Last update: August 18, 2011 02:30:31 PM E-mail Print

 

Die integrering van PRESTASIE-AANTEKENING en Stamboekrekordhouding

GJ DELPORT

Hoof S.A. Vagtoetssentrum 

 

Tans is die Afdeling Veeverbetering van die N I V S en die Suid Afrikaanse Stamboek Vereniging besig met die ontwikkeling van 'n geïntegreerde rekenaarstelsel. Die hoofdoel van hierdie stelsel is om diere se prestasies te koppel aan stamboominligting. Sodoende kan die data wat deur telers versamel word, omskep word in akkurate inligting wat telers vir besluitneming op verskeie terreine kan aanwend.

Vervolgens sal die voordele van die stelsel, die implementering daarvan sover dit wolskape betref en moontlike kostes bespreek word.

 

1. VOORDELE:

Die beskikbaarheid van 'n aantal effektiewe skaapbestuurstelsels vir mikrorekenaars laat 'n mens onwillekeurig twyfel of daar nog enige voordeel daaraan verbonde is om 'n oorhoofse groot hoofraamrekenaarstelsel gelyktydig in stand te hou.

Dit moet eerstens daarop gelet word dat die mikrorekenaarstelsel wat deur 'n individuele teler gebruik word, ten beste kan ontleed wat op 'n spesifieke plaas plaasgevind het. Dit is wel moontlik om die ontleding met die van een of twee buurmanne te vergelyk en 'n paar afleidings te probeer maak. Hierdie afleidings het egter op die ou end maar beperkte waarde. Dit is hier waar 'n groot Nasionale stelsel van waarde is, want 'n mens kan op so 'n basis akkurate vergelykings op 'n streeks- en selfs Nasionale basis, tref.

Die inligting wat die teler normaalweg met behulp van 'n mikrorekenaarstelsel genereer kan natuurlik ook deur so 'n Nasionale stelsel verskaf word. Dit is natuurlik nie so gerieflik byderhand nie, maar behoort teen 'n laer prys bekombaar te wees.

Inligting wat vir wolskape van belang is, sluit aspekte oor reproduksie soos lampersentasie, speenpersentasie en mortaliteit in. Hierbenewens kan potensieel inligting bygewerk word oor die verkoop van teeldiere aan ander telers en 'n verskeidenheid ander aspekte. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat 'n Nasionale stelsel sulke syfers op 'n eenvormige wyse bereken en beskikbaar stel. Sulke syfers is dus direk vergelykbaar uit 'n bestuursoogpunt.

Tweedens skep so 'n stelsel die geleentheid om effektief beheer uit te oefen oor die gehalte van teeldiere wat in- of uitgevoer is. Hierby kan beheer oor die gehalte van diere wat vir kunsmatige inseminasie aangewend word, ingesluit word. Die voordele wat uit hierdie kontrole deur 'n onafhanklike organisasie spruit, spreek vanself.

Die Nasionale nageslagtoetsskema van die Merinotelersgenootskap is reeds in die proses om die waarde van akkurate teeldierevaluasie en kunsmatige inseminasie in die wolskaapbedryf, te bewys.

Die Melkbeesbedryf pluk nou reeds die vrugte van jarelange aantekeninge van beide ouerskapidentifikasie en gemete prestasie. Bulkatalogusse word nou reeds opgestel op grond van "BLUP"-teelwaardebepalings. Hierdie teelwaardes is in teenstelling met die binnekudde indekse wat vir wolskape gebruik word, op 'n nasionale basis vergelykbaar. Dit beteken in wolskaaptaal dat die, sê 100 beste ramme in die land vir elke ras geïdentifiseer kan word.

Die gebruik van 'n "dieremodel BLUP" vir wolskape kan die volgende ander verreikende implikasies tot gevolg hê:

 

(1) Beraming van teelwaardes vir jong diere. Dit beteken dat tweetandramme en- ooie se teelwaardes voorspel kan word voordat hulle enige nageslag self geproduseer het. Anders gestel beteken dit dat die ou binnekudde indekse vervang kan word met "tussen-kudde-teelwaardes" wat boonop twee keer so akkuraat is.

(2) Genetiese tendense:

Aangesien "BLUP" teelwaardes van diere wat lank terug gebore is (bv. 1960), vergelykbaar is met teelwaardes van diere wat meer onlangs gebore is, kan genetiese veranderings wat oor jare in elke kudde plaasgevind het gemeet word. Besluitneming oor teelbeleid kan dan op vaste inligting geneem word.

