Last update: April 4, 2012 02:24:04 PM E-mail Print

 

Benutting van doringlose turksvye saam met Karoobossieveld

deur J. G. CLOETE Landboukollege Grootfontein Middelburg, K. P.

 

 

As gevolg van hul sappigheid en hoë opbrengs per eenheidsoppervlakte word boere in die Karoostreek aangemoedig om doringlose turksvy (Opuntia spp.) aan te plant vir die gebruik tydens tye van droogte. Die waarde van so 'n praktyk is gevolglik ook deur heelwat boere bewys. In sommige gevalle word doringlose turksvyblaaie afgekap en aan skape onder ingekraalde toestande gevoer.

In ander gevalle word skape toegelaat om turksvyplantasies te benut terwyl in sommige gevalle turksvyblaaie deur middel van beweegbare kerfmasjiene tussen die rye in die plantasies gekerf word.

Aangesien turksvyplantasies in baie gevalle op die natuurlike weiveld aangeplant word, is dit dus duidelik dat skape onder hierdie toestande turksvy saam met die natuurlike weiveld benut aangesien doringlose turksvy nie in die (onderhoudsbehoeftes van volwasse Merinoskape kan voorsien nie ontstaan die vraag gevolglik of byvoeding verskaf moet word wanneer dit tesame met Karoobossieveld benut word?

Indien aanvaar word dat volwasse skape ongeveer 5 - 14 pd doringlose turksvyblaaie daagliks sal vreet wanneer hulle vrye toegang daartoe het (Bonsma & Maré, 1942), beteken dit dat hulle ongeveer 1.2 pd droë materiaal (0.72 pd verteerbare droë materiaal), 23 gm proteïen en 0.45 gm fosfor inneem. In terme van die onderhoudsbehoeftes van volwasse skape verteenwoordig hierdie hoeveelhede ongeveer driekwart van die onderhoudsbehoeftes vir energie (Coop, 1962), helfte van die behoeftes vir proteïen (Cloete, 1968 - ongepubliseerde gegewens) en een derde van die behoeftes ten opsigte van fosfor (N.R.C., 1964). Dit is dus duidelik waarom skape wat vir lang tydperke turksvyblaaie ontvang, gewig verloor. Addisionele energie, proteïen en fosfaat moet dus voorsien word.

 

Voedingswaarde van Karoobossieveld

Gedurende die periode Mei tot Desember val ongeveer een derde van die totale jaarlikse reënval in die Karoostreek. Hierdie periode kan gevolglik as die seisoenale droë tydperk in die streek beskou word. Dit is gewoonlik gedurende hierdie periode dat boere byvoeding aan hulle skape voorsien en wanneer domsiekte onder swaardragtige ooie 'n wesenlike probleem kan word.

Hoewel aangetoon is dat doringlose turksvy as sodanig nie aan die onderhoudsbehoeftes van skape voorsien nie, moet dit nogtans as 'n uiters waardevolle droogtebestande voergewas beskou word. Die vraag ontstaan dus of enige addisionele aanvulling nog nodig is wanneer dit tesame met veldweiding benut word.. Ten einde hierdie vraag bevredigend te kan beantwoord, is dit nodig om die voedingswaarde van bossieveldweiding in hierdie streek vas te stel.

Volgens die ontleding van veldmonsters vertoon die gemiddelde samestelling van Karoobossieveld gedurende 'n normale seisoenale droogtetydperk min of meer soos volg. Die samestelling word in Tabel 1 aangegee. (Steenkamp, 1968 - ongepubliseerde gegewens).

 

 

Volgens proewe wat uitgevoer is deur Hugo (1960) kom dit voor asof skape gedurende die periode Mei tot Desember daagliks ongeveer 2.2 pd weiding van die veld inneem. Indien aanvaar sou word dat die weiding uit 50 persent droë materiaal bestaan en dat die verteerbaarheid daarvan 60 persent is, kan bereken word dat die skaap daagliks 0.66 pd verteerbare droë materiaal inneem, wat maar in ongeveer twee derdes van die energiebehoeftes voorsien.

