Last update: April 12, 2012 09:15:10 AM E-mail Print

 

Kalkoensoorte en Hul Behandeling

A. OWEN JOHN 

 

AL die soorte mak kalkoene is ongetwyfeld afkomstig van die Amerikaanse wildekalkoen. Hierdie wilde kalkoensoorte word gewoonlik onder drie groepe geklassifiseer. Daardies wat in Noord-Amerika en Kanada aangetref word, is bekend as die Meleaqris americana, waarvan die kleur beperk is tot 'n donker en brons tint. Net so 'n mooi ras word aangetref in Meksiko en die Suidelike State, bekend as die Meleaqris Mazicana; hierdies het enigsins korter bene as die eersgenoemde en die punt van hul stertvere is wit. Daar word nog meer suidelik 'n soort aangetref in Honduras en Sentraal Amerika; hul is bekend as die Meleaqris ocollata en is kenbaar aan die afwesigheid van die borskwas, soms “baard" genoemd asook aan die verskil in die belle en die veelkleurige prag van die vere.

Die Spanjaarde was die eerste wat kalkoene in Europa ingevoer het en hulle het ongetwyfeld die Meksikaanse kalkoen verkry, vandaar die min of meer wit merke aan die meeste van die Europese soorte. Daar kan werklik geen duidelike lyn tussen enige van die soorte getrek word nie, omdat hulle maklik met mekaar omgaan en kruis; dit bewys duidelik dat hulle maar plaaslike soorte van een groot ras is. Die verskil in karakteristiek en die kleur word meer aan die klimaat toegeskrywe en dis die waarskynlike gevolg van warm of koue klimaatsgesteldhede, die skaarste of oorvloed van voedsel, ens.

Wat die oorsprong van die naam "kalkoen" betref is van minder belang, daar is baie teorieë maar dis alles gissings.

 

Soorte

Met die oog op die handel is die populêrste soort die Amerikaanse Brons, 'n voël wat pragtig gebou is met 'n veelkIeurige bronse tint, die vlerkvere is byna swart met wit strepe wat ewe ver van mekaar dwarsoor elke vlerk loop; die stertvere is dol swart met bruin strepies en wit punte.

Die wyfie lyk net soos die mannetjie met uitsondering van die rug, bors en vlerkvere met wit punte.

Die standaard gewig van 'n Amerikaanse Brons mannetjie is 36 lb. En wyfie 20 lb.

Die Amerikaanse kalkoenboere maak daar nou werk van om die wilde voëls by hul makkes te laat kom met die gevolg dat hierdie populêre soort sy grootte te danke het aan omtrent driekwart wilde bloed.

Ofskoon die wit Oostenrykse. Soms bekend as die "Wit Hollandse" kalkoen, nie in Suid-Afrika so populêr is as die Brons nie en daarom nie hier op grote skaal aangehou word nie, behoort kalkoenboere daaraan meer aandag te wy. Hoewel dit nie so groot as die Brons is nie, het dit 'n besonder lange lyf wat 'n belangrike punt is. Dis spierwit van kleur met uitsondering van die kwas of "baard " wat swart is. Standaard gewig, mannetjie 26 lb., wyfie 16 lb.

Die Swart Norfolk (Black Norfolk) is 'n ander soort wat op die Europese mark populêr is. Sy vere is swart en hy het 'n goeie gewig vir die mark, t. w.: die mannetjie 27 lb. en die wyfie 18 lb. Ofskoon die twee laasgenoemde soorte baie kleiner as die bronskleurige is, is hul tog groot en swaar genoeg vir die plaaslike sowel as die Europese marke waar die vraag is vir kalkoene van 10 tot 20 lb: Dit word ook beskou dat die vleis van albei soorte van beter kwaliteit en sappiger is, terwyl hul wit vere ook meer werd is as die van die gekleurde soorte. Die grootste voël is nie altyd die voordeligste nie; die middelmatige soort betaal gewoonlik die beste. Ten einde kalkoenteel ten volle te ontwikkel, moet oorsese marke gekry word en Suid-Afrika moet derhalwe die regte kwaliteit en grootte produseer om met ander produserende lande te kan konkureer.

Die kopers wil liewer 'n voël hê van middelmatige grootte en wil maar selde meer betaal as 21s, vir mannetjies en van 14s. tot 16s. vir wyfies. Ons moet 'n voël van middelmatige grootte teel en verskaf wat die publiek verlang vir die beste pryse wat verkry kan word.

