Last update: March 23, 2012 09:41:36 AM E-mail Print

 

Intensiewe Merinoskaapboerdery op besproeiingslande

 

A G Bezuidenhout

Diereproduksienavorsing

Cradockproefperseel

CRADOCK

5880


Onder intensiewe toestande kan lampersentasies van so hoog as 160% en 'n wolproduksie van 10,40 kg per ooi met Merinoskape verkry word. Sulke hoë reproduksie- en produksiepeile is alleenlik moontlik indien optimum voedings-en bestuurspraktyke gevolg word.

Die bevolkingsontploffing stel toenemende eise aan die landboubedryf om genoegsame voedsel en grondstowwe vir klerasie te produseer. Dit is welbekend dat natuurlike weiveld die goedkoopste en belangrikste voedingsbron vir die voorsiening in die voedingsbehoeftes van kleinvee is. Met die stabilisasie van skaapgetalle en knellende droogtes oor die afgelope aantal jare, kan min aanspraak gemaak word op die horisontale uitbreiding van wol- en vleisproduksie. Die produksie per eenheidsoppervlakte sal dus verhoog moet word om duur landbougrond meer doeltreffend te benut.

 

AANGEPLANTE WEIDINGS EN VOERKRALE

Baie boere in Suid-Afrika sien hul toekoms in vertikale uitbreiding, dit wil se die verhoging van produksie per eenheidsoppervlakte van hul skaapboerdery. Vertikale verhoging in produksie kan verkry word deur meer intensief te boer op aangeplante weidings en/of in voerkrale. Aangeplante weidings en voergewasse verskil aansienlik ten opsigte van seisoenale groeipatrone en voerproduksie en moet die korrekte kombinasie van gewasse verbou word om 'n doeltreffende voervloeiprogram te verseker. 'n Doeltreffende voervloeiprogram moet voldoende voer produseer om in die skape se voedingsbehoeftes gedurende die verskillende stadia van groei en reproduksie te voorsien. Aangeplante weidings en voergewasse kan slegs voldoende voer van goeie gehalte produseer indien dit korrek verbou en bestuur word. Weens verskille in gewasse se waterbehoeftes moet 'n voervloeiprogram dug ook inpas by die beskikbare besproeiingswater.

Sommige weidings kan dwarsdeur die jaar benut word soos byvoorbeeld luserngrasmengsels en gras-klawer- mengsels. Hierteenoor kan lusern slegs gedurende die somermaande bewei of gehooi word. Indien lusern bewei word moet 'n gedeelte ook gehooi word om skape in voerkrale te oorwinter. As alternatief kan kleingraanweiding gevestig word vir beweiding gedurende die wintermaande. Die lusern- en kleingraanweiding verskaf dan 'n voervloei met 'n hoë voedingswaarde en voerproduksie dwarsdeur die jaar soos in Fig 1 aangedui.

Intensiewe Skaapboerdery in voerkrale kan ook doeltreffend ingeskakel word by die verbouing van kontantgewasse. Sodoende kan oesreste 'n aansienlike bydrae lewer tot voervoorsiening. Ooreenstemmend met aangeplante weidings, moet voergewasse vir 'n voerkraalstelsel ook voldoen aan die diere se voedingsbehoeftes, terwyl die waterbehoeftes daarvan ook binne perke moet wees.

 

BESTUUR

Verhoogde skaapproduksie kan slegs suksesvol en winsgewend wees indien die voergewasse en weidings korrek bestuur word. Om voldoende besproeiing en hergroei van weidings te verseker, is dit noodsaaklik dat genoeg weidingskampe van ongeveer een hektaar grootte beskikbaar moet wees. Kuddegroottes moet ook aangepas word by kampgroottes sodat 'n weidingskamp binne vier tot sewe dae skoongevreet kan word. So byvoorbeeld moet soveel as 260 skape per ha per week aangehou word op lusern gedurende die piek groeiperiode in die somer.

lndien eenjarige weidings soos kleingrane in 'n voervloeiprogram ingesluit word, moet dit vroegtydig gevestig word om gereed te wees vir beweiding aan die einde van die luserngroeiseisoen. Die gereelde bepaling van beskikbare plantvoedingstowwe in die grond met behulp van grondmonsters sal bydra tot die korrekte bemestingsprogram vir die verskillende gewasse.

Die meeste aangeplante weidings het 'n hoe ruproteïeninhoud, terwyl die energie-inhoud daarvan onvoldoende kan wees vir hoë produksie- en reproduksiepeile. Die negatiewe invloed van laat dragtigheid op voerinname saam met die stygende voedingsbehoeftes tydens laat dragtigheid en laktasie, vereis dus addisionele energie-aanvulling op weidings en in voerkrale.

 

RESULTATE

Resultate op die Cradockproefperseel het getoon dat lusern. en kleingraanweiding 'n jaarlikse voerproduksie van 25,27 kg ton droëmateriaal kan lewer. Dit is voldoende om 25 reproduserende Merino-ooie per ha per jaar aan te hou. Met 'n lente-lamseisoen was die lusernproduksie gedurende die somermaande (sien Fig 1) voldoende om ook aan die lammers weiding te voorsien.

Die gemiddelde lampersentasie (aantal lammers lewend gebore as 'n persentasie van die getal ooie beskikbaar vir paring) het gewissel van 123% (weiding) tot 1460;0 (voerkraal), terwyl die speenpersentasies onderskeidelik 100 en 123% was op 100 dae ouderdom. Voorspeense gemiddelde massatoenames van 247 g per dag is verkry, terwyl dit na speen afgeneem het na ongeveer 100 g per dag sonder addisionele energie-aanvulling. Energie-aanvulling aan lammers is dus noodsaaklik om bevredigende massatoenames te verseker. Met drie lamseisoene in twee jaar was die gemiddelde lampersentasie 130% en gedurende een lamseisoen was dit selfs so hoog as 160%. Die gemiddelde speenmassa op ongeveer twee maande ouderdom was 18,10 kg per lam.

Die gemiddelde jaarlikse wolproduksie van Merino-ooie op die Cradockproefperseel wissel van 9,92 kg per ooi op weiding tot 10,40 kg in die voerkraal. Onder hierdie intensiewe toestande wissel die wol se skoonopbrengs van 70 tot 75%. Die jaarlikse wolproduksie per reproduserende ooi is dus ongeveer 70% hoër as op veldweiding.

Met goeie bestuur van Merinoskape op aangeplante weidings en in voerkrale is besondere hoe produksie-en reproduksieresultate moontlik. Ekonomiese oorwegings soos die prys van vleis en wol aan die een kant en produksie-insette aan die anderkant, sal egter altyd die aanvaarbaarheid al dan nie van so 'n produksiestelsel bepaal.

 

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 13-14