Verder kan bereken word dat ongeveer 35 gm proteïen en 0.5 gm fosfor daagliks deur middel van die weiding ingeneem word. Dit kan bereken word dat die hoeveelheid proteïen wat ingeneem word, in ongeveer driekwart, en die hoeveelheid fosfor maar in ongeveer een derde tot een helfte van die behoeftes vir onderhoud sal voorsien.

Wanneer skape dus vrye toegang tot sowel turksvyblaaie het as veldweiding, kan die posisie teoreties soos in Tabel 2 opgesom word.

 

 

Dit is dus duidelik dat wanneer skape vrye toegang tot turksvyblaaie tesame met veldweiding het genoegsame voedingstowwe ingeneem word om aan hul energie en proteïenbehoeftes vir onderhoud te voorsien terwyl fosfaat aangevul behoort te word. Die posisie kan reggestel word deur aan skape wat turksvyblaaie tesame met veldweiding benut vrye toegang tot een van die volgende fosfaatlekke te gee:- 60 pd sout 30 pd mononatriumfosfaat 10 pd melasse 50 pd sout 40 pd dikalsiumfosfaat 10 pd melasse 30 pd sout 60 pd beenmeel 10 pd melasse

In hierdie lekke word melasse hoofsaaklik as 'n bindmiddel gebruik hoewel d1t natuurlik ook die smaaklikheid van die lekke bevorder. Die hoeveelheid melasse word in een en 'n half gellings water opgelos en oor die fosfaat en sout gegiet en dan goed met 'n graaf deurgewerk. Die daaglikse inname van skape op hierdie lekke is ongeveer 'n halwe ons.

In die meer westelike gebiede van die Karoostreek waar die brakinhoud van die weiding en drinkwater hoër as in die oostelike dele is, is die ondervinding van boere dat skape nie hierdie tipe lekke benut nie. In hierdie geval kan fosfaat deur middel van 'n outomatiese fosfaatvoerder in die drinkwater toegedien word deur middel van bronne soos byvoorbeeld mononatriumfosfaat, ortofosforsuur of ander wateroplosbare fosfate. In gevalle waar fosfaat nie deur middel van drinkwater toegedien kan word nie, moet die lekke meer smaaklik gemaak word.

Aangesien 'n tekort aan energie mees algemeen gedurende seisoenale droogtes op Karoobossieveld voorkom, sal dit die beste wees om 'n energiebron soos byvoorbeeld mieliemeel by die lek te voeg. Die samestelling van so 'n lek sal dus soos volg wees: 60 pd geelmieliemeel 8 pd mononatriumfosfaat 30 pd sout 10 pd melasse

Die daaglikse inname van skape op hierdie lek sal meer as die van die voorafgenoemde lekke wees. Goeie resultate is egter met 'n soortgelyke lek op hierdie veldsoort gedurende seisoenale droogtetye behaal. Weens die relatief wye kalsium-fosfor-verhouding wat gedurende sulke tye op hierdie veldsoort voorkom (Tabel 2), mag dit meer wenslik wees om fosfaat in 'n bron anders as die van 'n kalsiumfosfaatverbinding beskikbaar te stel. Dit is die rede waarom verbindings soos natriumfosfaat in die lekke gebruik en gevolglik ook aanbeveel word.

 

Dus...

Dit behoort duidelik te wees dat die innamesyfers vir energie, proteïen en fosfaat vanaf weiding (Tabel 2) bloot as 'n leidraad beskou moet word aangesien die inname van hierdie komponente gedurende die droë periode nie direk bepaal is nie.

Verder het navorsers in Australië aangedui dat wanneer byvoeding in die vorm van mielies of lusern op veldweiding verskaf is, die hoeveelheid weiding wat skape inneem, afgeneem het (Allden & Jennings, 1962; Holder, 1962). Dit is egter twyfelagtig of die benutting van doringlose turksvye die inname van veldweiding in so 'n mate sal benadeel dat addisionele byvoeding, afgesien van fosfaat, verskaf sal moet word.

 

Verwysings

ALWEN & JENNINGS, 1962. Proc. Aust. Soc. Anim. Prod. 4, 145 - 153.

BONSMA & MARé, 1942. Dept. Agric. Bull. No. 236.

HOLDER, 1962. Proc. Austr. Soc. Anim. Prod. 4, 154 - 159.

N.R.C., 1964. National Research Council. Nutrient requirements of domestic animals. Washington, D.C.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (12)