Last update: April 10, 2012 01:43:38 PM E-mail Print

 

Instandhouding van Grondvrugbaarheid onder Besproeiing

F. H. Bosman 

 

DIE vrugbaarheid van die grond is een van die hoof-faktore waarvan die welslae van enige boerderystelsel onder besproeiing afhang. Dit is van aansienlike belang nie alleen omdat 'n hoë peil van vrugbaarheid gehandhaaf moet word nie ten einde maksimum opbringste te verseker op grond wat sterk gekapitaliseer is, maar ook omdat agteruitgang van die grond onder besproeiing maklik as gevolg van verkeerde produksie-metodes kan intree.

Die mees algemene oorsake van lae vrugbaarheid is (1) oorbesproeiing, (2) die voortdurende verbouing van gewasse wat nie bydra om die grond in 'n gesonde toestand te hou nie, (3) onvoldoende gebruik van kraalmis of ander organiese stowwe, en (4) ontoereikende of verkeerde toediening van anorganiese (minerale) kunsmisstowwe.

Daar bestaan 'n noue verwantskap tussen die hoeveelheid water aan die grond toegedien en die vrugbaarheid van die grond, die opbrings en kwaliteit van die geoeste gewas.

Hoewel water noodsaaklik is vir die fisiologiese funksies van die plant is dit geen voedsel nie maar dien slegs as 'n middel om voedingstowwe in die plant in te voer.

 

Grondvog

As die grond min toeganklike plantevoedsel bevat, is die oplossing in die grond betreklik swak en moet daar dus meer water deur die plant gaan om die stowwe wat absoluut noodsaaklik is per eenheid van die bepaalde gewas te verskaf, as wat die geval sou gewees het wanneer die grond goed van plantevoedsel voorsien is. Wanneer die plantevoedsel in die grond gedurende die gewas se leeftyd uitgeput raak, word die groeitempo ook vertraag maar die transpirasietempo van die plant (d.w.s., die snelheid waarmee water deur die plant uit die grond verdwyn) bly dieselfde. Hieruit blyk dus duidelik dat die hoeveelheid water wat nodig is om 'n sak koring, 'n baal hooi of 'n eenheid van enige ander soort gewas te produseer, groot is wanneer die grond se vrugbaarheid laag is. Die hoeveelheid benodigde water by skraal grondsoorte is inderdaad soma weer die helfte of selfs twee derdes groter as by vrugbare grondsoorte.

Ons sien dus dat lae vrugbaarheid die onekonomiese gebruik van water ten gevolge het, en dit moet goed verstaan word dat groei nie onder sulke omstandighede gehandhaaf kan word nie deur die besproeiing eenvoudig te vermeerder.

Die hoeveelheid water wat 'n grond kan hou word bepaal deur die tipe grond en die toestand daarvan, maar in alle gevalle is dit taamlik beperk. 'n Leemgrond kan ongeveer 25 persent water volgens gewig hou nadat die oortollige of swaartekragwater, soos dit genoem word, weggedreineer het, maar dit staan nie alles ter beskikking van die plant nie, want die plant verwelk as die watergehalte tot omtrent 10 persent gedaal het. Swaar grondsoorte hou meer water as ligte gronde, maar die voggehalte waarby verwelking by eersgenoemde in tree, is ook aansienlik hoër as by laasgenoemde. By normale grondsoorte is dit die voggehalte bo die verwelkpunt wat plantegroei bevorder. Produksie word egter grootliks beïnvloed deur die diepte tot waar die water ingesak het. Plante met betreklik diep wortels, soos mielies en koring, kan beter gebruik van swaar besproeiings maak as plante met vlakker wortelstelsels, soos bv., boontjies,. ertjies en grasse. Besproeiing moet dus volgens die soort gewas geskied, anders gaan kosbare water en waardevolle plantevoedsel deur uitloging verlore.

By 'n beskouing van die saak moet mens van die standpunt uitgaan dat besproeiing twee afmetings het: Die eerste het betrekking op die hoeveelheid water wat per oppervlakte-eenheid per besproeiing toegedien word, en die tweede op die aantal besproeiings, d.w.s., hoe dikwels besproeiing moet geskied.

