Last update: August 16, 2011 08:49:50 AM E-mail Print

 

Veldbestuur: Integrasie van beginsels tussen teorie en praktyk

 

M Vorster

 

 

"Die doel van veldbestuur is dat die veeboer soveel bemarkbare diereprodukte moontlik so ekonomies as moontlik vanaf die veld kan verkry, sonder dat die veld op lang termyn skade ly," het dr. Marius Vorster, adjunkdirekteur van die Grootfontein Landbou-ontwikkellingsinstituut, gesê op die Forum vir die Ekologie van die Ariede Streke wat op De Aar gehou is.

Om in die doel te slaag, is dit noodsaaklik dat die belangrikste wetenskaplik gefundeerde veldbestuursbeginsels en –praktyke wat die afgelope 50 jaar deur navorsing daargestel is, korrek geïnterpreteer en sinvol as geheel in die boerderystelsel geïntegreer moet word. Daar moet egter daarteen gewaak word om veldbestuur te ingewikkeld te maak.

Dr. Vorster is van mening dat een van die belangrikste redes waarom die toepassing van korrekte veldbestuursprogramme in die verlede nie suksesvol was nie, is dat die veeboer of adviseur nie daarin kon slaag om die belangrikste beginsels van veldbestuur vir die spesifieke gebied sinvol in die boerderystelsel te kan integreer nie.

Dr. Vorster het gewaarsku dat die sinvolle en voordeligste integrering van veldbestuursbeginsels in 'n boerderystelsel nie 'n eenvoudige taak is nie. Veldbestuur word as 'n uiters komplekse of ingewikkelde boerderypraktyk beskou.

Veldbestuur bestaan uit die toepassing van 'n aansienlike hoeveelheid interafhanklike beginsels en praktyke. Die verkeerde toepassing van een beginsel sal in meerdere of mindere mate 'n invloed op die ander hê. Die gevolg daarvan is dan dat veldbestuur nie in sy doel sal kan slaag nie.

Korrekte veldbestuur vereis 'n deeglike kennis van al die verskillende veldbestuursbeginsels en hulle reaksies met mekaar. Dit is dus geen wonder nie dat die meeste veeboere dit moeilik vind om wetenskaplike veldbestuur te verstaan en suksesvol toe te pas, se dr. Vorster.

Rekenaartegnologie maak dit deesdae makliker om die verskillende veldbestuursbeginsels in die boerderystelsel sinvol en voordelig te integreer.

Sekere beginsels moet ten opsigte van beweiding toegepas word. Die boer moet onder andere toesien dat 'n kamp nie elke jaar dieselfde tyd bewei word nie. Die ideaal sou wees om slegs 50 % van die plante te benut. Dit is egter onmoontlik as gevolg van die verskeidenheid plante en die wisseling in smaaklikheid tussen die plante.

Dit is dug beter om die veld "reg" te rug na beweiding as om te probeer om dit "reg" te bewei. Die maklikste manier om die beginsels in die boerderystelsel te integreer, is om 'n sistematiese wisselweidingsprogram te volg.

Daar bestaan nie iets soos die ideale wisselweidingstelsel nie. Vir elke boerderysituasie moet 'n wisselweidingstelsel ontwerp word wat daarby pas. Die wisselweidingstelsel moet aangepas wees by sekere faktore, byvoorbeeld die boer se voorkeure. Sommige boere is konserwatief, ander weer progressief. Die boer se bestuursvermoë gaan ook 'n invloed hê op die tipe wisselweidingstelsel wat vir sy plaas ontwerp word, want nie alle boere het ewe veel kennis van plante nie. Die plantegroeitipe en die boerderysituasie gaan ook 'n invloed hê op die tipe wisselweidingstelsel wat gebruik gaan word.

Die konvensionele of vaste wisselweidingstelsel is waar 'n 2-, 3- of 4-kampstelsel toegepas word. Die tyd, lengte en duur van wei-rusperiodes pas aan by die seisoene. Die nadeel van die stelsel is dat daar feitlik geen buigbaarheid is nie en die vee bewei die hele kamp vir die hele periode. 'n Moontlike oplossing is om die tropgrootte aan te pas by die weidingskapasiteit van die kamp. Die stelsel het ook voordele soos die feit dat dit veld- en veebestuur vereenvoudig, en dit vereis minder kampe en dus minder oprigtingskoste.

By meerkampstelsels word 5 kampe of meer gebruik. Die doel hier is om die weiperiode korter te maak. Wanneer die metode gevolg word, word sekere vereistes gestel, naamlik goeie bestuursvermoë, voltydse aandag, goeie plantkennis, deeglike kennis van die plant se behoeftes en goeie rekordhouding. Meerkampstelsels kan volgens 'n sistematiese of ope rotasiemetode toegepas word.

Die groepkampbenadering is 'n oorkoepelende metode waarbinne enige van die genoemde wisselweidingstelsels toegepas kan word.

Hierdie benadering behels basies die groepering van die weikampe op 'n plaas in 2, 3 of 4 groepe en beweiding van die groepe volgens die ritme van 'n konvensionele wisselweidingstelsel. Dit word groeprotasie genoem.

Binne die groep kampe wat vir beweiding geskeduleer is, kan die veeboer die vee volgens eie oordeel tussen die kampe verskuif. Dit word kamprotasie genoem. Die belangrikste reël by hierdie benadering is dat wanneer groeprotasie aandui dat 'n groep kampe vir rus geskeduleer is, geen kampe van daardie groep bewei mag word nie. Benuttingstrategieë wat die veeboer in die kampe kan toepas, sluit in: kortvreet van uitgegroeide veld, doelbewuste spaar van veld gedurende goeie reënseisoene vir droogte-oorbrugging, paring of speen, trop opeenvolging, winterbeweiding om gras veld te ontwikkel, en onttrekking van kampe weens die voorkoms van gifplante en om probleme sacs ongediertes, verlammingsbosluis en kapok te vermy.

'n Verskeidenheid van 2-, 3- en 4-groepkampbenaderings word met groot sukses in die Karoostreek toegepas. Heelwat boere verkies weer om 'n groep kampe vir 'n jaar te rus, terwyl die kampe van die ander 2 groepe afwisselend bewei word. Elke groep kampe rus 'n jaar.

Sekere faktore is noodsaaklik om sukses te verseker. Die plaas moet goed beplan wees. Die veegetalle moet ooreenstem met die weidingskapasiteit van die plaas. Die regte keuse moet gemaak word by die getal groepe en die groepe moet gebalanseerd wees ten opsigte van grootte, veldsoorte, weidingskapasiteite, veeproduksiepraktyke en spesiale behandelings. Die wisselweidingstelsel wat vir groeprotasie gekies is, moet pas by die beginsels van die plantegroeitipe. Daar moet verkieslik meer kampe as troppe per groep wees. Rekordhouding is noodsaaklik.

Dit is egter moontlik om, afhangend van die grootte van die plaas en die getal kampe beskikbaar, verskillende kombinasies van konvensionele en groepkampstelsels toe te pas, het dr. Vorster gesê.

 

Published

Karoo streeknuusbrief 1