'n Tak van die kalkoenteelt in Amerika is die "turkey poults” d.w.s. .jonge kalkoentjies van nege tot tien weke oud wat vir tafelgebruik geslag word; hulle wee van drie tot vier pond en smaak natuurlik baie lekker. Dit skyn dat daar voortdurend vraag is na hierdie klas voëls teen baie goeie pryse.

Kalkoene moenie met ander pluimvee saam in hokke gehou word nie. Hulle moet 'n groot loopplek hê en kan nie op intensiewe lyne, soos ander pluimvee, gehou word nie. Hierdie tak van pluimveeteelt is vir die algemene boer geskik. Hulle is taai teen koue, en reën het, soos party mense sou dink, geen nadelige invloed op hulle nie. Die aard van die grond waarop hulle gehou word is 'n belangrike faktor. Klam of swaar grond is vir die sukses van jong sowel as vir volwasse voëls noodlottig.

 

Seleksie van Aanteelkalkoene

Goeie broeivoëls is noodsaaklik. Deur verstandige teel is die mak kalkoen vandag baie groter as die wilde en ofskoon baie mense anders dink, verseker die Buro van Veeboerdery vir die Verenigde State ons dat die gemiddelde gewig van die wilde jong kalkoenmannetjies 12 lb. en die jonge wyfies 8 lb. is, terwyl die jonge bronskleurige mannetjies 20 tot 25 lb. en die jonge wyfies 14 tot 16 lb. is. Dit is teweeggebring deur sorgvuldige seleksies. Dit word aanbeveel dat mannetjies nie meer as 25 lb. en wyfies 14 tot 16 lb. vir aanteeldoeleindes moet weeg nie. 'n Groot mannetjie, wat in 'n teelhok gebruik word, kan die wyfies, weens sy swaar gewig seer maak; sulke mannetjies is lomp en daarom is hulle die oorsaak van onvrugbaarheid, waarop teleurstelling volg.

Vir teeldoeleindes is sterkte en energie die eerste punte, wat in aanmerking geneem moet word, soos blyk uit die breedte en dikte van die lyf; breë rug, vol rondom die borg, kop van goeie grootte met skoon, gesonde voorkoms, flink, goedgeboude romp met dik sterk bene en reguit tone.

Die lengte van die borsbeen is baie belangrik en dit moet volkome reguit wees want daaraan sit die lekkerste vleis. Die mannetjie moet twee jaar oud wees; hy moet goed ontwikkel en aktief wees en net soveel van die goeie hoedanighede van sy besondere soort, as moontlik is, hê.

Die wyfies moet so groot moontlik wees en die verlangde gewig hê; hulle produseer die sterkste kuikens in hul tweede seisoen.

Met 'n drie jaar oue mannetjie kan wyfies wat 'n jaar oud is, gepaar word - maar hulle moet vir hul ouderdom goed ontwikkeld wees. Dis noodsaaklik dat elke voel wat vir die teelhok uitgesoek word, afsonderlik behandel moet word.

Twaalf tot veertien wyfies kan met een mannetjie gepaar word. Waar 'n groot aantal wyfies vir teeldoeleindes aangehou word, moet 'n mens van twaalf tot veertien afsonder in 'n ruime kamp, anders, waar twintig tot dertig wyfies met twee of drie mannetjies gehou word, veg die mannetjies voortdurend met mekaar, hulle steur hulle dan nie aan die wyfies nie en die resultate is onvrugbaarheid. Waar afsonderlike kampe nie vir teeldoeleindes beskikbaar is nie, gebruik dan vir elke vyf-en-twintjg tot dertig wyfies, drie mannetjies; sit een mannetjie tussen die wyfies vir 'n dag, neem hom dan weg en sit die tweede in vir die volgende dag, sodat elke mannetjie al om die derde dag gebruik word. Dis belangrik dat die aan teelvoëls in gesonde en goeie kondisie gehou moet word as 'n mens goeie resultate wil verkry.

Na die derde jaar begin die kalkoenwyfies minder te lê en dis daarom wenslik om hulle dan weg te maak en jonger wyfies te kry.

Inteel is skadelik en op die duur is die gevolg daarvan gebrek aan energie en lewenskrag. Dis wenslik om elke jaar 'n ander mannetjie van heeltemal nuwe bloed maar van dieselfde tipe te kry.