Die optimale hoeveelheid water wat per besproeiing toegedien moet word, is die wat tot die diepte van die wortelgebied van die gewas sal deurdring; hoe dikwels besproei moet word, sal van die stadium en die ontwikkeling van die gewas en van klimaatsomstandighede afhang.

Besproeiing is 'n kuns wat bestaan uit die toediening van water aan die grond in hoeveelhede wat die moontlikheid van oormatige uitloging van uit die wortelgebied uitsluit.

Grondvog is ietwat uitvoerig behandel omdat besproeiingspraktyke so 'n belangrike en regstreekse rol in verband met grondvrugbaarheid en die verbouing van gewasse speel.

 

Nadele van Onderbesproeiing

Lusern wat al 'n aantal jare op diep, goed gedreineerde gronde gevestig is, kan tot 8 duim besproeiingswater gebruik maar jonger plante behoort minder te kry. By die Grootfonteinse Landboukollege het 30 duim besproeiing per seisoen oor 'n tydperk van vyftien jaar, twee maal soveel lusernhooi per duim opgelewer as 96 duim.

Op die gemiddelde grondsoorte behoort somer- en wintergraansoorte nie meer as omtrent vyf duim per besproeiing te kry nie as die graan goeie gebruik van die water moet maak; aartappels, boontjies en ertjies behoort minder te kry, en grassoorte nie meer as drie of vier duim water op 'n slag nie. Waar meer as hierdie hoeveelhede toegedien is, is gevind dat die opbringste verminder het.

By die Kollege (met 'n reënval van 14-18 duim gedurende die proewe) is maksimum koringopbringste verkry met 'n besproeiing van 15 duim per seisoen; 30 duim het 5 sak per morg minder opgelewer. Die swak kleur wat dikwels in die lente by oorbesproeide winter graansoorte opgemerk word, is gewoonlik te wyte aan 'n tekort aan stikstofhoudende plantevoedsels wat deur uitloging verwyder is. Swaar besproeiings vertraag ook rypwording, werk die ontwikkeling van siektes in die hand en het dikwels 'n nadelige uitwerking op die kwaliteit van die oes.

Oorbesproeiing is 'n uiters ernstige fout wat baie dikwels gemaak word. Gewoonlik is besproeiingsbeddings te lank en te breed of die stroom is te swak om die regte hoeveelheid water toe te dien. Die rede hiervoor is die begeerte om by besproeiing op arbeidskragte te besuinig en om meganiese planting en oesinsameling te vergemaklik. Of water nou 'n beperkende faktor is of nie, moet hierdie praktyk ten sterkste afgekeur word.

Selfs al sou geen verlies van plantvoedingstowwe as gevolg van uitloging plaasvind nie, veroorsaak die verwydering van oeste aansienlike verminderings in die fosfor, stikstof en ander voedingselemente in die grond. Daar word beweer dat selfs waar gesaaide afgewei word, slegs ongeveer die helfte van die stikstof en twee-derdes van die fosfor weer in die grond beland, tensy 'n aansienlike gedeelte van die voer uit peulgewasse bestaan.

 

Misstofvereistes

Fosfor moet noodsaaklikerwys in die vorm van 'n fosfaathoudende misstof aan die grond terugbesorg word, maar die stikstofgehalte van die grond kan verhoog word deur die verbouing van meer peulgewasse en deur die toediening van mis of kompos, noudat die voorraad stikstofhoudende kunsmisstowwe nie toereikend is om in die land se behoeftes te voorsien nie.

Potas is gewoonlik in voldoende hoeveelhede in die grond aanwesig om in die gesaaide se behoeftes te voorsien. Grondvrugbaarheid word egter nie slegs deur die hoeveelheid beskikbare plantevoedsel in die grond bepaal nie. As dit die geval was, sou dit maklik, hoewel miskien duur, wees om produksie op 'n hoë peil te hou deur vrugbaarheid is die produk van 'n aantal faktore, waarvan party nie maklik is om te ontwikkel of in stand te hou nie.

