanval en so is dr Pettey se voorspelling bewaarheid. Tans is hierdie twee inseksoorte die enigste insekplae wat ekonomiese skade aan doringlose turksvye in Suid-Afrika aanrig. Kenners meen egter nog steeds dat die invoer van hierdie insekte die moeite werd was vanweë die reuse aandeel wat hulle in die bekamping van die wilde turksvy gehad het.

 

LEWENSIKLUSSE EN GEWOONTES

Ten einde nader kennis te maak met hierdie twee inseksoorte en hulle beter te verstaan, word hul lewensiklusse en gewoontes kortliks geskets.

 

Cochenille Dactylopius opuntiae (Cockerell)

Die volwasse cochenille-wyfie produseer honderde (ongeveer 400) eiers, wat binne 'n uur nadat hulle gelê is, uitbroei. Uit die eiers broei uiters klein nimfe, wat ook as kruipers bekend staan. Binne 'n paar dae ontwikkel die kruipers lang, wollerige wasdrade op hul liggame. Dit help aanvanklik met hul verspreiding deurdat wind hulle dan maklik, soos veertjies, na naburige turksvyplante kan waai. Sodra hulle op aangrensende plante land, word die monddele deur die epidermis van 'n blad gesteek en voeding begin. Wyfies voed vir hul lewe lank op dieselfde plek. 'n Wit, wollerige waslaag ontwikkel mettertyd om die liggaam van die wyfie. Hierdie waslaag beskerm die insek gedeeltelik teen natuurlike vyande soos skilpadkewertjies en bemoeilik die indringing van insektemiddels. Die wyfies kom gewoonlik in groepies of kolonies op die turksvyblaaie voor (Sien Fig 1).

Die wyfie neem 3-4 weke om geslagsryp te word, waarna paring plaasvind. Dan verloop nag 3- 4 weke voordat eierlegging begin. In hierdie periode vergroot die wyfie se liggaam en word met eiers gevul, waar sy onder die beskermende waslaag sit. Eierlegging kan dan vir 2 - 6 maande voortduur, afhangende van temperatuur.

Die mannetjies se lewensloop verskil drasties van die van die wyfies. Hulle versprei nie dadelik na uitbroei nie, maar die meeste vestig hulle in die onmiddellike omgewing van die moederwyfie. Hierna gaan hulle vier nimfstadiums deur wat 3 - 4 weke duur. Aan die einde van die tweede stadium spin die mannetjies kokonne, hou op voed en verdere ontwikkeling en vervellings vind binne die kokonne plaas. Twee tot drie dae na die laaste vervelling kom die mannetjies dan as volwasse, tweevlerkige insekte wat soos witvliegies Iyk, uit die kokonne te voorskyn en vlieg weg op soek na wyfies om mee te paar. Hulle boor deur die waslaag om die wyfies te bereik.

 

Die Turksvymot Cactoblastis cactorum (Berg)

Hierdie insek het twee duidelik afgebakende generasies per jaar. Die motte vlieg gedurende Oktober en Februarie waartydens eiers gelê word. Die eiers word opmekaar gele om 'n eierstokkie te vorm, waarvan die een punt op die blad vasgeheg word. Die eierstokkie staan dan amper loodreg van die blad af weg en lyk soos 'n gelerige, krom doring (Sien Fig 2).

Elke eierstokkie bevat sowat 60 - 100 eiers. Eiers wat in die lente gelê word neem ongeveer 50 dae om uit te broei, terwyl die wat in die laatsomer gelê word, sowat 33 dae neem. Namate die uitbroeityd nader, word die eierstokkie wat aanvanklik gelerig was, donkerder van kleur totdat dit ongeveer 3 – 4 dae voor uitbroei byna swart is. Uitbroeitye is gewoonlik vroeg in November en Maart.

Die larwes wat uitbroei drom vir sowat 'n dag in groepe op die blaaie saam, waarna hulle in die blaaie inboor om op die sappige inhoud te voed. Die volgroeide larwes is opvallend oranje gekleur met blouswart bande (Fig 3). Hulle gaan ses stadiums deur voordat hulle volgroeid is. Wanneer die larwes volgroeid is; verlaat hulle die blaaie waarin hulle gevoed het en spin kokonne van sy (aanvanklik wit van kleur, maar word mettertyd geel) onder verrottende

blaaie op die grond, in skeurtjies van turksvystamme en vlak onder die grond, waarin hulle dan later in papies verander. Vit hierdie papies kom weer volwasse matte te voorskyn. Die papiestadium duur ongeveer twee maande in die somer en sowat 73 dae in die winter.

 

SKADE

Cochenille

Afgesien van die sap wat cochenille uit die blaaie van doringlose turksvye suig, is die speeksel van die insek wat tydens voeding in die plante beland, toksies vir sulke plante en veroorsaak dat besmette blaaie geel verkleur, verrot en afval. Hierdie insek veroorsaak blykbaar die grootste probleme in huistuine, of andersins waar Fusicaulis-kultivars (langblad) grootskaals vir die gebruik van die vrugte aangeplant word. Cochenille is egter minder lastig as C. cactorum in plantasies wat vir droogtevoer aangeplant is en uit bloubladkultivars soos Chico, Robusta en Monterey bestaan. Laasgenoemde drie kultivars is so te se bestand teen cochenille-aanvalle waarskynlik omdat die epidermis van die blaaie dikker is as die van Fusicaulis en die doringturksvy en nie so maklik deur die cochenille-nimf deurdring kan word nie. Dit word dus aanbeveel dat Chico, Robusta en Monterey eerder vir droogtevoer aangeplant word.