Verskeie suksesvolle kalkoenboere het uitstekende resultate gekry deur 'n sterk, goed uitgegroeide jong mannetjie te paar met wyfies van die tweede seisoen, hulle beweer dat so 'n mannetjie meer aktief is; hy is nie so lomp en swaar as een van drie jaar oud nie, gevolglik maak hy die wyfies nie seer nie en die resultate is oor die algemeen goed. So 'n voël moet vroeg uitgebroei word om goed te kan ontwikkel vir gebruik in die teelhok.

As 'n mannetjie net eenmaal by 'n wyfie kom dan is dit genoeg om al die eiers wat sy lê te bevrug. Gewoonlik paar die wyfies verskeie male voordat hulle begin lê. Daar al die wyfies nie tegelyk begin lê nie, duur dit soms van vyf tot ses weke van die eerste begin het tot die laaste.

Kalkoene begin gewoonlik teen die helfte van Augustus lê. 'n Wyfie lê gemiddeld van vyftien tot twintig eiers. Die eerste jaar lê sy meer as die tweede en derde jaar. As hulle drie jaar oud is, dan lê hulle die gemiddelde aantal van tien tot veertien eiers.

Waar 'n klein klompie kalkoene aangehou word en dit die begeerte is om soveel kuikens moontlik te produseer, kan 'n mens die wyfies, wat nie vir uitbroeidoeleindes nodig is nie van hul broeisheid af kry deur hulle vir vier of vyf dae in 'n hok te steek wat van onder met latte toegemaak is en van 12 tot 15 duim van die grond af staan, hulle sal gou weer begin lê, as dit nie te laat in die seisoen is nie (einde van Oktober), daar die kalkoentjies, wat laat uitbroei, gewoonlik verpot en onbevredigend is.

'n Mens moet sorg vir geskikte neste; 'n kis van 30 duim in die vierkant of 'n leë sementvat op sy kant gesit op 'n afgesonderde plek, waar die wyfie nie verstoor kan word nie, sal geskik wees.

 

Behuising

'n Ruim en goed geventileerde hok of skuur, waarvan die front oop is en wat voorsien is met geskikte stokke ewe hoog en nie meer as 30 duim van die grond af nie, is nodig. Die stokke moet minstens drie duim breed en dik genoeg wees om die gewig van die voel te dra sonder dat dit in die middel buie. Baie kalkoenboere gebruik hoegenaamd geen huise vir groot kalkoene nie; hul sit eenvoudig stokke in 'n kamp met ogiesdraad wat ses voet hoog is, vir die beskerming van die voel teen wilde katte. ens., hierdie metode kan aanbeveel word mits dat so 'n kamp op 'n beskutte plek is. Die gewoonte om kalkoene in bome te laat slaap, is nie wenslik nie omdat hulle daardeur onderhewig is aan die besmetting van die erg gevreesde hoenderborsluis, wat algemeen bekend is as "tampan". Dis niks ongewoons nie dat bome in die veld, waarop tarentale slaap, met hierdie plaag besmet is.

 

Uitbroeiing

Uitbroeiing - As die wyfie haar eie eiers moet uitbroei dan kan dit in die nes gelaat word. Word die eiers egter op kunsmatige wyse uitgebroei, versamel dan die eiers daeliks en laat een eier in die nes bly, anders gaan sy heel waarskynlik 'n ander lêplek soek. Vyftien eiers is 'n geskikte aantal vir 'n kalkoenwyfie om toe te maak. Voordat sy gaan sit om te broei is dit wenslik om haar goed vol insekpoeier te strooi as 'n voorsorgmaatreël teen luise.

Die uitbroeityd duur ag-en-twintig dae. Kalkoenwyfies is gewoonlik getroue broeiers, hulle bly op die neste verskeie dae sit sonder om af te kom. Dis vir die wyfie sowel as vir die eiers nie goed nie. Die wyfie moet minstens eens per dag haar nes verlaat vir kos, water en om in die grond te krap vir watter doel die grond met 'n graaf naby die nes losgemaak moet word. As sy nie self van die nes af gaan nie, moet sy afgehaal word. Om dit goed te doen moet 'n mens sy hand onder die lyf insteek en haar saggies optel en uit die nes haal. As dit nie op hierdie manier gedoen word nie dan sal sy waarskynlik spartel, van die eiers breek en die nes vuilmaak. Die kos en water moenie te naby die nes neergesit word nie anders sal baie wyfies hulself help sonder om van die nes af te kom. Die wyfie moet volstrek nie die laaste twee of drie dae van die broeityd gehinder word nie. Hele mielies is die beste kos vir wyfies wat broei.