Vir die instandhouding van vrugbaarheid moet die grond se fisiese toestand goed wees. Om dit te bewerkstellig moet die grond met sorg behandel word en moet organiese stowwe ook voortdurend daaraan toegedien word.

Wanneer die hoeveelheid organiese stowwe in die grond vermeerder word, verbeter die vrugbaarheid onder normale omstandighede. Swaar grondsoorte word brosser en ligte grondsoort kry meer lywigheid. In alle gevalle vermeerder die bedrywigheid van bakterieë en word meer plantevoedsel, en veral stikstofhoudende plantevoedsel, vrygestel. Die grond kan makliker vog opneem en bewaar. Uit proefnemings het geblyk dat dit onprakties is om in streke met 'n warm klimaat die persentasie organiese materiaal in die grond op 'n hoë peil te handhaaf, maar dit is noodsaaklik om taamlik gereeld 'n redelike hoeveelheid plantemateriaal in te werk.

Daar is verskeie maniere waarop in die grond se behoeftes aan organiese stowwe voorsien kan word. Eerstens moet alle mis bewaar en weer aan die grond terugbesorg word, maar dis onwaarskynlik dat daar ooit voldoende hoeveelhede van hierdie produk beskikbaar sal wees om in die grond se behoeftes te voorsien. Tweedens behoort surplus- of afval-plantprodukte soos strooi, stronke, skille, ens., sover ekonomies. moontlik is, in die vorm van kompos gebruik te word. Derdens kan groen oesoorblyfsels of die nagroei van gewasse in die grond ingeploeg word, of groenbemisting kan spesifiek toegepas word. Hoewel ,gunstige resultate van laasgenoemde praktyk op besproeide grond verwag kan word, is dit hoofsaaklik 'n kwessie van betaalbaarheid of groenbemisting toegepas behoort te word of nie. Plaaslike toestande moet bepaal of dit voordeliger sal wees om die gewas af te oes, af te wei of in te ploeg, en ook of die vermeerdering in die opbringste na groenbemisting die onkoste in verband met die produksie van die groenbemistinggewas en die verlies van 'n seisoen se produksie op 'n bepaalde land ruimskoots sal dek. Vierdens, sal wisselbou help om die vrugbaarheid van die grond in stand te hou.

Die hoeveelheid organiese materiaal wat in die grond agterbly nadat die wortels van gewasse ontbind het, is geensins onbeduidend nie, maar tog dikwels onvoldoende om die verlies wat gedurig plaasvind, te vergoed.

Grasse dra baie daartoe by om die fisiese toestande van die grond te verbeter, en om hierdie rede moet hul waarde nie uitsluitend op hul nuttigheid as weiding of as hooigewasse gebaseer word nie. Grassoorte moet 'n belangriker rol in ons landbou speel as wat tans die geval is.

Op grond wat reeds skraal is, is dit raadsaam om by die aanplant van grasse 'n goeie hoeveelheid mis of kompos toe te dien.

Om die beste resultate te verkry, moet hul minstens twee jaar op dieselfde grond gelaat word.

Die vermoë van peulgewassse om die stikstofgehalte van die grond te verhoog is deur middel van stikstofbindende bakterieë in hul wortelknoppies. is goed bekend. Hulle is dus van besonder groot belang solank die huidige tekort aan stikstofhoudende kunsmisstowwe voortduur. Waar omstandighede dit toelaat, speel lusern gewoonlik 'n belangrike rol by besproeiingsboerdery maar meer nut kan uit hierdie gewas getrek word deur dit in 'n korttermynwisselboustelsel te gebruik. Daar word al hoe meer gebruik van lusern gemaak as 'n weidingsgewas, en in hierdie geval kan dit met voordeel in 'n wisselboustelsel met 'n betreklik kort kringloop ingesluit word aangesien beweiding die lewe van die stand verkort en dit dus meer ekonomies is om nuwe lande aan te Iê. 'n WisselboustelseI. baat ook die gesondheidstoestand van die grond.

Ons landbou is nog betreklik jonk, maar het reeds die punt bereik waar verder verliese aan natuurlike grondvrugbaarheid nie bekostig kan word nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 18