Last update: September 2, 2011 11:00:01 AM E-mail Print

 

Karooplantegroei: Baie faktore beïnvloed spesiesamestelling

CD Blom

 

Die plantegroei van die Karoo word gekenmerk deur 'n geweldige diversiteit. Van die 70 veldtipes wat Acocks (1975) beskryf kom 28 tot 'n meerdere of mindere mate in die Karoo voor. Dit word bereken dat daar tussen 6 000 en 8 000 plantspesies in die Karoo voorkom.

So het mnr Dawie Blom van die Landboukollege Grootfontein tydens 'n veldstudiegroepbyeenkoms op die plaas Roxburgh naby Cradock in Maart gesê. Mnr Blom het die Tarkaveld studiegroep oor indikatorplante en plantidentifikasie toegespreek.

Die tipe plantegroei, dit is of dit oorwegend gras of oorwegend bossies of gemeng sal wees, word primêr deur klimaat beheer en bepaal, het mnr Blom gesê. Hiervan is reënval met sy seisoenale fluktuasies die heel belangrikste faktor.

Volgens hom, bepaal die grondsoort, gekoppel met grondvog en gronddiepte, die dominante plantspesies wat in 'n spesifieke gebied onder spesifieke klimaatstoestande kan ontwikkel.

VEESOORT, beweiding, veebelading, seisoen van beweiding, duur van beweiding, selektiewe weigewoontes, insekplae, ensovoorts, bepaal die samestelling, kwaliteit, kwantiteit en produktiwiteit van die plantegroei binne die beperkinge wat deur klimaat en grond opgelê word. Die samestelling en toestand van die plantegroei, soos deur beweiding en algemene omgewingsfaktore tot stand gebring, affekteer die tempo van gronderosie, grondvogstatus en beïnvloed die welsyn en produktiwiteit van die weidende dier.

Plantegroeigemeenskappe word onderverdeel in gras, bossies, bome en struike en opslagplante.

Die belangrikste hiervan is die graskomponent en die bossiekomponent. Die graskomponent word weer onderverdeel in pioniergras, subklimaksgras en klimaksgras.

PIONIERGRASSE word onderverdeel in eenjarige pioniergras, soos byvoorbeeld Aristida congesta (witsteekgras) en Chloris virgata (klossiegras) en meerjarige pioniergras soos Cynodon incompletus (kweekgras) en Tragus koelerioides (kruipwortelsaadgras).

SUB-KUMAKSGRASSE bestaan uit die meerjarige grasse wat hoofsaaklik nie baie breë blare het nie en die blare is soms gerol, en is styf en kort. Voorbeelde hiervan is grasse soos Eragrostis lehmanniana (knietjiesgras) en Eragrostis bicolor (fynvleigras).

KLIMAKSGRASSE bestaan veral uit die meerjarige grasse met sagte breë blare met 'n hoe voedingswaarde. Voorbeelde hiervan is Themeda triandra (rooigras) en Digitaria eriantha (vingergras).

Die bossiekomponent word ook onderverdeel in smaaklike bossies, soos byvoorbeeld Felicia muricata (bloublommetjie) en Salsola calluna (swartganna) en die minder smaaklike bossies met Eriocephalus ericoides (kapokbos) en Pentzia incana (ankerkaroo) as voorbeelde en die onsmaaklike bossies soos Chrysocoma tenuifolia (bitterbos) en Walafrida saxatilis (witaarbossie) as voorbeelde.

VOLGENS mnr Blom kan die smaaklikheid van 'n bossie beskryf word as die eienskappe van 'n plant wat die dier stimuleer om die plant te vreet. Die bas besit byvoorbeeld nie dorings nie, is nie houterig nie, bevat nie baie gom of bars nie, ruik lekker en smaak lekker.

Die chemiese samestelling van 'n spesie, byvoorbeeld die eterekstrakinhoud en ander chemiese komponente van die plant, beïnvloed ook die smaaklikheid daarvan, se hy. So het Louw, Steenkamp en Steenkamp (1967) gevind dat die smaaklikste bossies die laagste eterekstrakinhoud bevat. As voorbeelde het hy die volgende spesies gebruik :

 

Ook die uitwendige bou of morfologie van die plant, byvoorbeeld dat dit houterig is met dorings, kan ook die smaaklikheid van die plant beïnvloed. Seleksie word skynbaar ook beïnvloed deur die teenwoordigheid van dorings, hare, baie hars (taaiheid) en tekstuur van die blare en die stingels. Met ander woorde, baie houterige plante word minder geredelik deur diere geselekteer.

Die seleksie van 'n spesifieke plantspesie is afhanklik van die beskikbaarheid van ander plantspesies, asook die hoeveelhede waarin dit voorkom. Volgens mnr Blom is dit gevind dat 'n plant geredelik gevreet word as dit in klein hoeveelhede voorkom, maar wanneer dieselfde plant in digter stande voorkom, word dit minder gevreet. Diere selekteer hulle voedsel uit die totale beskikbare plantmateriaal.

Mnr Blom het daarop gewys dat selektiewe beweiding probleme kan veroorsaak, soos die indringing van ongewenste plante. Die boer moet dus poog om die natuurlike veld op 'n hoë produktiewe peil te hou sonder dat ongewenste plante indring. Indien ongewenste plante wel indring moet die boer dit probeer beheer deur beweiding met 'n spesifieke tipe dier.

MNR BLOM het aanbeveel dat aangepaste diere van goeie kwaliteit gebruik word. Dit sal eerstens optimale benutting van die veld tot gevolg hê en dit sal tweedens help om veldagteruitgang te keer. Die tipe dier waarmee geboer word, asook die bestuur daarvan, kan dus 'n invloed op die spesiesamestelling van 'n stuk veld he. So kan veldtipes wat van mekaar geskei is afsonderlik gemonitor word om die indikatorplante vir veldverbetering uit te merk en waar te neem. Daar sal dus na die meer dominante plante gekyk word en die mees smaaklike bossiespesies en klimaksgrasse sal dan as indikators dien.

In leegteveld kan daar veral gekyk word na die klimaksgrasse wat daar voorkom, tesame met smaaklike bossies, veral op die dieper gronde. Op vlakteveld kan veral na smaaklike bossies, sowel as subklimaksgrasse en klimaksgrasse, gekyk word.

Teen berghellings is dit weer eens die smaaklike bossies tesame met klimaksgrasse en subklimaksgrasse wat waargeneem moet word.

Op bergplato's met 'n hoër reënval en waar die graskomponent 'n belangrike rol speel, kan veral na die klimaksgrasse gekyk word. In die veld kan die identifisering van die indikatorplante met verskillende gekleurde pennetjies gemerk word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 1