(3) Omgewing-tendense:

Die "BLUP"-tegniek van teelwaarde bepaling skei genetiese- en omgewingseffekte. Sodoende kan vasgestel word of bestuurspraktyke oor die langtermyn "gewerk" het.

 

Dis natuurlik nie eers nodig om te sê dat enige inligtingstelsel (soos "BLUP") net so betroubaar is soos die akkuraatheid van die basiese inligting nie. Die implementering van so 'n stelsel is dus uitsluitlik afhanklik van (1) deelname deur sover moontlik alle telers en (2) die geloofwaardigheid van die inligting wat hulle insamel.

 

2. IMPLEMENTERING VAN DIE GEïNTEGREERDE WOLSKAAPSTELSEL.

Die Nasionale Wolskaapprestasie- en Nageslagtoetsskema is as 'n onderafdeling van veeverbetering uiteraard betrokke in die ontwikkeling van die geïntegreerde rekenaarstelsel. Die implementering van hierdie stelsel is afhanklik van effektiewe kommunikasie tussen die Teler, S.A. Stamboekvereniging en die S.A. Vagtoetssentrum. Hierdie kommunikasie kan skematies as volg voorgestel word:

 

Die verskillende stappe in die kummunikasieproses (Fig 1) kan as volg uiteengesit word:

 

STAP 1 GEBOORTEREGISTRASIE:

Die keuse word aan die teler gestel ten opsigte van (1) groepparing (2) slegs een ouer bekend (3) beide ouers bekend. In die lig van die beskikbaarheid van gesofistikeerde tegnieke om teelwaarde te beraam, sal die teler die grootste voordeel uit die stelsel kan trek deur volledige ouerskap (keuse 3) aan te teken.

 

Op die vorm (Tabel 1) waar die geboortekennisgewing/eerste aanvaarding gedoen moet word behels die volgende:

Die verskillende punte of soos in rekenaartaal die verskillende "velde" word nou as volg verduidelik:

 

Veld 1: Dokumentkode. Hier is nommer reeds toegeken.

Veld 2: Lidnommer. Nadat aansoek om lidmaatskap by Stamboek gedoen is word 'n lidnommer toegeken wat in alle korrespondensie met Stamboek gebruik moet word.  U lidnommer word met geboortekennisgewing/eerste aanvaarding hier voltooi. (Aansoekvorms om lidmaatskap by S.A. Stamboek is by die kantoor van die Merinostoettelersgenootskap beskikbaar).

Veld 3: Dit is die raskode. In die geval van die Merino is dit 324.

Veld 4: Identifikasie van die lam. Hier word die kenmerkletters ingevul, dit wil sê die stoetnommer wat vir 'n stoet geregistreer is. Die afkorting FDM staan vir "Flock Designation Mark" en KKL vir "Kudde Kenmerkletter."

Veld 5: Geboortedatum. In die eerste kolom word die jaar van geboorte geskryf, dit wil sê 89 as die lam in 1989 gebore is. In die tweede kolom word die volgnommer van die lam ingevul, byvoorbeeld vir die eerste lam gebore in 1989, vul u 0001 in, vir die tweede 0002, ensovoorts, in. Die derde kolom is die datum van geboorte en sal gevind word dat die jaartal eerste geskryf word, gevolg deur die maand en die dag - byvoorbeeld as die  lam op 10 Januarie gebore is, word die datum as volg ingevul: 89.01.10. Maak gebruik van dittomerke in geval van meerlinge en waar moontlik.

Veld 6: Geslag. Dit is die geslag van die lam en as dit 'n ooi is, dui die geslag met die letter "'0" aan en 'n ram met 'n letter "R".

Veld 7: Dekkode. As dekking natuurlik plaasgevind het, word niks ingevul nie, maar indien kunsmatige inseminasie toegepas is, word die syfer "3" hier ingevul.

Veld 8: Geboortestatus. Hier word 'n "1" ingevul vir 'n enkeling, "2" vir 'n tweeling, ensovoorts.

Veld 9 tot 12: Hierdie velde word voltooi indien die moeder en vader alreeds by Stamboek geregistreer is. Onder "identifikasie" word die skaapnommer ingeskryf en onder "registrasie nr" die Stamboek registrasie nommer van die betrokke skaap.

