Last update: April 5, 2012 07:28:27 AM E-mail Print

 

WAAROM KAROOBOSSIES SO TAAI IS

CMR du Preez Landboukollege Grootfontein

 

ALLE plante is van water afhanklik vir hul bestaan en ontwikkeling. Die grootste gedeelte van die water wat die plante uit die grond opneem, word egter weer aan die atmosfeer afgegee sonder dat hierdie water enigsins deelneem aan die chemiese prosesse in die plant.

Hierdie feit kom nie altyd prominent onder die aandag nie, aangesien die plant water in 'n sigbare vloeistofvorm deur die wortels opneem maar dit in 'n onsigbare dampvorm deur die blare afgee. Daar vind dus 'n gedurige waterbeweging deur die plantweefsels plaas, wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van plante.

 

TRANSPIRASIE

Die waterverlies in dampvorm deur 'n lewende plant staan bekend as transpirasie. Die meeste water gaan verlore deur die blare en wel deur klein openinkies op die blaarskyf, wat huidmondjies genoem word. Hierdie huidmondjies besit die vermoë om oop en toe te gaan, na gelang van hoeveel vog beskikbaar is. Ligbestraling speel ook 'n direkte rol in die oop- en toemaakbewegings van die huidmondjies. Plante kan dus in 'n mindere of meerdere mate hul interne waterbalans reël om sodoende uitdroging te voorkom.

Omdat transpirasie in die eerste plek 'n verdampingsproses is, sal faktore soos lugtemperatuur, voggehalte van die lug en windbeweging ook die transpirasie beïnvloed. Omdat hierdie klimatologiese faktore voortdurend in die natuur verander, is dit te wagte dat die transpirasie van plante ook gedurig sal wissel.

 

KAROOBOSSIES

Die Karoobossies is dwergstruike wat by uitstek by die toestande in die halfdorre Karoogebied aangepas is. Die blaartjies is oor die algemeen klein silindervormig en hard om verdamping te beperk. Baie bossies se blaartjies is bedek met 'n waslaag of is oortrek met fyn haartjies. Al hierdie faktore voorkom oormatige waterverlies tydens droogtetye.

Die bossies het houtagtige stamme en stingels, wat baie vertak om die plante hul kenmerkende "skeerkwas"-vorm te gee. Die wortelstelsels groei in 'n halfsirkel onder die grond, seIde dieper of wyer as drie voet.

Omdat die bossies in die lente en in die herfs aktief groei en dwarsdeur die jaar groen bly, speel hulle 'n baie belangrike rol as dierevoedsel - veral wanneer die grasse droog en oneetbaar is. Interessantheidshalwe het ons dus 'n studie gemaak van die transpirasie van 'n paar van die belangrikste bossiesoorte, om so 'n beeld te vorm van die waterhuishouding van hierdie merkwaardige plante.

 

METODE

Die transpirasie van die bossies is bepaal volgens Stocker se "momentele weegmetode" - 'n eenvoudige metode, wat doeltreffend en met 'n redelike mate van akkuraatheid in die veld toegepas kan word.

Die metode kom daarop neer dat takkies van die lewendige plant afgesny, onmiddellik geweeg, en daarna met gereelde kort tussenposes weer en weer geweeg word. Die gewigsverlies van die afgesnyde takkies verteenwoordig die gewig van die waterdamp wat die takkies afgee.

 

 

So is vasgestel dat die takkies teen 'n konstante tempo water verloor tydens die eerste paar minute nadat hulle afgesny is. Daarna neem die waterverliestempo vinnig af. Hierdie konstante waterverliestempo gedurende die eerste paar minute nadat hulle afgesny is, stem waarskynlik ooreen met die transpirasietempo van die takkies voordat hulle afgesny is.

Nadat die takkies klaar geweeg is, word hulle in 'n oond gedroog en ontblaar. Die transpirasie kan dan uitgedruk word as die gewig waterdamp wat 100 gram droë blare per minuut afgee. Deur vars afgesnyde takkies van 'n sekere bossiesoort gedurende verskillende tye van die dag te weeg, kan die verloop van die transpirasie van daardie bepaalde bossiesoort tydens daardie dag bepaal word.