Dit is nodig om vir die wyfie met haar broeisel kuikens vir die eerste twee of drie weke 'n hok te hê wat vervoer kan word. Hierdie hok moet omtrent 30 duim in die vierkant wees en in 'n ogiesdraad kampie gesit word. Hierdie opsluiting is slegs vir ag tot tien dae nodig waarna hulle uitgelaat kan word; omdat die kalkoen van geaardheid is om baie rond te loop, daarom loop die wyfie soms te ver met die kleintjies voordat hulle sterk genoeg is.

Drie dinge is nodig vir die teel van kalkoene: vrydom van klamheid, skoon vars grond en baie vars lug.

 

Kunsmatige Uitbroeiing

Met dieselfde behandeling as gewone hoendereiers broei kalkoeneiers in 'n broeimasjien baie goed uit, maar dieselfde kan nie van kunsmatige grootmaak gesê word nie. As dit kunsmatig uitgebroei word dan beveel ons aan om die wyfie te gebruik as kunsmoeder, daar 'n broeiwyfie gewoonlik die jong kuikentjies, as dit in die aand onder haar gesit word, sonder moeite sal neem.

'n Metode, wat met sukses aangeneem is waar meer eiers as wyfies is om uit te broei, is as volg: Sit die gewone aantal eiers onder elke beskikbare wyfie, en die orige in 'n broeimasjien sodat almal omtrent dieselfde tyd uitkom; verdeel dan die kuikentjies, wat met die broeimasjien uitgebroei is, onder die verskillende wyfies; dit moet in die aand gedoen word. 'n Kalkoen kan van vyftien tot twintig kuikens uitbroei.

Dis wenslik om die mannetjies weg te hou van die wyfies met hul kleintjies, daar baie mannetjies geneig is om die kleintjies dood te maak as hulle die kans kry.

 

Voeding

Vir die eerste twee dae na hulle uitgebroei is, het klein kalkoentjies geen kos nodig nie, daar 'n gedeelte van die dooier in die lyfie opgeneem word voordat die kuikentjie uit die dop kom en dis genoeg voedsel vir die paar dae.

Daar is verskil van opinie wat betref die beste kos wat gegee moet word; party bepleit broodkrummels en hardgekookte eiers, opgesny en fyn deurmekaar gemaak, vir die eerste twee weke; af broodkrummels, geweek in melk met baie fyngesnyde jonge uie. Ofskoon hierdie metodes op grote skaal in swang is, gee dit nie te bevredigende resultate nie. Die volgende het beter resultate gegee: 'n verskeidenheid van gebreekte graan, soos koring, hawergort, mielies met 'n bietjie semels daarby (die graan moet so gebreek word dat dit krummelrig is) moet van die begin af gevoer word; die mengsel moet altyd voor hulle wees. Soggens en saans moet die kuikentjies gevoer word met koringsemels en pollard in gelyke dele, met 'n bietjie mieliemeel daarby, desverlangd; al die kos moet klam gemaak word met afgeroomde melk sodat dit krummelrig is. Al die voer wat in 'n half uur nie opgeëet kan word nie, moet weggeneem word. Gekookte groente kan van tyd tot tyd met hierdie rantsoen gemeng word. 'n Mens moet sorg dra dat die rantsoen as 'n geheel krummelrig is en dat.dit nie te vogtig is nie. Afgeroomde melk kan met voordeel bygedoen word maar dit moet gesorg word dat die bak deeglik skoon is; drinkwater moet ook te alle tyde binne gemaklik bereik wees.

Van die eerste of tweede week af kan 'n mens 'n bietjie vleiskos, soos gemaalde gekookte lewer of vleismeel, by die bogenoemde rantsoen eens per dag bydoen.

As die kuikentjies toegelaat word om met die moeder saam te loop dan sal hulle gewoonlik hul eie groenvoedsel en gruis soek. Waar dit nie beskikbaar is nie, moet dit verskaf word. Groen lusern, slaai, uieblare of enig ander sappige voedsel, wat fyngesny is, is geskik. As die kalkoentjies omtrent ag dae oud is, laat hulle dan met die wyfie vry rondloop, hulle sal vir kos en slaapplek weer na hul hok terug kom. As die kalkoentjies van vyf tot ses weke oud is, moet hulle uit die broeihok weggeneem en in 'n ruimer hok gesit word.