 

STAP 2 VORMS VIR VAGONTLEDING:

Nadat die inligting oor geboorteregistrasie deur S.A. Stamboek opgeneem is op rekenaar, sal vorms aan die teler verskaf word vir die aantekening van elke dier se prestasie.

 

Hierdie vorm (Tabel 2) sal van bo na onder en van links na regs soos volg daaruit sien:

Heel bo is die opskrif "Wolskaap Inligtingsvorm" gevolg deur van links na regs, Lidnommer, Naam en Adres, Ras, Raskode en Geslag. Hierdie inligting sal deur S.A. Stamboek verskaf word en is gevolglik nie in Tabel 2 aangedui nie.

Hierna is die vorm verdeel in verskillende velde, genommer vanaf Nr 1 tot 19.

Die vraag is nou wie moet wat invul?

 

VELD

1.     Vormnommer: die sal klaar ingevul wees

2.     Ontledingsverwysingsnommer: word deur S.A. Vagtoetssentrum toegeken en ingevul.

3.     Datum ontledings begin: S.A. Vagtoetssentrum.

4.     Groep Nr ( ): word deur die teler ingevul.

5.     Getal Groepe ( ): word deur die teler ingevul.

6.     Vorige skeerdatum: die teler.

7.     Huidige skeerdatum: die teler.

8.     Skaapnommer : sal reeds ingevul wees deur Stamboek.

9.     Liggaamsmassa : die teler (gewig na skeer) maak voorsiening vir een syfer na die komma. Die laaste syfer is dus die desimaal.

10, 11 en 12 Plooitellings voor, middel en agter: die teler (tellings volgens standaard stel foto's vir plooie).

13.    Vagmassa: die teler (die hele afgeskeerde vag behalwe nat lox en / of kloste). L W Twee syfers na desimale punt.

14.    Graad - die teler bv AA, A, B ot C. Behalwe vir Merino’s waar die prulkodes ingevul moet word deur die inspekteur.

15.    Verwysingsnommer: S.A. Vagtoetssentrum.

16.    Goed / Afkeur: 1 = Goedgekeur 2 = Afgekeur. Bouvorm foute deur inspekteur.

17.   Graderingskode: Stamboek sal dit bepaal by. registreerbaar in Gevorderde register, Basiese register of volledige registrasie.

18.    Inspeksie datum: die inspekteur tydens inspeksie.

Die res van hierdie velde is nog nie in werking nie, dus moet hulle geïgnoreer word.

 

STAP 3 WOLMONSTERONTLEDING

Nadat die vorms soos hierbo beskryf ingevul is, word dit tesame ,met die nodige wolmonsters na die S.A. Vagtoetssentrum versend vir ontleding. By die Vagtoetssentrum sal alle data ingesleutel word en eers deur Stamboekprogramme vir akkuraatheid gekontroleer word.

 

STAP 4 PRESTASIETOETSRESULTATE

Prestasietoetsresultate sal soos in die verlede by die Vagtoetssentrum bereken word en aan telers versend word. Die verskil is egter dat die resultate terselfdertyd ook opgeneem sal word in die databasis van die S.A. Stamboekvereniging. Hierdie databasis sal dan aangewend word vir "BLUP"-ontledings.

 

STAP 5 REGISTRASIESERTIFIKATE

S.A. Stamboekvereniging is dus nou in staat om registrasiesertifikate vir diere uit te reik op grond van beide afstamming en gemete prestasie. Indien die teler se rekordhouding dit toelaat kan "BLUP" teelwaardes op sulke sertifikate aangebring word.

Die programme vir die implementering van die stelsel is reeds tot so 'n mate ontwikkel dat telers diere kan registreer om "toetslopies" uit te voer. Hoewel so 'n stelsel natuurlik addisionele koste in die vorm van meer intensiewe rekordhouding en registrasiekoste (vir lewende diere ouer as 12 maande) by die S.A. Stamboekvereniging sal meebring, hou die stelsel aansienlike bestuurs- en teeltverbeteringsvoordele vir beide die individuele teler en die bedryf as geheel, in.

 

3. SLOTSOM

Samewerking van alle wolskaaptelers om die stelsel te toets en te verbeter is noodsaaklik. So 'n geïntegreerde stelsel kan net tot voordeel van die bedryf wees. Dit moet net op 'n geordende doelgerigte wyse aangepak en ontwikkel word.

 

Published

Merino joernaal 52 (1)