Die skade wat cochenille aan doringlose turksvye aanrig is ernstiger in droër gebiede, omdat reën die waslaag om die wyfies erodeer en hulle dan meer blootstel aan natuurlike vyande soos skilpadkewertjies. Reën dood ook baie kruipers.

 

Die Turksvymot

Anders as by cochenille, is daar geen doringlose turksvykultivars wat teen C. cactorum bestand is nie. Hierdie insek kom ook in die meeste plantasies in die Karoo voor. Die larwes doen die skade en hul voedingsgewoontes veroorsaak boonop dat sekondêre verrotting van die blaaie en stamme intree, sodat hele plante omval. Turksvyplante wat ernstig met hierdie insekte besmet is, kan binne 'n kort tyd vernietig word.

 

BESTRYDING

Omdat beide hierdie insekte en veral C: cactorum min natuurlike vyande in Suid-Afrika het, is dit nodig om hulle chemies te beheer, om sodoende ernstige skade aan doringlose turksvye te verhoed.

 

Middels

Tans is karbariel 85% sterkte benatbare poeier, metidation 25% sterkte benatbare poeier of 50% sterkte emulsifiseerbare konsentraat en deltametrien 25% sterkte emulsifiseerbare konsentraat teen C cactorum geregistreer, terwyl karbariel en metidation soos hierbo en paration 25% sterkte benatbare poeier of 50% sterkte emulsifiseerbare konsentraat teen cochenille aanbeveel word. Dit blyk uit bostaande inligting dat karbariel en metidation albei plae beheer. Slegs karbariel word egter vir gebruik in huistuine toegelaat.

 

Metode

Meng die insektemiddel deeglik met water volgens die voorskrif op die etiket en bespuit die plante met behulp van 'n rugsakspuit (Fig. 4) wat met 'n enkel spuitkop met nommer 56 kern en D 5-spuitgat toegerus is. Hierdie spesifikasies is belangrik omdat growwe druppels vir die beheer van cochenille essensieel is. Benat die plante deeglik van aIle kante, totdat die spuitstof begin afloop.

 

Tyd

Cochenille kan enige tyd van die jaar bespuit word. As beide C cactorum en cochenille gelyk bespuit wil word moet bespuiting geskied slegs gedurende die eerste twee weke van November en Maart wanneer die hele C. cactorum-bevolking, in die eierstadium verkeer en net voordat hulle uitbroei (Sien lewensiklusse en gewoontes).

 

Let Wel

Cochenille val nie dadelik nadat dit bespuit is van die blaaie af nie. Dit duur soms tot 6 weke voordat die waslagies om die wyfies erodeer en deur goeie reënbuie van die blaaie afgewas word. Hierdie verskynsel mag die indruk skep dat die bespuiting nie doeltreffend was nie. Om vas te stel of die bespuiting suksesvol was, kan na ongeveer 4 - 6 weke met die vinger aan die cochenille- kolonies gedruk word. Hulle behoort dan uitgedroog te wees en geen kleurstof meer te bevat nie.

Herbesmettings sal weer van tyd tot tyd plaasvind, afhangende van die nabyheid van besmettingsbronne. Dus sal een enkele bespuiting nie noodwendig die plante vir altyd van die plaag vrywaar nie.

 

Huistuine

Waar slegs 'n paar plante in huistuine (vir die gebruik van die vrugte) verbou word, kan C cactorum doeltreffend bestry word deur die eiers gereeld gedurende die eierlêperiodes (Oktober en Februarie) met die hand van die plante te verwyder en te vernietig. lndien cochenille op sulke enkele plante voorkom, meng karbariel soos op die etiket aangedui en wend aan deur met 'n breë, ferm kwas aan die blaaie te verf. Dit sal help om die waslagies te beskadig en indringing van die gif bevorder.

 

Veiligheidsperiode

Op die etikette van die middels word 'n veiligheidsperiode aangedui dit wil sê, hoeveel tyd vanaf toediening van die gif moet verloop voordat die plante vir dierlike gebruik of die vrugte vir menslike gebruik veilig sal wees. Hierdie instruksies moet streng nagekom word om te verhoed dat diere of mense vergiftig word.

 

DANKBETUIGINGS

Mnr A J du Plessis van die Landboukollege Grootfontein word bedank vir fotografiese dienste. Drr J D Möhr en H G Zimmermann van die Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming word hartlik bedank vir die lees van die manuskrip en waardevolle voorstelle.

 

BRONNEMATERIAAL EN VERDERE LEESSTOF

ANNECKE D P, BURGER W A & COETZEE H, 1976. Pest status of Cactoblastis cactorum (Berg) (Lepidoptera: Phycitidae) and (Dactylopius opuntiae (Cockerell) (Coccoidea : Dactylopiidae) in Spineless cactus plantations in South Africa. Journal of the Entomological Society of southern Africa 39: 111-116.

ANNECKE D P & MORAN V C, 1982. Insects and mites of cultivated plants in South Africa. Butterworth & Co. (SA) (Pty) Ltd. 1982.383 pp.

BOT J, SWEET, SEUGNET & HOLLINGS, NORA. 1985. A guide to the use of pesticides and fungicides in the Republic of South Africa. Government Printer, Pretoria 312 pp.

BURGER W A, 1972. Control Cactoblastis and cochineal. Farming in South Africa 48 (12): 6 - 8.

PETTEY F W, 1948. The biological control of prickly pears in South Africa. Science Bulletin Department of Agriculture, Union of South Africa 271, 163 pp.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 51-54