Van sewe tot ag weke, begin die rooi kammetjies op die kop en nek uitkom en dis bekend as die tydperk wanneer "die rooi te voorskyn kom," na hierdie tyd behoort hulle nie meer moeite te gee nie; hulle sal nou 'n hele afstand gaan om self kos te soek.

As 'n mens kalkoene op graanlande, wat geoes is, laat loop dan het hulle maar min voedsel nodig. As daar nie graanlande beskikbaar is nie, dan moet hulle van tien tot veertien weke oud; soggens en saans twee maal per dag kos kry, na die tyd kan hulle maar eens per dag kos kry daar hulle gedurende die dag baie kos self optel as hulle goeie weiveld het, die kos moet liewer saans gegee word om hulle na hul slaapplekke aan te lok.

As die kalkoentjies van ag tot tien weke oud is, moet 'n mens hulle op stokke in die hok laat slaap.

 

Verkoop

Die meeste vraag na kalkoene is teen Kersmis en Nuwejaar, ofskoon 'n mens kalkoene gedurende die hele jaar teen redelike pryse aan hotels, ens kan verkoop. Die beste gewigte vir gebruik in Suid-Afrika is van 8 tot 20 lb. Die gemiddelde prys per lb. lewende gewig vir kalkoene is omtrent 1s. tot 1s. 1d. Natuurlik is die prys hoër gedurende Desember en Januarie wanneer daar die meeste vraag is. 'n Gewoonte onder kalkoenboere, wat hoegenaamd nie in hul eie belang is nie, is om tot daardie maande hul kalkoene te hou met die oog op die hoe prys wat dan vir eersteklas voëls betaal word. Dis 'n fout, daar die kalkoen in ons land dan in sy slegste kondisie is. Dis die verveertyd, daarom kan dit nie verwag word dat die kalkoene in eersteklas kondisie, wat hulle moet wees om toppryse te behaal, sal wees nie. Verder het die wyfies net klaar gelê en gebroei en gevolglik is hulle hoegenaamd nie in 'n geskikte kondisie vir die mark nie.

Die geskikste tyd om kalkoene op die mark te bring is van Augustus tot die end van Oktober, want in die tyd is hulle op hul beste. Hulle moet dan van die hand gesit word en lewendig besôre word aan vertroubare pluimveehandelaars, wat hulle slag, pen, en in die koelkamers plaas om hulle soos vereis word aan die verbruiker te bring. Voordat hulle op die mark gebring word, moet hulle in 'n kampie omtrent drie weke gevoer word, soggens en smiddags met 'n mengsel mieliemeel (2 dele) en semels (1 deel) brokkelrig aangemaak met dikmelk wat in 'n trog gegee word, en saans met gestampte hawer en 'n bietjie mielies. Om hulle met sukses vet te voer, moet 'n mens met weinig voedsel begin en langsamerhand die hoeveelheid vermeerder en by elke voeding soveel gee as die kalkoene kan opvreet. Onder geen omstandigheid moet kos na 'n half uur nog bly lê nie. Oorvloedig groenvoer is noodsaaklik. As dit in die kampie beskikbaar is, kan die kalkoene wei, anders moet groenigheid gegee word. Baie grint en skoon vars water moet altyd in die kamp beskikbaar wees.

Om 'n nywerheid op te bou is dit nie alleen nodig om 'n goeie artikel te produseer nie, maar dit is noodsaaklik om daardie artikel met die meeste voordeel op die mark te bring, en om dit te kan doen is eenvormigheid van kwaliteit nodig. As elke kalkoenboer dus self slag en op sy eie manier pen, sou eenvormigheid onmoontlik wees en ons sou geen kans staan om op ons eie of die buitelandse marke op gelyke voet te konkureer nie.

Die firmas wat op 'n groot skaal met pluimvee handel, is in die geleentheid om dit te kan doen, want wanneer die kalkoene geslag en gepen is, word hulle gepak en gegradeer volgens kwaliteit wat die enigste manier is om daardie mate van voortreflikheid, wat ons graag in Suid-Afrika wil sien, te verkry.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 1