Saam met die transpirasiebepalings is ook gereelde waarnemings van die klimatologiese faktore gemaak. Grondmonsters is geneem en grondvogbepalings daarop uitgevoer.

 

BESPREKING

'n Paar interessante feite het aan die lig gekom.

Eerstens was dit opmerklik dat al die bossiessoorte nie ewe vinnig transpireer nie. Bossies soos kriebos, daggapit en witblommetjie bet deurgaans vinniger as biltongbos, boegoekaroo, bitterbos en kapokbos getranspireer. Dit is opmerklik dat hierdie stadig transpirerende bossies oor die algemeen harder as die ander bossies is. Hul blaartjies is ook gomagtig of leeragtig. Verder groei hulle heelwat stadiger as kriebos, daggapit en witblommetjie.

Blykbaar vind al die fisiologiese prosesse in hierdie groep plante dus stadiger plaas. Daarom sal hulle in staat wees om ongunstiger toestande beter die hoof te bied, aangesien hul peil van benodigdhede soveel laer is. Om hierdie rede neem die harde en oneetbare bossiesoorte waarskynlik soveel makliker toe op swak en uitgetrapte grond.

 

Seisoensverskille

Tweedens is gevind dat die transpirasietempo by dieselfde bossiesoort baie verskil tydens verskillende seisoene van die jaar. In die warm somermaande en as genoeg vog beskikbaar is, is die transpirasiesnelhede die hoogste. In die koeler herfsmaande neem die transpirasie af en in die winter bereik dit 'n laagtepunt. Hierdie afname vind plaas al is die grond vogtig genoeg. Die laer temperature in die herfs en winter is dus blykbaar die beperkende faktor op transpirasie, want in die warmer voorsomer neem die transpirasie weer toe.

Hoewel die transpirasie in die herfs en laat winter laag is, groei die bossies tydens hierdie seisoene op hul aktiefste. Uit hierdie feite kan ons aflei dat die bossies tydens hut aktiefste groeiperiodes relatief min vog nodig het.

 

Daaglikse kurwe

Ook is gevind dat die daaglikse transpirasiegang van die bossies dieselfde neiging as die verdampingskrag van die lug volg, na gelang van die waterbalans in die plante en die werking van die huidmondjies.

Met sonop neem die transpirasie skerp toe en bereik 'n hoogtepunt in die loop van die oggend. In hierdie stadium is die waterverlies groter as die wateropname, met gevolg dat 'n interne watertekort ontstaan en die plant verlep.

Hierdeur rig die plant homself in om 'n verdere oormatige waterverlies te bekamp en neem die transpirasie af.

Die transpirasiekurwe wyk dan ook af van die verdampingskurwe. In die middag herstel die plant weer en neem die transpirasie toe. Die verdampingskrag van die lug het dan egter reeds 'n maksimum waarde bereik en is dan reeds aan die afneem, met gevolg dat die transpirasie ook weer gou begin afneem en gedurende die nag so te sê geheel en al gestaak word.

Die algemene gevolgtrekking is dat die transpirasie van Karoobossies ten nouste saamval met die grondvogtoestande, die klimaatstoestande van elke dag en die groeistadium waarin die bossies verkeer soos ook deur die klimaat bepaal. Verder is die bossies aangepas om met min vog klaar te kom, hoewel die plante net soveel water kan gebruik as ander plante, mits die vog beskikbaar is.

 

Wetenskaplike Name

Kriebos . . . . . Lycium arenicolum

Daggapit . . . . . Nenax microphylla

Witblommetjie . . Phymaspermum parvifolium

Biltongbos . . . . Pteronia tricephala

Boegoekaroo . . . Pteronia glauca

Bitterbos . . . . . Chrysocoma tenuifolia

Kapokbos . . . . . Eriocephalus glaber

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 41 (10)