Last update: April 3, 2012 02:12:23 PM E-mail Print

 

Karoobossies

PW Roux 

 

Die oorsprong van karoobossies moet gesien word teen die agtergrond van duisende derduisende jare se evolusionêre ontwikkeling, aanpassing, uitteling, ensovoorts. Vandag is die groep plante sekerlik een van die mees suksesvolle en is dan ook die wat droogtes en die aanslae van beweiding die beste die hoof kan bied.

Oor die geheel gesien is karoobossies in staat om oor 'n baie wye reeks klimaatstoestande te groei.So word ryp getrotseer, hulle groei op allerlei grondsoorte en hulle kan selfs in baie opsigte hulle groeivorms aanpas by lokale omgewingstoestande. Plante wat soos die karoobossies kan aanpas, kan as baie suksesvol bestempel word.

Die vraag waar die bossies eintlik hulle oorsprong gehad het, is beslis nie maklik - indien enigsins moontlik - om te beantwoord nie. Teorie wil dit egter hê dat hulle lede is van die sogenaamde suidwestelike flora wat sy oorsprong weer in Arktiese flora gehad het. Oor miljoene jare van aanpassing, uitsortering, wysiging en migrasie beskik ons Suid-Afrikaanse veld oor een van die mees unieke floras ter wêreld, naamlik ons karoobosvelde. Vir die boer is die bossie egter skaapkos, en tereg ook, want bossies is beslis goeie skaapkos. Net jammer dat al die smaakliker en waardevoller soorte alreeds so deur die minder smaaklike en ongewenste en doringrige soorte vervang is.

Dit is van groot belang dat die waardevolle soorte die nodige beskerming geniet teen oormatige benutting en gevolglike vernietiging. Ironies is dit dat daar so iets bestaan as karoobosindringing wat die sogenaamde woestynindringing voorafgaan. Egte karoobosindringing het egter hoofsaaklik betrekking op gebiede wat hoofsaaklik grasveld is. In die velde is dit beslis ongewens dat grasse deur karoobosse vervang word. Ironies, ook in die geval, dat waar sulke velde deur karoobosse ingeneem of vervang word, weidingstoestande vir skaap deur die jaar verbeter. Die gevaar skuil egter agter hierdie tydelike gunstige toe stand naamlik dat grond, onder die voete van ‘n karoobos, deur erosie vertrap en vernietig word. Die kern van die toestand is dus, boere bewaar wat julle het, verbeter wat julle het, en benut wat julle het op In oordeelkundige en geordende wyse.

Die verskeidenheid karoobos soorte is so groot dat dit haas onberekenbaar is. Op ‘n goeie stuk karoobossieveld kan maklik veertig tot vyftig verskillende soorte bossies per hektaar voorkom benewens die opslagplante en grasse.

Die nuttigheid van die bossies wissel geweldig. So kry ons soorte wat baie smaaklik en gesog is deur skape. Ander is weer feitlik geheel en al onsmaaklik of onvreetbaar. Tussen die uiterstes van smaaklik en onsmaaklik, en vreetbaar en onvreetbaar, kan die hele kompleks van karoobossies geklassifiseer word vanuit ‘n weidingsoogpunt gesien. Deur hierdie terme te kombineer, kan feitlik enige karoobossies beskryf word. So is daar byvoorbeeld die doringvygie wat beslis smaaklik is, maar onvreetbaar is as gevolg van die teenwoordigheid van lang, dun naaldskerpe dorings. So ook byvoorbeeld is daar ‘n onsmaaklike bos wat wel vreetbaar is, byvoorbeeld die vaalkaroo.

Baie karoobossies is in die jong stadia smaaklik en in die volwasse stadia onsmaaklik. So kry ons ook dat dieselfde bossie van seisoen tot seisoen in smaaklikheid wissel, of dieselfde soort bossie is smaaklik in die een distrik en onsmaaklik in ‘n andere So ‘n geval sal toegeskryf kan word aan klimaats- of grondverskille.

Die karoobossie bly maar ‘n wonderlike ding; hoe meer jy van hom weet, hoe interessanter word dit en hoe meer word die veld en boerdery, en veldbeheer, en veldbewaring, ‘n plesier. "

 

Published

Karoonuusbrief Desember