Last update: August 16, 2011 08:55:37 AM E-mail Print

 

Weidingskapasiteit meer wetenskaplik bepaal

 

M Vorster

 

 

Verkeerde weidingskapasiteite in sekere dele skep groot ontevredenheid tussen boere, se dr. Marius Vorster, adjunk-direkteur van die Grootfontein Landbou -ontwikkelingsinstituut.

In 1983 is weidingskapasiteite vir die eerste keer vasgelê. Veral bewaringskomitees was hiermee gemoeid en intussen is heelwat verfynings gedoen. Die volgende groot aanpassings vind in 1995 plaas.

Die voortdurende veranderings is nodig omdat weidingskapasiteite oor groot gebiede nie reg is nie. Dit skep oneindige probleme, soos ontevredenheid tussen boere en tussen landboustreke.

Omdat die weidingskapasiteite nie oral korrek is nie, word die veld dus "amptelik" oorbewei. Die ideaal is dat weidingskapasiteite sover moontlik akkuraat bepaal moet word.

Die Departement van Landbou-ontwikkeling het hom daartoe verbind om soveel inligting moontlik in te samel om die probleem op te log. Sedert 1987 word daar by 17 groepe boere (5 boere per groep) regoor die Karoostreek inligting oor veebelading, veldtoestand en reënval ingesamel.

Rekenaartegnologie maak dit nou ook moontlik om die weidingskapasiteit oor plaas-, distrik- en selfs streekgrense te bepaal.

Die doel van die projek is om die weidingskapasiteite verder te verfyn. Op elke plaas van die 85 boere wat help met die insameling van die data is daar 10 persele. Elke perseel is 25 m x 25 m en word sedert 1987 elke jaar besoek om 'n veldevaluasie te maak. Die ekologiese indeksmetode word gebruik om die veld te evalueer. Die gemiddelde veebelading per kamp en per plaas word ook bereken. Met behulp van die rekenaar kan dit dan na streekvlak geëkstrapoleer word.

Volgens die ingesamelde inligting blyk dit dat die veebelading in die oostelike deel van die Karoo (Burgersdorp) swaarder is as wat die aanbevole weidingskapasiteit is. In die westelike deel is die teenoorgestelde die geval. Die afleiding is dat die weidingskapasiteit in die ooste te swaar is en in die weste te lig.

Om die langtermynweidingskapasiteite vir 'n gebied of plaas vas te stel, word die mediaanreënval van 'n plaas gebruik. Ten minste die afgelope 10 jaar se reënvalsyfers word benodig vir 'n akkurate beraming. Daar is reënvalsyfers vir die hele Streek beskikbaar (vir elke punt van 1 ,8 km by 1,6 km) wat in hierdie stadium gebruik word om weidingskapasiteite te voorspel. Daar word ook gekyk na die veldtoestand voordat aanpassings gemaak word.

Die tegniek gaan in 1993 intensief getoets word deur byvoorbeeld fisies veld toe te gaan, 'n veldopname te maak en die veldtoestand te vergelyk met dit wat die rekenaar bepaal het.

Die tegniek sal aan alle belanghebbendes, byvoorbeeld boere en bewaringskomitees, gedemonstreer word. Dit sal nag 'n ruk duur voordat die weidingskapasiteite op 'n meer wetenskaplike wyse bepaal is, maar met die samewerking van die boere en die rekenaartegnologie tot ons beskikking behoort ons die taak binne die afsienbare toekoms af te handel, sê dr. Vorster.

 

Published

Karoo streeknuusbrief 1